Algerië: Demokrasie, outokrasie of burgeroorlog?

algerië

Algerië stoei ook met ‘n taalkwessie 30 jaar na sy bevryding. Foto: Jorisamonen/Pixabay.com

In Algerië, oppervlakgewys die grootste staat van Afrika, vind daar tans opstande en betogings teen die heersende bewind van president Abdelaziz Bouteflika plaas. Die opstande het begin toe Bouteflika, wat reeds vir 20 jaar regeer, aangekondig het dat hy weer as presidentskandidaat vir die verkiesing staan – wat dan sy 5de termyn sou wees. Bouteflika het wel intussen aan die druk toegegee en hom onttrek. Die verkiesing is vir eers uitgestel.

Die betogings teen die bewind word veral deur die jeug gedra. Hulle is moeg vir dieselfde ou garde wat die mag en die hulpbronne tussen hulle verdeel, en vir ’n gebrek aan geleenthede en die hoë werkloosheidsyfer. Ook in Algerië is die gebruik van slimfone algemeen, selfs onder die armes, en dit word suksesvol gebruik om betogings te reël en nuus te deel, sodat die bewind die beheer oor media en inligting verloor het.

Bouteflika is al 82 jaar oud en ná verskeie beroertes sit hy in ’n rolstoel, kan skaars praat en verskyn selde in die openbaar. Hy word in die bevolking as marionet van Le Pouvoir (die mag) gespot.

Le Pouvoir is ’n ondeursigtige elite uit weermag, politiek en ekonomie wat die leisels in die hand hou en wat sorg dat die bevolking van werklike politieke deelname uitgesluit word. Ook die ontrekking aan die verkiesing was waarskynlik nie Bouteflika se besluit nie, maar die besluit van die Binnekring. Hy is deel van die generasie wat teen die Franse bewind geveg het en in 1962 Algerië as sosialistiese staat in die onafhanklikheid gelei het. Sedertdien is Algerië ’n kwasi-eenpartystaat onder die FLN (Front Liberte National, oftewel die Nasionale Bevrydingsfront).

Die land het egter in die laat 1980’s ’n nuwe grondwet gekry en sy sosialistiese aard opgegee en die pad na demokratisering betree, soortgelyk aan Suid-Afrika en die state in Oos-Europa in dieselfde tyd. Algerië se poging tot demokratisering was egter ’n gruwelike mislukking: die kiesers het in groot getalle vir ’n Islamitiese Party (FIS, Front Islamique du Salut/Islamitiese Heilsfront) gestem. Die weermag het besluit om die demokratiese eksperiment te beëindig om sodoende te keer dat Algerië ’n teokrasie soortgelyk aan Iran word, en om die FLN aan bewind te hou.

’n Wrede burgeroorlog tussen Islamiste en die weermag het gevolg, waarin omtrent honderd duisend mense gedood is. Uiteindelik het die weermag gewen en is ’n proses van rekonsiliasie en herstrukturering, onder leiding van Bouteflika, begin. Die bevolking is nog steeds getraumatiseerd deur die oorlog en het vir jare die FLN-regering as die kleiner euwel gesteun. Die bewind is korrup, maar ten minste is daar ’n mate van stabiliteit en veiligheid. Om dié rede is Algerië ook nie geraak deur die opstande, ook bekend as die Arabiese Lente van 2011, in die Arabiese streek nie.

Dit mag wel wees dat die huidige opstande die bewind tot ’n val kan laat kom. Wat dan sal gebeur, weet niemand nie. Die Arabiese opstande het (in die meeste gevalle) dinge eerder nog vererger. Net in die geval van Tunisië het, ná die verwydering van die diktator, ’n fase van geleidelike demokratisering plaasgevind, met terugslae, stampe en stote. Of Algerië, met sy geskiedenis van geweldpleging en streng sentrale beheer, ’n demokrasie sal word, is te betwyfel. Die massas soek egter ’n verandering. Hulle is nie tevrede dat Bouteflika net deur ’n ander verteenwoordiger van die ou garde vervang word nie.

Die betogers is sonder ’n leier of ’n duidelike ideologie. Hulle soek natuurlik beter lewensomstandighede, maar ook ’n ander soort politiek as die huidige een. Daar is ook geen verenigde opposisie in Algerië nie. Dit strek van sekulêre Sosialiste tot by godsdienstige Moslems. Islamitiese fundamentalisme is verreweg vir die meeste geen opsie nie. ’n Delikate oorgangsproses sal bemiddel moet word, maar daar is ook geen leier met gesag wat wyd aanvaar word om die rol van bemiddelaar te speel nie.

Algerië staan by die kruispad met die moontlikheid van demokratisering, die status quo van ’n outoritêre bewind, of selfs (as ergste scenario) weer voor ’n burgeroorlog.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae