Bitcoin nie nét maanskyn en rose

Deur Frank Karsten

Argieffoto (Foto: MichaelWuensch/Pixabay)

“Elke voordeel het sy nadeel”, het die bekende sokkerspeler Johan Cruyff eens gesê. So is dit ook met Bitcoin. Voordat jy dink ek is ʼn onkritiese aanhanger wat nét hierdie digitale geldeenheid se lof wil besing, laat ek eerlik die nadele noem.

Volgens ekonomiese teorie het geld drie belangrike funksies: die stoor van waarde, as ʼn betaalmiddel en as ʼn rekeneenheid. Bitcoin vervul die eerste funksie redelik goed, maar presteer swak op die ander twee terreine.

As jy swak senuwees het, kan Bitcoin soos ʼn emosionele wipplank voel. Die prys fluktueer sterk en kan soms met soveel as 10% per dag styg of daal. Jy het nie daardie probleem met byvoorbeeld die rand nie, want dit daal net voorspelbaar. Van Julie tot November 2021 het die Bitcoin-prys gelukkig verdubbel tot R1 320 000, net om binne ʼn jaar tot net R300 000 te daal. Raadpleeg dus jou dokter voordat jy kop eerste inspring met jou spaargeld!

Nog ʼn nadeel van Bitcoin is die enorme elektrisiteitsverbruik waaroor omgewingsorganisasies en politici kla. Die talle “mynrekenaars” wat transaksies uitvoer en nuwe munte skep, verbruik na raming 0,5% van die wêreld se totale elektrisiteit. Dit is soveel soos Swede of Maleisië! Dit is natuurlik ʼn nadeel, maar ek sal in ʼn ander rubriek aanvoer dat dit desondanks nié ʼn groot probleem is nie.

Bitcoin is ook vir eers nie geskik vir kleinhandelbetalings nie. Die stelsel is nog nie skaalbaar nie, soos dit genoem word, en kan net gemiddeld sewe transaksies per sekonde hanteer. Terselfdertyd kan Visa en Mastercard maklik 30 000 betalings per sekonde verwerk. Dit neem boonop tientalle minute voor ʼn betaling werklik bevestig word – iets wat woedende gesigte in die tou by Checkers sou veroorsaak!

Betalings is ook relatief duur en kos soms honderde rande op besige tye. Jy betaal egter gewoonlik nie meer as R50 per transaksie nie, wat steeds te veel is wanneer jy ʼn sjokolade koop. Hierdie probleem word toenemend oorkom deur die nuwe Lightning Network, wat ʼn skaalbare, vinnige en laekoste-betalingslaag bo-op Bitcoin bied.

Ongelukkig is Bitcoin ook nie régtig anoniem nie. Alhoewel jou naam en adres nie in die kasboek of blokketting is nie, kan betalings dikwels na ʼn persoon teruggespoor word. As jy daarmee by ʼn aanlyn winkel betaal, word jou Bitcoin-adres aan jou naam gekoppel.

Daarbenewens vereis die regering dat jy jou persoonlike data verskaf as jy jou munte van ʼn kriptoplatform soos Coinbase of Kraken koop. Regeringsagentskappe gebruik verskeie sagtewareprogramme om die blokketting te ontleed en betalings aan individue te koppel. Dis wonderlik as die regering misdadigers wil vasvat, maar nie as jy net ʼn goeie landsburger is wat op oudag Bitcoin gekoop het en nié deur ʼn onversadigbare regering gepla wil word nie.

Enigiemand wat Bitcoin veilig wil stoor, moet baie kennis en ervaring opdoen. Jy kan natuurlik jou munte in ʼn aanlyn kriptoplatform stoor, maar hulle kan jou rekening vries of bankrot raak, soos verlede jaar met die FTX-debakel waar hul kliënte miljarde verloor het.

Met ʼn sogenaamde beursie is jy jou eie bank en geniet jy meer sekuriteit, want jy het jou eie sleutels. Maar veral met ʼn hardeware-beursie soos ʼn klein USB-toestel moet jy heelwat navorsing doen en moet jy ook jou eie bank monitor. Baie mense vind dit dus te omslagtig om hul munte onder hulle eie bestuur te hou.

Bitcoin het dus aansienlike nadele. Ten spyte hiervan is dit steeds ʼn wonderlike uitvindsel wat die wêreld vryer en meer voorspoedig kan maak. Jy sien dit dalk nog nie, maar om Cruijff weer aan te haal: “Jy sal dit eers sien wanneer jy dit besef”.

En dit kan nogal ʼn rukkie neem met Bitcoin.

  • Frank Karsten is die skrywer van The Discrimination Myth (discriminationmyth.com) en mede-outeur van The Democracy Beyond (beyonddemocracy.net).

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Ontledings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

De Bok ·

“Bitcoin is ook vir eers nie geskik vir kleinhandelbetalings nie”

Dit is met die lightning netwerk. Ek is eintlik verbaas dat jy nie hiervan weet nie. Ek gebruik nou en dan die lightning netwerk om inkopies by Pick ‘n Pay te koop met Bitcoin.

Chris ·

Ek is geen kenner van die “geld eenheid” nie. Wat my beperkte kennis betref het ek die harde manier geleer. As dit te goed is om waar te wees is dit gewoonlik. Ek wonder of dit nou die “Pie in the sky” is waarvan so baie mense praat.

OW ·

Baie goeie skrywe.Daar word beweer dat die tegnologie agter bitcoin,die tegnologie van die toekoms is.Dit mag dalk so wees,maar die onsekerhede wat kriptiese geld veroorsaak is na my mening,redelik groot.
Waaraan word bitcoin gekoppel?Wat dit laat styg en daal.Wie is die “hulle”wat jou rekening kan vries of bankrot raak?Regering of maatskappy?Met die FTX debakel,in wie se sakke het die geld beland,van die kliënte wat geld verloor het?Hier is vir my net teveel beweeg ruimte op hierdie stadium,op die kriptoplatforms,sonder behoorlike beheer wat uitgeoefen word nie.
Is kriptogeld belasbaar?Indien nog nie,gaan dit verseker deur regerings ingestel word.
Die internet en elektroniese medium laat my dink aan SA se grense,sponsagtig en wawyd oop.

De Bok ·

Die hele punt van Bitcoin is dat daar geen “hulle” is nie. Jy is heeltemal in beheer van jou geld, solank jy net die bietjie moeite in sit om die Bitcoin in jou eie beursie te hou. Tegniese mense kan dit leer in ‘n paar minute, en nie-tegniese mense behoort dit ook vinnig op te tel.

As jy wil leer hoe om Bitcoin in jou eie beursie te hou, begin jou soektog by Electrum, dit is die maklikste eie-beursie sagteware op die mark.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.