Bloudruk vir Grond en Landelike Ontwikkeling

*Uittreksel uit Bloudruk vir Grond en Landelike Ontwikkeling – ‘n Besprekingsdokument deur ‘n aantal belanghebbendes. Vir die volle dokument, sien einde.

Suid-Afrika staan op die drumpel van sy derde dekade, na die volle demokratiese verkiesing van 1994 en die nuwe regering.

Daar was van meet af aan begrip dat daar in die nuwe en demokratiese bestel ‘n periode van herstel, versoening en berusting moes plaasvind, alvorens ‘n goue periode van groei en herstel sou aanbreek.

Die mooi ideale van duisende Suid-Afrikaners, wit en swart, het op 27 April 1994 ‘n realiteit geword en kon ons uitsien na ‘n nuwe en demokratiese Suid-Afrika wat gebaseer is op die volgende uitgangspunte:

  • ’n Samelewing gegrond op demokratiese waardes, maatskaplike geregtigheid en basiese menseregte;
  • Gevestig op die grondslag van ‘n demokratiese en oop samelewing waarin regering gegrondves is op die wil van die bevolking en elke burger gelyk deur die reg beskerm word;
  • Die lewensgehalte van alle burgers verhoog word en die potensiaal van elke mens ontsluit is; en
  • ‘n Verenigde en demokratiese Suid-Afrika wat sy regmatige plek as ‘n soewereine staat in die gemeenskap van nasies kan inneem.

Dit is binne hierdie verwagte raamwerk, waarbinne Suid Afrikaners mekaar daagliks omarm en ondersteun. Dit is veral ‘n realiteit in die platteland waar landbou van kardinale belang is om te oorleef in ‘n brose en weerlose omgewing en wat blootgestel is aan die elemente van die natuur en die wispelturigheid van die mens.

Landbou en grond lê menige Suid Afrikaner na aan die hart. Nie almal kan egter boer nie en nie almal wil grond besit nie. Suid-Afrika se beskikbare grond moet egter nou optimaal aangewend word. Beeld haal in Maart 2010 vir Prof. Giel Laker, emeritusprofessor in grondkunde aan die Universiteit van Pretoria aan, wat gesê het dat navorsing aantoon dat daar 0,4 bewerkbare hektaar landbougrond moet wees vir elke persoon wat kos moet kry. Prof Laker het gesê ongeveer 87% van Suid-Afrika se grond is weens lae reënval en swak grond nie geskik vir gewasproduksie nie. Dit is slegs vir ekstensiewe weiding vir vee of wild geskik. Volgens prof Johan Willemse, landbou-ekonoom van die Vrystaat Universiteit het slegs sowat 3,2 miljoen hektaar van die land se bewerkbare grond hoë potensiaal en ’n verdere 7,2 miljoen hektaar is bewerkbare grond, met medium potensiaal. Landbou is die voedingsaar vir die platteland en is landbou se bydrae tot die bruto binnelandse produk (BBP), tans sowat 3,2%, waar dit in 2001, slegs 10 jaar gelede, sowat 8% was.

Dit is binne bogenoemde omgewing waarin grond, landbou en beleid oor grond besondere uitdagende tye beleef en dit was gou duidelik dat hierdie aspek besondere aandag moes geniet. Landbou en ‘n grondbeleid behoort plaas te vind in ‘n ope arena met ‘n verbintenis deur alle rolspelers en hoef nie plaas te vind in ‘n lugleegte waar daar geen internasionaal aanvaarbare reëls en voorskrifte is nie. Allermins behoort beleidsformulering oor grond nie in die geheim plaas te vind met versteekte agendas en motiewe nie.

Ongeveer 5% van landbougrond kom jaarliks in die mark. Die grootste probleem is dat die staat nie oor die vermoë beskik om beskikbare grond effektief en suksesvol vir sy program van grondhervorming aan te wend nie. Voedselsekuriteit moet ‘n nasionale prioriteit wees en daarom is dit van die uiterste belang dat ‘n beleid oor grond nie moet lei tot ‘n afname in voedselproduksie nie.

Van die 101 miljoen hektaar landbougrond buite die ou tuislande was 86,2 miljoen omstreeks 2004 kommersiële landbougrond, waarvan die meeste in besit was van 45 818 wit boere [tans word die kommersiële boere op minder as 40 000 bereken].

Die algemene en eensydige teiken wat deur regeringsleiers gestel word vir sy program van grondhervorming is 30%. Daar word beraam dat hierdie teiken, wat nie gesubstansieer of geregverdig word nie, in die praktyk beteken dat sowat 25,9 miljoen hektaar grond oorgedra moet word teen ‘n beraamde koste van R60 miljard. Tot Februarie 2004 is 2,5 miljoen hektaar teen R4,6 miljard aan begunstigdes oorgedra, terwyl meer as 50% van grondhervormingsinisiatiewe reeds misluk het. Gesien in die lig van die produktiewe aanwending van grond om aan die aanvraag te kan voorsien maak die nuwe en opkomende boere min of geen wesenlike bydrae tot voedselproduksie nie.

Dit is egter ‘n saak wat met die regte benadering suksesvol aangespreek kan word. Die probleem word al hoe meer geradikaliseer en ideologies benader as deel van die Nasionale Demokratiese Revolusie. Die verbintenis tot die Nasionale Demokratiese Revolusie is 2007 tydens die ANC se 52e Nasionale Konferensie, beter bekend as die Polokwane konferensie herbevestig.

Vir baie boere is dit kommerwekkend dat party politici met instemming na die voorbeeld van Zimbabwe verwys. Daar is boere doodgewoon van hul plase verdryf. Die beleid van nasionalisering wat daar gevolg is, het die ekonomie tussen 1994 en 2008 met bykans die helfte laat krimp; werkloosheid van 20% na 80% laat styg en die lewensverwagting van 60 jaar na 34 jaar laat daal. (ABN Verslag 2011: Duvenhage en Steyn)

In ‘n poging om aan alle redelike Suid Afrikaners, sowel as die regering opnuut die geleentheid te bied om weer begeesterend op te tree en ‘n gemeenskaplike toekoms op te eis en deel te bly van suksesverhaal sonder gelyke is dit nodig om weer vars en nuut te dink.

Daarom, het organisasies uit die burgerlike samelewing dit goedgedink om ‘n bloudruk vir grond en landelike ontwikkeling daar te stel. Die verwagting met die Bloudruk is veelvoudig:

  • Om erkenning te verleen aan die noodsaak vir ‘n regverdige en ‘n billike beleid oor grond;
  • Om ‘n gesprek met die regering aan die gang te kry wat ‘n breë verteenwoordiging van die burgerlike samelewing sal insluit; en
  • terselfdertyd ook van die moedswillige en verkeerde persepsies en verdraaide feite van die Groenskrif op Grondhervorming, September 2011 reg te stel.

Voorts het dit die regering 30 maande geneem om ‘n nuwe groenskrif oor grondhervorming op te stel, maar dit is steeds nie duidelik hoe die plan die wanbestuur, onbevoegdheid en korrupsie binne die departement gaan stuit nie. Die mees basiese vertrekpunt – hoeveel grond in staatsbesit is – is nie eens aan die departement bekend nie. (Beeld, 11 Oktober 2011)

Baie min van die mooi drome oor ‘n suksesvolle Suid Afrika waar sy mense in voorspoed en vrede kan woon wat binne bereik van die nasie was, het gerealiseer. Om sukses te behaal sal ons almal moet saamwerk as mede Suid-Afrikaners, as gelykes en as kinders van die bodem van Afrika.

AGTERGROND

Die toenemend globale rol wat die vasteland van Afrika, met sy natuurlike hulpbronne, sy grondstowwe en sy menslike hulpbronne moet speel in die 21e eeu is vol opwindende uitdagings en hoë eise.

Die hartseer ironie is dat Afrika nie naastenby aan die benutting van sy potensiaal kom nie. Inteendeel, Afrika skep tans ‘n somber prentjie. In sub-Sahara Afrika was daar in 2009 nagenoeg 265 miljoen mense wat aan kroniese hongerte ly. In Afrika sterf daar jaarliks nagenoeg 5 miljoen mense as gevolg van hongersnood en wanvoeding. Die skokkende syfer wat hieruit bereken kan word, is dat 12 mense per minuut sterf omdat daar nie voldoende kos is nie. Afrika kan ruimskoots aan sy eie behoeftes voldoen, mits sy landbougrond suksesvol en optimaal aangewend word.

Suid-Afrika, die mees suidelike punt van hierdie kontinent, het reeds bewys dat sy produkte, natuurskoon, grondstowwe en sy burgers op verskeie vlakke soos ekonomie, wetenskap, sport, landbou, medies, navorsing, filosofie, tegnologie en uitsonderlike staatsmanskap toegerus en bekwaam is om wêreldkampioene en Nobel-pryswenners te wees.

Suid-Afrika is vir eeue deur uitsonderlike Goddelike ingryping, gebeure en inisiatiewe in ’n veelvolkige nasie omskep, gelouter en voorberei tot politieke volwassenheid om stabiliteit te skep en deur staatsmanskap, insig en kundigheid die nodige leiding te kan neem, om Suid-Afrika as sleutel van Afrika tot die Internasionale wêreld te ontsluit.

Deur ‘n historiese sameloop van gebeure en die grootsheid van individue en mense, was Suid-Afrika na 1994 staatkundig gereed en toegerus met die regte insig sowel as wysheid en leierskap. Suid-Afrika kon as ’n suksesvolle, lewenskragtige vooruitstrewende land toetree tot Afrika en ander internasionale verhoë.

Binnelands is ’n aanvaarbare politieke klimaat gevestig met ’n grondwet wat die geleentheid gebied het om, indien dit met die nodige verantwoordelik gebruik word, sekuriteit, veiligheid en beskerming te kon bied en alle lojale burgers se belange te dien en ’n suksesvolle, lewenskragtige Suid-Afrika te vestig. Suid-Afrika kon voortbou op die gevestigde infrastruktuur, wat in 1994 oorgeneem is en ‘n al hoe groter krag in Afrika en rolspeler in die wêreld word.

*Hierdie is ‘n uittreksel uit die Bloudruk vir Grond en Landelike Ontwikkeling, soos beskikbaar op AfriForum se www.stopdiegroenskrif.co.za.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Piet le Roux

Meer oor die skrywer: Piet le Roux

Piet le Roux is die uitvoerende hoof en direkteur van die sakeregte-organisasie Sakeliga.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae