Angola: presidentsverkiesing en die langtermynleiers van Afrika

angola

Angola staan voor allerhande uitdagings, maar dit is dikwels nie uniek tot die land nie. Foto: Pixabay.com

Vir die eerste keer sedert 1979 kry Angola ʼn nuwe president. José Eduardo dos Santos, wat 38 jaar lank reeds die president is, het al verlede jaar besluit om uit te tree en sy opvolger is João Lourenço, die minister van verdediging.

Die verkiesing, met kandidate van 6 verskillende partye, het op 23 Augustus plaasgevind, maar Lourenço se verkiesingsoorwinning is ’n uitgemaakte saak. Hy staan vir dieselfde party as Dos Santos, naamlik die MPLA (Volksbeweging vir die Bevryding van Angola), wat sedert onafhanklikheidswording in 1975 regeer. Die vraag is dus nie óf MPLA gaan wen nie, maar hoe ver. Enigiets minder as 70% kan al as ’n neerlaag gereken word. Volgens voorlopige uitslae loop die MPLA voor met tussen 65% en 70%. Met die laaste verkiesing in 2012 was die MPLA se persentasie 72%.

Angolese stem nie vir die MPLA omdat hulle so goed regeer word nie, maar omdat hulle deel wil wees van die magtiges en nie van die onderdrukte opposisie nie. Ook omdat die MPLA feitlik die hele media en die staatsdiens beheer. Al vind daar elke vyf jaar verkiesings plaas, staan niemand behalwe die MPLA ʼn kans om te wen nie. Die eens marxistiese party met sy sterk bande met die Sowjet-Unie het deesdae veral ten doel om sy leiers, en in ʼn mindere mate sy ondersteuners, toegang tot die geldkoffers van Angola te gee.

Dos Santos is nie toevallig een van die rykste mense in Afrika nie, en ook sy familie baat geweldig by sy mag en invloed. Anders as in Suid-Afrika, waar staatskaping ten minste grootskaalse weerstand uitlok, is Angola al so lank onder beheer van die MPLA dat dit as ʼn gegewe aanvaar word dat ʼn elite die land plunder. Hulle het boonop geen vrye media, geen onafhanklike howe en geen demokratiese kultuur of sterk middelklas nie. Mense is eintlik dankbaar dat die MPLA die dekade lange burgeroorlog (waarvan hulle deel was) teen UNITA (Unie vir die totale onafhanklikheid van Angola) beëindig het en dat daar ʼn mate van stabiliteit heers. UNITA is die grootste opposisieparty.

Die politieke situasie in Angola word ook in ander lande van die streek weerspieël: ʼn sosialistiese “bevrydingsbeweging” wat sterk deur die Sowjet-Unie gesteun is en wat die mag na onafhanklikheid ingepalm het en dit om elke prys behou, en ʼn pro-Westerse, of meer gematigde opposisieparty, wat alewig tweede kom.

Dos Santos sou ook nie uitgetree het nie as hy nie seker was dat hy nog steeds invloed kan behou en dat niemand aan sy en sy familie se rykdom vat nie. Hy bly in elk geval die leier van die MPLA. Lourenço is ʼn lojale ondersteuner van Dos Santos en daar word geen radikale koersverandering onder hom verwag nie. Alhoewel Angola genoeg probleme het, is die regime nie tans in die gedrang nie en sal Lourenço waarskynlik nie as hervormer ontpop nie.

Angola staan wel voor allerhande uitdagings. Die land se ekonomie is baie sterk afhanklik van olie (en ander hulpbronne) en is ʼn tipiese derdewêreldekonomie, met ʼn blink hoofstad waar dinge gebeur en wat die armes soos ʼn magneet trek, met die res van die land wat afgeskeep word. Werkloosheid en korrupsie is ook hoog. Ontwikkeling geskied veral deur die Chinese, wat die spoorlyne wat in die burgeroorlog vernietig is, herbou en hele nuwe stede aanlê, natuurlik teen betaling. Dit is ʼn voorbeeld van hedendaagse “neokolonialisme”.

Dos Santos is die tweede langste regerende president in Afrika met 38 jaar in die tuig. Die twyfelagtige eer om die langs regerende president (of eerder diktator) in Afrika te wees, val Teodoro Nguema Obiang toe, wat ook al vir 38 jaar as diktator van Ekwatoriaal-Guinee heers. Ná hulle twee is dit Robert Mugabe van Zimbabwe met 37 jaar, Paul Biya van Kameroen met 35 jaar, Dennis Sassou-Nguesso von Kongo-Brazzaville met 33 jaar, Yoweri Museveni van Uganda met 31 jaar, koning Mswati van Swaziland met 31 jaar en Omar el-Basjhir van Soedan met 28 jaar.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Daan Erasmus ·

Dit is ‘n mors van tyd en energie om kommentaar te lewer op korrupte Afrika leiers. Gaap.

Faantjie ·

Nou verstaan ek hoekom ons ouers so sterk teen ‘demokrasie’ was. Groot dankie aan almal wat opgeoffer het sodat ons nie voor 1990 ‘n Kommunistiese diktatorskap gekry het nie!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.