Die US, SAMRK en gebrek aan waardegedrewe instellings

(Foto: Universiteit Stellenbosch/Facebook)

In die verslag wat die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie op 14 Maart 2023 oor die verbod op die gebruik van Afrikaans in koshuise van die Universiteit Stellenbosch uitgereik het, is bevind dat die universiteit “deur middel van die koshuisbeleide die studente wat daardeur geraak is se grondwetlike menseregte op ʼn onbillike wyse geskend het”.

Die kommissie identifiseer veral die studente se reg tot vryheid van uitdrukking; gebruik van taal en uitlewing van kultuur; hulle reg dat daar nie op grond van taal teen hulle gediskrimineer mag word nie; en hulle reg tot menswaardigheid.

Hierdie uitspraak is van veel groter betekenis as wat bloot die insidente aanbetref wat die ondersoek deur die kommissie voorafgegaan het.

In die eerste plek maak die Grondwet voorsiening vir die beskerming van Suid-Afrikaanse burgers se taalregte deur verskeie liggame, maar veral die Pan-Suid-Afrikaanse-Taalraad en die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Taalkundige Gemeenskappe (beter bekend as die “langnaam” of die “Artikel 185”-kommissie).

Die feit dat hierdie instellings nie ʼn rol in die ondersoek van hierdie klagtes gespeel het nie, bewys die oneffektiwiteit daarvan en laat opnuut vrae ontstaan oor die voortbestaan en dan die rol daarvan.

Tweedens gaan dit meer spesifiek oor die bevindings van die Menseregtekommissie in die saak van Stellenbosch. Die sentiment wat die uitspraak deurentyd oordra, is naamlik dat die universiteit en die bestuur daarvan ʼn plig gehad het teenoor die ontwikkelende jongmense in hulle sorg om hulle op te voed oor kwessies soos menseregte en die bou van onderlinge verhoudings. Daarenteen is hulle bloot aan hulle eie interpretasies van regulasies en beleide oorgelaat en het hulle persepsies ʼn sterker rol as feite begin speel.

Hierdie aanklag kan op soveel meer terreine as bloot die gebruik van taal in universiteitskoshuise van toepassing gemaak word. Een daarvan is die keuse van taal waarin studente onderrig ontvang. Met die uitfasering van Afrikaans as taal van onderrig by alle openbare universiteite, is vroeër of later melding gemaak daarvan dat die Afrikaanse studente verkies om in Engels onderrig te word.

Selfs in sy getuienis teenoor die Menseregtekommissie het prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch, genoem dat 49.2% van die Afrikaanse studente wat in 2021 by dié universiteit geregistreer het, Engelse onderrig verkies het. Die syfers kan waarskynlik nie ontken word nie, maar die brandende vraag wat gevra moet word, is watter rol die universiteit gespeel het om hierdie studente bewus te maak van die voordele wat moedertaalonderrig vir hulle sou inhou.

Vir baie studente en hulle ouers is registrasie vir hulle eerste jaar van studie die eerste kennismaking met ʼn tersiêre onderriginstelling. Hulle verdien begeleiding wat hulle sal help om die beste keuses uit te oefen wat sal bydra tot die suksesvolle voltooiing van hulle kursusse in die minimum tyd, maar in teenstelling daarmee word hulle aan hul eie lot en aan die vals persepsies oor die voordele van Engelse onderrig oorgelaat.

Daarmee saam kom dan die ander gevolge, soos hierdie skendings van menseregte waarop die kommissie wys. Dit is nie net Stellenbosch wat in die beskuldigdebank staan nie, maar ook die Universiteit van Pretoria en Noordwes-Universiteit, waar soortgelyke klagtes in 2022 en 2023 aangehoor is.

Dié besture se klakkelose verwerping van Afrikaans as taal van onderrig en aangryping van Engels, skep ʼn atmosfeer waarbinne studenteleiers glo dat Engels die enigste aanvaarbare taal van akademiese uitnemendheid is – ten koste van die gesonde ontwikkeling van die meer as 90% sprekers van ander tale in die land.

ʼn Universiteit is nie ʼn deurryvenster van ʼn kitskoskombuis nie. Dit kan nie maar net mense vinnig bedien sonder kommer oor wat van hulle gaan word wanneer hulle hulle lewensreis verder voortsit nie. Dit moet hulle voorberei op dié reis met feite om ingeligte keuses te kan maak (ook oor taal van onderrig) en met waardes soos respek vir die tale en kulture van medestudente. Openbare tersiêre onderriginstellings versaak die jeug op hierdie terreine.

Gelukkig vul waardegedrewe privaat instellings soos Akademia en Sol-Tech hierdie leemte, maar dit bied steeds slegs vir ʼn beperkte aantal studente toegang. Die uitdaging is om hulle aanbod uit te brei en te versterk, want ten spyte van die Menseregtekommissie se sterk uitsprake in hierdie saak, het die openbare instellings al so ver teruggegly op die pad van politieke korrektheid, dat hulle moeilik die morele hoë grond wat verloor is, sal kan terugwen.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.