Die Tet-offensief is steeds ’n gevallestudie

viëtnam-oorlog

Foto: WikiImages/Pixabay.com

Dis kort ná middernag, die oggend van 31 Januarie 1968. Suid-Viëtnam is in diepe rus; almal is voorbereid op die feestelike viering van die Viëtnamese nuwe jaar, bekend as Tét Nguyên Dán – kortweg Tet.

Dan, om 02:45, ontplof die land. Meer as 80 000 geharde Noord-Viëtnamese soldate en Suid-Viëtnamese Viëtkong-rebelle laat die hellevuur neerdaal op meer as 100 stede en dorpe, waaronder 36 van die 44 provinsiale hoofstede, asook vyf van die ses groot stede, insluitende die hoofstad, Saigon.

Ondanks waarskuwings van laer inligtingsoffisiere met hul oor op die grond, word die Amerikaanse en Suid-Viëtnamese opperbevel totaal verras. Wat hulle nie besef nie, is dat die kommuniste dié offensief onder die leiding van een van die beste veldhere in die geskiedenis, genl. Vo Nguyên Giap, noukeurig in die geheim voorberei het.

Giap se strategiese doel was om die prys vir die Amerikaanse deelname aan die stryd verby die Amerikaanse regering en bevolking se toleransie te eskaleer. Die offensief moes hulle kollektief daarvan oortuig dat die kool nie die sous werd was nie en dat hulle hul moes onttrek.

’n Mens moet onthou dat die berigte wat die Amerikaanse regering van pres. Lyndon B. Johnson en sy senior generaal in Viëtnam, William Westemoreland, die wêreld ingestuur het, die boodskap ingehou het dat die Amerikaners aan die wen was. Dat dit net ’n kwessie van tyd sou wees voordat die Amerikaanse stoomroller die veel swakker Noord-Viëtnam plattrap.

Hul ontnugtering sou groot wees.

Westmoreland se benadering was tipies Amerikaans – maak staat op sy oorweldigende vuurkrag, op sy krygsmag se tegnologiese oorheersing en sy vermoë om groot getalle vyandelike vegters te dood. Die dodetal het inderdaad ’n maatstaf vir sukses geword: Hoe groter die getalle in die veldoffisiere se verslae, hoe groter die sukses in die stafoffisiere se oë.

Dat die benadering in ’n teeninsurgensieoorlog heel anders moet wees, het hulle verbygegaan. In só ’n konflik val die swaartepunt nie soseer op die vernietiging van die vyand nie, maar op die lojaliteit van die plaaslike bevolking, op die dryf van ’n wig tussen die mense en die insurgente.

Dít het die Amerikaners nooit behoorlik verstaan nie.

Daarteenoor was Giap se benadering strategies briljant, al was hy self nie ten gunste van die operasie nie. Hy het al in die laaste weke van 1967 begin met ’n reeks kleiner aanvalle op geïsoleerde basisse, en dit opgevolg met ’n yslike aanval op die mariniersbasis Khe San naby die grens tussen Noord- en Suid-Viëtnam.

Sy redenering was interessant. In 1954 het die Franse genl. Henri Navarre besluit om die kommunistiese insurgente se rug in ’n konvensionele veldslag te breek.

Hy het by Dien Bien Phu ’n basis ingerig wat ’n ope uitnodiging aan die kommuniste was om aan te val. Giap, wat toe al in bevel van die kommunistiese vegters was, het die uitdaging aanvaar, die basis meedoënloos van die buitewêreld afgesny en in ’n beleg van twee maande papgedruk.

Die Franse moes oorgee en stert tussen die bene uit Viëtnam onttrek.

Die Amerikaners het begryplikerwys gedink hulle kan slaag waar die Franse misluk het, en het Khe San tot ’n onneembare vesting verskans. Op 21 Januarie het die kommuniste aangeval, en die vesting vinnig, soos by Dien Bien Phu, van die buitewêreld afgesny.

Maar die Amerikaanse vuurkrag, veral uit die lug, was vele male hoër as die Franse s’n, en aanslag ná aanslag is afgeslaan. Khe San het nie geval nie, en ná twee maande moes Giap tou opgooi.

Maar wat die Amerikaners nie wis nie, was dat dit ’n misleidingsmaneuver was. Terwyl hul aandag op Khe San toegespits was, is 80 000 vegters in Suid-Viëtnam geïnfiltreer – en dis hulle wat vroegoggend op 31 Januarie die hel laat losbars het.

Die Amerikaners en hul Suid-Viëtnamese bondgenote was met hul broek op die knieë betrap. Wanhopig moes hulle hul teen vasbeslote aanvallers verdedig, en die Amerikaanse lugmag moes oortyd werk.

Selfs in Saigon het duisende insurgente die strate op horings geneem en ’n paar uur lank selfs die Amerikaanse ambassade in die stad binnegedring voordat hulle uitgewis is. In die antieke keiserlike hoofstad Hue moes die mariniers weke lank verbete van huis tot huis veg voordat hulle die kommuniste kon verjaag. In die proses is die pragtige ou stad verwoes.

Teen Mei was die offensief verby. Die oorweldigende Amerikaanse vuurkrag en tegnologie het uiteindelik die aanvallers ondergekry.

Die ongevallesyfers vertel ’n klein deel van die verhaal. Die Amerikaners het sowat 1 100 soldate dood en gewond verloor, en die Suid-Viëtnamese 2 300. Daarteenoor het die Noord-Viëtnamese ’n reusagtige 40 000 verloor.

Trouens, die Tet-offensief het die mag van die Suid-Viëtnamese kommunistiese rebelle, die Viëtkong, gebreek. Hierna is die inisiatief volledig deur die Noord-Viëtnamese oorgeneem.

Takties en operasioneel was die Tet-offensief dus ’n yslike mislukking. Maar in oorlogvoering is die taktiese en operasionele vlak slegs van belang in soverre dit die strategiese doel dien of nie.

In dié geval is die kommunistiese inval veral in Saigon deur die hele Amerikaanse joernalistieke korps daar byna van minuut tot minuut gedek. Op die tuisfront het dit ’n rampspoedige uitwerking gehad.

Uit die aard van die saak kon die verslaggewers nie weet hoe die operasie sou afloop nie; die verwarring was só groot dat Westmoreland aanvanklik altans geen greep op die gebeure kon hou nie. En dus het hul berigte dikwels verkeerdelik – maar onopsetlik – die indruk gewek dat die aanvallers die verdedigers ore aansit.

Vir die Amerikaanse politieke wil om die oorlog te wen was dit die finale klap. Toe selfs die gerespekteerde televisiekommentator Walter Cronkite openlik sê hy meen Amerika kan nie meer wen nie, was dit eintlik verby.

Johnson het besluit om nie weer as presidentskandidaat te staan nie. Sy opvolger, pres. Richard Nixon, het die skrif aan die muur gesien, sy troepe onttrek en die Suid-Viëtnamese weermag die onmoontlike taak gelaat om alleen verder te veg.

Teen einde April 1975 het die finale nederlaag gevolg met die laaste Amerikaanse diplomaat wat per helikopter van die dak van die ambassade gepluk is.

Giap se hantering van die offensief was wreed en koelbloedig, maar uiters doeltreffend. Hy het die helfte van sy aanvalsmag, sonder om ’n oog te knip, opgeoffer om die oorlog te wen.

Maar dáárin het hy, as ’n mens moraliteit opsy skuif, briljant geslaag. En sedertdien is die Tet-offensief ’n gevallestudie wat by talle militêre akademies as opleidingsmateriaal gebruik word.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Eish ·

Baie dankie vir die artikel. My kennis oor die Viëtnam oorlog was beperk tot die Hollywood bydrae daartoe.

johan prinsloo ·

Dankie Oom Leopie,
Jy skryf deesdae sowaar baie interessante artikels. Wat baie waar is, is dat jy geen oorlog kan wen as PB ‘s (plaaslike bevolking) nie aan jou kant is nie. Skryf tog ietsie oor Maleisie, asseblief. Groete

Leopold Scholtz ·

Johan, wanneer die nuus dit regverdig, kan ek dit gerus doen. Die Britte se teeninsurgensie-oorlog in Maleisie was ‘n belangrike voorbeeld vir ons eie oorlog teen Swapo in Suidwes. Dankie vir die voorstel!

Rupert Ashford ·

Die kommunisme en sy “sagter” boetie, sosialisme was nog nooit skaam om ANDER mense se lewens en goed/geld ruim op te offer om hulle doel te bereik nie.

V ·

Verstommend om weereens te sien hoe die sosialistiese ideologie geen gewete het om, hetsy dit ‘n brutale oorlog of ‘n kommunistiese hongersnood is, hulle volgeling soos kaf in die vuur te waai om hulle eie mae vol te hou… Geen wonder die Tet-Offensief word so bestudeer nie. Geen redelike mens kan glo dat soveel siele opgeoffer kan word vir ‘n strategiese mylpaal nie. Gevolge…? Grondbesit en mag ten koste van hongersnood en armoede (kommunistiese hongersnood in tye van “vrede”), deur die massa slagting van jou eie mense.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.