Die Geskiedenis van die Tweede Afrikaanse Beweging

geskiedenis-van-die-afrikaanse-literatuur-1

Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur – Band 1

[Op 14 Augustus was dit Taaldag en gedagtig daaraan herbesoek ons sekere periodes uit die Afrikaanse taalgeskiedenis. ~ Red.]

Die Eerste Afrikaanse Beweging was hoofsaaklik geografies beperk tot die Paarl en omgewing en het gesentreer rondom een figuur, t.w. S.J. du Toit, en – vir die grootste gedeelte van die Beweging, altans – rondom een vereniging, nl. die Genootskap van Regte Afrikaners, en een blad, Die Patriot. Die Genootskappers het, teen alle teenkanting in, gestry vir die regte van Afrikaans en hulle belangrikste taak was om die volk te leer lees. Die Beweging het egter tot niet gegaan as gevolg van die politieke aktiwiteit van sy leier. Dít, tesame met Du Toit se opvattinge oor spelling en die gebrek aan geskrifte van ‘n intrinsieke literêre gehalte, was daarvoor verantwoordelik dat die Beweging die volk nie verder kon stimuleer nie.

Daarteenoor was die Tweede Beweging ‘n landsbeweging wat verskillende hooffigure in die onderskeie provinsies gehad het, met verskillende blaaie en verenigings. Ná die Anglo-Boereoorlog is die Afrikaner nie alleen gestel voor die enorme taak om sy land weer materieel op te bou nie, maar om homself ook geestelik weerbaarder te maak. In vergelyking met die Eerste Beweging was dit dus nie slegs die strewe om leesbare rympies te skryf of om die volk op te voed nie, maar om uiting te gee aan die grootste behoeftes en die diepste wese van die Afrikanervolk. Daarom was die stryd dan ook ernstiger en meer doelgerig.

I. Die verengelsingsbeleid en die reaksie van Hollandse kant

Tydens die Anglo-Boereoorlog is daar feitlik niks gedoen in verband met die taalstryd nie en ná 1902 was die Afrikaners ekonomies en geestelik aanvanklik nie daartoe in staat nie. Die vredesvoorwaardes het onder meer bepaal dat Engels die enigste voertaal in die administrasie en gereg sou wees, hoewel daar voorsiening gemaak is vir die gebruik van Nederlands. Tog het Engels al hoe meer veld op staatkundige, kerklike en onderwysgebied gewen en is Nederlands in die praktyk verdring. Die nuwe Engelse regering was dus met dieselfde ideale besiel as lord Charles Somerset. In 1903 skryf E.B. Sargent, die Transvaalse Direkteur van Onderwys, as volg aan lord Milner: ‘We must appeal to England and the brothers and sisters of those who have fought for the Empire, asking them to come over to carry out that part of the work which their kinsmen were not able to complete. Our military operations have resulted in the greater part of the boys now remaining in the camps, and I am convinced that we have no better opportunity than now to make them all English-speaking next year … What we now require here are women, highly capable teachers with strong patriotism who would be willing to come hither and face the hardships of the camp life, in order to teach the children of the burghers our language and our ideals. Gradually these children should also be taught our great Imperial ideals.’

Teen hierdie stelsel van geleidelike verengelsing kom daar aanvanklik reaksie van die Hollandse kant, in die besonder van die Christelik-nasionale onderwysskole, wat Hollands as voertaal bly handhaaf het, en van die Taalbondmanne, veral van Jan Hendrik Hofmeyr, wat ‘n sterk voorstander vir die behoud van Nederlands was. W.J. Viljoen, A. Moorrees en ‘n paar ander Stellenbosse professore soek die oplossing in ‘n Vereenvoudigde Nederlandse Spelling (V.N.S.) wat – onder meer deur die invoeging van tipiese Afrikaanse idiome en gesegdes – Hollands makliker vir die Afrikaners sou maak, hoewel die taal nog basies Nederlands was. Die Zuid-Afrikaansche Taalbond, wat as gevolg van die oorlog onaktief geraak het, word in 1903 opnuut opgerig, en in dieselfde jaar vertrek Viljoen na Nederland om met taalgeleerdes oor die vereenvoudiging te beraadslaag. Alhoewel verskeie werke in die vereenvoudigde spelling verskyn het, spreek dit vanself dat so ‘n kunsmatige vorm nooit werklik inslag kon vind nie en tot mislukking gedoem was. Vandaar ook dat De Goede Hoop, ‘n maandblad wat onder beskerming van J.H. Hofmeyr en Marie Koopmans-de Wet in Julie 1903 met J.H.H. de Waal as redakteur verskyn, bydraes in Afrikaans publiseer, ten spyte van die teenkanting van die stigters en die sterk aanvalle deur die apologete van die V.N.S. De Waal doen in hierdie jare waardevolle werk om Afrikaans weer – ná die teenkanting wat daar teen ‘Patterjots’ gekom het – as leestaal gewild te maak, onder meer deur die publikasie van die historiese roman Johannes van Wyk (vanaf Januarie 1904 as vervolgverhaal in De Goede Hoop en in 1906 in boekvorm).

Op 6 Maart 1905 hou J.H. Hofmeyr op Stellenbosch sy beroemde toespraak ‘Is ‘t ons ernst?’ waarin hy die volk probeer oproep om die Hollandse taal te handhaaf. Hy verwys na die verengelsing in die algemene omgang, in die kerke, op die skole en onder die leerlinge, en gaan dan oor om voorbeelde te noem van lande wat in die verlede wel hulle taal met sukses gehandhaaf het, soos Wallis, die Kanaaleilande, Serwië, Bulgarye, Pole, Kanada en Engeland self. Dit kon hulle alleen doen omdat dit hulle erns was, en hy vra die Afrikaners om gebruik te maak van hulle regte: ‘Is uw geloof goed, laat uwe werken daarmede rijmen; maar zooals ‘t thans met u gesteld is, zijn uwe werken in schrille tegenspraak met uwe geloofsbelijdenis. Zoolang gij niet gebruik maakt van de rechten, die gij hebt, zal niemand zich laten bang maken door uwe verzekeringen van bereidwilligheid tot offers ter verkrijgen van rechten, die gij nog niet bezit.’ Dié rede verskyn aanvanklik in Ons Land, die blad van J.H. Hofmeyr, en word later as brosjure gepubliseer.

II. Preller en die reaksie van Afrikaanse kant

Die lesing van Hofmeyr trek groot aandag, en G.S. Preller, wat in 1902-1903 saam met Eugène Marais aan die koerant Land en Volk meegewerk het, antwoord in 1905 in De Volkstem daarop met ‘n lang reeks artikels Laat ‘t ons toch ernst wezen! Hy wys daarop dat dit die Afrikaners inderdaad ontbreek aan erns in verband met Hollands, maar hy vra die vraag of die erns vir hulle enigste moedertaal, nl. Afrikaans, dan afwesig is. Hy vat sy standpunt saam in drie stellinge: 1) ‘De taal die in een land leeft, die in het ganse volk wortelt, heeft in dat land en onder dat volk de meeste kans op voortbestaan, en laat zich niet uitroeien dan met de uitroeiing van het volk waarin ze leeft. De geschreven taal van enige nasie regelt zich onwillekeurig, of behoort zich te regelen, naar de gesproken taal van die nasie; anders lopen de twee naderhand zó ver uit mekaar, dat zij feitelik afzonderlike talen zouden zijn’; 2) ‘Afrikaans wortelt diep en leeft gezond in de gehele Afrikaner nasie. Geen ander taal doet hetzelfde. Onze schrijftaal verschilt zóver van onze spreek-taal, dat voor ‘t gros der Afrikaners het geschrevene als een vreemde taal is die zij zelf nagenoeg nooit schrijven’; 3) ‘Daarom heeft Afrikaans in Z. Afrika de grootste en beste kans op voortbestaan. Daarom behoort onze schrijftaal veel nader bij het Afrikaans te komen dan waar zij zich tans bevindt.’ Volgens Preller kan die Afrikaner alleen in Afrikaans weergee wat in hom omgaan, en dit moet dan ook die taal word waarin hy skrywe. Hy gaan die ontstaan van Afrikaans na onder invloed van seemanstaal, Maleis-Portugees, Frans en Engels, en hy toon aan dat Afrikaans die taalorganisme is wat by ons leef en aard. Hy noem verskillende mense wat dit reeds in die verlede ingesien het, maar hy waarsku teen ‘n té vereenvoudigde ‘fonetiese’ spelling of ‘die skrijf soos jij praat’-reël van die Genootskappers en pleit vir ‘n ‘onderscheid … tussen het beschaafd Afrikaans en de taal van de straat’. Dat hy nie teen Nederlands gekant is nie, blyk duidelik uit die gedragslyn wat hy voorstel: ‘Afrikaans schrijven en spreken, Hollands leren, albei lezen.’ Die reeks artikels van Preller verskyn aanvanklik in De Volkstem, waarvan hy van 1903 af assistent-redakteur is en word kort daarna uitgegee as brosjure waarin hy die geleentheid het om na Eugène Marais se ‘Winternag’ te verwys as voorbeeld van waartoe Afrikaans in staat is.

Reeds in 1904 skryf Joh. Visscher, die redakteur van die Vrystaatse blad De Vriend, enkele briewe in Afrikaans, en in De Vriend des Volks (1904-1923) moedig hy die skryf van Afrikaans aan. Hierin word hy bygestaan deur W. Postrna, wat in De Vriend des Volks van 2-10 Junie 1905 drie stukke oor ‘Onze taal’ publiseer waarin hy die bestaansreg van Afrikaans as ‘n selfstandige ontwikkeling uit Nederlands aantoon en op dié wyse ‘n waardige aanvulling by Preller se pleitrede lewer. Hy kom tot die gevolgtrekking dat ons ‘n eie taal het, maar weier om dit te aanvaar. ‘Zoolang als ons tevrede is om onse taal te minag en verguis, moet ons verstaan dat al die skimpe en spot ons tref nie onse taal nie, maar onsself. Onse ganse selfrespek gaat al meer en meer verlore, onse nasionaliteit blijf in naam, onse toekoms duister, onse nageslag ‘n prooi vir die wat wil neem.’ In dieselfde jaar lewer J.S.M. Rabie, redakteur van die Pietermaritzburgse koerant De Afrikaner (1904-1932), ‘n pleidooi vir die gebruik van die volkstaal en word ‘n aantal verhale en hoofartikels in Afrikaans gepubliseer, al kom daar spoedig teenkanting teen Rabie se optrede en word hy gedwing om in 1906 sy redakteurskap te laat vaar. In De Vriend des Volks – waarvan Rabie intussen redakteur geword het – verskyn in Desember 1906 die teks van ‘n voordrag wat Postma oor ‘De nieuwe taalbeweging’ in Bloemfontein gehou het waarin hy andermaal pleit vir die erkenning van Afrikaans as noodsaaklike voorvereiste vir die uitbouing van die Afrikaner se nasionaliteitsbewussyn.

III. Georganiseerde optrede en verenigings

Intussen het Preller in ‘n naskrif tot sy reeks artikels in De Volkstem ‘n uitnodiging gerig tot alle belangstellendes om ‘n beweging vir die bevordering van Afrikaans te begin, en op sy inisiatief word op 13 Desember 1905 tydens ‘n byeenkoms in Pretoria die Afrikaanse Taalgenootskap (A.T.G.) gestig met die doel om Afrikaners te oortuig van hulle taal, om die Afrikaanse taal in ‘n suiwer vorm te ontwikkel en ‘n Afrikaanse nasionaliteitsgevoel aan te kweek. In ander sentra, soos Potchefstroom en Bloemfontein, kom soortgelyke verenigings tot stand, terwyl De Waal in Kaapstad – waar daar heel wat voorstanders van die V.N.S. was wat sterk te velde getrek het teen die nuwe Afrikaanse strewe – sy werk in De Goede Hoop voortsit en op 3 November 1906, met die samewerking van D.F. Malan, D.F. Malherbe, D.F. du Toit Malherbe en A.I. Perold, oorgaan tot die stigting van die Afrikaanse Taalvereniging (A.T.V.), wat basies dieselfde doelstellinge as die A.T.G. het. In Oktober van dieselfde jaar lewer D.F. Malherbe op Wellington sy rede oor ‘Is Afrikaans ‘n dialekt?’ waarin hy as taalwetenskaplike die begrip ‘patois’ nagaan en tot die gevolgtrekking kom dat Afrikaans geen dialek is nie. Teenoor die V.N.S. spreek hy hom sterk uit: ‘Ek is prinsipieël teen die idee van die vorming van ‘n toekomstige skrijftaal deur vereenvoudiging, dus deur toenadering van Hollands tot Afrikaans, want die só gewonne resultaat sal gebaseer wees op ‘n fondament wat in die lug swewe. Die grote moeilikheid van die Afrikaner is die Hollandse grammatika, die voor hem onoverwinnelik toeskijnende vormleer. Hoe vereenvoudigd ook die vormleer sal gemaakt word, so moet dit g’n Hollandse maar wel Afrikaanse vormleer en sintaxis wees, wat as énige basis vir ‘n toekomstige skrijftaal kan en mag aangenome word.’ In Augustus 1908 lewer D.F. Malan op Stellenbosch die rede ‘Het is ons ernst’. Die taal, sê hy, word gebore op die bodem van die volkshart en volksgeskiedenis en leef alleen in die volksmond. Daarom moet die vraag in Suid-Afrika nie wees watter taal die beste is nie, omdat die keuse van ‘n taal in die eerste plek ‘n volksaak is. Hy gaan voort en wys daarop dat Nederlands of Vereenvoudigde Nederlands nooit die volkstaal van Suid-Afrika sal kan word nie, omdat dit kunsmatigheid sal meebring. Afrikaans is die natuurlike medium, en dit moet ook as skryftaal aangewend word, anders sal dit die gebruik van Engels bevorder. En dit is nodig om dit nóú te doen omdat die Afrikaanse volk aan nasionale armoede ly. Die erkenning van Afrikaans sal hierdie probleem oplos en die totstandkoming van ‘n volksliteratuur verhaas.

Die aktiwiteit van die verskillende taalverenigings lei – onder meer gestimuleer deur die al hoe sterker nasionale bewussyn op politieke gebied – daartoe dat die Afrikaanse en Hollandse groepe geleidelik begin saamwerk. In Desember 1907 kom die Taalbond en die A.T.V. op ‘n kongres in die Paarl ooreen om hulle albei prakties vir die Afrikanersaak te beywer, terwyl die Afrikaans-Hollandse Taalvereniging in 1908 in Pretoria gestig word met die doel om Hollands in die Transvaalse skole te bevorder. Nog in dieselfde jaar word Onze Taal in Bloemfontein gestig met prakties dieselfde oogmerke. Hierdie samewerking lei uiteindelik daartoe dat daar by sekere kulturele leiers, soos Postma en Hofmeyr, wat einde 1908 en begin 1909 die Nasionale Konvensie in Kaapstad ter voorbereiding van die Unie bygewoon het, die gedagte ontstaan om al die verskillende verenigings in een sentrale liggaam saam te snoer. Op ‘n kongres wat in Julie 1909 in Bloemfontein gehou is, word daar dan oorgegaan tot die stigting van die Zuid-Afrikaansche Akademie voor Taal, Letteren en Kunst (later: die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns) met as doel ‘de handhaving en bevordering van de Hollandse taal en letteren, en van de Zuid-Afrikaanse geschiedenis, oudheidkunde en kunst. Onder het woord ‘Hollands’ wordt verstaan: de beide taalvormen gebruikelik in Zuid-Afrika.’ In die aanvangsjare het die Akademie veral leiding gegee deur onder meer die instelling van openbare eksamens oor taal, letterkunde en geskiedenis, die uitskryf van prysvrae, lektuurvoorsiening deur die instelling van biblioteke, die hou van openbare voorlesings en referate en aandag aan taalonderrig op skool en universiteit. In die besonder lewer die Akademie ‘n bydrae deur die toekenning (vanaf 1915) van die Hertzogprys vir die beste literêre werke, die vasstelling van die Afrikaanse spelling deur die publikasie van die Afrikaanse woordelys en spelreëls (vanaf 1917) en die publikasie van literêr- en taalwetenskaplike artikels in die Jaarboek van die Akademie (1911-), die Tydskrif vir Wetenskap en Kuns (1922-1960), die Hertzogannale (1952-1968) en die Tydskrif vir Geesteswetenskappe (1960-). Tog het die Akademie in sy beginjare nie die rol in die taalstryd gespeel as wat allerweë die verwagting was nie, waarskynlik omdat dit – in navolging van die Koninklijke Vlaamse Academie – ‘n geslote liggaam met ‘n beperkte ledetal is.

IV. Verdere optrede, die onderwys en die amptelike erkenning van Afrikaans

Met die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika in 1910 word Hollands naas Engels as amptelike taal erken. Intussen word die stryd vir Afrikaans veral deur die A.T.V. gevoer en staan die Taalbond al hoe meer in diens van die Afrikaanse Beweging. Ook in Natal gaan daar stemme op vir die erkenning van Afrikaans, in die besonder van die Organisatie van Hollandse Taalvrienden (1913) en die Saamwerk-Unie van Natalse Kultuurvereniginge (1916) met sy orgaan Die Saamwerk, waarin veral G.M. Pellissier, G. Besselaar, E.G. Jansen en M.M. Jansen ‘n leidende aandeel het. Hierdie stryd word algaande meer doelgerig namate die Afrikaner aktief aan die politiek meedoen.

Die erkenning van Hollands as mede-amptelike taal en die verdere stryd vir die bevordering van Afrikaans lei daartoe dat daar ook op die gebied van die onderwys ‘n beweging ontstaan om Afrikaans as onderrigmedium erken te kry. Hierdie beweging het verrassend gou positiewe resultate. Op 23 April 1914 dien C.J. Langenhoven ‘n mosie by die Kaapse Provinsiale Raad in waarin hy versoek dat Afrikaans pleks van Nederlands vir Afrikaanssprekendes tot en met standerd IV as voertaal op skool gebruik moet word. Dié mosie word eenparig goedgekeur, en nog dieselfde jaar volg die provinsiale rade van Transvaal en die Vrystaat die besluit van Kaapland, terwyl Natal later ‘n dergelike voorstel aanvaar. In Julie 1914 hou Langenhoven sy beroemde rede oor ‘Afrikaans as voertaal’ voor die Akademie waarin hy ‘n vurige pleidooi lewer vir die moedertaal en vir die algehele erkenning van Afrikaans pleit. Afgesien van ‘n mate van teenkanting oortuig hierdie rede baie mense in die onderwys van die bestaansreg van Afrikaans en kom daar verdere versoeke om Afrikaans ook in die hoër standerds as voertaal te gebruik. Van 1917 af word Afrikaans al hoe meer in die skole ingevoer, en teen 1925 is prakties alle onderrig vir Afrikaanstalige kinders deur middel van die moedertaal. In Augustus 1918 word Afrikaans vir die eerste keer tot universiteitsvak verhef met die benoeming van J.J. Smith tot hoogleraar in Afrikaans aan die Universiteit van Stellenbosch. Die Grey-kollege in Bloemfontein volg hierdie voorbeeld in Oktober van dieselfde jaar met die aanstelling van D.F. Malherbe, terwyl Jan F.E. Celliers in 1919 as buitengewone hoogleraar op Stellenbosch aangestel word met die doel om hom voltydse geleentheid vir sy skryfwerk te gee. Ook by ander universiteite word Afrikaans weldra as studievak ingevoer.

