Die impak van ʼn werklose pa

(Foto: Steve Knutsen/Unsplash)

Van kleins af het ek in my pa ʼn voorbeeld gehad van hoe hard ʼn Afrikaner-man kan werk. My pa was vir my ʼn goeie voorbeeld van iemand wat nie net lang ure, insluitend nagskof, werk nie maar wat fisies met sy hande werk.

Die bekende kunstenaar en goeie vriend van Solidariteit Helpende Hand, Appel, sing:

Hy sê ʼn man wat werk met sy hande
Sal nooit te swaar trek nie
ʼn Godvresende man van genade ken nie sy einde nie
ʼn Hardwerkende man, ʼn hardwerkende man
Wat sy Here ken, by sy beginsels staan
Dis ʼn ware man, ʼn hardwerkende man

Tussen hierdie lirieke skuil my pa se menswees; ek sien hom as ek hierna luister. Net soos talle ander Afrikaner-dogters na hul pa’s opkyk en wens dat hulle ook eendag met ʼn man soos hul pa kan trou, was dit my wens ook. En so het dit ook gebeur dat ek met ʼn man getrou het wat werklik hard werk om vir my en sy dogter te voorsien.

Dit is natuurlik nie die geval in alle huwelike nie. Ja, daar is jong vroue wat met mans trou wat werklik hardwerkende mans is, maar wat net eendag sonder werk sit en dan stort ʼn gesin ineen.

Soms is harde werk nie genoeg nie

Ek glo en is vas oortuig dat die Afrikaner-man van nature hardwerkend is. Ons mans hou van grond tussen hulle vingers en van sweet op hulle baarde. Ons het harde mans wat hard kan werk. Of dit nou op die plaas is en of dit nou voor ʼn rekenaar in die stad is, ons mans is so aanmekaargesit, met durf en moed in hulle pype, met ware etiese werksgedrag en met ʼn toekomsdroom vir hul nageslag.

Ongelukkig is die wil om te werk nie altyd genoeg nie. Die lewe gebeur en mans sit sonder werk.

Flip Buys, voorsiter van die Solidariteit Beweging, sê altyd daar is in baie gevalle slegs drie maande tussen die middelklasman wat sy werk verloor en die verkeerslig. Dit sien ons by Solidariteit Helpende Hand. Ons sien hoe trots val en hoe harde mans werkloos langs verkeersligte staan en smeek om te kan werk.

Dit laat my dink aan die man in die Vrystaat wat langs my bakkie se venster gestaan het met sy meestersgraad-sertifikaat in sy hand, die graad wat veronderstel was om vir hom ʼn goeie toekoms te skep, maar wat eenvoudig nie genoeg is nie.

Wie wakkerlê

Die joernalis Janice du Plessis skryf op Maroela Media Suid-Afrikaners lê snags wakker oor werkloosheid. Volgens haar verwys Ipsos, een van die grootste marknavorsingsmaatskappye wêreldwyd, na werkloosheid as die hoofrede waarom mense slapelose nagte het.

Dit is vanselfsprekend dat byvoorbeeld ook my man sal wakker lê. Die wakker lê gaan hand aan hand met depressie en soms ook selfmoord, en dit sleep voort tot by ʼn gebroke gesin wat se wêreld heeltemal onder hulle uitgeruk word.

ʼn Mens kan vir jouself dink watter enorme effek werkloosheid onder Afrikaner-mans kan hê op die holistiese welstand van gesinne. Ons glo vas ʼn gesonde gesin skep ʼn gesonde gemeenskap, daarom verwys ons by Solidariteit Helpende Hand eerder na werksyn as welsyn.

Maar as ons mooi gaan kyk na die effek van ʼn werklose Afrikaner-man op ʼn gesin se welstand, sien ons ʼn donker en hartseer verhaal. Dit skep vanselfsprekend finansiële druk. As die hoofbroodwinner sonder ʼn inkomstebron is, moet die gesin dikwels ʼn skerp afname in inkomste hanteer. Dit kan lei tot ʼn gebrek aan basiese benodigdhede soos kos, behuising, mediese sorg en opvoeding vir die kinders.

Dan volg emosionele uitdagings.

Finansiële druk kan lei tot spanning, angs en selfs depressie as gevolg van die onsekerheid oor die toekoms en die druk om finansieel te oorleef. ʼn Veranderde dinamika bring mee dat ander gesinslede moet inspring om die gapings te vul wat deur die afwesigheid van ʼn inkomstebron geskep word. Kinders wat grootword in ʼn omgewing van finansiële onsekerheid en spanning kan in die toekoms ʼn verhoogde risiko loop vir emosionele en maatskaplike probleme.

Verskillende stories, dieselfde verhaal

Traverse le Goff, die DA se adjunk-skaduminister van indiensneming en arbeid, sê: “Daar word geskat dat werkloosheid onder die huidige ANC-nasionale regering in 2024 tot 33,5% sal styg, en dan in 2025 tot 33,9%. Dit kan slegs beskryf word as ʼn ekonomiese bloedbad.”

ʼn Vrou in Mpumalanga, die mamma van drie dogters, sê: “My man sit sonder werk. Ons het asseblief dringend kos nodig. Kan julle asseblief help?”

Volgens vanjaar se staatsrede is “ongeveer 9 miljoen mense tans werkloos en ontvang elke maand die spesiale maatskaplike noodhulp-toelae”.

Hierdie is drie verskillende skrywes, maar almal skree luidkeels dieselfde ding uit. Ons kan jare lank praat oor die redes waarom Afrikaner-mans sonder werk sit; ons kan vingers wys na hulle wat ʼn groot aandeel daaraan het. Maar op die ou end moet ons kyk na die maatskaplike implikasies daarvan.

Denel-werknemers ken dié stres

In Julie 2022 het die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) ʼn verslag oor die geestelike en finansiële toestand van Denel-werknemers bekend gemaak. Nicolien Welthagen, navorsingsielkundige by die SNI, sê: “Denel het as geheel deur ʼn proses van vernietiging gegaan. Die finansiële impak op werknemers is dalk berekenbaar, maar die emosionele en geestelike impak sal nooit bereken kan word nie.”

Die meeste respondente was manlik (68,5%) en ouer as 51 jaar (68,3%).

Die meeste respondente (67,2%) het aangedui dat hulle slapeloosheid begin ontwikkel het, terwyl 62,% aan angstigheid en 55,2% aan depressie gely het. Dit is skokkend dat 16,8% selfmoordgedagtes gehad het.

Die respondente het die volgende te sê gehad:

  • Ek het ander gehelp, nou kan ek skaars myself help.
  • Ek kan nie konsentreer of fokus nie.
  • Ek het hierdie woede binne-in my en ek weet nie hoe om daarvan ontslae te raak nie. Ek is emosioneel geknak; word nie ʼn salaris betaal nie, maar daar word van my verwag om elke dag nog te werk en my beste te gee. Ek voel ek word mishandel. Belaglik!
  • Ek het geen motivering of dryf meer om iets te doen nie.
  • Die onsekerheid maak ʼn mens klaar.
  • Verhoogde stres en onsekerheid beïnvloed my vermoë om te werk en buitemuurse aktiwiteite te geniet.
  • Die feit dat salaris ʼn probleem is, beïnvloed jou geestestoestand.
  • Die lewe staan stil sonder behoorlike finansiering.
  • Ongelooflik baie stres.
  • Onsekerheid, stres, lewe van hand tot mond vir die laaste drie jaar. Kan niks beplan nie.
  • Ek het my blyplek, sekuriteit, selfvertroue en menswaardigheid verloor. Leef met angs.

(Die verslag kan by Solidariteit aangevra word.)

Ek lees weer deur die verslag en voor my sien ek hoe staan ons in ʼn ry en kospakkies uitdeel vir hierdie trotse Afrikaner-mans. Mans wat met opregte harte dankie sê met trane wat oor hulle wange rol. Skielik vang die hardwerkende man se baard nie meer sy sweet nie, maar sy trane.

Kyk gerus na hierdie video wat deel gevorm het van ʼn veldtog om hierdie mans by te staan:

Ons sal self moet omsien

Ek glo die antwoord op die vraag “Hoe kan ʼn mens help wanneer iemand sy werk verloor?” is die woorde “Ons sal self”.

Ons sal self na ons mense moet omsien. Ons sal self moet planne beraam en noodveldtogte loods om hulle by te staan. Jy as buurman sal self moet gaan klop en aanbied, en soms aandring, om te help. Deur die privaat sektor te ondersteun, maak jy reeds ʼn reuseverskil. Ons sê altyd in die Solidariteit Beweging ons werk nie van verkiesingsjaar tot verkiesingsjaar nie; ons werk nou en vir nog 100 jaar van nou af. Maar dit bly ook belangrik om jou kruisie langs die regte party se naam te gaan trek.

Soos ons nou gelees het, het ʼn werklose pa ʼn massiewe impak op die welstand van ʼn gesin. Maar daar is altyd hoop – dit was van my hardwerkende pa die laaste woorde gewees. Ek as Afrikaner-vrou wat ʼn Afrikaner-man moet ondersteun, sal daaraan bly vashou. Ek sal bou in ons mooi land en ek sal help waar ek kan.

Eie maatskaplike krisis

Solidariteit Helpende Hand se vraelyste vir navorsing wat nasionaal van stapel gestuur is, is deur meer as 15 000 respondente ingevul. Hierdie navorsing het sonder enige twyfel uitgewys dat alle Afrikaners ʼn vorm van maatskaplike krisis in die gesig staar. Partymaal is die uitkoms makliker as wat ʼn mens dink; sommige mans het eenvoudig net hulp nodig om hul bestuurslisensies te bekom. Jy moet net op die regte plekke vra hoe ʼn mens kan help.

Solidariteit se nuwe platform bied hulp en antwoorde. Hier vind ʼn mens hulp met beskerming in jou werkplek en vir beroepsuitdagings, ontwikkeling van jou vaardighede en om jouself te bemagtig met voortgesette leer. Hier word ook beroepsgemeenskappe gevorm; saam veg ons teen korrupte staatsinstellings en regstellende aksie.

Lesse uit Europa

Die skryf van hierdie artikel het my teruggeneem na my reis na Suid-Tirool. Sebastiaan Biehl verwys na Suid-Tirool as ʼn geseënde stukkie aarde. Dit is die noordelike provinsie van Italië en is deesdae ʼn gewilde toeristebestemming. Suid-Tirool is ooglopend ʼn geseënde stuk aarde, maar dit was en is nog steeds ʼn politieke twisappel en een van die bekendste voorbeelde van hoe minderhede na ʼn lang stryd om selfbeskikking geakkommodeer word.

Vir die Afrikaner as minderheidsgroep is dit dus boeiend om die Suid-Tiroolse outonomie-model te bestudeer en in praktyk te beleef.

By ons laaste stop tussen die Alpe vind ons netjiese strate, appels, pastelkleurige geboue en strate vol mense wat in harmonie leef. Hier vind ons die sukses van ʼn outonome model en wil natuurlik alles beleef en terugneem huis toe.

Ons het besoek afgelê by die parlement en my eerste vraag aan hulle was hoe die werkloosheidsyfer lyk. Tweedens wou ek weet wat die grootste maatskaplike uitdaging is wat hulle beleef hier waar dit lyk en voel of alles net die heeltyd voorspoedig is.

Hulle antwoord was dat die werkloosheidsyfer 0% is en dat hulle eintlik mense soek om poste te vul. Hulle grootste maatskaplike uitdaging is die feit dat jongmense Suid-Tirool verlaat en elders gaan werk soek eerder as om poste in die staatsdiens te beklee.

René Roux (Foto: Verskaf deur SHH)

Statistieke wys wel ʼn werkloosheidsyfer van 2,9%, wat steeds bitter laag is. In Italië is die werkloosheidsyfer 10% en in Europa 6,8%. Daar is 306 vrywillige brandbestryders en 2 212 vrywillige organisasies.

Vir my was die manier waarop mense hulle geloof in Hongarye uitleef regtig mooi, maar hier is dit anders. Hier is Jesus in elke straat. Die Suid-Tirolers hang oral kruise op, en om elke hoekie waar ek dit sien, kry ek nog ʼn geleentheid om by Jesus se voete te staan en vir Hom dankie te sê dat ek hier so veilig voel.

Anders as in Zürich sien ek baie meer kinders in die dorpe; ek sien ʼn toekoms.

Drie tale, maar een land en een God. ʼn Mooi voorbeeld van ʼn land sonder werkloosheid. ʼn Mooi droom.

Werkloosheid bly ʼn uitdaging; dit vereis ʼn holistiese benadering van ondersteuning om ʼn gesin te help om hierdie uitdagings te oorkom en ʼn stabiele, gesonde omgewing te skep vir almal daarin. Daarom sal ons by Solidariteit en Solidariteit Helpende Hand fokus en bly fokus op werksyn.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: René Roux

René Roux is adjunk-uitvoerende hoof en woordvoerder van Solidariteit Helpende Hand.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Danie ·

Dit is nou die derde keer dat ek by helpende hand aangeklop het en figuurlik die deur gewys is. Ek dra al vir 10jaar plus elke maand getrou by. Ek slaan nie een maand oor nie. Ek het dit namens my broer gedoen. Hy het weer sy werk verloor. Ek het bladsye en bladsye ontvang wat ingevul moes word. Met die aantekening dat hulp nie gewaarborg is nie.

Ons moes op die ou end weer self die onkoste dra en dra dit nog steeds. Ek begin regtig wonder of dit die moeite werd is om by te dra. Siende dat net ander die voordeel uit my bydra trek. Ek begin regtig wonder waar die geld nou eintlik aangewend word…

Republikein in die Wes Kaap ·

Hou vas, dit gaan nog erger word. Dis bykans onmoontlik om landswyd Afrikaners uit die ellende te kry. Skep ‘n eie Suid-Tirool in die weste van die land en vestig Kubbutz nederstettings waar mense weer hul waardigheid op ‘n produktiewe manier kan herwin. Opleiding en harde werk is die beste terapie.

Nommer 7 ·

@Danie, ek voel ook soos jy. Solidariteit se prokureurs het 3 jaar met my saak gesit oor n pensioenfonds wat my pensioenfonds van honderde miljoene geplunder het. Net om op die ou einde vir my te se^ ek het nie n saak nie. Ek neem maar aan dit is eintlik om rede dat die ander pf se trustees Solidariteits lede op hul trustees gehad het, en dat hierdie trustee lede ook skuldig is. Ek wou ook al n skenking gemaak het vir Solifatiteit se Tassie Projek, maar hulle antwoord nie my eposse nie.

skurweberg ·

Wit en Swart mense lewe in hulle eie dimensies en die wat het, in hulle eie. Christus is die Enigste wat hierdie dimensies verstaan en in ‘n gesprek, verantwoordelik verduidelik het. Matt.19:16-30; Luk. 18:18-30; Mark.10:17-31.

Nella ·

Diskriminasie teen Afrikaans sprekendes en blankes in die land neem sy tol. Employment Equity en B-BBEE maak dinge ook nie maklike nie. Die labour departement is ook nie behulpsaam nie. Mens probeer jou UIF geld kry om te kan werk soek, maar al wat mens kry is leë antwoorde. Hulle weier volstrek om behulpsaam te wees en die regering doen net mooi niks. Waar gaan soek mens hulp?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.