Begroting belemmer markvryheid en rykdomskepping net verder

Malusi Gigaba

Malusi Gigaba, minister van finansies.. Foto: Flickr/GovernmentZA

Malusi Gigaba se mediumtermynbegroting van Oktober 2017 herinner in vele opsigte aan die begrotings van Pravin Gordhan. Soos in die Gordhan-era val die fokus sterk op ʼn begroting wat herverdeel en die staat sien as ʼn primêre rykdomskepper. Dit is ʼn begroting wat hewige regeringsinmenging in die ekonomie steeds ondersteun en net verder bemagtig.

Dit is nie ʼn begroting wat vrye ondernemerskap en rykdomskepping bevorder nie.

Die groot verskil, soos talle ontleders nou al aangedui het, is dat hierdie begroting die land se fiskale toestand met hewige en skokkende realisme aangedui het.

Dit is nou nie meer ʼn geheim dat die regering nie sy verwagte belastinginkomstes oor die medium termyn sal haal nie. Die projeksies dui daarop dat die tekort tussen dit wat die regering invorder en dit wat hy beplan om te bestee nog verder sal vergroot. Die verwagte skuld-tot-BBP-verhouding nader nou 60% oor die medium termyn en is in die begrotingsdokument met ʼn reusesprong opwaarts aangepas.

Daar is verder bestaande skuld wat betaalbaar raak (en “oorgerol” moet word). Hiervoor sal die regering geld leen onder minder gunstige omstandighede as in die verlede. Dit beteken dat die bruto leningsvereiste[1] in die Gigaga-begroting met sowat R30 miljard rand van sowat R220 miljard na sowat R250 miljard vir FJ2018 aangepas is. Die begroting voorsien om bykans R1 000 miljard oor die drie opvolgende begrotingsjare te leen.

Dié begroting is ʼn reuseskuldbegroting. ʼn Skuld tot BBP-verhouding van 60% is kommerwekkend vir ʼn land soos Suid-Afrika en die kredietgraderingsagentskap Fitch Ratings het reeds negatief gereageer. Dit voorspel sekerlik verdere afgraderings.

Ekonomies gesproke is daar altyd afruilings om te oorweeg. Soos met die Gordhan-begrotings ook die geval was, is ʼn groot afruiling hier ter sprake tussen herverdeling en markgebonde ontwikkeling. Laasgenoemde is die enigste volhoubare en lonendste manier om Suid-Afrika se probleme by te lê, maar dit is nie waarop die begroting begrond word nie.

ʼn Mens kan kibbel oor “veiligheidsnette” en ek reken self nie dat dié summier weggeneem moet word nie, maar indien markgedrewe ontwikkeling die enigste manier is om Suid-Afrika uit sy penarie te lig, sal die Gigaba-begroting en die ANC-beleid wat dit bevestig nie daartoe lei nie.

Wanneer die regering bykans 31c van elke rand in BBP in die ekonomie spandeer, sowat 26c van elke rand BBP in belasting inneem en die tekort opmaak deur geld in die markte te leen beteken dit eenvoudig dat minder hulpbronne vir private ondernemerskap en belegging beskikbaar is. Die geld wat die regering leen beteken ʼn verdere rentelas op belastingbetalers.

Gemeet aan die wêreld is Suid-Afrika is nie ʼn ryk land nie. Ons is armer in produktiewe kapitaal (in beleggings en fondse vir beleggings in produktiewe ondernemings, aanlegte en toerusting).

Om meer produktief te word en ryker te word moet ons ryker word in produktiewe kapitaal. Daarvoor is ten minste twee dinge nodig: Geld in die hande van verdienstelike entrepreneurs en produsente en ʼn raamwerk waarbinne sakesukses op meriete berus – dit wil sê afhang van hoe suksesvol produsente aan die behoeftes van plaaslike en internasionale verbruikers voorsien.

Deur ʼn gunstige grondgebied te skep kan jy selfs kapitaal van ander lande aantrek, wie sou kon raai?

Dit is so dat talle ryk Westerse land groot regerings het. Vergelyk ʼn land soos Denemarke, ʼn gunsteling onder sommige plaaslike beleidmakers. Denemarke se regering bestee sowat 54c van elke R1 in BBP aan sy begroting. Dit word deels moontlik gemaak deur Denemarke se voorafgaande rykdom (wat myns insiens deur dekades van vryheid van ondernemerskap moontlik gemaak is) en sy ingesteldheid op oop en vrye markte.

Die Dene word swaar belas, maar ondernemerskap word tot ʼn baie groter mate as in Suid-Afrika onbelemmerd gelaat. Gegewe ons klein belastingbasis en ander realiteite, soos die swak terugbetaling op belastinggeld, word Suid-Afrikaners reeds ook swaar belas. Belastingbetalers is eenvoudig vuisvoos en die begroting se swakker belastingsyfers reflekteer dit. Met dié kwalifisering in ag geneem kan ʼn mens wonder of Denemarke se voorbeeld nie eintlik ʼn stap vorentoe sal wees nie.

Wat sal gebeur selfs indien die ANC-regering belasting en besteding op dieselfde vlakke hou, maar die mark oper stel, aggressief dereguleer en minder belemmer? Sal selfs dít nie ʼn groot stap in die regte rigting wees nie? Om besteding en belasting te besnoei is nodig, maar ek reken selfs daarsonder sal deregulering en die bevestiging van private eiendomsregte tans ʼn reuseverskil kan maak.

Dit is nie wat die Gigaba-begroting doen nie. Die Gigaba-begroting weerspieël ʼn hardnekkige voortsetting van beleid en ingrepe wat teen markvryheid indruis. Dit ʼn begroting wat die reuseprobleme en risiko’s wat in die openbare sektor gevestig bykans klakkeloos voortsit.

Die regering beoog om oor die volgende drie jaar gemiddeld 31% van die bruto binnelandse produk aan sy skuld en programme te bestee terwyl vooruitgeskatte belastinginkomste van slegs sowat 26% van BBP voorsien word. Die plan is om regeringsbesteding min of meer op die Gordhan-trajek te hou. Besnoeiings sal oënskynlik eers plaasvind wanneer daar geen ander alternatief oor is nie.

Hoewel daar nog nie in hierdie begroting verdere belastingverhogings aangekondig is nie, word daar soos altyd van die belastingbetaler verwag om eenvoudig net verder op te dok. Die begrotingstoespraak het self genoem dat die sukses van verdere belastingverhogings om belasting in te gaar twyfelagtig is, maar gegewe die regering se toewyding aan huidige bestedingsvlakke en skuldvlakke, blyk verdere verhogings onvermydelik te wees.

Wat wel seker is, is dat ʼn twyfelagtige belastinggaarder gereed staan om die skroewe as’t ware stywer aan te draai.

Die tesourie se vooruitsig verwag verder dat bruto vaste kapitaalbelegging jaarliks met 3,0% en 3,5% sal groei in 2018 en 2019, maar waarop gebaseer? Die tesourie skoei hierdie verwagting oënskynlik op die hoop van ʼn herstel uit die buiteland wat plaaslike sake sal bevoordeel, maar dit terwyl daar erken word dat “beleidsonsekerheid” ʼn probleem is.

Beleidsonsekerheid soos die regering dit gebruik is dubbelspraak.

Gigabe se begroting skep juis beleidsekerheid. Sekerheid oor groot skuld, groot belasting op ʼn klein basis en groot besteding. Dit bevestig groot inmenging, herverdeling en weerspieël sterk anti-marksentiment.

Dit bevestig die markposisie van te groot en riskante staatsbeheerde instellings in die ekonomie. Dit berus op die ideologie van “regeringsgedrewe” eerder as “markgedrewe” groei en vereis skynbaar toenemend die sosialistiese sentralisering van die private sektor. Die Gigaba-begroting skep sekerheid dat beleid wat teen die werking van vrye markte indruis gehandhaaf sal word. Van die private sektor word verwag om eenvoudig by hierdie beleidsomgewing wat ondernemerskap wesenlik belemmer in te val.

Die Gigaga-begroting bevestig dat die ANC-regering verbete gaan klou aan sy inmengingsbeleid wat rompslomp en ekonomiese ondoeltreffendheid verhoog en van Suid-Afrika ʼn duurder beleggingsbestemming maak.

Ons kan heelwat praat oor die begroting se syfers, maar eenvoudig gestel, die syfers is uiters kommerwekkend en onnodig swak. Die belangriker ding om te verstaan is dat ʼn omgewing van werklike vryheid van markte en ondernemerskap, wat al talle lande ryk gemaak het, nie nagestreef word nie. Soos die Gordhan-begrotings van te vore, is die Gigaba-begroting ook nie ʼn resep om ʼn ryk en suksesvolle land te word nie.

Dit is eerder ʼn resep vir die voortsetting van ekonomiese stagnasie en die agteruitgang wat reeds sterk in aanvang is. Die begroting stuur af op ʼn ekonomiese krisis. Krisisse neem verskeie vorms aan en is gewoonlik nie permanent nie, maar verg wel goeie voorbereiding.

Vir die man op straat verg dit omsigtige finansiële beplanning vir bykomende belastingonkoste en slim beleggings ten doel verskansing teen plaaslike stagnasie. Dit verg die bou van veerkragtigheid in ons gemeenskappe, soos deur die oprig van private skole en eie onderriginstellings, gemeenskapsveiligheidsnetwerke en buurtwagte, en maatskaplike oplossings wat nie van die staat afhanklik is nie. Basies gestel: Dit verg soeke na oplossings buite ʼn denkraamwerk wat meen “die regering sal moet sorg”.

Nota’s:

[1] Dit wat die regering moet leen om die begrotingstekort en bestaande skuld wat betaalbaar is te finansier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae