Almal praat oor hoop, maar hoe geloofwaardig is dit?

Prof. Natie van Wyk (Foto: Verskaf)

Tussen 1938 en 1947 het die latere ‘hoof-filosoof’ van die Duitse Demokratiese Republiek (of Oos-Duitsland), Ernst Bloch, sy beroemde drie-volume-werk, Die prinsiep hoop, geskryf.

Geïnspireer deur GWF Hegel en K Marx, sou sy optimisme oor ʼn hoopvolle toekoms, die volgende generasie filosowe en teoloë gaande hê. Bekend is die beroemde boek van Jürgen Moltmann, Die teologie van die hoop.

Terwyl die entoesiasme oor hoop in die filosofie en teologie intussen vervaag het, is die gedagte van hoop deur ons mense in hulle daaglikse taalgebruik opgeneem. Van die Springbok-afrigter tot die mees onbekende liedjieskrywer wil hoop skep, hoop bring en hoop gaan skenk. Elke liefdadigheidsorganisasie, ja, elke welmenende mens, is besete met die oortuiging dat hulle die bron van hoop kan word.

Wanneer alles gereduseer word tot hoop (veral hoop wat deur mense se handelinge gerealiseer kan word), dan is niks uiteindelik hoop nie. Ons moet dus krities debat voer oor wat hoop is, en wat dit nie is nie; of daar hoegenaamd iets soos hoop is; en wat Christene daaronder sou kon verstaan?

Brokstukkies uit die geskiedenis van die begrip hoop

Die Duitse filosoof Friedrich Nietzsche. (Foto: DPA/ dpa Picture-Alliance via AFP)

In die Westerse denkgeskiedenis is hoop dikwels as ʼn negatiewe saak, ja selfs as iets boos, verstaan. Volgens die vertelling van Friedrich Nietzsche (1844–1900) het Pandora ʼn porseleinvaas vanaf Zeus na die mensdom gebring met al die booshede of euwels wat ons leer ken het.

Een euwel het egter in die vaas oorgebly, naamlik hoop. Pandora was egter oortuig dat hoop aan mense tog die goeie kon skenk, en het Zeus versoek dat die deksel tog geopen kon word. Dit blyk toe dat hoop die grootste van alle euwels is. Die ou Grieke was daarom oortuig dat dit beter is om nie te hoop nie.

Op die grafsteen van Nikos Kazantzakis van Kreta staan: “Ek hoop niks, ek vrees niks, ek is vry”. Hoop was dus aan die begin van ons beskawing ʼn ambivalente aangeleentheid, en die Grieke het gemeen dat dit beter is om nie te hoop nie, aangesien ʼn mens dan bevry is van illusies.

Cicero het hierdie tipe denke goed saamgevat deur te argumenteer: Ons lewe word deur lyding gekenmerk, en daarom is dit heel menslik om te hoop op ʼn lewe sonder lyding. ʼn Lewe sonder lyding bestaan egter nie, en diegene wat hoop, vererger net hulle lyding. Sonder hoop kan daar daadwerklik gepoog word om die gehalte van lewe te verbeter. Om te hoop is eintlik ʼn lafhartige weghardloop van ons etiese verpligting.

Die filosofie van hoop van Ernst Bloch, sou in die twintigste eeu hoop reduseer tot dít wat deur menslike handeling waar gemaak kan word. Dit sou eers die Christelike godsdiens wees wat hoop as ʼn positiewe begrip opgeneem het, en dit nie gereduseer het tot blote menslike deugsaamheid nie.

Hoop as handeling

Ernst Bloch het die volgende oor menswees gesê: “Ek is, maar ek het myself nie in ʼn greep nie; daarom word ek nog mens”. Volgens Bloch moet die mens homself nog verwerklik. Individue kan hulle nie op eie houtjie verwesenlik nie. Hulle het ʼn gemeenskap nodig, en wel ʼn gemeenskap wat nog geskep moet word, en wel binne ʼn bepaalde geografiese ruimte wat ʼn park, stad of land kan wees.

Die mens leef daarom met ʼn antisiperende toekomsgerigtheid. As neomarxis, het hy die Joodse voorstelling van ʼn nuwe Jerusalem, in sekulêre beelde voorgestel; as ʼn stad sonder werkloosheid, woningnood en armoede. Hierdie utopiese toestand, of die “vaderland van vryheid” soos hy dit noem, mag nie net ʼn wens bly nie, maar moet aktief, handelend, waargemaak word.

Die moontlikheid van ʼn ideale menslike toestand, is wat mense hoopvol laat werk. Hoop as die mag van die moontlike, laat mense ophou bid tot God en gee aan hulle die sekerheid dat hulle self die droom kan laat realiseer.

Die mens is dus volgens Bloch by uitstek ʼn werkende, doenende, dier. Hy wag nie op die aankoms van die goeie nie, en verwag niks van God nie. Hy verwag slegs van diegene rondom hom om saam te werk en besig te bly, sodat ons as mense aan onsself kan bewys, ons kán!

Die filosoof Ernst Bloch (Foto: MANFRED REHM/ DPA/ dpa Picture-Alliance via AFP)

Die hoop van Christene

Hoop is ʼn begrip wat ʼn paar keer, veral in die Nuwe Testament, voorkom. Daar moet egter gelet word op die besondere gebruik van hierdie woord in die verskillende tekste van die Bybel.

Ek lig één merkwaardige en unieke gebruik uit, naamlik dat die begrip hoop meestal in samehang met ander begrippe gebruik word. Hoop is nie ʼn selfstandige, apart-staande aspek van die Joods-Christelike godsdiens nie. Dit het met ander aspekte van geloof en lewe te make. Dít beteken: Om alleenlik te ‘hoop’, maak nog nie van jou ʼn Christen nie, aangesien Christelike hoop ʼn lewensinstelling is, wat met ander lewensfasette saamhang.

In talle tekste van die Ou Testament, het uitsprake oor hoop te make met menslike lyding en lewensgevaar. In hierdie situasies wend gelowiges hulle tot gebed vir uitkoms en redding. Die belofte word gegee dat diegene wat in vertroue op God leef, nie in die skande sal kom nie.

Uiteindelik sal hulle hulself nie hoef te skaam vir hierdie geloofsvertroue nie, aangesien die God waarop vertrou word, die barmhartige God is, wat die getroue gebedsgelowiges nie versaak nie (Psalm 22:6, 25:7). Paulus (Romeine 5:5), hanteer lyding en beproewing op dieselfde wyse. Hy voeg egter die Christelike deug van geduld by die argument (wat hy waarskynlik in Klaagliedere 3:26 gekry het).

Gebed en geduld ontwikkel standvastigheid, en voor standvastigheid wyk die skaamte vir die vertroue in God ook. Skaamte vir lewende hoop verdwyn, aangesien die liefde van God, wat deur die Heilige Gees geskep word, die bron van hoop is.

Volgens Paulus (Romeine 15:13), skep geloof in die Bron van Hoop, soos gewek deur die Heilige Gees, die verdere deugde van vreugde en vrede. Hierby, moet die Joodse deug van ‘stil wees voor die Here’ (Psalm 62:6) ook weer na vore geroep word.

‘Stil wees’ beteken minstens, om berustend en nie opstandig leef nie. In die bekende 1 Korintiërs 13:13, waar hoop in één asem met geloof en liefde genoem word, kom die waarheid ook in die spel. Nie die relatiewe- of voorlopige waarheid nie, en ook nie die post-waarheid nie, maar die waarheid wat nie bitter graag die leuen wil verheerlik nie. Ja, die hoop het onbeskaamd met die waarheid van die evangelie van Jesus Christus te make.

Die liefde vir die waarheid skep sekerheid – nie ʼn onwrikbare en onveranderbare sekerheid oor ons morele oordele nie, maar sekerheid oor die dinge waarop ons hoop (Hebreërs 11:1). Volgens 1 Petrus 1:3 is hierdie hoop ʼn lewendige hoop, aangesien die barmhartigheid van God (dít waarop ten diepste gehoop word), finaal tot openbaring gekom het in die opwekking van Christus uit die dood. Ons hoop dus ook op die ewige lewe.

Hoe kan ons die geloof in die ewige lewe in menslike taal verwoord? Ons kan en moet dit doen, wel bewus van die kontinuïteit en diskontinuïteit van ons menslike lewenswerklikheid (1 Korintiërs 15:44).

Portret van Philipp Melanchthon (Foto: leemage)

Philipp Melanchthon (1497–1560) het dit suksesvol gedoen aan die hand van die menslike behoefte aan ‘omarming’. Die dood van ʼn geliefde laat mense met die behoefte om hierdie persoon net weer een keer te omarm (diegene wat dierbares tydens die pandemie in afsondering moes sien sterf, weet wat ter sprake is).

Die “Vaderhuis wat vir ons voorberei is”, is die ruimte waar ons ons geliefdes, en waar Christus ons weer gaan omhels. Dit sal ʼn “ander” omhelsing wees, maar tog ook “heel menslik”.

Mense wat gedurig oor hoop wil praat, maar by een of ander samekoms ná die afsterf van ʼn geliefde, slegs ‘die lewe van die persoon wil vier’, mis uit op een van die belangrikste aspekte van hoop, naamlik die hoop op ʼn nuwe menslikheid waar die omhelsing ‘ewigdurend’ sal wees.

Mag die nuwe sekulêre godsdiens van die Afrikaner tog weer plek maak vir die Christelike godsdiens, aangesien Christelike hoop, geloofwaardige hoop is!

Godsdiensfilosofiese aktualisering

Die Portugees-Nederlandse filosoof, Baruch Spinoza (1632–1677), het nie waarde geheg aan die Bybelse verstaan van hoop nie. Hy het hoop met angs in verband gebring. Volgens hom word hoop gebore uit die verlange na óf die fantasieë oor die goeie verlede, óf die wensbeelde oor ʼn beter toekoms. Hierdie fantasieë is sleg vir die menslike gemoed, aangesien dit voorstellings van die lewe bevat, wat óf nooit werklik bestaan het nie, óf nooit gaan bestaan nie.

Hoop bestaan dus nie sonder vrees nie, maar vrees bestaan ook nie sonder hoop nie. Wie hoop, weet dus nie of dít waarop gehoop word, in die verlede bestaan het, of in die toekoms gaan bestaan nie. Wie vrees, weet nie of hoop enige werklikheidswaarde het nie. Die heen-en-weer tussen hoop en angs, skep vertwyfeling, en die vertwyfelde mens is ʼn gevaarlike wese vir sy medemens.

Die Deense filosoof Søren Kierkegaard (1813–1855) het in 1844 ʼn beroemde en invloedryke boek oor die menslike angs geskryf. Hy het egter vir die apostel Johannes goed geken en verstaan. Op grond van 1 Johannes 4:18 het hy geweet dat liefde die angs en vrees verdryf. Sy geskrif in 1847 oor die Doen van die liefde, is daarom eintlik belangriker as dié een oor die angs.

Die Deense filosoof Søren Kierkegaard (Foto: PrismaArchivo/ Leemage)

Kierkegaard se kritiek op ‘hoop as daad’ beteken beslis nie dat hoopvolle mense niks doen nie. Hoopvolle mense beoefen die liefde; hulle probeer nie om wêreldverbeteraars te wees nie. Mense is nie die liefde nie; net God is die liefde.

Ons kan hoogstens uit dankbaarheid God en ons naaste liefhê, en dít beteken nie dat ons ten alle koste van die wêreld ʼn beter plek moet probeer maak nie.

Ons moet volgens Kierkegaard al hopende liefhê, en liefhebbend hoop. Om dít te kan doen, benodig ons geloof; geloof in die barmhartigheid van God in Christus Jesus.

Die liefhebbend hopende verwag die goeie van God, en dít stel hom in staat om aanhoudend ook goed te doen. Dit is juis die gebrek aan die verwagting dat God aan ons die goeie kan en wil skenk, wat van ons besete doeners maak.

Christene moet vanselfsprekend doen, maar doenigheid sonder die verwagting van die moontlikheid dat die goeie aan ons geskenk sal word, plaas ons terug by Pandora en Bloch; dáár waar Christene juis nie wil wees nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Natie van Wyk

Prof. Natie van Wyk is navorsingsgenoot van die Departement Historiese en Sistematiese Teologie, Fakulteit Teologie en Religie, Universiteit van Pretoria.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Groen Ghoen ·

Martin Luther (Priester, teoloog, skrywer en gesangskrywer): “Alles wat in die wêreld gedoen word, word deur hoop gedoen. Geen handelaar of vakman sou homself aan die werk stel as hy nie gehoop het om daardeur voordeel te trek nie.” Duidelik orals sigbaar en direk op S.A. van toepassing is die stelling van Napoleon Bonaparte: “n Leier is ‘n handelaar in hoop.” Die onbeholpe ANC leierskap het geen werkbare plan vir S.A. se enorme probleme nie. Daarom kan hulle nie die bevolking inspireer tot optrede nie. Dit is die rede waarom werkloosheid in S.A. 50% plus is en mense sonder hoop net bestaan.

annie ·

Om op enigiets anders te hoop as op hulp van die Drie-enige Skepper is sinloos. Dit is heel eenvoudig en het geen hogere filosofiese beredenering nodig nie. Dit is vir elke mense beskore. Lang verduidelikings breek net mense se moed tensy dit so bedoel word. ‘n Pienkraambril sal die meeste professore en kerklikes se lewesuitkyk verbreed en die uitsig kleur.

