Die Croucamp-artikel: Soet, suur en die kômmintaar

Piet Croucamp het op Die Groot Debat deelgeneem onder die titel, Dáárom is ek geen Afrikaner nie.

kommentaarIn die kommentare loop hy erg deur en word omtrent enigiets leliks genoem. Plek-plek stem ek ook nie Piet se feite-aanbieding saam nie, en ja, hy het seker ook bietjie skoor gesoek.

Maar daar is ook heelwat diepsinnighede waarna ’n mens dieper moet kyk. Die heel eerste is die manier waarop ’n mens op sy stuk reageer.

Gedagtig daaraan dat dit Vrouemaand en vandag Vrouedag is, gaan my gedagtes ver terug na die slag toe ’n baie bekende rubriekskrywer van die Volksblad, volgens oorlewering, ‘n damesgroep moes toespreek. Synde dit dames is, beskryf hy in sy toespraak wat dames nié is nie. “Die sieghrêt in die bloedrooigesmeerde bekkie, die haarkapsel uit die era van die zef-generasie.” Kortom, hy beskryf kômmingeit.
Naderhand kan die een “dame” in die gehoor dit nie hou nie, en skree vir hom: “Jy praat nie so van ons nie, ons is fô*&^%n lydies!”

Punt gemaak.

Jare daarna het Volksblad steeds nie na vroue as dames verwys nie, want, so is geredeneer, alle dames is vroue, maar nie alle vroue is dames nie. En jammer, Piet se punt word ook in sommige van die kommentare gemaak. Van die reaksies is kômmin.

Piet se verwysings na lae intelligensie is ongevraag. Kort ná die Boeremaglede aangekeer is, skryf ’n groot Afrikaanse koerant dat dit dié keer anders is as vorige kere, Die meeste van die aangekeerdes was hoogs opgeleide intellektuele.

Nou onlangs daag ’n omie by my vrou se onderneming op. ’n Groot opposisieparty wat as links beskou word, het ’n navorsingspos geadverteer, en die man vra my vrou of die uwe nie sou belangstel nie. Sy sê toe ek het beginselprobleme met die party se beleid oor onder meer aborsies op aanvraag. Die omie trek toe los oor hoe daardie party die party van die toekoms is, en dat hy self ten gunste van aborsies is, veral vir die swartes.

Nou wonder ek maar net oor IK. Hoe in hul skik sal daardie party se swart leiers met dié omie wees as ek hom sou weggee dat hy hulle steun, en dit goed vind dat die swart getalle deur aborsies verminder word?

Dieselfde oom spoel gereeld sy mond oor die “regses” uit wat sy ANC-gesinde skoonseun, en direkteur van ’n museum oor Afrikanergeskiedenis, sou moeilikheid gee. Een van die persone met wie sy skoonseun haaks was (en hy was die een wat skoor gesoek het) is allermins “regs” en haar ma is boonop ’n raadslid van die omie se party.

Die “nuttige idiote” van die politiek kom oor die hele politieke spektrum voor en is trouens juis as begrip ontwikkel om naïewe linkses te beskryf.

Elke volk het sy minder gekunsteldes. Die VSA se rednecks is ’n voorbeeld.
Minder gekunsteldheid beteken nie noodwendig ’n minder suiwer hart, of lae IK, nie. In die VSA is ’n groot wetgewende veldtog aan die gang, veral gedryf deur Republikeine, om aborsies op aanvraag minstens te beperk. Die debatte hieroor in die deelstate se wetgewende vergaderings word goed deur die belangstellende publiek bygewoon. Op een foto vanuit die galery word die teenstanders van aborsie gewys, met die groot oom met sy borselkop, oorpak en kruisbande naaste aan die kamera.

Gaan ’n mens op sy voorkoms en die saak wat hy steun ’n oordeel oor sy IK waag? Gaan ’n Amerikaner ophou om ’n Amerikaner te wees omdat iemand wat vroue ontvoer en jare lank as seksslawe aangehou het, of mense wat geheime uitgelap het, ook Amerikaners is? Nee. ’n Mens probeer ’n bydrae lewer daartoe dat jou volk oor beter eienskappe beskik.

Dit was in ’n stadium mode om as Afrikaner te “bedank”. Dit het ’n groep ingesluit wat oor die algemeen “linkserig” gestaan het, en een wat spesifiek graag ’n dampie dagga geslaan het. Maar aan die “ander kant” het daar ook ’n groep ontstaan wat met die opneem van die begrip “Boere-Afrikaner” (gewoonlik verkeerd gespel) ook maar weggestaan het van die “normale Afrikaner”.

Die wegstaan van Afrikanerskap laat natuurlik die vraag ontstaan: Kan ek dan ook wegstaan van Suid-Afrikanerskap? As ek nou byvoorbeeld nie saamstem dat ons ’n poligamis-president het wat bisarre gosdiensuitsprake maak nie, waar derduisende babas jaarliks deur aborsies om die lewe gebring word, waar korrupsie so erg is en Suid-Afrika jaarliks op die korrupsie-persepsie-indeks agteruit boer en die land vriende met Kuba is? ’n Land waar ek sukkel om werk te kry oor my velkleur, en waar baie van my volksgenote al landuit gedwing is en anderkant die groot water moes gaan werk? Waar byna elke poging tot versoening tot niet gemaak word deur politieke retoriek en maatreëls wat polarisasie aanjaag?

Dat iemand uitroep, ek het ’n moedertaal maar geen vaderland nie! Of anders gestel, ek is deel van ’n volk (met kinkels soos elke volk maar het) waarmee ek my kan identifiseer, maar met dit wat in die land aangaan, vereenselwig ek my moeiliker.

Dis ’n internasionale verskynsel, met honderde minderhede wat probeer om hul volkeregtelike regte beter te laat neerslag vind. Dis nie regs of links nie, want van hierdie groepe, soos die Palestyne, kan beswaarlik as regs beskou word.

Maar die onus is op ons. Wil ons ordentlike Afrikaners wees, of wil ons f&^%$n kômmin Afrikaners wees?

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae