Brexit: Kan BoJo die Britte red?

Boris Johnson. Foto: Yui Mok/PA via AP

Die inhuldiging van die flambojante Boris Johnson (ook genoem BoJo) verlede week as Britse eerste minister was amper ’n Trump-oomblik vir Brittanje. Hoe kan die Konserwatiewe Party (ook bekend as die Tories) ’n premier verkies wat bekend is vir sy persoonlike skandale, iemand in ’n toenemend multikulturele land wat nie bang is om politiek inkorrekthede kwyt te raak nie en deur baie as ’n grap, manteldraaier en ’n leuenaar bestempel word? Veral noudat Brittanje deur sy grootste krisis in jare gaan, naamlik om die Europese Unie te verlaat (dit staan bekend as Brexit).

Brittanje is gewoond aan vaal mannetjies (en ’n vroutjie) wat eerste minister was nadat die Ystervrou, Margaret Thatcher, in die 1980’s die land van sosialisme gered het. Vaal figuurtjies soos John Major, Gordon Brown, David Cameron en les bes, die ergste van hul almal, Theresa May.

Johnson is anders, met sy deurmekaar hare, swak kleresmaak, pittige opmerkings en sy gemaklike houding.

Meneer Brexit

Nie dat Boris Johnson nie deur dieselfde meule gemaal is as die bogenoemde vaal mannetjies nie. Hy was immers aan die Britse eliteskool Eton, wat reeds dosyne Britse premiers opgelewer het en daarna het hy aan Oxford gestudeer. Hy het die koerantwese betree voordat hy politiek toe is en het daarna die posisie van die burgemeester van Londen beklee (2008-2016) – ’n meestal linkse, multikulturele stad wat nie juis veel ooghare vir Tory-politici het nie. Sy loopbaan is tot dusver gekenmerk deur buite-egtelike skandale en growwe beledigings en opmerkings, wat nou nie juis by die Britte pas nie. Hy is nietemin die gewildste politikus in Brittanje, weens sy onortodoksheid en sy styl om na almal uit te reik, wat hom ’n gewilde Londense burgemeester gemaak het.

Dit is reeds sy gewildheid wat baie Britte oorreed het om in Junie 2016 Brexit in ’n referendum te steun. Johnson was tóé die vernaamste proponent van Brexit. Sy medeskool- en universiteitsmaat van Eton en Oxford, David Cameron, moes egter bedank as Tory- eerste minister ná die Brexit-stemmery aangesien hy ’n aggressiewe anti-Brexit-veldtog gevoer het. Dit het destyds die deur oopgelaat vir Johnson om die eerste minister te word, maar ná ’n klompie kollegas hul steun onttrek het, het Theresa May die premierskap verkry.

May, wat Brexit eers teengestaan het, het ’n totale gemors van Brexit gemaak en Johnson het later uit haar kabinet bedank. Sodanig het May aangejaag, dat sy by die EU moes uitstel vra vir Brexit van 29 Maart na 31 Oktober vanjaar. Sy het later in trane bedank en Johnson is maklik ingestem.

Brexit is wel ’n politieke nagmerrie. Dink maar daaraan as ’n provinsie soos die Wes-Kaap sou afstig van Suid-Afrika. Dit is ’n moeilike, onsekere proses en die probleem is dat May steeds nominaal ekonomies deel van die EU wou bly, maar onder laasgenoemde se voorwaardes. Die Britse parlement het die een ná die ander voorstel van May afgestem. Die twee grootste twispunte is hoe ’n handelsooreenkoms tussen Brittanje en die EU moet lyk en hoe die backstop, oftewel ’n vorm van sagte grensbeheer tussen Noord-Ierland (wat die Britte beheer) en die res van Ierland (wat ’n EU-lidland is), moet lyk. Dit volg ná ’n brose Ierse vredesooreenkoms wat in die 1990’s bereik is ná jare lange konflik tussen die pro-Britse protestante in Noord-Ierland en die Katolieke nasionaliste aldaar.

Daar is uiteraard baie skokkende voorspellings oor wat sal gebeur as Brittanje die EU verlaat en daar is ’n aandrang van baie Britte dat daar oorgestem moet word aangesien die Britte onlosmaaklik deel is van die EU en hul lot daardeur bepaal word. Johnson het weer sy oog op die herrysing van Brittanje as ’n internasionale politieke en ekonomiese mag wat ietwat van sy vervloë mag moet herwin.

Vir die pro-Brexit-mense was die oorheersing deur burokrate uit Brussel, tesame met ’n instroom van honderdduisende wettige en onwettige immigrante die laaste strooi. Buitendien het sy lidmaatskap van die EU baie beteken vir groot Britse maatskappye wat besigheid op die Europese vasteland doen, maar dit het die middelklas grootliks verarm omdat kleiner industrieë in Brittanje nie meer kon meeding nie. Dieselfde het in die VSA gebeur met globalisering, wat tot Donald Trump se verkiesing gelei het.

Brittanje sal sekerlik ’n prys betaal vir Brexit, veral as daar geen handelsooreenkoms gesluit word nie. Baie skeptici glo Brittanje se reeds wankelrige ekonomie kan met 3% en meer krimp en dat die Britte ’n tekort aan heelwat produkte sal hê wat van die EU-lande ingevoer word. Anders as May, wat almal gelukkig probeer hou het, is Johnson openlik daaroor dat Brittanje wel teen 31 Oktober die EU gaan verlaat en hy verwag dat dit gaan gebeur sonder ’n handelsooreenkoms.

BoJo het ’n visie

Johnson het ook in sy eerste toespraak as premier aangedui dat hy verder kyk as Brexit om Brittanje se ouwêreldse aansien te herwin. Hy verwys na onrusbarende knelpunte in vandag se Britse samelewing waaraan daar ernstig aandag gegee moet word. Dit sluit in die hervorming van die Britse nasionale gesondheidstelsel (NHS). Die Britte se NHS, wat alle burgers insluit, kos ontsettend baie (10% van die bruto nasionale produk) en hulle sukkel om gesondheidsorg aan burgers te lewer weens dié hoë las. Dit is, terloops, na die Britte se voorbeeld dat die ANC-regime Suid-Afrika se voorgestelde gesondheidsversekering (NGV) skoei. Selfs in ’n Eerste Wêreld-land soos Brittanje is dit ʼn totale nagmerrie.

Johnson wil ook die toenemende misdaad in veral die groot stede soos Londen beveg deur duisende nuwe polisiemanne te ontplooi, die swak staatskole hervorm en immigrasie op ’n puntestelsel toelaat om te keer dat duisende ongeskooldes en halfgeskooldes Brittanje verder binnestroom.

Dit lyk asof Johnson ’n visie vir Brittanje het en baie van sy planne haalbaar is. Die tyd sal leer of die Brexit-proses ’n sukses gaan wees – hy het net 3 maande. Die nadraai van Brexit sal ook bepaal of BoJo weer as eerste minister verkies kan word (die volgende verkiesing moet teen 2022 plaasvind).

Die Britse bulhond

Ten spyte van baie skeptici en ’n verwagte tydelike afswaai in die ekonomie, moet nietemin erken word dat Johnson basies die enigste politikus is in Brittanje wat Brexit kan laat werk en die land die regte koers op verskeie terreine kan laat inslaan. Hy sal ook die Britse parlement moet oortuig dat hy ’n antwoord op die Brexit-krisis het.

Sy grootste opponent is die kommunisties-gesinde leier van die Arbeidersparty, Jeremy Corbyn, wat as moontlike toekomstige premier Brittanje met meer sosialisme verder sal verarm. Hy self is nie seker of Brittanje binne of buite die EU moet bly nie en neig om ’n nuwe referendum daaroor te ondersteun.

Johnson het daai Britse bulhond-mentaliteit wat sy premierskap – sou hy Brexit oorleef – suksesvol kan maak. BoJo is glad nie beskeie nie en sien homself as ’n tipe Winston Churchill-figuur.

Ten spyte van skeptisisme oor Johnson, kan hy met sy aanslag en gewildheid by die publiek, asook by opposisiekiesers, wel een van Brittanje se beter eerste ministers word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 30 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

John ·

‘n Paar aannames is se reg uit CNN se swart boekie wat Donald en Boris op dieselfde bladsy plaas, gebou op ‘n toevallige ooreenkoms… die blonde kuiwe… Navorsing van ‘n onkreukelbare bron, die Bybel, dui aan dat geen mens sonder sonde is nie, wat die afskiet van net die of daai nogal stupid maak. Die beskerming van die eie is die eintlik ooreenkoms met beide onder erge beleg. Regoor die wèreld is magte aan’t werk wat utopiese sosialisme verkoop via ‘sweet-sweet’ globalisering; idilliese drome gefabriseer vir eie gewin. Die EU is maar onlangs gestig maar maak nou of Brittanje een van Duitsland se opstandige kinders is wat te jonk sy potjie wil gaan krap in die wrede wèreld daar buite… stout, baie stout!

Susna ·

Ek glo op hierdie stadium het Britanje n Boris nodig om die kastaiings uit die vuur te krap. Politisie deesdae neig almal tot n sosialistiese regering, wat deur die EU afgedwing word. Boris Johnson het nodig om Nigel Farage en Frankryk se Marine Le Pen se helpende hand in Brexit te verwelkom. Wereld leiers neig deesdae meer regs, dit is dan ook waarom die Media soos CNN afbrekende karakter eienskappe sal opbring. Kyk wat is besig om elders in die wereld te gebeur….Matteo Salvini ( Italy), Victor Orban (Hungari), Jair Bolsonaro (Brazil), Sebastian Kurz ( Austria) en vele meer wat getuig van verandering. Sterkte Boris!!!

At Dippenaar ·

Mense, die man lyk of aweregse skandale hom agtervolg….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.