China se groot sprong

President Xi Jinping en pres. Jacob Zuma tydens Xi se staatsbesoek aan Suid-Afrika (Desember 2015) Foto: Kopano Tlape, departement van kommunikasie.

Onder ons neuse, en sonder dat veel mense juis kennis daarvan geneem het, het China in die laaste vyf jaar onder die leierskap van Xi Jinping ’n reusesprong gemaak… terug na sy onderdrukkende kommunistiese wortels. China, eersdaags die grootste ekonomie in die wêreld en die lewensaar van internasionale handel, word nou weer soos van ouds deur ’n ystervuis regeer. Daarmee saam wil Xi graag hierdie staatsvorm na ander lande uitvoer.

Xi Jinping se “denke”

Ek het so twee maande gelede ’n seminaar (gereël deur die plaaslike Chinese ambassade) bygewoon. Daar het elke persoon teenswoordig ’n boekie ontvang oor Xi Jinping (die Chinese president en algemene sekretaris van die Chinese Kommunistiese Party) se toesprake oor hoe ontwikkelende ekonomieë kan groei. Dit was nogal ’n rare aksie deur die gewoonlik versigtige Chinese amptenary. Behalwe vir die eerste Chinese kommunistiese leier Mao Zedong en daarna Deng Xiaoping , die leier wat kapitalisme in 1979 omarm het (en daarmee die Chinese ekonomiese wonderwerk begin het), word Chinese staatshoofde gewoonlik nie buitengewone erkenning gegee nie. Xi word egter, ná die Sentrale Komitee van die Chinese Kommunistiese Party (CKP) hom op 25 Oktober herkies het as leier, ’n nuwe status van “denker” gegee, wat insig bied oor die Chinese diplomate se uitdeel van die klein, maar betekenisvolle gebaar om Xi se denke te versprei.

Xi Jinping, wat in 2012 die Chinese president geword het, sal nou sy tweede termyn as Chinese president uitdien. Wat die CKP se kongres hierdie week merkwaardig maak, is dat Xi Jinping se “teorieë” (oftewel denke) nou in die Chinese grondwet opgeneem sal word. Daar word na sy nuwe status verwys as “Xi Jinping se denke oor sosialisme met Chinese karaktereienskappe vir ’n nuwe era”. Dit beteken dat Xi, saam met Mao Zedong en Deng Xiaoping, nou as die magtigste leiers van die kommunistiese era in China beskou word. Daarmee saam gaan uiteraard meer politieke mag vir Xi.

Xi het reeds die status as ’n kultusfiguur onder Chinese verwerf as die arm plaasjapie wat die magtigste man in China geword het. Die CKP, wat vir dekades reeds uit verskillende faksies bestaan het en basies deur konsensus besluite neem en leiers verkies, is nou hervorm en alle mag in die party is in Xi se hande. Xi het in die proses deur politieke suiwerings van sy opponente in die party ontslae geraak.

Xi se agtergrond vertel baie van sy sienswyses. As ’n jong seun is sy pa, ’n CKP-amptenaar, ná Mao se suiwerings in die tronk gestop. Dit was tydens ’n waansinnige era wat as die kulturele rewolusie bekend gestaan het. Xi het sy pa se tronkstraf gelate aanvaar en sy tuisdorp as 15-jarige verlaat en hande-arbeid op die platteland gaan verrig. Hy het saam met ’n paar ander in ’n grot geslaap en sy enigste leesstof was Mao se rooi boekie – wat bestaan uit dié groot kommunis se leerstellings.

Daarna het hy gaandeweg sy pad in die CKP oopgewerk. Deur harde werk en bowenal lojaliteit het hy mettertyd die hoogste sporte van die partyleierskap bereik. Xi het die wonderwerk van die enorme Chinese ekonomiese groei na 1979 beleef, maar anders as ander partyleiers het hy nie rykdom nagejaag nie.

In die Chinese stelsel is die CKP die alfa en die omega, en enige besigheidspersoon wat vordering wil maak moet goeie kontakte in die party hê (en natuurlik ’n geldjie uitdeel). Xi het hierdie beginsels verstaan en gebruik. In die proses het sy CKP-familielede uiteraard groot finansiële voordeel daaruit getrek (Xi sekerlik ook). Ten spyte van sy deelname aan die korrupte stelsel, het Xi Mao se beginsel van lojaliteit aan die party en staat gehandhaaf. Dit het hom stelselmatig onderskei van ander CKP- grootmenere, wat deur korrupsie eerder net hulself sover as moontlik wou bevoordeel.

BRICS-leiers vergader voor die G20-beraad in Australië (November 2014). V.l.n.r. pres. Wladimir Poetin van Rusland, eerste minister Narendra Modi van Indië, pres. Dilmar Rouseff van Brasilië, pres. Xi Jinping van China en pres. Jacob Zuma van Suid-Afrika Foto : Elmond Jiyane, departement van kommunikasie.

Xi se politieke suiwerings

As ’n kompromis-kandidaat vir die party se leierskap in 2012 het niemand te veel verwag van Xi as nuwe algemene sekretaris en president nie. Xi was immers lojaal en is as veilig beskou. Sy grootste bate was dat sy vrou, Peng Liyuan, ’n bekende Chinese sangeres was. Hy is vir jare beskou as “Peng se man”.

Xi het gou laat blyk dat hy nie die status quo gaan handhaaf nie. Hy sou die stryd teen korrupsie gebruik om nie net opponente uit te roei nie, maar ook die kommunisme se wortels te laat herleef en die party se houvas op mag te versterk.

Sedert Xi as president oorgeneem het, is meer as 1,3 miljoen amptenare weens korrupsie in hegtenis geneem of gedissiplineer. Dit sluit in meer as 170 ministers en adjunk-ministers in die Chinese provinsies en op sentrale vlak. Dit klink baie edel en bewonderenswaardig en word uiteraard gesteun deur die bevolking wat keelvol is vir korrupsie. Ongelukkig is die eintlike oogmerk om van Xi se opponente ontslae te raak.

Só het hy van 35 lede van die CKP se Sentrale Komitee ontslae geraak. Dit is die binnekring van die CKP en die hoogste gesagsliggaam van die party. Die 35 wat uitgeskop en waarvan sommige aangekla is, is meer as die Sentrale Komitee-lede wat sedert die kommuniste se oorname in 1949 (tot 2012) verwyder is. Die grootste vis was Zhou Yongkang, wat as vorige hoof van binnelandse veiligheid die derde hoogste rol in die party se hiërargie gehad het. Zhou is in 2015, nadat hy vir maande “weggeraak” het, lewenslank tronk toe gestuur vir korrupsie en magsmisbruik. Nog iemand wat as onaantasbaar beskou is, Bo Xilai, seun van een van die CKP se stigterslede, is in 2013 weens korrupsie lewenslange tronkstraf opgelê.

In die weermag het Xi 60 generaals uitgeskop en Westerse-styl bevelstrukture ingestel om die Chinese weermag vinniger uit te brei en in die proses die Amerikaners se militêre heerskappy te probeer uitdaag. Duisende politieke afvalliges, insluitend andersdenkendes in terme van godsdiens (Christene en Moslems), feministe, regslui, arbeidsaktiviste, joernaliste, ensovoorts word jaarliks in die tronk gestop weens hul alternatiewe (Westers-gefundeerde) denke. Xi beskerm ook die geskiedenis van die kommuniste. Dit is nou ’n kriminele oortreding om die CKP se “historiese” figure in China te beledig.

Ons moet onthou dat ten spyte van China se openheid teenoor handel en handelsbetrekkinge met feitlik elke land op die aardbol, die land ’n kommunistiese diktatuur is. Daar is geen algemene verkiesings in China nie. Die party duld nie alternatiewe menings nie en andersdenkendes word opgesluit of vlug uit China. Die polisie en sekuriteitsdienste onderdruk enige teenstand brutaal. Daar is geen vrye pers in China nie, geen alternatiewe politieke partye nie en die internet word streng beheer. Facebook, Google, WhatsApp en YouTube word verbied (Chinese ekwivalente bestaan wel, maar word streng beheer).

China is seker ekonomies die magtigste handelsland in die wêreld. Sou enige land sy handel met China verloor, sal dit hom werklik seermaak. Dit gee die Chinese die vertroue om hul diktatuur sonder veel gevolge te beoefen. China skryf immers nie aan ander lande voor hoe hulle binnelandse politiek moet bedryf nie. In die proses ondersteun hulle diktators soos Robert Mugabe en Venezuela se Nicolás Maduro, en veroordeel nie menseregteskendings of selfs massamoorde nie. Alles gaan oor Chinese belange en handel. Die Weste is uiteraard ongemaklik met China se menseregtevergrype, maar moet maar stilbly of wegkyk om nie hul Chinese handel te verloor nie. Duisende Westerse maatskappye is immers in China gesetel of hul produkte word daar vervaardig teen ’n goedkoper tarief as in hul eie lande.

Chinese soldate staan op aandag terwyl pres. Xi Jinping dié troepe in Hongkong inspekteer. Sjina vier vanjaar 20 jaar van onafhanklikheid ná Britse gesag. Foto: Kin Cheung/AP.

Die uitvoer van Chinese kommunisme

Xi het nou egter die doelpale verskuif. In sy toespraak by die CKP se kongres het hy genoem dat China die middelpunt van die wêreld moet word én dat die Chinese polities-ekonomiese model ’n regeringsmodel vir ander lande moet word. Nie net het Xi ’n indrukwekkende handelsplan (genaamd One Belt One Road) om Chinese handel verder na Europa, die Midde-Ooste en Asië uit te brei nie, maar Xi wil sy eie internasionale politieke nalatenskap verseker.

China is reeds vir jare lank besig met ’n propaganda-oorlog – om die kommunistiese Chinese se suksesse aan die wêreld oor te dra. Wêreldwyd befonds China verskeie Chinese institute by universiteite. Hier word die Chinese suksesverhaal en die kommunisme-sosialisme van China verheerlik. Maar Xi gaan verder. Hy wil graag hê alle etniese Chinese moet hulle met die Chinese moederland en die Chinese nasie of ras identifiseer, asook die Chinese kultuur en Chinese sosialisme (kommunisme). Dít is die nalatenskap wat Xi wil nalaat. Terselfdertyd predik hy ’n beweging weg van Westerse gewoontes en waardes, insluitend demokrasie en vryheid van spraak.

Xi gaan sy tweede termyn gebruik om “ou” Chinese kommunistiese waardes te versterk ten spyte van die teenstrydigheid met Chinese kapitalisme. Dit beteken nie China gaan sy kapitalistiese stelsel skielik versaak nie, net dat die leisels stewiger vasgetrek word en Xi die staat se houvas op China versterk. Dit gaan toenemend ten koste van individuele vryhede gedoen word.

Ons kan ook verwag dat China se hulp en betrekkinge met lande wat Xi se “teorieë” gaan omarm sal uitbrei. Diktators en potensiële diktators in veral Afrika en Suid-Amerika kan hierdie konsepte maklik aanvaar en vele lande gaan dan ’n laboratorium vir ’n nuwe Chinese politieke-ekonomiese eksperiment word.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 25 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae