Die einde van die steenkoolera in Duitsland

Argieffoto

ʼn Lang hoofstuk van die nywerheidsgeskiedenis in Duitsland, die ekonomiese reus van Europa, is afgesluit.

Vanjaar sluit die laaste twee oorblywende steenkoolmyne in Bottrop en Ibbenbüren, al twee stede in die Ruhrgebied, die grootste nywerheidsentrum van Wes-Europa. ʼn Geskiedenis van 150 jaar kom daarmee tot ʼn einde, alhoewel die einde lankal in sig en ook onvermydelik was.

Die steenkoolmynbou was die grondslag vir Duitsland se opgang as nywerheidsreus in die laat 19de eeu en daarna. Steenkool is noodsaaklik vir die smelt van staal, en daar waar steenkoolmyne is, is ook staalfabrieke. Dit het ook vir goedkoop energie gesorg en behalwe vir die staalvervaardiging het ook ander swaar nywerhede in die Ruhrgebied en elders in die steenkoolgebiede gevestig.

Sedert die 1950’s het die mynbedrywighede stadig begin afneem van 180 myne tot die laaste twee wat vanjaar sluit. Die prys vir Duitse steenkool is dubbeld so hoog soos die wêreldmarkprys, omdat die steenkool diep gemyn word, en omdat die lone hoog is.

Sonder subsidies van die staat sou die myne al veel vroeër moes gesluit het. Die steenkoolmyners was egter ʼn magtige faktor gewees deur hulle vakbond Bergbau und Energie (IGBE/IG BE), deur die eertydse arbeidersparty SPD (Sosiaal-Demokratiese Party van Duitsland), wie se hartland die Ruhrgebied was en wat gesorg het dat die myners hul werk en voordele behou in ruil vir steun by die stembus.

In die bloeitydperk van die 1950’s het daar 600 000 mense in die steenkoolmyne gewerk. Ook talle ander bedrywe het direk of indirek afgehang van die mynbedryf en niemand het gewaag om daaraan te vat deur subsidies te sny en ʼn hele streek in opstand hê nie. As die mynwerkers betoog het, het die Ruhrgebied tot stilstand gekom.

Verskeie pogings van die Christen-Demokratiese Party (CDU) om die subsidies te verminder, het gewoonlik sterk weerstand uitgelok en is laat vaar. Die deelstaat Noordryn-Wesfale, waarbinne die Ruhrgebied geleë is, is die grootste deelstaat in Duitsland ten opsigte van die getal inwoners en was die SPD se vesting waar hulle groot getalle vir die verkiesings kon werf.

Angela Merkel, die Duitse kanselier, beantwoord Woensdag vrae tydens ʼn sitting van die Bundestag, die Duitse parlement, in Berlyn, Duitsland. (Foto: Markus Schreiber, AP)

In 2007 het die regering van Angela Merkel, waarvan die SPD deel was, egter besluit om die subsidies vir die steenkoolmynbou geleidelik te verminder, met 2018 as die beoogde einde. Dit was ʼn lang uitgerekte dood met genoeg versagtende maatreëls om aan die laaste mynwerkers aftreepakkette of alternatiewe werk te kon bewerkstellig.

Daar is steeds werk om af te handel, soos die rehabilitasie van die myne. Talle voormalige myne is reeds omskep in museums, teaters, kunsgalerye, ensovoorts. Alhoewel daar nog steeds talle fabrieke in die Ruhrgebied is, neem dienstebedrywe in belangrik toe.

Steenkoolmynbou was vir die Ruhrgebied en sy mense ʼn wesenlike stuk van hul identiteit, met generasies wat daar gewerk het met ʼn eie leefwyse en manier van praat. Stokperdjies soos sokker, teel met posduiwe, die mynwerkerorkeste en ontspanning in die Schrebergärten (klein privaat tuine) tussen die fabrieke en myne op naweke was en is deel van die Ruhrgebied se arbeiderskultuur.

Die ander kleiner steenkoolgebied, die Saar, se mynbedrywighede het in 2012 tot ʼn einde gekom. In Frankryk het die laaste steenkoolmyne reeds in 1990 gesluit en in Groot-Brittanje in 2015. Ook hier was die steenkool die stof wat die nywerheidsrevolusie aangedryf het en wat die onderbou van die hele werkersklaskultuur was.

By al die nostalgie oor die einde van ʼn era en ʼn hele kultuur, moet egter nie die groot besoedeling vergeet word wat die myn en die brand van steenkool vir mens en natuur veroorsaak het nie. Die merke wat die mynbou gelaat het, soos die mynhope, vervalle torings, skagte en onbenutte spoorlyne, sal nog lank sigbaar wees.

Ook Suid-Afrika se ekonomie is gebou op mynbou. Die einde van Suid-Afrika se mynbedrywighede is nog lank nie in sig nie, maar die strukturele verandering wat Wes-Europa deurgegaan het, het ook al in Suid-Afrika begin.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae