Die koronavirus se uitwerking op globalisering

globalisering

Foto: Scottjtogher.com

Die uitbreking en wêreldwye verspreiding van die koronavirus is nie net ’n ontwrigting vir die mensdom en bedreiging vir siek en ou mense se lewens nie, dit is ook ’n terugslag vir globalisering.

Die vinnige verspreiding van die virus is moontlik gemaak deur die totale interafhanklikheid en verkeer tussen lande. Dit is ’n feit dat dit ’n wêreldwye verskynsel geword het omdat dit in die bakermat van globalisering, China, uitgebreek het. Sou dit byvoorbeeld uitgebreek het in ’n land iewers in Midde-Afrika, wat ’n onbeduidende rol in wêreldwye handel en toerisme speel, sou dit ’n plaaslike siekte gebly het. Lande en streke waar mense besonder baie internasionaal reis (soos Oos-Asië en Europa), is die hardste getref, maar daar is ook uitsonderings soos die relatief geïsoleerde Iran, wat nogtans groot getalle besmette persone het. Afrika is tans nog aan die beginstadium van die pandemie.

Die virus tref die logika van globalisering en sy uitvloeisels besonder sterk. Ten eerste het internasionale toerisme, wat deur globalisering moontlik gemaak word, ’n groot terugslag beleef met talle vlugte en bootreise wat gekanselleer is en vervolgens die hotelbedryf, restaurante, winkels, ensovoorts ’n ernstige knou gegee het. Vir talle volke en lande kan dit egter ook iets positiefs beteken, naamlik dat mense in die toerismebedryf nou besef dat hulle meer as net reisagente, gidse of kelners vir oorsese toeriste is.

Ten tweede tref dit ook die logika van die grenslose wêreld – ’n gekoesterde ideaal van globaliste. Meteens is daar in Europa weer grense wat vir buitelanders gesluit word en vervolgens sien elke land eerstens na sy eie belange om. Gelukkig bestaan die grense nog en kan nasionale grensbeheer en die nasionale weermagte weer geaktiveer word – dit, ten spyte van die Europese Unie se pogings om grense te laat verdwyn.

Duitsland se regering onder Angela Merkel, by uitstek ’n voorstaander van globalisme, was baie huiwerig om die grense te sluit en het natuurlik daarmee die mantra van die 2015-migrasievloedgolf, dat Duitsland almal verwelkom en grense nie gekontroleer kan word nie, gesteun. Intussen is al Duitsland se buurlande se grense gesluit.

Die ongekontroleerde beweging van Portugal na Finland is vir eers iets van die verlede. President Donald Trump was een van die eerste leiers om sy land se grense te sluit en vlugte uit veral Europa te stop. Natuurlik is hy daarvoor gekritiseer, maar intussen volg ander lande sy voorbeeld. Duitsland het toe uiteindelik geen ander keuse meer gehad as om sy grense te sluit nie. Die deelstate het egter reeds voor die federale regering, wat lank vir ’n opdrag uit die EU-hoofkantoor gewag het, feite geskep en beperkings ingestel.

Derdens: Behalwe vir toerisme en die logika van oop grense, ly vryehandel en interafhanklikheid skade. Die lande van die wêreld het daaraan gewoond geraak om op enkele produkte te spesialiseer, maar die meeste goed in te voer, veral vanuit China. Nou word dit duidelik hoe sleg so ’n afhanklikheid is as logistieke kettings verbreek word. Dit is sorgwekkend met veral kos, maar ook met medikasie. Min lande is nog selfvoorsienend en veral in die Eerste Wêreld word die landbou doelbewus afgeskaal omdat ander ekonomiese bedrywe, soos vervaardiging en dienslewering, meer winsgewend is.

As grense egter gesluit word en wêreldwye vervoer afgeskaal word, kan leemtes vinnig ontstaan. Die gebrek aan toiletpapier en sekere niebederfbare kos is reeds ’n voorsmakie van wat kan gebeur. Suid-Afrikaners, gewoond aan die permanente krisismodus van min krag, stakings en leë winkelrakke, sal makliker daarby kan aanpas as Europeërs wat gewoond is aan oorvloed en beskikbaarheid van alles – enige plek en te eniger tyd.

Mense se leefwyse ly ook onder die koronavirus. Hulle beweeg van massamense na enkelinge, maar ook terug na die gesin. Om met jou kerngesin televisie te kyk of elkeen sy boek (of slimfoon) te lees, of bordspeletjies te speel, is nou baie lande veiliger opsies as uitstappies na konserte, pretparke, swembaddens, eetplekke, flieks, winkelsentrums, ensovoorts. In baie lande is dit glad nie meer ʼn opsie nie. Of dit ’n blywende gedragsverandering gaan word, of net ’n tydelike een, hang ook af van hoe lank die beperkinge aanhou.

Een feit staan egter soos ’n paal bo water: hoe minder geglobaliseerd en hoe kleiner jou politieke eenheid, hoe makliker kan die verspreiding van die virus gekeer word. Dit is soos ’n skip wat lek: as jy baie kompartemente het wat jy kan sluit, kan jy die verspreiding van die water en die sink van die skip keer.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Therese ·

Skitterende stuk!

Die Covid19-tragedie wys opnuut dat goed beveiligde landsgrense, en betroubare plaaslike vervaardiging, permanent topprioriteit behoort te wees. Dit verhoed geensins gesonde verhoudings, en maak juís goeie wêreldburgers.

Talle luukse passasiersbote vaar op hierdie oomblik van hawe tot hawe waar die moedelose internasionale toeriste toegang geweier word. Simbolies van om nêrens te hóórt nie.

Anel ·

In die jare 70/80 was ons land omtrent selfversorgend. Min werkloses ens, want ons moes noodgedwonge meeste van ons goed self voorsien. Ons het die beste wapentuig in die wereld gemaak en nog baie meer. Was medisiesorg was die beste in die wêreld, ons weermag van die beste, ons polisie was en so kan ek aangaan. Ons was ‘n “ryk” land. Nou ja, almal weet wat gebeur toe en kyk waar is ons nou. Wil niks self doen nie. Is afhanklik van almal. As die wil daar is kan ons dalk weer daarby uitkom. Van hierdie land se mense leer mos nie uit hulle foute nie. So ja. Kom ons kyk wat gebeur in die toekoms.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.