Covid-19: Gebrekkige leierskap en politieke agendas

Deur prof. André Duvenhage

Prof. André Duvenhage. Foto: NWU

Met meer as 50 dae van inperking agter die rug is die einde hiervan skynbaar nog nie lank nie in sig nie. Mediaberigte oor die regering se onlangse gesprek met opposisiepartye dui op ʼn president en leierskap wat uiters weifelend is.

Kortom, pres. Cyril Ramaphosa is nie bereid om duidelik leiding te gee en die pad aan te dui nie en die kollektief (lees die ANC-leierskap) is verdeeld en besluite is nie altyd helder en verstaanbaar nie. Daar is darem aanduidings dat die president binnekort die nasie sal toespreek om groter duidelikheid te gee. Dit word redelik algemeen aanvaar dat daar na vlak 3 van inperking beweeg gaan word. Maar hoe gaan dit gereguleer word en wie gaan ingesluit of uitgesluit word hiervan?

Brandende kwessies in hierdie stadium is toegang tot drank en sigarette; die hervatting van die akademiese jaar vir skole (of ten minste sekere klasse); die beweging oor provinsiale grense; en die normalisering van ekonomiese en verbandhoudende aktiwiteite. Anders as ander state soos Nieu-Seeland, Duitsland en Brittanje, is besluitneming ten opsigte van Covid-19 dikwels vaag, onduidelik, teenstrydig en onsistematies. Hoe verklaar ons hierdie toedrag van sake?

ʼn Verdeelde kollektief

Verdeeldheid binne die ANC is nie iets nuuts nie en brandende kwessies het dikwels die manier om onderliggende konflikte na die oppervlak te bring. Dit is duidelik dat die president en die bevelsraad nie altyd die nodige ondersteuning het van die breë kerk van die ANC nie en veral van populistiese groepe aldaar nie. Vandaar die onlangse verbreding van die bevelsraad en meer gereelde kabinetsvergaderings om noodsaaklike inkoop te bewerkstellig. Dit verklaar die weifelende en soms onsekere optredes van die president.

Gebrekkige leierskap

Ramaphosa se styl van bestuur (waar konsensus agter die skerms bewerkstellig word om inkoop te verkry en daar versigtig gepraat word na buite) is ʼn goeie styl, maar nie baie geskik vir die bestuur van krisissituasies soos Covid-19 nie. Die burgery soek deurlopende terugvoer – veral omdat besluite hul daaglikse wel en wee raak.

ʼn President wat soms weke uit die openbare oog verdwyn, Gods water maar oor Gods akker laat vloei en dit oorlaat aan tegnokrate en amptenary om op soms drakoniese wyse mense se lewe te rig en te bepaal, is gewoon net nie aanvaarbaar nie. Ná die baie onindrukwekkende optrede van Ramaphosa (wat meer verwarring as duidelikheid gebring het), het minister Nkosazana Dlamini-Zuma die belangrike aankondigings gedoen en het die burgery letterlik oornag vertroue verloor in die president se hantering van die situasie. Sedertdien het die regering se beheer oor die koronaproses verswak.

ʼn Leier is so sterk as die swakste skakel in sy mondering, word daar dikwels geargumenteer. Ramaphosa is nou al te veel kere uitgewys as ʼn leier wat bang is om sterk standpunt in te neem en op ʼn duidelike wyse die weg vorentoe aan te dui. Hierdie is sy achilleshiel en gaan hom vorentoe nog baie duur te staan kom.

Mishoop-politiek

Dit is ʼn bekende verskynsel (in, onder meer, dele van Afrika en ook die suide van die VSA) dat wanneer natuurrampe plaasvind (en wet en orde daardeur geaffekteer word), mense dikwels eie reg gebruik, wat dan in plundery van eiendom, besittings, ensovoorts ontaard.

In analogie hiermee vind ʼn soortgelyke proses tans binne Suid-Afrika plaas deurdat geld wat beskikbaar gestel is vir noodhulp en ondersteuning ten opsigte van Covid–19, hul weg vind via bedenklike tenderprosesse na die sakke van die politieke elite en tenderpreneurs. Diesulkes trek soms ’n reusevoordeel uit die krisis van ander. In baie opsigte is hierdie patroon bloot ʼn voortsetting van staatskaping en mishooppolitiek wat so kenmerkend was van die Zuma-era.

Indien daar enige waarheid daarin steek (en dit impliseer die Ramaphosa-elite in enige opsig) sal dit die morele hoë grond wat hy nog in sekere opsigte beklee, volledig wegkalwe. Dit sal hom ook in ʼn onmoontlike posisie plaas om teen staatskapers (soos Ace Magashule en andere) op te tree.

Politieke partye is reeds besig om voor te berei vir ondersoeke na die groot getal maatskappye wat letterlik oornag opgeskiet het en aanspraak op Covid-19-gelde maak ten opsigte van tenderprosesse en toekennings. Die ouditeur-generaal se kantoor is bewus hiervan en ondersoeke gaan skynbaar volg. Die hoop kan maar net uitgespreek word dat sommige gerugte wat tans in omloop is, onwaar is.

Die bevordering van politieke agendas

President Cyril Ramaphosa gedurende sy toespraak Woensdagaand. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Tye van krisis is dikwels ook tye van verandering en tye van verandering herdefinieer die magte en kragte wat ʼn bepaalde status quo in stand hou. Die gesegde van die een se dood is die ander se brood is ook hier van toepassing. Die bevordering van agendas wat met radikale ekonomiese transformasie verband hou, kan in hierdie verband genoem word.

Die hofbesluit om ondersteuning en hulp ooreenkomstig breëbasis- swart ekonomiese bemagtiging (BBSEB)-kriteria toe te pas, is nie net uiters problematies nie, maar herinner sterk aan ʼn vorm van rasklassifikasie wat ooreenstem met die beginsel van omgekeerde apartheid. Die reaksie op bogenoemde besluit was omvangryk en onmiddellik het groepe soos die Wit Ekonomiese Bemagtiging (WEB) tot stand gekom. Nie net word dit as uiters diskriminerend ervaar nie, maar daar word ook afbreek gedoen aan die strewe na ʼn “nierassige Suid Afrika.” Dit is in direkte konflik met een van die sentrale doelstellings van die ANC-regering. Die inkoop van veral wit elite-steun vir die Covid-19-inisiatiewe het hier ʼn gevoelige slag gekry.

Die reënboognasie was selde so broos soos tans en verhoudings op raslyne is tans ook maar gespanne as gevolg van die regering se rasgebaseerde hantering en bestuur van die Covid-19 situasie. In die bestek van enkele weke het die regering se hantering van Covid-19 van lofwaardig tot verfoeilik verander. Die probleem hou verband met swak leierskap, mishooppolitiek en die bevordering van persoonlike- en beleidsagendas.

Met miljoene werksgeleenthede wat reeds verlore is, groot ekonomiese inkrimping, begrotingstekorte en vergrotende maatskaplike uitdagings, lê hef aan nog voor. Daadwerklike leierskap en die wil en vermoë om moeilike besluite te neem, is hier krities noodsaaklik. Die regering is besig om sy greep op die situasie te verloor en sterk en klinkklare besluite is nodig om nie die ekonomie totaal te vernietig nie. Die uitdaging is om die impak van die virus te beperk sonder dat die ekonomie in die proses vernietig word. Hierin slaag ons ongelukkig nie op die oomblik nie. Suid-Afrika gaan bepaald ʼn enorme prys hiervoor betaal en die scenario berei tans die weg voor vir ʼn onseker toekoms.

My vrees is dat die mensgemaakte korona (lees reëls, regulasies en toepassing van beheermaatreëls) meer negatief gaan wees as die mediese impak van die virus. Laat ons hoop dat nugter denke gaan seëvier en dat die besluite vorentoe die belang van alle Suid-Afrikaners (ongeag ras of kleur) voorop sal stel.

  • Prof. André Duvenhage is ’n politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit (NWU). 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Betzie

Die hoop dat nugter denke sal seëvier,sal beskaam. Die regering is nie in staat om logies en holisties
te dink en handel nie. Mense in hierdie land wat wel logies,holisties dink en handel, se gees mag maar droefdonker wees.

Willem

Hierdie klomp wat op die bevelsraad dien is nie in staat om te dink nie wat nog van nugter

Kanjynoumeer

Die ANC is sy eie grootste vyand. Soms draai die wiel stadig, maar beslis verseker.
Die ANC grou gate vir baie burgerlikes, besighede en organisasies, maar soos die spreekwoord sê…jy grawe n gat vir ander, pasop op die ou end val jy self daarin!

Jakes

Ek dink persoonlik dat Cyril so dae getel is,hy pas nie in die bree ANC se beleid nie.
Hy is met n groot gesukkel gekies a.g.v. sy beloftes van biljoene se buitelandse beleggings.
Daar het egter nie veel van gekom nie,so die looters het dus nou nie veel oor as om die bietjie wat nou hier oor is te vat nie.
Die Zumas is nog steeds in beheer.

Stephan

Gebrekkige leierskap? Wat is dit?
Politieke agendas?- o ja, die ken ons!

Gebrekkige leierskap is in hierdie geval die absolute minagting van enige bestuurslogika, die insig met ‘n negatiewe persentasiepunt, en kennis van ‘n laerskool-vlak.

Mens kan nie van leierskap praat as jy na kabinet/NCC verwys nie. Jy kan slegs praat van eie gewin. Om nou ‘n lang artikel/dokument hieroor te skryf, is ‘n vermorsing van goeie energie en tyd…

“Ik heb gesegt”.