#BLM of #ALM?

Deur Erika de Vries 

(Foto: AP Photo/Alex Brandon, File)

Dit is interessant hoe ʼn storie momentum kry indien dit mense se narratief pas. Daar word nie gekyk na die volle konteks nie, maar net na die deel van die storie wat die eie vooropgestelde idees bevestig. En as baie mense op hierdie lawaaiwa klim, raak dit soos ’n wegholtrein sonder brieke.

Kyk nou byvoorbeeld na die dood van George Floyd in Amerika ʼn paar weke gelede. Helaas was dit ʼn swart man wat deur ʼn wit polisiebeampte onder bedwang gehou is. En dit is waar ‘hulle’ storie begin en eindig: die wit (polisie)man het die swart man ver(s)moor.

In plaas van om te treur en ware regverdigheid te soek, is Amerika aan die brand gesteek. Hierdie klein vonkie het tot grootskaalse optogte en plunderings – ten spyte van inperkingsmaatreëls – gelei, met intimidasie en verdere ongevalle. Vooraanstaande politici, ‘celebrities’ (hoekom laasgenoemde se opinies altyd saak maak, weet nugter alleen) en ander geestelike leiers het hul gewig hieragter gegooi. Saam met die pandemie, ekonomiese onsekerhede en die opkomende presidensiële verkiesing, het ʼn plofbare situasie in die VSA ontstaan. Dit kan amper nie anders nie dat die nuus ook die suidelike halfrond bereik het, sodat selfs ons eie regering ons aanmoedig om solidariteit te toon met die ‘Black Lives Matter’ (#BLM)-beweging. Op dié manier sal ons kwansuis ʼn steentjie kan bydra om rassisme te beveg.

VSA → RSA?

Hoekom nou aandag gee aan Amerika – ’n land wat soos dag en nag verskil van ons eie?

Omdat daar in hierdie geval ʼn oorvleueling is: ʼn geskiedenis van geïnstitusionaliseerde rassisme. Hoewel ons land meer pak slae oor apartheid gekry het, moet die impak van slawerny in die VSA nie onderskat word nie. Hoewel beide formele sisteme afgeskaf is, is die gevolge steeds in die samelewings sigbaar.

Daar is nog ʼn onderliggende oorsaak van hierdie gebeure in die VSA, en Suid-Afrika is op dieselfde trajek. Die VSA is al vir baie lank ʼn sekulêre staat wat, ondanks ʼn redelik Christelike begin, al hoe meer van God en sy gebooie wegbeweeg. God is nie meer welkom in opvoedkundige instellings nie en kinders word met allerlei denkrigtings geïndoktrineer. Hierdie tendense is met spoed besig om na Afrika oor te waai. Een voorbeeld is die sogenaamde ‘Omvattende Seksuele Onderrig’-program wat deur die departement van onderwys aangedryf word.

#BLM

Op die oog af lyk dit of die optogte in die VSA ons simpatie waardig is en ons ondersteuning verdien. Maar dan moet ons dadelik opmerk dat, hoewel hierdie proteste miskien aanvanklik geregverdig kon word, dit al te gou deur ekstremistiese groepe geskaak is. Ons stem saam dat ‘black lives matter’, maar die ‘Black Lives Matter’-organisasie is deur-en-deur onversoenbaar met ʼn Christelike wêreldbeskouing. Hierdie organisasie funksioneer onder die mantra dat menselewens saak maak, maar hulle is selektief oor watter lewens saak maak: hulle is voorstanders van aborsie (sowat die helfte van swart babatjies in die VSA word geaborteer – indien George Floyd in die baarmoeder vermoor is, sou hulle dit toegejuig het); hulle wil die ‘Westerse’ kerngesin vernietig (hoewel vaderloosheid ʼn groot rol speel in die profiele van misdadigers); en hulle wil geslags-‘voordele’ en hetero-normatiewe denke afbreek. Hulle ontken die goeie en betroubare Bybelse definisies van die samelewing, familie, huwelik en geslag. Die uiteindelike doel van soortgelyke instansies (dink ook aan Antifa en Suid-Afrikaanse radikale groepe) is om magstrukture, organisasies, entiteite, Christelike denominasies, universiteite en veral politieke strukture af te breek: “to upset the setup”.

Die strik wat gestel word, is: indien jy nie met die narratief van die #BLM saamstem en aan hulle standaarde van belangstelling en betrokkenheid voldoen nie, is jy ʼn wit supremasis of ʼn rassis. Daar word ook gesê: almal ondersteun die #BLM, en almal kan tog nie verkeerd wees nie? Maar as ons na die #BLM-beweging kyk, is dit in ʼn oproerige, opruiende, plunderende en vernietigende beweging. Ons kan ons nie hiermee vereenselwig nie. Ons moet ons aan God se standaarde meet. Die uiterlike eenheid waarnatoe hulle streef, is ten diepste oppervlakkig.

Woorde is nou belangrike wapens – gevaarliker nog as regte wapens. Maar taal word verwar, sodat woorde nie meer beteken wat dit vanouds beteken het nie. Die definisie van rassisme sluit deesdae ook sg. ‘systemic racism’ in. Dit beteken dat rassisme in samelewings ingebed is ten gunste van wit mense (gerieflikheidshalwe word die feit dat swart mense tans bevoordeel word, bv. deur studiehulp, ontken). Rassisme is nou meer as ʼn persoonlike vooroordeel en gerig op identiteitsgroepe. Indien een groep mense byvoorbeeld armer is as ʼn ander groep mense, is dit outomaties rassisme se skuld.

Hierdie verskynsel is nie eie aan die VSA nie. Ons kan in eie land ekstremistegroepe en die misbruik van woorde aantoon. Dit is ook duidelik dat ‘almal’ – enige groep mense – wel verkeerd kan wees. Ons sien dit vandag en ons sien dit in ons land én in die wêreld se geskiedenis.

#ALM

(Foto: AP Photo/Rick Rycroft)

In Genesis 1:27 staan dat God die mens na sy beeld geskape het. Daarom moet ek my naaste liefhê soos myself: omdat hy, net soos ek, ʼn beelddraer van God is (HK Sondag 40). Almal staan op gelyke voet voor God: “All lives matter.”

Die mensdom is egter nie homogeen nie. Verskillende groepe mense het met verloop van tyd verskillende karaktereienskappe ontwikkel. Handelinge 17:26 verwys daarna: “Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon.” Die Griekse woord wat hier met nasies vertaal word, is ‘ethnos’. Dit verwys na individue in ’n stam/nasie/groep met dieselfde kenmerke. Binne die een menslike ras kom dus verskillende etnisiteite voor.

Handelinge 17:26 verwys ook na die gesamentlike oorsprong van alle mense: ons is een bloed, een familie, wat almal bymekaar hoort. En om bloedvergieting onder mekaar te voorkom, is dit nodig dat almal die bloed van Jesus aanvaar. Slegs Christus se versoenende werk aan die kruis kan ons ʼn nuwe hart en liefde vir ons naaste gee.

Tog is nie alle mense gelyk nie. Die Skrif self onderskei tussen twee groepe mense. Egter nie soos wat mense dit doen nie, bv. die ‘haves’ en die ‘have nots’, maar tussen Jood en heiden, gelowige en ongelowige, die wat ver en die wat naby is, die wat hoop het en diegene sonder hoop (Ef. 2). Hierdie onderskeid is baie meer fundamenteel as enige aardse segregasie. Maar dit is deur die bloed van Christus versoen! Deur Hom het ons oor die hele wêreld familie: geestelike familie wat eendag die Here op die nuwe aarde saam sal dien.

Politieke wil

Wêreldheersers streef nie na Bybelse eenheid tussen mense nie. In ʼn strewe na mag en populariteit, en nie liefde, waarheid en welsyn nie, word ideologieë aangehang om mense onder die vaandel van ‘gelykheid’ saam te voeg. Sulke uiterlike gelykheid is nie Bybels nie. Ons weet dat die armes altyd met ons sal wees (Matt. 26:11) en dat gelyke behandeling nie altyd realiseer nie. In die gelykenis van die arbeiders in die wingerd byvoorbeeld, het die eienaar nie gesondig deur almal gelyk te behandel nie, maar die arbeiders het wel gesondig deur gelykheid te vereis (Matt. 20:1-12).

Niemand mag as ʼn ‘slagoffer’ spesiale behandeling eis nie. Jakobus 2:9 waarsku ons daarteen: “as julle partydig is, doen julle sonde”. “Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges” – ryk en arm, wit en swart (Matt. 5:45). Dit is verkeerd om mense as slagoffers op te hemel en te laat verlustig in die ‘sondes’ van ander. Dit ontneem hulle hul eie verantwoordelikheid (Matt. 7:1-3). Die valse evangelie van viktimisasie ontken een van die grootste waarhede: dat ek my grootste vyand is, dat “die sonde [ook vir my] lê en loer voor die deur” (Gen. 4:7).

Dit is vanselfsprekend dat wetgewing deur feite gelei moet word en nie deur gevoelens of uitsonderings nie. Dit is byvoorbeeld onlogies om alle spoedbeperkings op te hef omdat noodvoertuie sporadies teen hoë spoed op paaie moet beweeg. Maar wanneer vlakke van breinspoeling hoog is, is rasionaliteit dikwels ver te soeke. Die VSA pluk nou die vrugte van jarelange indoktrinasie. Die oorlog teen God en gesin en geslag het deurlopend plaasgevind deur onderwysing van sekulêre/humanistiese etiek in staatskole, waninligting deur die media, ʼn perverse vermaaklikheidsbedryf, die wettiging van pornografie en aborsie, skuldmanipulasie, sielkundige oorlogvoering, gewelddadige betogings, intimidasie en teistering en deur brandstigting, anargie en sabotasie. Al hierdie dinge moet ons hare laat rys, want al hierdie dinge is sigbaar in ons eie land.

Helaas lyk dit of owerhede nie die wilskrag het om (minderheids)groepe se (irrasionele) eise teen te staan nie. Dit is wel duidelik dat die mens nie redding van regerings kan verwag nie.

Nuwe geloof

(Foto: AP Photo/Ted S. Warren)

Die protesoptogte word deur ʼn ‘godsdienstige’ impuls aangedryf. Onderliggend aan die protesoptrede is ʼn ideologie: ‘kulturele Marxisme’ of ‘sosiale geregtigheid’. Hierdie ideologie, soos ander perfeksionistiese godsdienste, is slegs tevrede met totale oorgawe. Volgens die #BLM-narratief is rassisme, joune en jou voorouers s’n en enigiemand wat jy nie ken nie, die sg. oersonde. Anti-rassisme lê die onverdraagsaamheid van gevestigde gelowe bloot. Christene en kerke is dus ketters en ‘gods’lasteraars.

Hierdie ‘geloof’ is ʼn sterk mededinger om mense se harte en siele te wen. Dit bied ʼn ander evangelie met ʼn uiterlike van godsdienstigheid. Sonde is nie meer die probleem nie, maar wel die velkleur van iemand anders. Die mens is nie meer ʼn beelddraer van God nie, maar ʼn wit of ʼn swart persoon. Genade is nie meer die oplossing nie, maar ʼn nuwe sosiale orde. Versoening word nie bewerk deur ʼn Versoener nie, maar deur ‘goeie werke’ (‘virtue signalling’). In plaas van Christus, bied die #BLM hul eie martelare en heiliges. Viktimologie vervang teologie. Politieke aktiviste vervang teoloë. Politieke korrektheid vervang God se wet. Historiese monumente word geskaad. Nuwe openbare feesdae (soos ‘pride month’) word ingestel. Boete vervang berou. Tydens openbare rituele word sonde (= wit bevoorregting) bely. Die sakramente is protesoptrede, oproer, plundering en brandstigting. Nuwe bekeerlinge word deur bewusmakingsveldtogte (hul evangelisering) gewerf. Deugsaamheid is die nuwe evangelie.

Die lyn tussen politiek en teologie (ideologie) is nie altyd duidelik nie. Baie welmenende Christene word uitoorlê voordat hulle besef wat gebeur. Vir ʼn afgewaterde Christendom is die versoeking groot om hierdie valse leer met die Ware leer te integreer. Maar dis onversoenbaar. Daar is geen harmonie nie. In die Bybel is daar nie so iets soos ‘sosiale geregtigheid’ nie. Geregtigheid word nooit saam met ʼn byvoeglike naamwoord gebruik nie: dit is óf geregtigheid óf ongeregtigheid, maar nooit verskillende soorte geregtigheid nie.

Christelike repliek

bybel-lees-blaai-hand

Foto: Rod Long/Unsplash.com

Natuurlik moet ʼn Christen nie hierdie sake ignoreer nie. Die kerk van Christus treur ook oor die ongeregtighede in die wêreld, maar ons treur op ʼn ander manier as die wêreld. Ons laat ons nie deur emosionele ophitsing aanvoer nie, maar laat ons lei deur die Woord van God.

Die #BLM (en ander ‘vryheids’-bewegings) is blatant goddeloos, verrot tot in die kern en op ʼn kwaadwillige missie. Soos die skynheilige Fariseër van ouds in die tempel gebid het, bely hulle die (oordrewe) sondes van ander mense, maar versuim om hul persoonlike sondes en verantwoordelikhede te erken.

Dus: “As iemand iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde van onse Here Jesus Christus en met die leer wat volgens die godsaligheid is nie, dié is verwaand en verstaan niks nie, maar het ʼn sieklike sug na twisvrae en woordestryd waaruit ontstaan afguns, twis, lasteringe, bose agterdog, nuttelose stryery van mense wat verdorwe in hulle verstand en van die waarheid beroof is en dink dat die godsaligheid winsgewend is. Onttrek jou aan sulke mense” (1 Tim. 6:3-5). Jesus het immers self gesê: “Ek het gekom om tweedrag te verwek” (Matt. 10:35). Daarom moet ons nie in dieselfde juk as die ongelowiges trek nie. Ons moet aanhou om God en ons naaste lief te hê en geestelik weerstand bied teen die slinkse planne van die duiwel. Ons moet na waarheid en egte geregtigheid streef terwyl ons ons grootste roeping op aarde vervul: om alle volke, tale en etnisiteite van God te vertel.

  • Erika de Vries woon in Pretoria. Sy is deeltyds werksaam by die Reformatoriese Studiesentrum en is deel van die redaksie van die gereformeerde tydskrif Kompas waar sy tans as eindredakteur optree.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Michael 1

My opinie is dat dit ledigheid en die gebrek aan korrekte inligting wat gepaard gaan met n lae ik en siedaar alles moet vernietig en afgebrand word……tragies.

JJ

Voordat mens daardie debat begin voer, het ek net een vraag. Wat van die swart kind wat links en regs ge-aborteer word? Asseblief, antwoord my.!

Leon

Sy praat diep dinge. Die waarheid maak seer en die humaniste kry bitter seer as jy hulle op hulle foute wys.

Vrijburger

Baie goeie uiteensetting.
Daar is reeds ‘n revolusie aan die gang, jare lank al, en aan die kern van alles le kulturele Marxisme. Hier in Amerika is die ‘stille massas’ se oe so stadigaan besig om oop te gaan – dalk al te laat.
Die tragiek vir my is die rol van sekere kerke in die VSA wat die so genaamde “social justice” konsep omarm het. (Persoonlik het ek finaal en onherroeplik my bande met die United Methodist kerk in Mei gesny.)
Dit is tyd om op te staan en kant te kies.

Gysbert

Much ado about nothing.
Dit sal oorwaai.
Oor n paar maande is daar weer n nuwe “flavour of the month”.
Die moderne mens het nie meer die deursettingsvermoë om met iets te volhard nie. Gelukkig in hierdie geval.