Die Grondwet magtig ANC om transformasie – die NDR – deur te voer

grondwethof2

Die konstitusionele hof. Foto: Reint Dykema

Hierdie artikel is deel van ʼn reeks van vyf artikels wat deur Malan oor die Grondwet geskryf is. Die artikels sal oor die volgende vyf weke elke Donderdag op Maroela Media gelees kan word.

Kan dit regtig waar wees dat die Grondwet die ANC toelaat om sy ideologiese doelwitte deur te voer? Die doelwitte van sentrale beheer oor alle hefbome van mag met die oog op toe-eiening en herverdeling van ekonomiese bates en die vestiging van taal- en kulturele eenvormigheid (ʼn homogene kultuur) lyk darem werklik verregaande. Die Grondwet as die beliggaming van die regstaat en plegtige akkoord waarborg mos alle regte en laat tog sekerlik nie die najaag van dié ingrypende ideologiese doelwitte toe nie.

Helaas, die Grondwet verskaf inderdaad geen waarborg teen die bereiking van hierdie doelwitte nie. Toe Jacob Zuma dus op 1 Junie vanjaar in die Parlement verklaar het dat daar nie Zimbabwe-styl-grondgryping sal wees nie en dat die regering grond- en dergelike eiendomshervorming binne die raamwerk van die reg – en die Grondwet – sal doen, het hy inderdaad gelyk gehad. Die Grondwet laat dit toe.

Eiendom

As die opskrif van artikel 25 (die sogenaamde eiendomsklousule) in die Grondwet, naamlik “Eiendom” (Property), verstaan word as sou dit bestaande eiendom omvattend beskerm, is dit verkeerd, want hierdie artikel maak nie net voorsiening vir die beskerming van bestaande eiendomsreg nie. Inteendeel, dit magtig ook verdeling, dit wil sê die verkryging en verdeling van bates van bestaande eienaars, in bepaalde gevalle sonder vergoeding en in ander gevalle vir vergoeding onder markwaarde.

Ontneming

Die eerste bepaling in artikel 25 veroorloof ontneming van eiendom ingevolge ʼn algemeen geldende regsvoorskrif, net solank dit nie arbitrêr is nie.

Gevolglik mag die regering, wanneer hy as ’n sogenaamde kurator optree, in bepaalde gevalle eiendom sonder vergoeding ontneem. Dit gebeur wanneer die eiendom nie blywend nie, maar slegs tydelik in die staat (as kurator) vestig met die oog daarop om dit aan ander persone te laat toekom.

Die konstitusionele hof het met betrekking tot mineraalregte reeds sy seën oor hierdie kurator-argument uitgespreek.

Onteiening

Artikel 25 maak ook vir onteiening voorsiening. Anders as ontneming, wat ’n nuwe konsep is wat die Grondwet ingevoer het, is onteiening vir ʼn openbare doel of in die openbare belang (byvoorbeeld vir die doel van die bou van ’n pad, spoorlyn, ’n dam of iets dergeliks) ’n ou regsverskynsel.

Die gevestigde beginsel was dat markwaarde vir die onteiende eiendom betaal moes word. Die Grondwet verander dit. Nou moet die bedrag bloot regverdig en billik wees. Dit kan dus ook onder markwaarde wees. Dit word enigsins ondersteun deur ʼn verdere bepaling wat lui dat die nasie se verbintenis tot grondhervorming, en tot hervormings om billike toegang tot al Suid-Afrika se natuurlike hulpbronne te bewerkstellig ʼn medebepaler van die begrip openbare belang is.

Die artikel bevat ook “bepalings vir regstellende aksie”, want die staat is verplig om maatreëls te tref om burgers in staat te stel om toegang tot grond te verkry.

Die eiendomsklousule is vir wyd uiteenlopende vertolkings vatbaar. Ofskoon dit enersyds gebruik kan word om bestaande regte te beskerm, kan dit eweseer ingespan word om die teenoorgestelde te bewerkstellig, naamlik ʼn drastiese herverdeling sonder vergoeding of vergoeding onder markwaarde. Dit hang alles van die ideologiese oortuigings van die vertolkers af – politici, staatsamptenare en ten slotte ook regters.