Met die besonder snelle vordering wat Afrikaans in die bestek van ‘n paar jaar op die gebied van die onderwys gemaak het, spreek dit vanself dat die amptelike erkenning nie sou uitbly nie. Reeds in 1918 het die Parlement ‘n wysiging goedgekeur waarby onder die woord ‘Hollands’ in artikel 137 van die Grondwet (wat Engels en Hollands tot die offisiële en gelykwaardige tale van die Unie verklaar) ook ‘Afrikaans’ verstaan sal word, behalwe ‘in gevallen van wetsontwerpen en wetten van het Parlement en van officiële dokumenten van een van de Huizen van Parlement’. Op voorstel van die destydse Minister van Binnelandse Sake, D.F. Malan, is daar in 1925 besluit om aan Afrikaans volle parlementêre regte te gee en word die voorbehoud van 1918 teruggetrek. Daarmee is Afrikaans dan saam met Engels ten volle erken as landstaal van Suid-Afrika.

V. Afrikaans in die kerk, bybelvertaling, psalmberyming en gesangboek

Die sterkste teenkanting teen Afrikaans het van kerklike kringe gekom, waarskynlik omdat daar onder die teologiese professore op Stellenbosch nie ‘n enkele voorstander van die invoering van die moedertaal in die Kerk was nie. Tog gaan die Vrystaatse en Transvaalse Sinodes reeds in 1916 daartoe oor om Afrikaans as kanseltaal goed te keur, terwyl Natal en Kaapland in 1919 hulle voorbeeld volg. Sedert 1924 – dus nog voor die amptelike erkenning – is Afrikaans feitlik die enigste taal in die drie Afrikaanse susterkerke, terwyl Die Kerkbode van 1925 af in Afrikaans verskyn.

Reeds in 1905 het Preller die uitspraak gemaak dat ‘n gesaghebbende vertaling van die Bybel die deurslag sou gee aan Afrikaans as skryftaal, maar daar was van kerklike kant aanvanklik sterk teenkanting hierteen, terwyl ook voorstanders van Afrikaans onseker oor die saak of heeltemal daarteen gekant was. In 1911 verklaar Langenhoven bv.: ‘As die Hollandse Kerk my sou vraag om die Bybel, die psalmen gesangboek en die formuliere wat aan my hart geheilig is deur my vroegste herinneringe in Afrikaans oor te sit, dan sou ek dit ten ene male weier, al had ek die bekwaamheid daarvoor; en ek sou die voorstel (hoe onlogies ook) beskou as heiligskennend. Dit sou vir my smaak parodie wees.’

Tog was daar reeds in hierdie jare mense wat sterk ten gunste van ‘n Afrikaanse Bybelvertaling was. Die verskyning van W.J. Conradie se Kinderbybel onder die titel Bybelgeskiedenis vir ons volk (1912) het die weg berei vir die Afrikaanse Bybel, en in 1914 hou B.B. Keet ‘n lesing voor die A.T.V. op Stellenbosch waarin hy ‘n sterk pleidooi lewer vir ‘n vertaling, alhoewel hy voorkeur gee aan ‘n verafrikaansing van die Statenbijbel, onder meer omdat hy van mening was dat ‘n vertaling uit die oorspronklike tale ‘n te groot werk sou wees. Op die Vrystaatse Sinode van 1916 word ‘n Bybelvertalingskommissie benoem wat in 1922 ‘n proefuitgawe van die Vier Evangelies en die Psalms – ‘n vertaling uit Nederlands – publiseer. Teen hierdie uitgawe is daar sterk kritiek uitgespreek en dit was vir almal wat met die saak gemoeid was, duidelik dat daar ‘n verandering in werkmetode moes kom. In 1923 is besluit om die Bybel uit die grondteks te vertaal. J.D. du Toit (Totius) en J.D. Kestell word tot eindvertalers benoem, terwyl B.B. Keet, H.C.M. Fourie en E.E. van Rooyen later bykom, met J.J. Smith, D.F. Malherbe, T.H. le Roux en later ook S.P.E. Boshoff as taalkundige adviseurs. In 1929 publiseer hulle ‘n proefuitgawe van die Vier Evangelies en die Psalms wat allerweë gunstig ontvang is. In 1933 verskyn die eerste druk van Die Bybel in Afrikaans, waarvan ‘n hersiene uitgawe in 1953 die lig sien. Sedertdien het die gevoel ontstaan dat die ontwikkeling van Afrikaans vanaf 1933 en die ontdekking van vroeëre Bybelmanuskripte (o.m. dié van die Dooie See-rolle) ‘n heeltemal nuwe vertaling vereis. In 1969 word enkele Ou- en Nuwe-Testamentiese boeke as ‘n proefvertaling gepubliseer, en sedert 1971 werk ʼn Bybelvertalingskommissie bestaande uit E.P. Groenewald, S. du Toit (later vervang deur J.L. Helberg), E.S. Mulder (intussen oorlede), J.P. Oberholzer, F.J. Botha, F.C. Fensham, G.M.M. Pelser, J. Postma, Tjaart van der Walt en P.A. Verhoef as vertalers en W.E.G. Louw (intussen oorlede), W. Kempen, H. Venter en G.S. Nienaber as taaladviseurs aan ‘n nuwe oorsetting. In 1975 verskyn die vier Evangelies, Handelinge en die eerste vyftig psalms onder die titel Die blye boodskap as eerste resultaat van hierdie werk, terwyl die Nuwe Testament & Psalms in 1979 gepubliseer word. Die volledige nuwe Bybelvertaling verskyn in 1983.

Reeds vroeg het Totius begin met ‘n beryming van die psalms en in 1923 verskyn sy 36 Psalms in Afrikaans en in 1937 die volledige Berymde psalms (almal deur Totius, met byvoeging van enkele berymings deur ander skrywers), gevolg deur die formuliere wat deur die Bybelvertalers oorgesit is. In 1923 publiseer Langenhoven sy Gesange in Afrikaans, terwyl Celliers, Louw en Gerdener se Proewe van oorsetting van die Gesangbundel in Afrikaans in 1924 verskyn. Hierdie pogings is egter nooit kerklik aanvaar nie en eers in 1944 publiseer die Kerke self die Evangeliese gesange, berym deur E.C. Pienaar, D.F. Malherbe, P.H. Hartwig, B.B. Keet, M.S.B. Kritzinger en G.B.A. Gerdener. Sedert die sestigerjare werk ‘n kommissie onder voorsitterskap van W.J.B. Serfontein aan die herberyming van die gesange. Hierdie nuwe beryming, o.a. deur I.L. de Villiers, A.P. van der Colf, Lina Spies, Ina Rousseau, André Hugo en Gerjo van der Merwe, is in 1974 deur ‘n gesamentlike sinode van die Ned. Geref. en Hervormde Kerk aanvaar en verskyn in 1978 in boekvorm.

*Hierdie is ‘n uittreksel uit Kannemeyer se werk “Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur 1″ (1984). Dis aanlyn beskikbaar by http://www.dbnl.org/tekst/kann003gesk01_01/index.php

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

John Kannemeyer

Meer oor die skrywer: John Kannemeyer

John Kannemeyer (1939-2011) was 'n kenner van Afrikaanse literatuur, voorste biograaf van Afrikaanse skrywers en skrywer van verskeie publikasies oor die geskiedenis van Afrikaanse literatuur.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae