Die ANC weet nie wat hierdie skole weet nie

Deur Johnell Prinloo

(Argieffoto: Unsplash)

Die afgelope Donderdag en Vrydag is die land se matriekuitslae van beide die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) sowel as die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) bekend gemaak. Lof en kritiek het van alle oorde af ingestroom.

Op sosiale media het trotste ouers, familielede en skole breëbors gepronk oor die beloning wat die harde werk van die voorafgaande 12 jaar tot gevolg gehad het.

Miskien moet ek, voor my eie kritiese denke en sinisme die oorhand kry, net die volgende opregte gelukwense aan die matriekklas van 2023, hul onderwysers, ouers en ondersteuningsnetwerk uiter:

As gemeenskap is ons uiters trots op julle. Ons weet dat enige prestasie voorwaar teen ʼn prys kom en dat julle hard moes werk en julle eksamen en ander take met erns en verantwoordelikheid moes aanpak om uiteindelik sukses te kon behaal. Ons weet ook dat dit toegewyde onderwysers verg en ouers wat bid en help waar hulle ook al kan.

Ten spyte van die mooi, werp die ANC, soos altyd, sy skadu oor die mooi oomblik. ʼn Slaagsyfer wat verbeter, is natuurlik iets om oor opgewonde te wees, maar wanneer die onderwysstelsel ontleed word, is dit duidelik dat kwaliteit nie seëvier nie. Die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, het dit beaam toe hy gal gebraak het oor die IEB se uitslae deur te verwys na ʼn rykmans-eksamen teenoor ʼn eksamen vir kinders wat nie dieselfde geleenthede geniet nie, eerder as om die IEB van harte geluk te wens met die slaagsyfer van 98,46%. Dié uitslae is die dag voor die NSS-uitslae bekend gemaak.

Dit is duidelik dat daar net geen politieke wil is om die standaard van die NSS te lig of om geleenthede aan kinders van Suid-Afrika te bied nie. Soos met die voorgestelde Bela-wysigingswet en die Nasionale Gesondheidsversekering, wil die staat eerder die privaat sektor (wat noodgedwonge die leemtes van die staat vul) en burgers van hul regte en vryhede ontneem as om sy mandaat uit te voer en kwaliteitdienste, en in dié geval onderwys, te lewer.

Volgens die regerende party word die matriekuitslae van 2023 wel as ʼn oorwinning vir Suid-Afrika bestempel. Sonder om iets van die individu of presterende skole te ontneem, wil ek uitwys dat die standaarde waaraan die regerende party prestasie meet, en die standaard waaraan gemeenskappe wat na uitmuntendheid strewe prestasie meet, op geen wyse ooreenstem nie.

Die Departement van Basiese Onderwys (DBO) het werklik min om sy oorwinningslied oor te sing. Duisende kinders verlaat die stelsel voordat hulle matriek bereik en talle leerders ontvang nie kwaliteitonderrig of voldoende geleenthede om te ontwikkel nie. Dit veroorsaak ʼn domino-effek: lae slaagsyfers in ander fases en grade en hoër oorplasingsyfers is die gevolg. Leerders word in hierdie worsmasjien na nuwe grade en fases bevorder sonder dat die leerder oor die nodige vaardighede of kennis beskik om die nuwe werk te kan baasraak.

Behalwe vir die versmorende staatsinmenging en regulasies in die privaat sektor wat die werkloosheidsyfer negatief beïnvloed, is die kwaliteit van die NSS werklik bedenklik wanneer veral die jeugwerkloosheidskoers asook die koers waarteen studente opskop, in ag geneem word. Die DBO stuur matrieks die wye wêreld in sonder dat hulle werklik met begrip kan lees, basiese somme kan doen of eenvoudige probleme kan oplos, en dan klap die DBO vir hulleself hande omdat hulle so oulik is.

Dit is juis bogenoemde klas van uitlatings deur mnr. Lesufi en ander ANC-gesante wat, behalwe vir die woede wat ek voel, my ook my kop in absolute verdwasing laat skud en my met dankbaarheid vul dat ek deel is van ʼn kultuur- en taalgemeenskap wat met ʼn veerkragtige veglus kans sien om bo enige uitdaging of omstandighede uit te styg.

Dit is vir my mooi om te sien hoe Afrikaanse en ander skole wat hul taak met erns bejeën, nie op die blaamkar spring nie, maar werklik skouer aan die wiel sit om te presteer. Skole, ouers en skoolgemeenskappe steek doelbewus en doelgerig hand in eie boesem om kinders vir die uitdagings van die toekoms toe te rus. Waar die ANC sy standaarde verlaag, buig hierdie skole agteroor om hul eie hoë standaarde te behou. Waar die staat moedertaalonderrig bedreig, veg skole en gemeenskappe voort om seker te maak kinders kan steeds in die taal van hul keuse onderrig word, al moet hulle privatiseer of skole opgradeer om meer leerders in te neem. Waar die ANC weier om verantwoordelikheid te neem, daag hierdie skole en gemeenskappe met oplossings en opgerolde moue op en pak hulle elke uitdaging met ywer en geloof aan. Selfs kinders uit van die haglikste omstandighede is gretiger om verantwoordelikheid vir hul eie toekoms te aanvaar as wat die party is wat die land regeer.

2023 se matriekuitslae is verseker ʼn oorwinning vir die burgers van die land. Dit wys ons kan beter doen as die staat. Dit wys ons is bereid om self te werk, self te bou en self die toekoms te verseker – ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms.

Ek steel graag Dricus du Plessis se woorde en pas dit by die konteks aan: Hulle (die ANC) weet nie wat ons weet nie.

  • Johnell Prinsloo is ‘n beleidsanalis verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hendrik ·

Ek stem saam met jou en hulle weet ook nie hoe hard almal werk om die skole afrikaans te hou nie.

Ore ·

Ja Lesufi, verlaag eerder die standaard ipv om dit te lig. Net ‘n vraag, hoeveel van julle kaders se kinders is in privaatskole? Is die term “ryk” net van toepassing op blankes?
Hy wat Lesufi is het as ek reg onthou belowe om 40 skole te bou, dink hy kon net vier bou. Maar soos ons gewoond is, dis almal se skuld behalwe julle eie s’n. Tydens betogings dans julle kinders voor terwyl die presteerders agter die skoolbanke sit. Dan verwag julle dieselfde resultate. Dis net in die woordeboek waar sukses voor werk voorkom.

Jacobus ·

Gaan baie lank sukkel om die smet van die ANC en Lesufi in besonder uit die skool stelsel te was. Die top presteerders kan met reg trots wees op hulle prestasies, die regering ten spyte. Die ANC het natuurlik maatreëls in plek om presteerders te frustreer.

Tricea ·

Dit sal baie interessant wees om Afrikaanse skole se uitslae met ander skole s’n te vergelyk. Ja-nee, as iets werk – soos IEB, moet dit altyd afgebring word tot die standaard wat die ANC daar stel. Dis al hoe hulle sukses sal kan bewys in die onderwys!

Jannie ·

Ongelukkig is dit so dat daar mense in SA is wat alles net wil kry en wil hê, want hul is agtergeblewenes. Ongelukkig moet jy WERK vir jou punte en kan niemand (behalwe seker die patetiese regering) dit vir jou gee nie. En dit is hier waar die eendjies die dam mis spring

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.