Die teologie van skeppingsbewaring

Franciskus van Assisi (Foto: Wikipedia)

Die liturgiese kalender

Kerke wat erns maak met ʼn uitgebreide liturgiese kalender het dekades lank debat gevoer oor ʼn geskikte datum waarop daar aandag aan die skepping en die bewaring van die skepping gegee kan word.

In Europa bestaan daar sedert 2007 ʼn konsensus tussen die meeste van die hoofstroom kerke, om minstens een Sondag tussen die eerste Sondag van September en die eerste Sondag van Oktober aan hierdie tema af te staan. Die Ortodokse kerke van hoofsaaklik Oos-Europa, het op die eerste Sondag van September, die eerste Sondag van hulle kerklike jaar, besluit. Die Rooms-Katolieke Kerk en die groot Protestantse kerke, soos die Lutherse Kerk, het op die eerste Sondag van Oktober besluit.

Ons kan hier in suidelike Afrika by hierdie datum inval. Hierdie Sondag is die naaste aan 4 Oktober, die begrafnisdatum van Franciskus van Assisi, wat op 3 Oktober 1226 gesterf het. Franciskus was die eerste baie bekende kerkleier en teoloog wat aan die skoonheid van, die liefde vir, en die bewaring van die skepping aandag gegee het. In die Roomse kerk word hy as die “omgewingsheilige” geag.

Vanselfsprekend was daar al vóór hom invloedryke teoloë wat aan hierdie en ander verwante temas (soos die skepping en evolusie) aandag gegee het, soos Basilius van Caesaria (gesterf 379 n.C.) en sy jonger broer Gregorius van Nissa (gesterf 394 n.C.). Daar was ook tydgenote van Franciskus wat se teologiese bydraes van dieper insig en groter geleerdheid getuig, soos Albertus Magnus (ca. 1198 – 1280), die biskop van Regensburg, en teoloog van Parys en Keulen.

Franciskus is egter die persoon wat die bewondering van die massas aangryp, en daarom word daar in die kerklike kalender ʼn datum vir besinning oor die skepping aan Franciskus se lewenseinde gekoppel.

Franciskus van Assisi

Franciskus van Assisi (ca. 1181 – 1226), gebore as Giovanni di Pietro di Bernardone, by sy doop aan die naam van Johannes Baptista gekoppel en deur sy pa Francesco genoem is, is een van die kleurrykste persoonlikhede in die kerk se geskiedenis. Hy is die stigter (1208) van die Franciskaanse orde in die Rooms-Katolieke Kerk; ʼn orde van navolging van Jesus in absolute armoede, ʼn deelnemer aan die kruistogte na die heilige land (1214), sendeling, en dialoogvoerder met sultan Melek el-Kamil (1219) oor die godsdienste.

Franciskus van Assisi preek vir die voëls (Foto: Wikipedia)

In 1220 sterf die eerste vyf broeders van sy orde in Marokko as martelare, wat meegebring het dat hy hom verder slegs kon toespits op prediking in Italië en Oxford (1224). Franciskus is ook bekend vir sy platoniese liefde met Klara, wat die vrouebediening van sy orde sou lei. Gedagtig aan haar, skryf en toonset hy die bekende lied “broeder son en suster maan”. Hierdie lied sou ook die titel word van ʼn beroemde film wat Franco Zeffirelli in 1972 oor Franciskus en Klara gemaak het.

Talle skilders het deur die loop van die eeue sy persoonlike optrede in die natuur, sy gedigte, preke en oordenkings oor die natuurskoon en sy gesprekke met diere op doek vasgevang. In hierdie bydrae word daar op Franciskus se teologie en die skilderkuns wat sy teologiese gedagtes uitbeeld, gekonsentreer. Dalk kan mense wat hulle beywer vir die bewaring van die skepping, positiewe impulse uit sy ietwat vreemde denke put.

Die verlossing van die skepping

Volgens Franciskus is die diere, plante, vuur, water en wind van die aarde, deel van God se goeie skepping, maar nogtans, net soos mense verlossingsbehoeftig. Hierdie skepsels van God, het volgens Franciskus ook ʼn “siel” en daarom kon hy vir hulle preek, en was hulle ook voorwerpe van sy diepe respek en eerbied (pietas) en kon hy saam met hulle ly (compassio).

Sy verstaan van die verlossing deur die Lam van God (Johannes 1:29) was dus universeel, en nie beperk tot mense nie. Wanneer Johannes 3:16-17 stel dat God die wêreld liefgehad het en dat die wêreld deur die menswording van die Seun van God gered word, moet “die wêreld” as die mens en sy natuurlike omgewing verstaan word. Die kruis raak daarom nie net die mensdom nie, maar ook die plante en diere.

In die lig hiervan kon hy vir die diere (veral die voëls) preek, aangesien hulle ook die blye evangelie moet hoor. Vanselfsprekend sal daar lesers wees wat dadelik sal oordeel dat ons hier met ʼn geestelik versteurde mens te make het, maar ʼn mens moet nie te gou tot hierdie oordeel kom nie. Talle mense behandel hulle troeteldiere soos kinders, praat met hulle (ook oor die Bybel) en bid vir hulle wanneer hulle siek word; en niemand sal dit waag om hulle as kranksinnig af te maak nie.

Mense wat byvoorbeeld met probleemdiere soos perde en katte praat, en diegene wat glo dat ons deur die skepping God kan leer ken, sal ook begrip hê vir Franciskus se mening oor die natuur.

Binne ʼn gerespekteerde tradisie

Franciskus het sy menings nie uit sy duim gesuig nie, aangesien hy in die gerespekteerde tradisie van die “woestynvaders” staan, wat gedurende die eerste vier eeue bekendheid verwerf het weens hulle asketiese lewenswyse en besondere band met die woestyndiere.

Een bekende persoon uit hierdie tradisie, is Antonius (251 – 356) wat ook in die Egiptiese woestyn, afgesonder van mense, vir die diere gepreek het; veral vir die kraaie wat vir hom stukkies brood gebring het. Hy het hom, onder andere, deur Psalm 19:5 en Romeine 10:18 laat lei. Franciskus was ook die rede dat daar in die negende eeu talle teologiese debatte gevoer is oor die vraag of diere ʼn “siel” het al dan nie. Die Ierse teoloog, Johannes Scotus Eriugena (815 – 877), het in hierdie verband vir homself naam gemaak.

Saint Francis en die wolf van Gubbio (Foto: Wikipedia)

Die onbekende broers en susters van die Christen

Franciskus het op grond van Romeine 8:19-23 geargumenteer dat die “skepping”, en by implikasie die diere, ook aan die verlossing deel gaan hê. Hy kon daarom na hulle as “broers en susters” verwys. Soos reeds genoem, het hy ook na die son as “broer” en die maan as “suster” verwys.

Op grond van Psalm 19:2-7 kon hy argumenteer dat die hemelkoepel, in die besonder die son en die maan, die eer van God verkondig, en dat die mens eintlik maar net inval by dít wat die skepping reeds doen. Die gemeente neem deel aan die skepping se erediens, en só kry die Christelike godsdiens ʼn dimensie by, naas die dankbaarheid oor sondevergewing en verlossing van ons distopiese (of onvolmaakte en wanfunksionerende) aardse lewe.

Die wonder van die goed-funksionerende skepping was vir hom ook die voorspel tot die belofte, dat die goeie aan die begin van die skepping weer, sonder die bose, uiteindelik deel sal wees van dít wanneer God alles in almal sal wees (1 Korintiërs 12:6). As voorspel tot die “hemel” wat kom, moet die skepping dus met eerbied (reverentia) behandel, en nie vernietig word nie. Franciskus het geglo dat waar besef word dat die natuur met God se ewigheid te make het, die vernietigingsdrang van die mens aan bande gelê sal word.

Die menswording van Christus

Kersfees, of beter gesê, die menswording van die Seun van God, was vir Franciskus die belangrikste fees op die kerklike kalender. Die Kerstyd moes daarom vir hom nie net ʼn tyd van sorgsaamheid jeens ander mense wees nie, maar ook jeens die diereryk. In die Kerstyd moes daar wetgewing bedink word wat tot die beskerming van die diereryk kon lei. Kerk, staat en volk moes daarom in hierdie tyd saam besin oor die bewaring van God se goeie en mooi skepping.