Republikein in die Wes Kaap ·

Toekomsgerigte mense moet altyd hoop hê, maar verwagtinge is dalk meer realisties.

Nettie ·

Watte pragtige, omvattende en deeglike artikel. Baie dankie Professor.

En Amen op hierdie stelling van u:
“Mag die nuwe sekulêre godsdiens van die Afrikaner tog weer plek maak vir die Christelike godsdiens, aangesien Christelike hoop, geloofwaardige hoop is!”

Wanneer die dinge oor ons gaan kom, wat binnekort moet, onthou hierdie geloofwaardige hoop!! Van ons geloofwaardige getuie, Jesus Christus. Kyk op, want ons verlossing is dan naby. Die hoop vir ‘n pragtige toekoms. ‘n Tydperk van vrede en vooruitgang saam met ons Koning. En ja, saam met al die geliefdes wat ons al moes afstaan aan die dood. Want Jesus het die dood oorwin!

Hendrik ·

Prof Natie hoekom wil julle nie versoen met GHG al het hulle die hand van versoening uitgesteek?

Oom ·

Ek is nie hoegenaamd geïnteresseerd wat elke vooraanstaande ongelowige te sê oor ‘n belangrike saak (hoop) soos die nie. Dit kompliseer net die saak vir ons as gewone Christene. Die Heilige Gees het deur die Bybel hierdie saak breedvoerig geopenbaar. Begin die verklaring by die Bybelse verduideliking van die saak. Die ongelowiges se verklarings is bloot bladvulling en dra weinig by tot die uitbouing en versterking van my en ander se geloof. Die Bybel waarsku juis dat ons aandag van die Evangelie afgetrek sal word deur die geleerdes onder ons.

“Die Here het uit genade ook aan ons gelowiges goeie hoop gegee. Dit is goeie hoop omdat dit absoluut seker is, want dit is gegrondves in die beloftes van God. Die hoop is goed, want dit is gegrondves op die Here se genade en nie op ons prestasies nie. En dit is hoop, want dit is beloftes wat nog nie vervul is nie, maar in die toekoms vervul sal word.”

Fluisterwind ·

Jesaja 7:11-14 “Eis vir jou ‘n teken van die Here jou God: sak diep af na die doderyk, of klim hoog op boontoe. Maar Agas het geantwoord: Ek sal nie eis nie en die HERE nie versoek nie. …..vers 14 : “Daarom sal die HERE self aan julle ‘n teken gee: Kyk die maagd sal swanger word en ‘n seun baar en hom Immánuel noem.” Hierdie eeue oue hoop van gelowiges is volbring en nou bly die wederkoms hoop vir ons as gelowiges oor. Hierdie hoop vra ‘n daadwerklike lewe, onder genade in afhanklikheid van God met dankbaarheid as kenteken.

Marianna ·

Hoop is soos om te droom, te wens. Dis altyd in die toekoms. Dit bestaan nie in die NOU nie. Hoop bestaan dus nie maar mense klou vas daaraan, kerke verkondig dit. Jy kan hoop soos jy wil dinge sal nog steeds gebeur soos dit moet.

Marthinus W ·

In Thomas Bulfinch se “The Age of Fable”, word die Pandora-episode anders verwoord, [2de uitgawe, 1925,p.14] en stem ooreen met ander boeke oor die mitologie.

Pandora was die eerste vrou wat geskape is – in die hemele, en daarna aarde toe gebring is, na die huis van Epimetheus. In sy huis het hy n fles gehad waarin allerande “noxious articles” was, wat nie geskik was vir die nuwe aardse mens wat geskep is nie. Uit nuuskierigheid, het Pandora die fles oopgemaak, waarop dinge soos jig, rumatiek, plae, jaloesie, wraak, en ander dinge die wereld ingevaar het. Pandora het vinnig die deksel teruggesit, met slegs “hoop” wat daarin agtergebly het.

n Vrou het dus die aarde gered, en seker gemaak dat ons altyd hoop sal he. Hoop word hier gesien as positief, wat ons Christene dan kan koppel aan liefde, en geloof (wat niks anders is as hoop op dinge wat ons nie kan sien nie).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.