Wanneer die regering dus beoog om die klem op eiendomsverdeling eerder as beskerming van bestaande eiendom te plaas, kan hy op grondwetlike magtiging daarvoor steun.

Onlangs bevestig die voormalige regter van die konstitusionele hof en eertydse ANC-aktivis, Albie Sachs, juis weer dat die eiendomsklousule inderdaad nie op die lees van gewillige koper / gewillige verkoper geskoei is nie. (“No willing buyer, willing seller in the Constitution” – Albie Sachs, Media24, 31 Mei.)

Oudpolitici en waardige grondwetkenners se gerusstellings oor grondwetlike waarborge vir eiendomsreg is dus onsin.

Onderwys en amptelike veeltaligheid

Met die aanvaarding van die Grondwet was daar ook tevredenheid oor die bepalings oor taalgebruik in onderwys [artikel 29(2)]; meer bepaald, dat dit genoegsame waarborge vir moedertaalonderrig verskaf. Die tevredenheid was vanuit die staanspoor ongegrond. Opeenvolgende hofuitsprake in die onlangse tyd het juis die ongegrondheid van hierdie valse geloof en versekerings aan die lig gebring.

Die wesenlike gebrek in onderwysklousules is dat dit ten slotte ʼn diskresie aan die onderwysowerhede verleen om besluite oor voertaalbeleid te neem. Die “reg” om in openbare onderwysinstellings onderwys in die amptelike taal of tale van eie keuse waar “redelikerwys doenlik” te ontvang, is onder meer aan ’n klousule vir regstellende aksie (’n transformasieklousule) onderworpe, wat lui dat die staat alle redelike alternatiewe in die onderwys oorweeg, maar onder meer met inagneming van “die behoefte om die gevolge van wette en praktyke van die verlede wat op grond van ras gediskrimineer het, reg te stel”.

Wanneer onderwysowerhede oor voertaal besluit, kan hulle inderdaad voorkeur aan moedertaalonderrig verleen. Hulle hoef egter nie. Hulle kan ook ’n teenoorgestelde sienswyse inneem, naamlik om afkeurend teenoor moedertaalonderrig te staan en eerder Engelse onderrig te bevorder en af te dwing. Hulle kan ook transformatief ooreenkomstig die ANC-ideologie te werk gaan: verskeidenheid verwyder en Engelse eentaligheid afdwing.

Dit is presies wat gebeur. Een van die beslissende redes waarom dit wel so is, is dat die Grondwet dit magtig. Juis daarom het, met die uitsondering van ’n klein bietjie Afrikaanse onderwys wat in openbare onderwys oor is, Engels die algemene onderwystaal in Suid-Afrika geword. En die handvol Afrikaanse openbare skole – toonbeeld van wêreldgehalte-onderwys – is die teiken van die transformasie-ideologie.

Die amptelike taalklousule maak voorsiening vir 11 amptelike tale. Desondanks het Engelse eentaligheid ver buite onderwys uitgebrei en is Suid-Afrika met betrekking tot die amptelike gebruik van die tale vandag meer eentalig-Engels as ooit tevore.

Die ANC het Engels gedurende die grondwetlike onderhandelings as enigste amptelike taal voorgestaan. Nogtans is daar uiteindelik op 11 amptelike tale “geskik”. Dit was ’n gewaande skikking: dit was nie ʼn bona fide reëling nie, maar ʼn deursigtige truuk om onder die dekmantel van veeltaligheid Engelse eentaligheid te bewerkstellig.

Die taalklousule verleen breë diskresionêre mag aan staatsorgane om te besluit hoe hulle die tale wil gebruik. Die klugtige Wet op die Gebruik van die Amptelike tale, wat in 2012 aangeneem is, verleen ’n soortgelyke breë diskresie.

Staatsorgane oefen hulle diskresie uit in ooreenstemming met die ANC se destydse en steeds huidige transformasie-verbintenis tot eentaligheid. Daarom het Suid-Afrika te midde van ’n taalklousule en bepalings oor onderwys wat die indruk van veeltaligheid en diversiteit skep, ’n oorwegend Engelse staat geword.

Rasseverteenwoordigendheid

Sonder dat grondwetlik daarvoor voorsiening gemaak word, het die ideologie van rasseverteenwoordigendheid – ʼn belangrike element van transformasie – ʼn deurslaggewende beginsel van Suid-Afrika se huidige grondwetlike orde geword. Daarvolgens word verseker dat alle staatsorgane en alle georganiseerde sfere die rasseprofiel van die land weerspieël.

Die howe moet ook rasverteenwoordigend wees en regters moet volgens die Regterlike Dienskommissie (RDK) die transformasie-ideologie huldig. Ter wille daarvan is meriete nie alles wanneer dit by aanstellings kom nie en is dit nie noodwendig nodig om die beste kandidate aan te stel nie, het die hoofregter in 2013 verklaar.

Die uitwerking van verteenwoordigendheid is dat alle instellings en georganiseerde sfere swart en onder swart beheer is. Meer nog, aangesien die regering onder ANC-beheer sy eie kaders veral in senior posisies aanstel, het rasseverteenwoordigendheid die weg gebaan na die algemene verskynsel van kaderontplooiing.

Uitwerking

Die gesamentlike uitwerking van die eiendoms-, amptelike taal- en onderwysklousules van die Grondwet in samehang met rasseverteenwoordigendheid, is om die weg vir die ANC te baan om sy transformasie-ideologie van sentrale beheer oor alle hefbome van mag deur te voer, wat hom in staat stel om eiendom in te palm, ʼn homogene openbare kultuur af te dwing en verskeidenheid weg te vee.

Namate die ANC sy mag verstewig het, kon hy hierdie program algaande met groter energie afdwing. Die Grondwet belemmer die ANC nie daarin nie. Dit waarborg nie regte wat as ʼn skild hierteen optree nie. Inteendeel, dit bied juis die regsraamwerk waarbinne die program in werking gestel kan word.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Koos Malan

Meer oor die skrywer: Koos Malan

Koos Malan is professor in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria. Hy is onder andere die outeur van "Politokrasie – ʼn peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir ʼn antwoord daarop" wat pas by die regsuitgewers van die Universiteit van Pretoria verskyn het.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

17 Kommentare

John ·

Nou is daar weer slim ooms wat ‘wil gaan praat’ oor die grondwet of wil hulle net weer gesig gaan wys op tv? Die skade is genoeg… dit kan net nog erger. Wat duidelik blyk is dat die onderhandelaars vanuit vorige regeringsgeledere onder narkose moes wees of vreeslik verlief was want selfs ‘n skoolkind sou darem hier en daar ‘n verduideliking gevra het… of gegaap het.

Loeis ·

En tog het nie skoolkinders nie, maar hulle ouers, toegesien dat de Klerk, Botha en kie hierdie proses aan die gang sit. Met ‘n taamlike blanko tjek aan Ramaphosa en sy onderhandelaars.

Dan is daar vandag die blanke, Afrikaanssprekende DA ondersteuners (dikwels die mense na wie ons hierbo verwys) wie tienduisend dode sterf wanneer iemand noem dat ‘n ander bedeling bereik kon word, en dat selfbeskikking vandag ons enigste uitweg uit hierdie moras is. Dit lyk of die “narkose” waarna jy verwys in klomp mense se gene opgesluit is, John.

braam ·

uit eindelik is daar iemand wat ook sien hoe pateties die grondwet is.Ek het nog altyd gedink daar is so baie skuiwer gate jy kan met n wa en span osse daarin draai.Slim FW de Klerk en sy trawante was toe nie so slim. Die ANC het hulle n rat voor die oe gedraai. Geen beskerming van minderhede. Ek daag Maroela media om hierdie berigte in Beeld en Rapport te plaas.

Dirk Breytenbach ·

Wat het geword van “waarborge” en “checks and balances”?

jaco ·

dis sekerlik die langste kommunistiese rewolusie in die wereldgeskiedenis. dit het al in 1994 begin en is na 23 nog steeds nie klaar nie. het die ANC dan niks by hulle mentors in die Sowjet-Unie, Oos-Duitsland, Tsjeggo-Slowakye ens ens geleer nie? Ek is seker daarvan dat Karl Marx, Lenin en Stalin vir die ANC se onbeholpenheid sou gelag het.
Nog ‘n ding: in daardie lande was die volgende dinge TOTAAL ONBEKEND:
werkloosheid
plakkerskampe
stakings
beurtkrag
politici wat in paleise woon (behalwe miskien Stalin en van sy opvolgers)
ekonomiese rommelstatus
Mense wat nie van kommunisme hou nie, sal seker nie saamstem met al hierdie voordele nie, maar dis feite dat daar talle mense in veral die ou Oos-Duitsland en die ou Sowjet-Unie is wat met heimwee terugdink aan die “goeie ou dae” van kommunisme.
So ja, ek wonder maar net, het die ANC dan niks by hulle kommunistiese mentors geleer nie?

Louis ·

Ek gee nie n hel om wat jy of die grondwet.se nie , kom vat aan my grond of besittings en daar gaan groot perde wees glo my !!!!

Wern ·

Dis al wat ek besit, ek sal dit verdedig. Sis myne en dis my lewe. Niemand gaan my vertel ek verdien dit nie want ek het my lewe deur gewerk vir wat ek het.

Richard ·

Nou maar goed, as dit dan so is waarom dan nog Afriforum en Solidariteit? As die grondwet nie eers Moedertaalonderrig, eiendomsreg, en die gebruik van Afrikaans as amptelike taal waarborg nie, waarvoor “veg” ons dan so? Die grondwet is mos koning. Ons moet mos nou ook “adapt or die” soos PW Botha destyds gesê het………….

Hendrik ·

Richard ek sien dit so. Ons kan nie en mag nie stil bly of stil sit nie ander volg ons dieselfde paadjie as Zim

JC ·

Dit is waar Brett, belangrike punt wat jy maak. Papierregte beteken niks nie. Daarom moet ons veg daarvoor. Maar dis ook reg so, ons veg maar van die vroegste tye af. As ons aanhou baklei vir ons regte sal dinge weldra beter raak:) Dit is waar Solidariteit as bree beweging SO ‘n belangrike rol speel. Ons durf nie ons steun vir een oomblik weerhou nie. Een vb: om kulturele marxisme en eenvormigheid te beveg; speel Akademia as teenvoeter daarvoor ‘n bitter belangrike rol, asook die FAK op kulturele grond, en ander Afrikaanse hoer onderwys privaat instellings soos Aros, die APA en andere. Ek glo Akademia gaan weldra groot genoeg wees sodat al die Afrikaner studente en Afrikaanse studente aldaar sal kan studeer, ten einde die dreigement van eenvormigheid, ideologiese manipulasie en massa propaganda en ideologiese druk en indoktrinasie die deur te wys!!

JohanV ·

“A politician may be and often is a very base creature, and if he cares only for party success, if he panders to what is evil in the people, and still more if he cares only for his own success, his special abilities merely render him a curse.”
#TeddyRoosevelt to Frederick Scott Oliver, #OTD 1906
En daardie vloek is om herverkies te word en in die proses alles wat vir, in hierdie geval, Afrikaners belangrik is, te vertrap

Nico ·

Julle kan my noem wat julle wil dis nie my grondwet nie dis die anc sin en ek stem nie vir hulle nie hulle gaan nog groot pakslae by hulle eie mense kry bestudeer n bietjie openbaring in die bybel en julle sal sien by wie ek wil wees en julle sal sien net GOD gaan die probleme reg maak en ek glo dit is nie net ek wat in hom glo nie so mense julle moet net ernstig bid en die regte padloop

Eish ·

Amen. Die duisendjarige ryk waar Yeshua met n ysterstaf gaan regeer. Wanneer die Wet van Jerusalem uit sal gaan en alle nasies sal optrek vir die Huttefees. Die wat nie kom nie, gaan nie reën kry nie.Wanneer die satan gebind gaan wees vir die volle duisend jaar. Dan die tweede en derde opstanding, die opening van die Woord met die wittroonoordeel. Die Boek van die lewe en die uiteindelike vernietiging van die bose. Die leraars is maar katvoet rondom die goed wat kom jong. Vasbyt!

Tiaan ·

Vriende. Kom ons hou by die onderwerp, nl. die realistiese ontleding van die grondwet en die gevolge daarvan vir die Afrikaners.
Prof Malan gee ń uitstekende uiteensetting van die grondwet se werking en hoe dit die ANC se rewolusie aanhelp. Ons sal polities baie meer geskool moet raak as ons die pyp wil rook.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.