Dear SU and NWU – have you ever heard of International Mother Language Day?

Universiteit Stellenbosch (Foto: Facebook)

Beste besture van US en NWU

Jammer vir die Engelse opskrif, maar ons weet mos julle wil net Engels hoor. Julle is nie so bevoorreg soos ons om twee of meer tale te kan waardeer en gebruik nie, en dus noem julle eentalige Engelse kommunikasie versigtigheidshalwe “insluitend”.

Die afgelope week gons die media alweer oor taaluitsluiting by koshuise en funksies op julle kampusse. Toemaar, voor die verontskuldiging begin, ons weet julle is so onskuldig soos pasgebore lammertjies.

Ongelukkig is daar egter iets nie pluis nie, want anders sou senior studente op die kampus nooit die selfvertroue gehad het om uitsprake van hierdie aard te maak nie. Ek dink julle sit met ʼn groot klimaatsprobleem en daardie klimaat is teen Afrikaans gekant.

Ons ken ook al die ander mooi verskonings.

“Maar die studente verkies om in Engels te studeer.”

Ek glo dit is waar, maar wat doen julle – mense met oneindig meer kennis en ervaring as die studente – om hierdie jongmense en hulle ouers te help verstaan hoe hulle by moedertaalonderrig gaan baat? En ook dat hulle kans om hulle studies te voltooi, groter sal wees as hulle in hulle moedertaal studeer?

“Die insluiting van Afrikaans is te duur”.

Afrikaanssprekendes is baie lojale betalers. Om hulle in te sluit en welkom te laat voel, maak ook finansieel sin. Verder is die koste van Afrikaanse studente wat kursusse staak of herhaal veel hoër vir hulle én vir instellings soos US en NWU, as die koste daarvan om Afrikaans as onderrigmedium te akkommodeer.

“En die meerderheid mense wat by ons studeer is nie Afrikaans nie.”

Gaan lees weer die Grondwet, of die Verenigde Nasies se Verklaring van Menseregte. Nêrens staan daar dat regte ʼn getalle- of persentasie-afsnypunt het nie. Dit geld vir meerderhede, maar ook vir minderhede. Julle huiwer selde om in Afrikaans te adverteer, en goedgelowige studente (wie se ouers dalk selfs trotse oud-Maties of -Pukke is) te laat glo hulle gaan in Afrikaans studeer – net om wreed wakker te word op ʼn kampus waar hulle hul taal só selde hoor, dat hulle hulself maklik kan verbeel dat hulle geëmigreer het.

“Engels is bowendien dié internasionale taal”.

Julle het tog seker al gereis? Met my bietjie reiservaring het ek al lelik gespartel met Engels in lande soos Tunisië, Switserland, Duitsland, Frankryk en Tsjeggië. Engels is geen goue sleutel tot die wêreld nie. Verder sien ek ook deskundiges op talle terreine wat regdeur die wêreld die mees senior poste beklee, maar wat ek weet julle oudstudente is uit die jare toe julle taalbeleid eentalig Afrikaans was.

Ek weier om te glo vandag se jeug is dommer as hulle geslag, en ek weet mense wat in hulle moedertaal studeer bemeester makliker ander tale as iemand wat in ʼn tweede of derde taal onderrig ontvang.

Van moedertaal gepraat – Februarie word dikwels “die taalmaand” genoem, want op 21 Februarie vier ons Internasionale Moedertaaldag.

Unesco, oftewel die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie, het dié datum gekies ter herdenking aan 21 Februarie 1952, toe Bengaalse studente in opstand gekom het teen wetgewing in Pakistan wat hulle sou dwing om slegs in Oerdoe te studeer. Die betoging het tot gevolg gehad dat vyf studente gesterf het en verskeie gewond is, maar vandag kan studente in Bangladesj in Bengaals studeer. Dit bewys hoe sterk mense oor onderrig in hulle taal en oor respek vir hulle identiteit voel.

Gesien teen die agtergrond van die taalklagtes op julle kampusse, is dit ironies om daarop te let dat die tema van 2023 se Internasionale Moedertaaldag “Meertalige onderwys – ʼn noodsaaklikheid om onderwys te transformeer” is. Unesco verduidelik dat die doel van die tema is om klem te lê op inheemse mense se opvoeding en tale. In ons land se geval, sluit dit Afrikaans en Afrikaanssprekendes van alle rasse in.

Verder word verklaar dat taalverskeidenheid en meertaligheid noodsaaklik vir volhoubare ontwikkeling is:

“Tale is die kragtigste instrumente om ons tasbare en ontasbare erfenis te bewaar en te ontwikkel. Alle pogings om die verspreiding van moedertale te bevorder sal nie net dien om linguistiese diversiteit en meertalige onderwys aan te moedig nie, maar ook om ʼn groter bewustheid van taal- en kulturele tradisies regoor die wêreld te ontwikkel, en om begrip, verdraagsaamheid en gesprek aan te moedig.”

Dit klink na ʼn wen-wen oplossing vir my en beteken nie dat mense wat hulle moedertaal gebruik, bevorder of handhaaf, hoegenaamd vyande van Engels of enige ander taal is nie. In teendeel, ons koester juis ander tale omdat ons dieselfde agting vir ons taal verlang.

As dit die gees is waarin julle as bestuur Afrikaans en ander inheemse Suid-Afrikaanse tale hanteer, gaan die klimaat op julle kampusse een van wedersydse erkenning, respek en waardering word, en gaan insidente soos dié van die afgelope weke nie langer soos ʼn klippie in die skoen aanhou rondrol en seermaak nie.

Laat Internasionale Moedertaaldag 2023 julle inspireer!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.