Bydrae van Wittenbergse Reformasie tot gemeenskapsontwikkeling

Prof. Natie van Wyk (Foto: NHKA-webblad)

Daar is voortdurend kommer oor die voortbestaan van die Afrikaanse kultuurgemeenskap. Die verswakkende posisie van die Afrikaanse taal, die blatante diskriminasie teen wit mense in feitlik elke sfeer van die openbare lewe, die verval van die staat en sy infrastruktuur en die versnellende proses van emigrasie, om maar enkele sake uit te lig, laat die vraag ontstaan wat ons kan doen om ʼn menswaardige bestaan vir ons en ons nageslag te verseker.

As teoloog wil ek u herinner, en of inlig wat die eerste geslag kerkhervormers tot gemeenskapsvorming bygedra het, aangesien die geskiedenis ʼn goeie leerskool bly. Baie van die sake is bekend, en talle van die gedagtes van die reformatore is by ons geïnstitusionaliseer, maar op die keper beskou, bly die basiese probleme dieselfde, en moet ons weer en weer na ʼn paar basiese gedagtes terugkeer wat hulle aanbeveel het vir ʼn menswaardige bestaan.

In hierdie bydrae word daar op die Wittenbergse Reformasie gekonsentreer, waar Martin Luther en Philipp Melanchthon die koers aangedui het, en wat ander teoloë in ander dele van Duitsland en Europa sou volg. Waarom nou juis twee mense aan “die rand van die destydse beskawing”?

Die rede: Daar is talle ooreenkomste tussen hulle en ons omstandighede, ten spyte van ʼn gaping van 500 jaar en verskillende kontinente. Die dorpie Wittenberg, in die ooste van Duitsland, was die tuiste van keurvors Frederik die Wyse van Sakse, die tweede magtigste man van daardie tyd in Europa. Sakse was grootliks ʼn outonome “provinsie” van die Heilige Romeinse Ryk van die Duitse Nasie.

In die destydse ryk was daar nie sprake van ʼn “sentrale staat” nie, alhoewel ʼn keiser probeer het om ʼn konglomeraat van “provinsies”, selfstandige stede en selfs koninkrykies op een of ander wyse saam te bind. Daar was geen eenvormige regstelsel nie, geen dominante ekonomiese sisteem nie, en kommunikasie was slegs deur die akademiese taal, Latyn, moontlik.

Mense in dorpe, streke en “provinsies” was dus op hulself aangewese vir oorlewing. Elke leser behoort al ʼn paar ooreenkomste met ons situasie te herken. Die belangrikste ooreenkoms is die afwesigheid van ʼn goed-funksionerende staat, wat ons, soos die Duitsers van destyds laat besef, dat ons self vir ons eie bestaan verantwoordelik is. Die vraag wat in hierdie bydrae beantwoord word, is: Wat was die mees basiese oortuigings wat hierdie kerkhervormers bevorder het ten einde ʼn menswaardige bestaan te verseker?

Die bevordering van taal, taalgebruik en taalvaardigheid

Dit is bekend dat Martin Luther se Bybelvertalings tussen 1521 en 1544 meegehelp het om van Duits ʼn hoogs-ontwikkelde spreek- en akademiese taal te maak. Philipp Melanchthon, die taalkundige, het selfs ʼn groter rol as Luther gespeel in die ontwikkeling van die Duitse taal. Sy student Michael Agricola (1507 – 1557) het die Bybel en Protestantse gesange in Fins vertaal, en in die proses ook die eerste Finse grammatika saamgestel. So is daar talle ander voorbeelde van studente uit Wittenberg wat in hulle tuislande bygedra het tot taalontwikkeling.

“Elegante taalvaardigheid” was volgens Melanchthon die basis van ʼn ontwikkelde gemeenskap – ʼn gemeenskap met hoë kennisvlakke, nastrewingswaardige doelwitte, realiseerbare planne en die deugde van bewaring en instandhouding. Ontwikkeling (Bildung) het vir die Protestante van die sestiende eeu ʼn klomp dinge beteken, soos notulering en argivering, die instandhouding van biblioteke, voortgaande navorsing in alle vakgebiede, die bevordering van die kunste en die verbetering van infrastruktuur.

Die kerkhervormers was nie politici nie, maar hulle was toegewy aan ʼn menswaardige bestaan vir hulle lidmate. Hulle was oortuig dat mense menswaardig kan bestaan wanneer hulle ontwikkelde mense is, en hiervoor is voortdurende taalontwikkeling nodig.

Taaloordrag en taalskepping bly die fondament en suksesresep van enige kultuurgroep. Wanneer taalgebruik verswak, wanneer die woordeskat krimp, wanneer die gebruikers van ʼn spesifieke taal hulself nie meer behoorlik in hulle moedertaal kan uitdruk nie, is daar sprake van skolastiese en intellektuele agteruitgang. Agteruitgang is by ons duidelik waarneembaar in die beperkte woordgebruik en gedagtegoed by die beoefening van godsdiens en die skep van populêre volksmusiek. Die noodwendige gevolg is skaamte vir die eie. In skaamte, sluimer die kiem van die dood.

Ten spyte van al die voortreflike projekte ten bate van die Afrikaanse taal, is daar dringende ingryping nodig om die taalgebruik van “invloedryke mense” te verbeter. Hoeveel temas word byvoorbeeld in kontemporêre Afrikaanse musiek aangeraak? Dit is werklik net ʼn paar wat opgenoem kan word. Is die rede vir die beperkte aantal temas, nie die gebrekkige woordeskat van die liedjieskrywers nie?

Dieselfde kritiese vraag geld die godsdiensbeoefening. Hoeveel woorde word vandag gebruik om naasteliefde te aktualiseer? Kan ons werklik nie meer hierdie tema ter sprake bring, anders as om te sê, “maak ʼn verskil” nie. Indien die gebrek aan woordeskat en formuleringsvermoë die probleem blyk te wees behoort ouers, die kleuterskool, en eintlik die hele kultuurgemeenskap te weet dat ons ʼn nuwe uitdaging op hande het.

Wanneer ons nie meer noukeurig kan beskryf, emosies kan uitdruk, opdragte kan formuleer en ideale kan verwoord nie, is die einde van ons kultuurgemeenskap in sig.

Die verligting van armoede

Al die lesers weet dat ons as kultuurgemeenskap groterwordende vlakke van armoede kan verwag. Ná enkele dekades van ekonomiese voorspoed, gaan ʼn beduidende deel van “ons mense” in tydelike, of dalk permanente armoede verval. Tot watter vlakke van armoede mense gaan val, kan seker moeilik voorspel word.

Wat wel seker is, is dat alles moontlik gedoen sal moet word, om mense uit ʼn dodelike spiraal van armoede te help. Die vroeë reformatore was ook met uiterste vlakke van armoede gekonfronteer, en moontlik kan enkele van hulle gedagtes vir ons waardevol wees.

Philipp Melanchthon het besef dat die beste metode van armoede-bekamping opvoeding en onderwys is. Dít weet ons as Afrikaners ook; maar is almal nog steeds hiervan oortuig? Dit blyk nie meer oral die geval te wees nie. Opvoedkundiges ontdek al meer en meer dat talle van ons kinders nie skoolonderrig ontvang nie. Dikwels word “tuisonderrig” gebruik om skoolontduiking te verbloem.

Wat die ware feite nou ook al mag wees, sonder minstens skoolonderrig is die kanse vir indiensneming uiters skraal. Kerke, gemeentes en nie-regeringsinstansies sal innoverende weë moet vind om kinders wat nie aan onderrig en opleiding blootgestel word nie, te help.

Melanchthon se vrou, Katharina, het byvoorbeeld self by die Stadskerk in Wittenberg musiekonderrig aan arm kinders verskaf, wat gepaard gegaan het met die verskaffing van voedsel en klere. Philipp het self, persoonlik, van adellike na adellike gery om die welvarendes te oortuig om aan sy vrou se koorkinders beurse te verskaf, sodat hulle na-skoolse onderrig kon ontvang.

Wel wetende dat hierdie gedagtes reeds geïnstitusionaliseer is in die hoofstroom van Afrikaanse kerke, sal die nuwe, omvangryke nood ons dwing om ons kennis en ervaring met alle kerkgroeperings te deel. Dit is juis dikwels die mense wat nie deel is van die hoofstroom-kerke nie, wat van onderrig uitgesluit is. Ekumeniese samewerking is dus van uiterste belang.

Met die sluiting van die Middeleeuse kloosters, het die Protestante ewe skielik oor talle eiendomme en opgehoopte fondse beskik. Luther het gepleit dat die ou kloosters in doelmatige skole omskep word. Daar is by ons nog talle gemeentes wat dit nie oorweeg om hulle eiendomme soos kerksale vir na-skoolse onderrig of kleuterskole te gebruik nie. Dit moet asseblief oorweeg word!

Oor die bestuur van fondse was Luther onverbiddelik. Daar móés oral behoorlike finansiële bestuur en beheer toegepas word. Diefstal en korrupsie was vir hom strafbare oortredings. Ons lewe in ʼn land waar die staatskas leeg gesteel word, (nog) sonder enige sigbare gevolge vir die oortreders. Waar ons nou besig is om vir onsself te sorg en ons eie infrastruktuur te skep, sal niks standhoudend wees nie, indien die wet “jy mag nie steel nie”, nie onverkort geld nie.

Volgens ʼn verklaring van hierdie gebod in 1520, het Luther gemeen dat die bedoeling op die volgende neerkom: Om te steel is nie net die blatante neem van ander se goed nie, maar om in die handel met pryse te lieg en te bedrieg; om nooit afslag aan te bied nie; om verkeerdelik erfporsies op te eis; om verdiende loon terug te hou en skulde te ontken; om behoeftiges nie te help nie; om nie te keer dat ander benadeel word nie, en om ander nie téén benadeling te waarsku nie; om ander se sukses in die ekonomie te dwarsboom en om mense nie hulle sukses te gun nie.

Al hierdie perspektiewe is na 500 jaar nog steeds aktueel. Ons lees elke nou en dan hoe Afrikaanssprekendes en Afrikaners deur hulle eie mense besteel word. Só kan ons nie blywend nuwe gemeenskappe bou nie!

In Wittenberg is die waardes van hardwerkendheid en trots op eie arbeid gou gevestig. Bedelary is nie geduld nie, aangesien indiensneming en werkskepping deel van ʼn Christelike lewenshouding gesien is. Spaarsamigheid was ʼn goeie deug, terwyl uitspattigheid en verkwisting op luukshede, terwyl die broer nie kos het nie, ontmoedig is. Wedersydse hulp om finansieel onafhanklik te wees, was ʼn konkrete gestalte van die liefdesgebod.

Beide Luther en Melanchthon het baie groot salarisse ontvang, maar beide was arm by hulle afsterwe, omdat hulle hul geld op die armes spandeer het. Al hul kinders was egter geleerd en opgelei sodat hulle nie op erfgeld moes staatmaak vir oorlewing nie. Dit is alles dinge wat ons weet, moet onthou en met ander moet deel, aangesien mense gou vergeet.

Ten slotte

Die Wittenbergse teoloë het nie politieke doelwitte nagejaag nie, maar wat hulle gedoen het, het die welwese van die stadsbewoners bevorder. Die gewone mense is geleer lees en skryf, hulle kinders het onderrig en onderwys ontvang, die gemeentelede het leer sing en dig, mediese en regstudente moes leer om uit die bronne van die Westerse kultuur te skep, en ʼn algemene besef dat almal mekaar moet respekteer en help, het van Wittenberg, Sakse en Duitsland gemaak wat dit geword het.

Talle van ons wortels lê dáár – en daarvoor kan ons dankbaar wees, aangesien hierdie wortels ons kan help om ons gemeenskappe te ontwikkel tot menswaardige leefruimtes.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Natie van Wyk

Prof. Natie van Wyk is navorsingsgenoot van die Departement Historiese en Sistematiese Teologie, Fakulteit Teologie en Religie, Universiteit van Pretoria.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

annie ·

Die groot probleem is dat Afrikaners nie ondernemings kan begin en hul naaste in diens te neem nie… nie eers diegene wat hulself goed bekwaam het nie. Die ANC-regime steek daar ‘n stokkie voor en die buiteland is aan hul kant. Die immer-aanwassende massa moet voorkeur kry. Dit moet dringend aandag kry. Ons kerm en skree oor BEEE maar wat help dit?

kaplyn ·

Annie as jy voortgaan om so te redeneer bly jy deel van die probleem en is nie deel van die oplossing nie. Dit is ook so as jy byvoorbeeld redeneer dat Afrikaans word in die skole, howe, besighede ens. onderdruk en nou gaan ek ophou om Afrikaans te praat. Nee komaan maak jou rug styf en beur voorentoe. Daar is werk! Ons moet bewaar en bewerk al blaak die hel van woede!

annie ·

Twak. As ons nie veg vir ons gelykheidsregte nie, sal ons kinders wat hoogsopgelei is, tuis sit en tv-speletjies speel. Oplei, oplei maar vir wat? Doen iets vir die toekoms nie net briewe skryf met geen positiewe gevolge nie. Waar staan dit dat ek Afrikaans wil uitrangeer. Hoeveel ouers of selfs die SABC speel nog klassieke musiek? Lg is deesdae die mees patiese radiostasie op aarde!

Henning ·

Hierdie rooivlag-artikel deur prof Natie van Wyk, moet deur elke Afrikaanssprekende in die land gelees, en weer gelees word. En dan wyd en syd versprei, bestudeer en aangegryp word. Hoor-hoor! – Henning van Aswegen, skrywer van Vrystaatstories.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.