Chili, die Grondwet en die kwessie van gelykheid

Foto: Pixabay

In die Suid-Amerikaanse staat Chili het daar op 25 Oktober ’n referendum oor ’n nuwe Grondwet, wat die bestaande een van 1980 sal vervang, plaasgevind.

Die oorweldigende meerderheid van 78% van die kiesers het ten gunste van die vervanging van die ou Grondwet, wat nog onder die diktatorskap van Augusto Pinochet tot stand gekom het, gestem. Daar bestaan egter nog geen nuwe Grondwet nie, en dit sal nou sowat twee jaar neem om ’n nuwe Grondwet uit te werk. Die burgers het ook ten gunste daarvan gestem dat die nuwe Grondwet nie deur die parlement nie, maar deur ’n spesiaal verkose vergadering met die breedste moontlike verteenwoordiging (byvoorbeeld ’n 50%-vrouekwota en kwotas vir die Indiaanse bevolking) opgestel moet word.

Die stemming was die kulminasie van ’n reeks massabetogings teen die regering van Sebastián Piñera, wat veral oor die hoë lewenskoste en die kwessie van gelykheid gaan. Die betogings, wat veroorsaak is deur woede oor die verhoging in openbare vervoertariewe, was veral sterk in 2019, maar het weens die koronapandemie sedertdien afgeneem. Piñera was van 2010 tot 2014 president en weer sedert 2017 en verteenwoordig as skatryk sakeman juis die groep wat by die ekonomiese hervormings die meeste gebaat het.

Ekonomiese voorspoed word egter nooit gelykop verdeel nie en daarom betoog groot dele van die bevolking, veral studente en werkloses, vir ’n groter rol van die staat en gratis onderwys en medies pleks van die sterk markgerigte ekonomie soos dit tans die geval is. Omdat Piñera egter ook ’n politikus is en aan bewind wil bly, het hy die woede probeer aflei deur te belowe dat daar oor die afskaffing van die Grondwet – wat sterk pro- vrye mark en pro-privatisering is en onder Pinochet tot stand gekom het – gestem kan word. In ’n sekere sin word Pinochet (wat reeds in 2006 oorlede is) en sy Grondwet, nou die sondebok gemaak vir alles wat in Chili verkeerd loop, 30 jaar ná sy uittrede as president.

Wat ’n mens ook al oor Pinochet se bewind (1973-1990) en die gepaardgaande menseregteskendings wil sê, bly sy ekonomiese beleid sy groot nalatenskap en iets wat selfs tot diep in die liberale kringe steun geniet het. Vir ’n militêre leier, wat sterk is op veiligheid en sekuriteit, maar van die ekonomie gewoonlik nie veel weet nie, was Pinochet se insig merkwaardig. Sy ekonomiese beleid was nogal soortgelyk aan die een van Ronald Reagan van die VSA, of Margaret Thatcher van Brittanje, maar is reeds voor hulle toegepas: staatsbedrywe is geprivatiseer, die vakbonde is aan bande gelê, subsidies en tariefmure is afgeskaf en die geldeenheid peso gestabiliseer. Selfs onderwys en medies is geprivatiseer. Die drastiese hervormings van Pinochet was nodig omdat sy voorganger, die sosialis Salvador Allende, ’n absoluut katastrofiese sosialistiese beleid gevolg het, met hiperinflasie, begrotingstekorte, onteienings en gebrek aan selfs basiese lewensmiddele.

Chili het in die laaste jare van Pinochet se bewind, en veral ná sy uittrede en sy Christen-demokratiese opvolgers Patricio Aylwin en Eduardo Frei in die 1990‘s, dié ekonomiese suksesverhaal van Latyns-Amerika geword, met jaarlikse ekonomiese groei van gemiddeld 7%, werkloosheid van om en by 7% en ’n al hoe breër wordende middelklas. Die land is al beskryf as die Switserland van Suid-Amerika en inderdaad lyk dit, komende van Argentinië oor die Andes, dadelik netjies en georden, soos die outeur op ’n reis in 2010 kon ervaar.

Hoe die nuwe Grondwet daar sal uitsien, weet ’n mens nog nie, maar dit sal vir seker die handskrif van die linkse tydsgees dra en die rol van die staat as borg van gelykheid vasskryf. Daarby moet Chili eintlik net na sy buurlande Argentinië en Bolivië kyk om te sien dat eksperimente met sosialisme nie werk nie. Al kan die vrye mark ook nie vir almal in dieselfde mate bevoordeel nie en ook nie absolute gelykheid verseker nie, het dit meegebring dat Chili die een land in Suid-Amerika is wat op die drumpel staan om van Derde na Eerste Wêreld te vorder.

Volgens die Gini-aanwyser, wat gelykheid binne state, oftewel die afstand tussen die rykste en die armste dele van die bevolking meet, staan Chili taamlik gemiddeld daar (Suid-Afrika is daarvolgens een van die mees ongelyke lande). Gelykheid is egter nie sinoniem met voorspoed nie en die Gini-aanwyser is eintlik niksseggend: in brandarm lande soos Mali en Niger is mense taamlik gelyk (arm), maar ook in voorspoedige lande soos Australië en Kanada (gelyk ryk). Lesotho en Zimbabwe het ’n beter Gini-telling as Suid-Afrika of Namibië. Wat die bruto binnelandse produk (BBP) per capita betref, is Chili in ’n taamlik goeie posisie, naamlik 55ste van sowat 190 state en in pas met Oos-Europese lande soos Kroasië en Roemenië.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mary Charlotte ·

Wat ‘n jammerte sal dit wees! Chili was nog amper die enigste Suid Amerikaanse land waar dinge “gewerk” het !! Die infrastruktuur was sterk, goeie skole, universiteite, ens. Goed opgeleide en innoverende werksmense, skoon stede en dorpies met wonderlike gasvrye vriendelike inwoners, hartseer.

Dirk Mostert ·

Ek het Chili 20 jaar gelede besoek en dit as ‘n tweedewereld-land beskou (i.v.m. Australie eerstewereld en Suid-Afrika derdewereld). Chili kan nou afgegradeer word na derdewereld en S.A. na derdewereld minus. Blameer die gebreinspoelde jeug daar en in Hongkong vir agteruitgang van hul lande.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.