Athene en Jerusalem ja, maar wat van Rome?

Skildery deur François Dubois, ‘n Hugenote-skilder wat ná die slagting van Bartlomeusnag in 1572 uit Frankryk gevlug het. (Foto: Wikipedia)

Op 24 Augustus word die marteldood van die apostel Bartolomeus, ook Natanael genoem (Markus 3:18; Johannes 1:45), in talle kerke in die Weste herdenk.

In Suid-Afrika word die dood van nagenoeg 35 000 Calviniste op 23/24 Augustus 1572 in Parys herdenk. Talle Hugenote, het soos die meeste lesers weet, ʼn heenkome in ons land gevind. Aan hierdie gebeure sal daar weer deur ander skrywers aandag geskenk word.

Ek wil egter die lewensverhaal van Justinus die filosoof en martelaar bekend stel, aangesien sy tragiese dood verhelderend kan inwerk op die onlangse politieke teater in ons land.

Justinus die filosoof en martelaar (100 – 165 n.C.)

Justinus is nagenoeg 100 n.C. in Flavia Neapolis naby Sichem in Palestina gebore. Alhoewel hy op Samaritaanse grondgebied gebore is, was sy ouers Griekssprekende heidene. Hulle was deel van die hoër-middelklas stedelinge, finansieel onafhanklike en weetgierige mense wat in die Hellenistiese filosofie belang gestel het.

Justinus die filosoof (Foto: Wikipedia)

Die jong Justinus het hierdie belangstelling van sy ouers gedeel. Hy het verskeie filosofieskole in verskeie stede tydens sy leeftyd gestig wat gratis onderrig verskaf het. Die belangrikste een was in Rome, waar hy in hegtenis geneem is. Hy was ʼn kenner van die Stoïsisme, Plato en daarom ook Socrates (470 – 399 v.C.). Plato (427 – 347 v.C.) was uiteindelik sy groot liefde, en hy het Plato selfs as die deur na Jesus Christus beskou.

Danksy die Griekse filosofie het hy ander denkende Christene leer ken, en danksy hulle die Christelike godsdiens. Justinus het uiteindelik ʼn belangrike rol gespeel om die Christelike godsdiens as ʼn denkende godsdiens, ʼn godsdiens in gesprek met die filosofie, bekend te stel. Sy voortgesette dra van sy filosofiese “toga” (wat die oorsprong van die predikante-toga is) het verseker dat hy die vroeë kerklike teologie heen gelei het na die besig-wees met “Christus as die waarheid, en nie met Christus as ʼn modeneiging (consuetudinem) nie”, soos wat die Latynse kerkvader, Tertullianus, in 200 n.C. sou opmerk.

Volgens oorlewering het Justinus die evangelie van Jesus Christus tydens ʼn wandeling op die strand by Efese leer ken by ʼn onbekende ou man wat hom oortuig het om na die ware God te soek met behulp van die profete van die Ou Testament. Hulle verwagtings en voorspellings van die koms van die verlosser van die mensdom, sou naas die filosofiese soeke na waarheid en nuttigheid, die weg vir Justinus open om die eerste teoloog te word wat apologeties sou intree vir die evangelie. Apologie beteken om skriftelik te verduidelik wat geglo word en hoekom geglo word, en om die kerk en Christene teen leuens en verdagmakery te beskerm.

Slegs drie geskrifte van Justinus het behoue gebly naamlik, Die dialoog met die Jood Trypho en die Eerste en Tweede Apologie. Die eersgenoemde is in Efese, terwyl die tweede en derde geskrifte, in Rome geskryf is. In sy Dialoog, beskryf hy die Christelike godsdiens as “die ware filosofie wat waarlik gelukkig maak”. Dit is volgens hom die enigste redelike godsdiens; ʼn godsdiens wat nie op mites en sinlose rituele berus nie. In sy twee Apologieë, verdedig hy die hoë morele waardes van die Christene, soos die liefde vir die vyand, asook die integriteit van die sakramente van die doop en die nagmaal teen booswillige skinderpraatjies, en kritiseer hy die tradisionele Griekse en Romeinse godsdienste as primitiewe voorvader-aanbidding.

Dit sou juis sy kritiek teen die tradisionele godsdienste wees wat hom sy lewe sou kos.

Justinus en die filosowe-keiser Marcus Aurelius (121 – 180 n.C.)

Justinus se Eerste Apologie (ca 155 n.C.), was gerig aan keiser Antoninus Pius[1] (regeer 138 – 161 n.C.), sy aangenome weeskinders, Marcus Aurelius (regeer 161 – 180 n.C.) en Lucius Verus (mede-regent en hoof van die weermag 161 – 169 n.C.), die senaat asook die Romeinse landsburgers. Hy versoek die ontvangers van die geskrif om die Christene nie as die vyande van die Romeinse staat en samelewing te sien nie, maar eerder as lojale burgers wat hulle vir vrede beywer.

Borsbeeld van Marcus Aurelius (Foto: Wikipedia)

Op voetspoor van die groot filosowe soos Socrates verseker hy hulle dat Christene op grond van rasionele oorwegings, die waarheid najaag en daarom nie tradisionele oortuigings wat waardeloos blyk te wees, kan verdedig nie, maar geen opstand teen die staat beplan nie. Dit is veral die verering, aanbidding en offers aan die voorvaders, wat die afgestorwe keisers insluit, wat vir hulle filosofies en Bybels (die eerste gebod) onaanvaarbaar is.

Die weiering om aan die voorvaders te offer, en die verwerping van die politeïsme (veelgodedom), is egter geen rede om die kerk te beskuldig vir die natuurlike rampe en sosiale ellendes van daardie tyd nie. Die irrasionele beskuldigings dat ʼn klein groepie mense, wat hulle met die tradisieryke denke uit Jerusalem vereenselwig, vir natuurrampe verantwoordelik is (soos onlangs ook weer deur mnr. Zuma se woordvoerder beweer is), getuig van mitiese denke wat nie versoenbaar is met die verhewe filosofiese tradisie uit Athene nie.

Justinus doen dan ʼn beroep op die keiser in Rome om wetlike beskerming teen die populistiese aanklagte van die ongeletterde massas. Terwyl die tradisievaste Romeinse burgers op massa-teregstellings aandring, kom die keiser sy wetlike plig na om aan die belasting-betalende Christene (Romeine 13:6-7) “beskerming” te bied. Hy handhaaf die wet van sy pa, Hadrianus, wat bepaal het dat Christene slegs binne die raamwerk van geregtigheid, vervolg kan word.

Irrasionele eise deur die massas om keiser Nero (regeer 54 – 68 n.C.) se edik “Christene moet uitgeroei word” (“Christiani non sint”) te laat herleef, word dus verwerp, aangesien alle burgers deur die reg en die beginsel van geregtigheid, beskerm moet word. In Rome heers die reg, en die keiser beskerm die reg, was Antoninus se standpunt. Die eise van die massas, is in Rome nie belangriker as die reg en geregtigheid nie, het die keiser geargumenteer.

“Nero se fakkels” beeld ‘n groep Christelike martelare uit wat op pad is om lewendig verbrand te word tydens die bewind van keiser Nero in 64 nC (Foto: Wikipedia)

Tien jaar later, in 165 n.C., word Justinus en ses ander Christene egter wel in hegtenis geneem om verhoor te word. Die filosowe-keiser Marcus Aurelius was op daardie stadium die heerser oor die Romeinse Ryk. Die vraag is: Was hy as filosoof, die dienskneg van die reg, of het hy voor die dreunsang van die massas geswig? Om die antwoord op die vraag te verstaan; eers die volgende inligting.

Antoninus was ʼn aanhanger van Zeno (334 – 262 v.C.), die stigter van die invloedryke Stoïsynse skool vir filosofie. By Zeno leer hy die waardes van geduld, die berusting in die onaanvaarbare en die waardigheid van elke burger. Aangesien willekeurige magsuitoefening nie by ʼn denkende regent pas nie, moet reg en geregtigheid sy riglyne wees in die hantering van krisisse.

Antoninus se twee aangenome seuns, en sy opvolgers, het hulle beide ook in die stoïsisme verdiep. Só het Plato se droom in sy Republiek, van filosowe-konings, ʼn werklikheid geword. Marcus Aurelius sou self ʼn bekende filosoof word. Sy Meditasies is een van die bekendste werke uit die tydperk van die Romeinse Ryk (en daar bestaan ʼn Afrikaanse vertaling daarvan deur Francois Bredenkamp, Protea, 2007). Hy, op voetspoor van sy pa, het waarde aan godsdiens sonder bygeloof geheg. Só het hy langs Socrates gestaan wat geen waarde aan voorvaderaanbidding geheg het nie; en moes hy eintlik ʼn Christen geword het.

Borsbeeld van die filosoof Zeno, stigter van die invloedryke Stoïsynse skool vir filosofie (Foto: Wikipedia)

Die Romeinse Ryk wat oor ʼn lang tyd al aan die verval was, sou onder Marcus Aurelius dramaties disintegreer. Naas die volksopstande was daar droogtes, oorstromings, aardbewings en epidemies. In die tradisionele volksgodsdienste word daar geglo dat iemand hiervoor verantwoordelik is; en wel diegene wat nie aan die tradisionele offerpraktyke deelneem nie; en in daardie tyd was dit die Christene, en hulle moet sterf!

Justinus en sy ses vriende is op grond van publieke opinie en druk in hegtenis geneem, onder aanklag dat hulle ateïste is en nie bereid is om aan die gode (wat keiserlike voorvaders soos Nero en Antinous insluit) te offer nie, in die hoop dat hulle die natuurrampe en politieke bedreigings sal keer. Die inhegtenisneming is egter deur twee filosowe en ʼn nuwe dekreet aangehelp.

Marcus Aurelius se betaalde filosofiese leermeester, Fronto, het ʼn amptelike klagstaat teen die “Christene” opgestel en aanbeveel dat hulle beveg moet word. Hierdie klagstaat het egter verkeerdelik gemeen dat die leerstellings van Valentinus, die leermeester van Marcion (85 – 160 n.C.), die leier van die Christelike Gnostiek (een van die eerste Christelike ketterye), die leerstellings van die kerk verteenwoordig.

Tweedens het Crescensus, ʼn leier van die filosofiese Sinisme, en ʼn man wat die dood nie gevrees het nie, die Christene van leuens en bedrog beskuldig, aangesien hulle beweer dat daar ʼn lewe ná die dood is. Op grond van die publieke weersin in die Christene, en die menings van Fronto en Crescensus, het Marcus Aurelius ʼn nuwe edik uitgevaardig wat bepaal dat almal wat nuwe godsdienste propageer, waarvan al die leerstellings nie bekend en verstaanbaar is nie, onthoof moet word. Op grond van hierdie edik, het Justinus sy Tweede Apologie aan die keiser gerig. Dit was egter té laat om sy mening te verander.

Die kenner van die stoïsynse filosofie en die oppergesag van die Romeinse reg, het ʼn ander filosoof, die verdediger van die “ware filosofie”, laat onthoof aangesien hy nie aan die populisme en irrasionele mitiese godsdienste wou deelneem nie. Drie (weliswaar onbetroubare) variante van die notule van die hofverrigtinge en onthoofding onder die “aanklaer-regter” Rusticus, beweer dat Justinus, as ʼn blyk van filosofiese respek, toegelaat is om soos Socrates ʼn beker gif te drink.

Justinus, die eerste draer van ʼn kerklike ampskleed en die man wat om dieselfde redes as Socrates (die vader van die Westerse filosofie) gesterf het, verdien daarom ons agting en respek.

‘n Mosaïek op die Berg van Saligsprekinge in Israel van die onthoofding van Justinus (Foto: Wikimedia Commons)

Die relevansie

Ons moes onlangs met die sage van oudpresident Jacob Zuma se vrylating aanskou en aanhoor hoe die reg gebuig is uit vrees vir die irrasionele dreigemente van die massas. Iemand wat ʼn ereplek onder die voorvaders gaan inneem, kan tog nie tronkstraf uitdien nie!

Die vrees vir die afsydigheid van die tradisionele gode laat die reg en die regstoepassing nog steeds wankel. So bly Rome, as een van drie bakens van beskawing, altyd kwesbaar. Wat ʼn jammerte!

[1] Antoninus Pius was die opvolger van keiser Hadrianus (regeer 117 – 138 n.C.) wat onder andere bekend was vir sy romantiese verhouding met ʼn Griekse jeugdige, Antinous, Ná sy vroeë dood, het Hadrianus ʼn kultus van aanbidding vir hom opgerig. Die gedagte dat ʼn homoseksuele jeugdige tot die status van ʼn goddelike wese verhef kon word, en daarom aanbid moes word, was vir die Christene onaanvaarbaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Natie van Wyk

Prof. Natie van Wyk is navorsingsgenoot van die Departement Historiese en Sistematiese Teologie, Fakulteit Teologie en Religie, Universiteit van Pretoria.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marthinus W ·

Wat van Konstantinopel, wat vir 1000, nadat Rome gestroop is, die Westerse kultuur lewend gehou en uitgebou het?

annie ·

Niks nuuts onder die son nie, nê, of dit was daar of is gedoen. Al die rampe en klimaatsverskuiwings is ook al beleef. Deesdae dalk ligter. Al kla ons so lekker.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.