Die einde van die kernkragera in Duitsland

Die ontkoppeling van die Isar 2-, Neckarwestheim- en Emsland-kernkragsentrales van die kragnetwerk Saterdag het die einde van die era van kommersiële elektrisiteitsopwekking met kernkragsentrales in Duitsland ingelei. (Foto: ARMIN WEIGEL / DPA / dpa Picture-Alliance via AFP)

Verlede naweek, op 15 April 2023, is die laaste drie werkende kernkragstasies in Duitsland permanent afgeskakel. Hulle sou volgens die oorspronklike plan al aan die einde van 2022 afgeskakel word, maar het weens die onsekerheid oor die kragvoorsiening in die wintermaande ʼn genadetyd van nog drie en ʼn half maande gekry.

Ten spyte van talle appèlle van wetenskaplikes, die opposisie en van ʼn meerderheid van die bevolking wat die voortsetting van kernenergie steun, gaan veral op aandrang van die Groenparty die kernkragera in Duitsland finaal verby wees. Selfs binne die regerende drieparty-koalisie was die kleinste vennoot, die liberale Vrydemokratiese Party (FDP) ongemaklik met die einde van kernkrag, maar vir die Groenes was dit ʼn ononderhandelbare eis.

Die argumente téén kernkrag weeg veel ligter as die argumente daarvoor, veral in tye van ʼn tekort aan energie en die groot klem op die vermyding van koolsuurgasse, wat deur die verbranding van steenkool vrygestel word. Inderdaad moes die Duitse regering kies watter een van die twee energiebronne hulle eerste wil afskakel, steenkool of kernkrag. Vir die omgewingsdrukgroepe was dit ʼn keuse tussen die pes en cholera. Die ekonomies verkeerde, en boonop vir die omgewing meer nadelige, besluit is geneem om kernkrag onmiddellik af te skaf en eers met steenkoolverbranding aan te gaan.

Die argumente teen kernkrag is veral simbolies en emosioneel en behoort tot die vorige eeu: dit is beelde van onbewoonbare streke en kinders met gestremdhede wat veral sedert die kernkragramp van Tsjernobyl in die destydse Sowjetunie in 1986 Duitsland diep geskud het. Destyds het die konserwatief-liberale regering egter vasgehou aan kernkrag, maar besluit om dit nie verder uit te bou nie. Die eerste koalisie van Sosiaal-demokrate en Groenes in 1998 het die geleidelike afstap van die kernenergie besluit, maar in kanselier Angela Merkel se tweede termyn, ʼn regering uit haar Christen-demokrate en die FDP (dus twee pro-kernkragpartye), is besluit om die kernkragsentrales se produksietydperk te verleng.

Met die tsoenami in Japan in 2011 en die amper-katastrofe van die kernkragstasie Fukushima, het Merkel, as gevolg van meningspeilings (kort na die Fukushima-ongeluk het sowat 80% die afstap van kernkrag gesteun) en die media-invloede, haar bekende emosioneel gedrewe omkeer gemaak en besluit om kernkragsentrales op die lang duur uit te faseer. Daar was geen logiese verbinding tussen ʼn aardbewing in Japan wat duisende kilometers ver is en Duitsland nie, wat boonop van die veiligste kernkragstasies ter wêreld het, maar die mobilisasie rondom omgewingskwessies was in Duitsland nog altyd baie sterk.

Daardie emosionele totale omswaai sou die bloudruk word vir Merkel se politiek, soos met die afskaffing van die huwelik tussen man en vrou, en die oopmaak van die grense vir migrante in 2015.

Sedert die opkoms van die Groenparty in die 1980’s was die afskakeling van kernkragstasies een van hulle hoofeise en amper ʼn soort stigtingsmite. Terwyl die Groenes in ander opsigte meer pragmaties geword het, soos die afskeid van pasifisme, het hulle in dié opsig volstaan. Die ideaal bly ʼn Duitsland wat net deur hernubare energie aangedryf word, al is dit ten koste van ekonomiese groei. Die nuwe linkse regering van kanselier Scholtz, waarin die Groenes wel nie die grootste nie maar die toonaangewende party is en die meeste sleutelposisies beset, het die tempo vir die wegstap van kernkrag nog verhoog en ook die nuwe omstandighede wat deur die Oekraïne-oorlog en die wegval van Russiese gas as oorgangs-energie ontstaan het, het hulle nie tot ander insigte gebring nie. Reeds sedert 2003 is geleidelik van die oorspronklike 18 kernkragsentrales, wat op hulle hoogtepunt sowat een derde van Duitsland se krag voorsien het, een na die ander afgeskakel tot daar nog net 3 oor was.

Daarby is die ironie dat Duitsland die enigste land is wat in dié rigting beweeg, soos ʼn motoris wat op die verkeerde baan ry: sy buurlande bou omtrent almal hulle kernkragvermoë uit, om van lande soos China nie eens te praat nie. Die voorbeeldfunksie waarop Duitsland so trots is, beïndruk niemand nie. Ironies genoeg moet Duitsland by tye kernkragenergie uit Frankryk aankoop as sy sonpanele en windlaaiers nie genoeg produseer nie. Die huidige tegnologie maak kernkrag in elke geval baie veiliger en daar is ook intussen maniere om die kernafval te herwin.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

groenboer ·

Mens kry die indruk dat Duitsland besig is om kollektiewe selfmoord te pleeg…

gatgogga ·

Mens sou tog verwag dat ‘n intelligente nasie soos die duitsers kernkrag met verantwoordelikheid kon bestuur.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ek waarborg jou ‘n Naidoo of Khadjief is nou in beheer…

Marthinus W ·

Ons moet onthou dat Tsjernobil en Fukusjima eerste-generasie kernkragsentrales was. Sedertdien het die bedryf met rasse skrede toegeneem [lees: verbeter], en is dit skoner, veiliger. Die Russe is voorlopers en skep kreatiewe maniere om van die afval onslae te raak.

Duitsland is besig om te de-industraliseer: BASF het opgepak, en gaan Asie toe. Die Duitse maatskappye wat reeds groen is, gaan Amerika toe, met Biden se lokaas. Soos “groenboer” terge noem, lyk die Duitsers se optrede na selfmoord. En, hulle begin weer bewapen en jongmense oproep vir diensplig. Tussen die Duitsers en Pole is die wereld n baie gevaarliker plek.

Maria ·

0.04 is die persentasie CO2 in die atmosfeer. Dit was vroeer gemiddeld 0.03. As dit onder 0.02% is sal plantlewe taan. Kernkrag is ook deesdae die veiligste energie. Duitsland laat mens erg wonder

Autobahn ·

Die Minister vir Ekonomie Robert Habeck het ´n voormalige Blackrock ekonoom/bankier en ook ´n Agora lobbyis as staatssekretarisse. Die minister vir buitelandse sake Annalena Baerbock het die Amerikaner en voormalige president van Greenpeace International, Jennifer Morgan, as staatssekretaris. Om ´n paar voorbeelde te noem. Niks staan die deïndustrialisering van Duitsland deur die VSA meer in die weg nie.

Spook ·

Intussen voer hulle kern-opgewekte elektrisiteit van Frankryk, met sy 56 kernkragsentrales, af in teen dubbeld die prys van die plaaslike. En, moenie vergeet van goedkoop Russiese gas waarmee Frau Merkel gebruik het as motivering om ontslae te raak van die kernkrag nie. Donald Trump het vir hulle al ‘n ruk terug gesê die uitverkopery gaan die Duitsers duur te staan kom. Toe lag hulle hom uit!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.