Dankie, dan doen ons dit maar self

Deur Francois Redelinghuys

Francois Redelinghuys

In Maart 1707 roep ene Hendrik Biebouw tydens die Vryburgeropstand onomwonde en met selfvertroue uit: “Ik ben een Afrikaander – al slaat de landdrost mij dood, of al zetten hij mij in de tronk, ik zal, nog wil niet zwijgen!”

Hierdie uitroep deur die jong 16-jarige Biebouw word wyd beskou as die eerste verwysing na die bewuswording van ʼn groep wat hulself Afrikaners begin noem het. Biebouw was destyds deur die oppergesag as ʼn oproerige jongeling gesien en is weens hierdie uitroep gegesel en na Australasië verban. Die geskiedenis lui dat die skip waarop hy weggestuur is op pad na Australasië, gesink het. Sommige geskiedskrywers reken egter dat Biebouw dit wel tot by die hedendaagse Australië gemaak het. Alhoewel Biebouw se lewe van korte duur was, sou dít wat hy verkondig het, egter vir eeue neerslag vind.

Daar steek iets in kultuur

Soos Biebouw, het die Nederlanders en die Duitsers en die Franse Hugenote nie hierheen gekom as Afrikaners nie, maar hulle het hier Afrikaners geword – ʼn bevolkingsgroep wat sy eie taal en kulturele erfenis, gerugsteun deur sekere Westerse lewensuitkyke en waardes, hier kom vind en bou het.

Dít waarvan Biebouw hom deel gevoel het, was ʼn groep mense wat hul geboorteland vir goed verlaat het op soek na iets anders; iets waarbinne hulle hulself kon wees. ʼn Hunkering om hulself weg van die soms onderdrukkende regeerders te kon regeer en self ʼn toekoms vir hulself en hul nageslag te kon bou. Dit was die betekenis van Afrikaner-wees wat ek meen Biebouw geweet het hy ʼn deel van is.

“Al slaan die landdros my dood.”

Meer staat nie die antwoord

Ons het egter onlangs té afhanklik van die staat geword. Eintlik ly ons aan ʼn inherente kwaal waar ons geïndoktrineer is om te wag dat die staat vir ons oplossings bied, al weet ons diep in ons binneste dat dit nie gaan gebeur nie. Inteendeel.

Die mediumtermynbegroting wat verlede week week deur minister Tito Mboweni gelewer is, was die katalisator vir hierdie skrywe. Ek het, soos oudergewoonte wanneer daar “belangrike” besprekingspunte op die parlementêre agenda is, myself gereedgemaak en geluister.

Ons almal is dit eens; iets moet nou bes gee. Ons besef dat ons werklik nie meer op die huidige trant kan aangaan nie. Ons ekonomie is op die rand van die afgrond en regeringsbeleid en -inmenging is besig om dit erger te maak, nie beter nie.

Die steierende ekonomie word deur staatsentiteite soos Eskom lamgelê, terwyl die staat nie daarin kan slaag om sy uitgawes wat, onder meer, deur ʼn opgeblase staatsalarisrekening verhoog word waar meer as 29 000 amptenare in die openbare sektor elk meer as ʼn R1 miljoen per jaar verdien, verder in te perk nie.

Meer staatskuld word aangegaan om kop bo water te hou en ons besef dat indien daar nie nou indringende ingryping kom nie, die volgende geslag die spit gaan afbyt.

Ons besef dit als. Maar tog…

Hoe langer ek egter gesit en luister het na ʼn louwarm toespraak waar geen oplossings aangebied word nie, hoe meer wil ek myself skop. Ek het self – al weer – in daardie strik getrap waar ek wag op die staat en die oppergesag om met oplossings vorendag te kom. Ek besef als is nie pluis nie, en tog sit en luister ek in die hoop dat ander mense ons uit die penarie sal red in plaas daarvan dat ons self eienaarskap neem en self aan daardie toekoms bou soos wat die Afrikaners van ouds lank voor ons reeds gedoen het.

Die alternatief is ondenkbaar

Afrikaans is aan die kwyn in die openbare sektor. Wetgewing wat aktief op ras geskoei is, maak dat jou velkleur nie “punte” kan verdien nie. Suksesvolle Afrikaanse skole probeer nog ʼn laaste weerstand teen rasse-idealiste soos Panyaza Lesufi se aanslae bied. Artikel 9-instellings, waaronder die Menseregtekommissie, wat veronderstel is om jou te beskerm, ly duidelik aan dubbele standaarde. Die howe bied nie veel weerstand nie en is eintlik bloot ʼn uitvoerder van die staat se rasse-ideologie, terwyl hulle uitsprake lewer oor “grondwetlike teenwigte” wat jou hare sal laat rys. Boonop is die media en allerlei kommentators dit eens: “Die DA kan nie bekostig om ʼn wit leier te hê nie.”

Ons sien die realiteite en voel magteloos. Ons weet dat hierdie dinge nie gaan verander nie. Trouens, ons besef dat die ideologie van verteenwoordigendheid en transformatisme nog meer gaan verskerp.

Dit gaan lei tot die ondenkbare alternatief: selfdood teenoor selfdoen.

Laat ons nie wag dat regeerders vir ons besluit nie. Laat ons nie op ons laat wag nie – kom ons bou skole, universiteite, kolleges, werkende dorpe en veiligheidstelsels, maatskaplike dienste, kultuurgemeenskappe en nog meer.

“Ik ben een Afrikaander!”

Biebouw het daardie iets wat in hom gebruis het, baie goed verstaan. Hy het verstaan dat dit wat hy inherent gevoel het, uniek was; iets waarvan hy onbeskaamd deel wou wees.

Dit het tyd geword dat ons onomwonde weer kan sê: “Ek is ʼn Afrikaner en dit is in my DNS om vir my en my nageslag te bou.”

  • Francois Redelinghuys is kommunikasiebestuurder van die Solidariteit Beweging

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

39 Kommentare

Leon ·

Francois, jy probeer jou werk beskerm met hierdie die nonsense. As ons nie ons eie grond kry nie, mors ons net ons tyd. Al julle bou gaan in die lang termyn niks help nie. En ons weet almal ons gaan nooit n volk staat kry nie want VF+ wil nie een he nie.

Sann ·

Goeiste Leon, wat stel jy voor? Hier is baie mense wat nie kán emigreer nie. Ek bou liewer tot my hande bloei, as om êrens in sak en as saam met jou te sit en wag dat die ellende ons maar oorrompel. “I have a mustard seed, and I’m not afraid to use it. “

RP ·

Leon, in daardie geval het ons twee opsies. Een, ons assimileer met die meerderheid en verdwyn as n groep. Twee, ons emmigreer en verdwyn as n groep. Ek neem aan jyt nog nie immigreer nie en dat jy ook nie wil assimileer nie. Nou wat is jou oplossing? Kom ons bou, as dit nie werk nie, darm het weet ons ons het ons beste gegee en probeer.

Santie ·

AMEN! Dit moet deur almal van elke kleur in ons land wat ‘n verskil WIL maak, begin word. Ons KAN ALMAL saamstaan. Ons WIL. Moenie vir die staat wag nie. Hul beloftes en planne gaan nooit realiseer nie. Hulle het net nie die leierskkap nie. Politiek is politiek….oggend en aand praatjies stem nie ooreen nie. Hulle sorg net vir hulle self. Die skerwe wat van ons land oorgebly het, moet ons, die gewone Afrikaners. so gou moontlik self begin optel en vasplak en die land begin bou. Ons het goeie leiers wat ons hiermee kan help. Soos Afriforum en ander.

boerseun ·

Dit is die almal saam wat die probleem is. Almal is nie bouers nie

Gerhard ·

Almal saam is juis die probleem, een trek die kant toe en die ander trekl ander kant toe, een doen iets sus en die ander doen dit soo.

Vaalseun ·

Baie dankie, Francois. Goed gestel.

Ek wonder wat het Andries Pretorius en al die ander Voortrekkers laat besluit om nie te emigreer nie nadat Piet Retief, sy manskappe en hulle gesinne destyds uitgemoor is? Dit kan nie plaasmoorde genoem word nie, want hulle het nog nie eens plase gehad nie!

Daar was ook nog geen werkgeleenthede in fabrieke, besighede en die staatsdiens hier in die Transgariep vir die Voortrekkers en hulle volwasse kinders nie. Ook nie skole of universiteite vir hulle jong kinders nie. Geen mediese of pensioenfondse nie. Geen polisie of weermag om hulle te beskerm nie. Geen dokters en hospitale nie.

Wat op aarde het hulle hier kom maak waar daar niks was nie? Net gevare? Hoekom is hulle toe nie liewer terug Europa of na Amerika of Australië toe nie? Of wou hulle eers wag vir die Anglo-Boereoorloë, en nog lewens en bates prysgee?

Of, het iets in hulle onderbewussyn vir hulle gesê dat die vernietiging en lyding van die 1ste en 2de Wêreldoorloë wat nog sou kom, ontsaglik groter sou wees? Want Europa, Asië, die Amerikas en die res van Afrika het geen geskiedenis van vrede nie?

Wie maak oorlog? Ek en jy. Wie skep vrede? Ek en jy. Wie vernietig? Ek en jy. Wie bou? Ek en jy. Waar? Waar ek en jy ookal gaan of is.

Danksy die Voortrekkers ry ons nie deur driwwe nie, maar met brûe, of vlieg, oor die Gariep, Vaalrivier of Drakensberge. Soos hulle, moet ons ‘n nuwe toekoms skep.

Tafelberg ·

1. Selfdoen gaan net so ver strek dan moet die staat ook tog iets doen. Geen land gaan vooruit gaan sonder ʼn sentrale leier en beheerstelsel nie. Anders volg elke persoon hulle kop en doen wat hulle goed dink- amper soos wat dinge nou aan gaan.
2. Die Voortrekkers het dinge self gedoen want daar was geen vrees dat dit weer gaan weg geneem word of afgebreek word nie. Ek kan nie gaan skole bou deur die dag nie, ons moet werk en ons pligte nakom.
3. Vir die selfde rede hoekom ons voorouers hierheen gekom het uit Europa uit is maar die selfde rede hoekom ons weer terug keur na Europa (of waar ook al)

Jolandi ·

Dankie, dankie vir mense soos julle wat ons wraggies laat voel daar is hoop.

Feite ·

Ek stem saam dat ons dit dan maar self doen, in die lande van herkoms, asook die wie nie kan of wil terugkeer na die lande van herkoms nie, dan maar in SA. Die meerderheid Afrikaners gaan nie voor die versoeking swig om in SA te bly vir dit waarvoor hulle voorouers na SA gekom het en wat nie meer bestaan nie. Westerse denke gedy nie meer in SA nie, daarom het dit weer tyd geraak om te trek na lande van oorsprong waar westerse denke wel gedy. Dit is so eenvoudig soos dit.

Charles ·

Ekskuus tog, het ek verkeerd gehoor, of meen jy dat Westerse Christelike denke gedy in Frankryk en Duitsland? Nie, o oukei orraait dan is ek met jou, ek stem saam daarmee. Ek het seker net verkeerd gehoor, wou net se…

RP ·

Ek neig nogal na jou danke Feite. Maar ek wil ons land die voordeel van die twyfel gee. Die Kaap is aansienlik anders as die res van die land in terme van denke en ideologie, hier heers westerse kultuur nog (vir hoe lank weet ek nie). Ek sal bou in SA totdat dit dinge geheel en al begin verval (ja ek besef dinge is nie tans goed nie, maar daar is nog hoop). Maar andersins dink ek ook ons moet begin belê in ander lande, nie noodwendig die lande van ons herkoms nie, maar eerder Kanada, Australië ens. Om nou Duits of Frans te staan en leer is n geweldige uitdaging, Nederlands is nog maklik.

Gerhard ·

Charles. Westerse denke en Christelike denke is nie so afhanklik van mekaar soos wat baie dit wil uitmaak nie. Meeste Westerlinge is nog net so welvaarend selfs al het sekulere waardes oorgeneem by Christelike waardes.

Jacobus ·

Vir ons as Afrikaner gemeenskap om weer saam te staan en die toekoms in te gaan as ‘n eenheid, moet ons eers ‘n gesamentlike lyding en die nodige pyn ervaar.

Te veel Afrikaners het dit nog te goed en ons het vir te veel jare in eie waan en belangrikheid verval.

Voor ek begin om te bou, wag ek eers vir die totale val. My rede hiervoor is dat ons net tyd en energie gaan mors omdat net ‘n klein groepie Afrikaners nou regtig wil bou en die res net op hulle louere wil rus omdat hulle nog finansieel goed het, nog werk het, nog behuising het, nog genoeg kos op die tafel het, nog vakansie kan gaan hou, vir die Springbokke kan skree, ens. Dit wat ons reeds verloor het is vir hulle nie nou belangrik nie.

Daar moet onthou word dat daar twee Afrikaner groepe is; die konserwatiewes en die links liberales. Totdat die links liberales nie die pyn self ervaar nie gaan hulle altyd teenstand bied teen die opbou van die nuwe Afrikaner nasie en visie.

Ek het geen probleem met die bou van skole en ander tersiêre instellings nou, maar die bou van die nuwe Afrikaner nasie en visie sal nie kan plaasvind voordat ons soos die Voortrekkers van ouds werklik in ‘n hoek gedryf word en moet besluit oor ons oorlewing en voortbestaan.

Bou sal ons bou, maar net nie nou nie want die tyd is nie reg nie.

Alexz ·

Vir intetressandheid; ñ immigrant word dikwels in die buiteland veel slegter behandel as ñ blanke in s.a. Veral as jy nie paar honderd miljoen het om daar te belê nie…..

Taxpayer ·

Menigde se ideaal is n geografiese selfbeskikking vir die Blanke Afrikaner in die land maar se net waar. Sodra daar voorstelle kom dan kerm bykans almal dat dit hulle nie pas nie. Selfs in die vorige bedeling sou dit presies dieselfde gewees het as daar n afsonderlike geografiese gebied voorgestel was. Daar sou dit ook nie gerealiseer het nie.

Ek ondersteun Solidariteit en ander Burgerlike instansies 100% met hul bouprogram. Ek is net baie bekommerd dit beweeg te stadig en te veel mense is steeds onbetrokke. Ek reken die fooi van R10 is darem sekerlik haalbaar. Wat van jaarlikse kongresse wat wissel tussen provinsies. Ook dat gemeenskappe jaarliks n ONS BOUDAG saamtrek met feestelike programme wat aansteeklik is. Natuurlik sluit dit nie net Afrikaanssprekendes in nie. Ander bevolkings groepe sal ook moonlik aansteek en hul eie inisiatiewe vorm gebaseer op hul eiendomlikheid. Wat van reuse advertensie borde langs ons paaie ens ens. Ek wil dan dit hiermee sien as n oorbruggingsfase na Afsonderlik selfstandigheid in n verdere toekoms.

Netnet ·

Sy raad? “Kom ONS bou skol, universiteite, dorpe, ens.”.
Ek wil amper lag. Wat dink die skrywer doen ons al vir 120 jaar na ALS vernietig was deur die Engelse? Ons BOU. En dan, wat gebeur? Dit word afgevat, afgebrand, vernietig, oorgeneem, geeis.
Ek is MOEG gebou aan maatskappye en skole en huise en plase wat dan deur ANDER afgeneem word met geweld.
Ons het ‘n ander oplossing nodig. Almal is wakker. Almal besef die skrif is aan die muur. Maar julle wil net verder bou en dink die keer gaan hulle dit nie eis of afvat of oorneem nie?

Kallie ·

Daar moet ‘n politieke plan wees voordat ek ‘n geldelike bydrae sal lewer. Met geen politieke plan sal die bouery op niks uitloop nie.

Boerseun ·

Van ons het al ons eie skole gebou, opleiding sentrums ens. Ons het dit met eie geld gedoen en geen Solidariteit, of hoofstroom Afrikaaner hulp ontvang nie. Solidariteit ondersteun Oranje en sy CVO skool maar ondersteun nie die groei van die BCVO openlik nie, hoekom? Of is die probleem dat daar nie genoeg geld is om te maak in die koop of oprigting van ander nuwe skole wat meer soos curro skole wat die maintream mengelmoes moet trek.

Sê net ·

Genesis 19 is hier van toepassing. Ons moet hier uit anders gaan ons verswelg word en met ons lewens boet. Die Engele waarsku ons al vir jare en net soos Lot wil ons die hele tyd dit beredeneer i.p.v. luister en doen wat vir ons gesê word.

Van waar Gahasie ·

Ek weier. Ek weier om op skoongeskraapte stukkies van n vullishoop weer te bou. Kom met die regte voorstelle en alle Afrikaners sal soos een man opstaan en dit ondersteun, nie net 20% goedgelowiges nie. Maak gou, want anders emigreer ek. En hierdie ongegronde vrese oor ons taal wat verlore sal gaan, is nonsens. Afrikaans wil nie meer n plasie wees nie. Sy wil haar regmatige plek in die wereld inneem en ons sal nog daar Afrikaanse skole en universiteite bou.

Walter ·

Soos Kallie hierbo sê, daar moet ‘n politieke plan wees. Ons kan nie net bou en bou en bou nie. Mense sal êrens langs die pad spoed en hoop verloor. Dan gaan depressie en wanhoop intree.

Eddie ·

As Afrikaans tot niet gaan sal dit ons eie skuld wees , ons dring nie aan op diens in Afrikaans nie !

Wingman ·

Die Baby Boomers het hul deel gedoen. Die Generasies X en Y moet nou oorneem en hul eie toekoms skep. Indien hulle reken Afrikaans en die Afrikaner moet maar uitsterf dan is dit goed so. Ouer mense moet dit ook aanvaar.

Werner ·

Pragtige artikel! Saam et sulke mense bou ek enige dag. Ek sukkel bietjie om die swartgallige kommentaar te verstaan, mense wat dreig om te emigreer (totsiens, maat, nie-bouers gaan net die proses moeiliker maak) en diè wat eerder niks wil doen nie (bly asb net uit die pad van die bouers). Soos in Nehemia, sal ons met een hand moet bou en die ander hand moet bewapen, maar bou sal ons bou, ons doen dit al immers 350 jaar lank.

Frik ·

Met onteiening sal die staat bloot vat wat jy opgebou het. Hulle noem dit nasiebou, regstellende optrede en gelyke geleenthede.

A Klaassen ·

Dankie Werner. Ek stem heelhartig met jou saam. As daar dan net een handvol van ons oorbly om die werk te doen, laat dit dan so wees.

Van waar Gahasie ·

Ek sukkel weer om die korrelkop mentaliteit van sommige Afrikaners te verstaan. Ignoreer boonop gerieflikheidshalwe dat bejaardes uitgemoor word (maar wag, ons gaan hulle loopringe bewapen) of vrouens en dogters wat daagliks verkrag word. (ag, dis maar deel van in Afrika woon, reg?) Stoom voort, my maat, want die les is nog nie geleer nie.

Gerhard ·

Werner, die meeste mense is moeg vir emosionele slagspreke en lee beloftes. Hulle soek antwoorde. Die NSA is een groot gemors en dit is tyd dat die wat in fensie stoele in hoe torings sit dit begin raaksien en plan maak.

Doener ·

Filosofiese denke is goed vir die die siel, maar gaan ongelukkig nie daadwerklike oplossings bied. Wie en wat gee die regering en sy kaders mag? Die wetsgehoorsame belastingbetaler se swaarverdiende geld wat hy getrou elke maand en elke jaar betaal. Munisipaliteite hou feeste en makieties, maar die vullis hoop op in die strate en riool loop orals. Waarvoor betaal ons dan ons erfbelasting asook vir sanitasie en vullisverwydering. Die plaaslike en nasionale regering se oplossing vir die krississe is eenvouding….dink nog maniere uit om nog geld van maatskappye en individue te bekom.
Wat gaan die verkil maak of ons die land tot stilstand laat kners deur nie langer die regering van geld te voorsien of gaan ons stelselmatig toekyk hoe ons land in elk geval in duie stort en dan het geen een meer enige middele om uit niks iets te bou.

Piet ·

Netnet, jy slaan die spyker op sy kop. Ons staan naak en in skaamte. Ons eie klein volkie is ons grootste vyand omdat ons leiers vertrou in plaas van om op God te vertrou. Wat ons voorouers onder ondraaglike toestande met bloed-sweet, lyding, smart en gebed vir ons vermag het, het ons verligte politici, dominees en korporatiewe uitvoerende direkteure net so weggegooi vir eie gewin. Matt. 7:6, vir die wat nog die Bybel lees, is presies die waarskuwing wat ons verontagsaam het. Net God kan ons volk nog red.

Eddie ·

Dankie Francois , baie goed gestel !
Ek is bevrees die Afrikaner is besig om sy ruggraad te verloor weens die gewag dat die Staat of iemand dinge vir hom sal doen .
Ongelukkig is dit die prys wat ons betaal weens die gemaksugtige laaste jare onder die Nasionale party se bewind !
Dis nognie te laat nie , ons benodig net die “guts ” om te begin en dinge deur te voer !!

Kerneels ·

30 jaar te laat. Verder het ‘n generasie talentvolle Afrikaners of geëmigreer of net plain sleg geword. Met alles in die lewe is daar ‘n venster. Indien die venster toe is, is hy toe. Die Afrikaner se venster is toe. Van nou af is dit maar net ‘n gespartel om te oorleef, gebaseer op mooi ideale.

Andre ·

Soos sake nou staan sal Afrikaners bars om te oorleef in ‘n sinkende land. Julle sal julle nie kan losmaak van die algehele verval. Kry julle eie onafhanklike grondgebied en woeker daar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.