Franciskus het in 1223, in die nabyheid van die dorpie Greccio, ʼn buitelugkerkie en ʼn tydelike dorpie opgerig, wat bekend gestaan het as die “nuwe Bethlehem”. Die feit dat diere deel gemaak is van die herdenking van die menswording van Christus, sou volgens Franciskus bydra tot ʼn meer menslike hantering van plant en dier.

Die “nuwe Bethlehem” moes ook Jerusalem, as fokus van die kerk se “sendingpoging”, in die gestalte van die kruistogte vervang. Wanneer eerbied vir en bewaring van die skepping, die oorloë wat ten doel gehad het om Christus se leë graf te ontdek, oorwoeker, kon ware menslikheid deel van die Europese beskawing word.

Eerbied vir die natuur, was só vir Franciskus die beginpunt van die beëindiging van die godsdiensoorloë in daardie tyd. Wie in harmonie met die natuur leef, aldus Franciskus, sal ook in harmonie met sy medemens lewe. Natuurbewaring in die Kerstyd het daarom politieke en militêre konsekwensies; só het Franciskus gedink en gehoop. As iemand wat in sy jeug self ʼn krygsgevangene was, het hy die onmenslikheid van oorlog eerstehands geken.

So was sy “nuwe Bethlehem” ʼn pleitrede om die kruistogte en geweldpleging te staak.

Die Kersviering in die woud van Greccio (Foto: The York Project)

Oproep

Wanneer Franciskus se teologie gelees word, kom ʼn mens opnuut tot die besef dat die bewaring van die skepping Christenplig is. Óf daar nou op die eerste Sondag van Oktober, óf op ʼn ander datum aandag aan hierdie tema gegee word, maak seker nie saak nie; solank dit net gedoen word.

Wanneer ons sien en lees wat klimaatsverandering aan gemeenskappe doen en ons hoor dat ons as mense deels daarvoor verantwoordelik is, kan ons nie verder oor hierdie tema in die kerk en openbare media swyg nie. Die meeste van ons is lief vir ons wonderlike natuurskoon en diereryk; kom laat ons dit nie verder verniel nie en ook nie ander toelaat om dit te doen nie!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Natie van Wyk

Prof. Natie van Wyk is navorsingsgenoot van die Departement Historiese en Sistematiese Teologie, Fakulteit Teologie en Religie, Universiteit van Pretoria.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Anel ·

Toe ons, as kinders in Frankryk was, was daar in die Katolieke kerk, een maal per jaar, ‘n diens spesiaal vir diere. Almal kon dan op daardie Sondag hul diere kerk toe neem om gesëen te word. Dit het ‘n groot indruk op my as kind gemaak. My pa wou ons nooit vat om die te beleef nie want dit was onbybels volgens hom. Ons kon dit wel op televisie volg. Maar ons het tog groot geword met ‘n diepe respek vir God se skepping, mens, dier en plant!

Vrijburger ·

Ons het was op ‘n stadium in die Metodiste Kerk, Augusta, Maine en ons gemmerkat is tydens so ‘n diens gesëen.

De Bok ·

Ek was in ‘n Gereformeerde laerskool waar ons baie aandag spandeer het aan die oppas van die skepping. Dit was great, en Christene vandag is soms skrikkerig vir omgewing-bewaring tipe goed, want dan lyk dit asof ons toegee aan die linkse groen agenda. Dit is jammer, want om om te sien na die skepping is deel van Christen wees, dit was een van God se eerste groot opdragte aan die mensdom.

Ek het inelkgeval hierdie skrywe geniet. Die geskiedenis van die vroëe kerk is onsettend interessant.

Vrijburger ·

Baie interessant.
Wonder ek by myselwers, of Franciskus vegetaries was?

Gawie ·

Selfs God is besorg oor die natuur en die diere. In Jona 4:11 lees ons “Maar Ek mag nie besorg wees oor die groot stad Nineve nie, ‘n stad waarin daarin meer as honderd en twintig duisend mense is wat nie weet wat reg of verkeerd is nie, EN OOK NOG BAIE DIERE” (1983 VERTALING)

Wicus ·

In die Hiernamaals wil ek liewer in ‘n paradys tussen plante en diere wees as in die Nuwe Jerusalem met sy goue strate.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.