Dis jou verantwoordelikheid om regbank met valkoog dop te hou

grondwethof1

Foto: Reint Dykema

Die huidige botsing tussen die ANC-regering en die regbank is niks nuuts in ons land nie. In die ou Transvaalse en Vrystaatse republiek het iets soortgelyks ook gebeur, met verskillende uitkomste.

Die toesprake van verskeie regters die afgelope tyd oor die verhouding tussen die regterlike gesag enersyds en die uitvoerende en die wetgewende gesag andersyds, en die rol van die grondwet in dié saak, roep herinneringe op. Die huidige dreigende konfrontasie tussen die ANC-regering en die regbank het historiese presedente in die regsgeskiedenis van die ou Zuid-Afrikaanse Republiek (Transvaal) en die Oranje-Vrystaat, toe daar ook dergelike botsings was.

’n Ontleding daarvan kan ’n bydrae tot die huidige debat maak.

Kortliks die agtergrond: Die Transvaalse grondwet van 1859 het van die Volksraad “het hoogste gezag des lands” gemaak. In die hersiene grondwet van 1889 is bygevoeg “… en de wetgevende Magt”. Bowendien kon die grondwet deur ’n gewone meerderheid gewysig word.

Dit het beteken dat die Transvaalse Volksraad soewerein was. Daar was geen ander wetlike gesag bo hom nie.

Die Transvaalse staatsregtelike situasie was egter verskriklik chaoties. ’n Jaar ná die aanvaarding van die aanvanklike grondwet het die Volksraad ’n wetsontwerp goedgekeur wat bepaal elke hof “zal alle Volksraadsbesluiten als Wet eerbiedigen”. Die hof mag hom nie uitspreek oor “wat door den Volksraad is beslist of goedgekeurd” nie.

Dit het twee dinge beteken. Enersyds is die hof uitdruklik verbied om wette of besluite aan die grondwet te toets – iets wat normaal is in lande waar die parlement soewerein is. Andersyds dat gewone besluite dieselfde regskrag as wette het.

In die praktyk het dit beteken dat wette wat behoorlik kragtens die grondwetlike prosedure aanvaar is, deur blote besluite herroep kon word. Aangesien die grondwet as gewone wet beskou is, kon ook dít deur ’n blote besluit verander word sonder dat hy (in ooreenstemming met sy eie bepalings) formeel gewysig is.

Dit was ’n absurde situasie. Soos pres. Paul Kruger dit in 1887 in die Volksraad gestel het: “Als de Volksraad morgen besluit iemand te onthoofden, dan moge zulks onwettig genoemd worden, doch het moet geschieden.”

Teen dié agtergrond het hoofregter sir John Kotzé in 1895 en 1897 in twee regsake (verkeerdelik) bevind dat die grondwet ’n spesiale status het en dat die hooggeregshof die reg het om wette en Volksraadsbesluite ongeldig te verklaar. Daarvoor wou nóg Kruger nóg die Volksraad val, en in 1897 het die Volksraad homself (deur ’n behoorlike wet!) gemagtig om regters te ontslaan, waarna Kotzé in die pad gesteek is.

In dié geval het die regterlike gesag verloor.

In min of meer dieselfde tyd het ’n soortgelyke konflik ook in die Vrystaatse republiek voorgekom.

Anders as in Transvaal was die Vrystaatse staatsregtelike posisie egter uitstekend gereël. Die Britse staatsregsgeleerde James Bryce het die Vrystaat nie verniet ná ’n besoek in 1895 as “a model republic” beskryf nie.

Die grondwet kon slegs verander word deur ’n driekwart-meerderheid in drie agtereenvolgende sittings (later twee). Belangriker nog, die grondwet het bepaal dat die Volksraad “de hoogste wetgevende gezag” was, nie die hoogste gesag sonder meer nie.

Voorts het die grondwet ’n enigsins primitiewe akte van menseregte bevat wat die reg op vrye vergadering en petisie aan die Volksraad verskans het, asook dat die wet vir almal gelyk is, eiendomsregte is gewaarborg, persoonlike vryheid en selfs persvryheid “mits blijvende binnen de Wet”. In 1885 het die hooggeregshof eksplisiet die reg gekry, wat implisiet in die grondwet aanwesig was, naamlik om Volksraadswette aan die grondwet te toets.

Tog was dit nie die einde van die storie nie. Die Vrystaatse politici was nooit gelukkig met dié beperking op hul magte nie, en het telkens besin oor die vraag hoe hulle dit kon systap.

Hul kans sou kom in 1898 toe hulle ’n sekere Gibson van majesteitskennis laat aankla het nadat hy hom minagtend oor die Volksraad uitgelaat het. Maar weer het die politici hulle vasgeloop.

In sy uitspraak het regter J.B.M. Hertzog – die latere Boeregeneraal en eerste minister van die Unie – bevind dat die Volksraad nie oor majesteit beskik nie. Die Volksraad, het Hertzog bevind, is weliswaar die hoogste wetgewende gesag, maar hy is steeds onderhewig aan die grondwetgewende gesag, naamlik die volk. Alleen die volk is soewerein en kon op majesteit aanspraak maak.

Feit is dat die politici in albei Boererepublieke gevind het dat indien hulle eenmaal verkies was, hulle volmag gekry het om te maak en te breek soos hulle wou. Hulle wou nie wetlike beperkings erken nie.

In Transvaal het die uiters slordig opgestelde grondwet hulle inderdaad daardie ruimte gegee. Die Vrystaatse grondwet, baie beter en meer noukeurig geskryf, het meer wigte en teenwigte teen die misbruik van mag ingebou gehad, en daar het die regbank die politici behoorlik vasgevat.

Die 1996-grondwet van Suid-Afrika is sekerlik nie volmaak nie; daar is aansienlike ruimte vir verbetering. Maar met die nodige politieke wil by die burgerlike samelewing kan dié wet ’n behoorlike beskerming bied.

Luidens art. 2 is die grondwet “die hoogste reg van die Republiek”, en “enige regsvoorskrif of optrede daarmee onbestaanbaar, is ongeldig”. Die menseregte in hoofstuk 2 mag slegs beperk word “in die mate waarin die beperking redelik en regverdigbaar is in ’n oop en demokratiese samelewing gebaseer op menswaardigheid, gelykheid en vryheid”.

Dit gaan nie so ver soos die Duitse grondwet nie, waar ’n lys menseregte glád nie beperk mag word nie, maar dit gaan wel baie ver.

Nou moet ’n mens natuurlik nie naïef oor die saak wees nie. Net soos in die Boererepublieke en byna oral ter wêreld hou die politici nie van beperkings op hul mag nie, en hulle sal voortdurend en op elke denkbare manier probeer om die grondwetlike beperkings te omseil of eenvoudig te verbreek. Veral die ANC is baie goed hiermee.

Die regering se stroom giftige aanvalle op die regbank die afgelope tyd getuig van ’n eerste taktiek, naamlik om die regters te probeer intimideer. Tot dusver het hulle nie daarin geslaag nie.

Die volgende stap sal wees om die regters met ANC-kaders te probeer vervang. Dís waar die burgerlike samelewing soos valke sal moet oplet om dit te keer.

Baie mense dink die grondwet is niks werd nie. Dis nie waar nie. Die probleem is nie die grondwet nie. Dis die ANC. Én die kieserskorps wat die ANC elke keer verkies!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Loeis ·

Hoewel die artikel hierbo baie krities na politici kap (in die Boere Republieke sowel as in moderne SA), kry mens die gevoel dat die doel nie is om aan te val nie, maar om ‘n konteks te skep waarin die leser ‘n prentjie van die skeiding van magte kan kry, en dan oor ons konteks vandag te besin.

Die skeiding van magte gee aan die regstelsel die mag om ook politici te keer om te maak en breek soos hulle wil want ‘n hof kan vir die regering “nee!” se.

Dink aan die ou Romeinse tyd met sy slawerny. Eienaars van slawe kon hul slawe slaan, verkrag of kruisig as hulle wou, dit was 100% in orde en het ook daagliks gebeur. Ons wetgewing keer dat hierdie praktyke vandag gebeur, en selfs die regeerders kan dit nie verander nie want hulle mag word deur die grondwet beperk. Die howe sorg dat politici die wet eerbiedig.

‘n Vry samelewing het dus ‘n regverdige grondwet en ‘n regstelsel wat die WET toepas, nodig.

Terloops, wat staan in Suid-Afrika tussen die ANC en absolute mag? Die ANC het 62% van die setels in die parlement, wat beteken dat hulle ENIGE stemming daar kan wen. Al die opposisie partye saam kan nie die ANC in ‘n stemming oor wette in die parlement wen nie. Dit maak dus nie saak vir watter opposisie party jy stem nie, daardie party SAL in ‘n stemming teen die ANC verloor. MAAR, opposiesie partye vervul een groot rol wat broodnodig is vir demokrasie: hulle staan tussen die ANC en ‘n twee derde meerderheid, wat nodig is om die grondwet te verander. Hulle keer dus dat die ANC die grondwet eensydig kan wysig (sou lg gebeur, kan die regstelsel se mag weggeneem word en sal die ANC min of meer absolute mag verkry).

Die skrywer maak ‘n baie goeie punt dat kaders van ‘n regering as regters ‘n bitter groot risiko is, en Zimbabwe is ‘n uitstekende voorbeeld van wat kan gebeur. Die risiko in Suid-Afrika word ongelukkig reeds sigbaar. Die regering het, ten spyte van ‘n hofbevel, toelaat dat die Sudanese president hier wegvlieg. Dan is daar ook die stadsraad van Pretoria, wat ten spyte van ‘n hofbevel voortgegaan het om met straatname te peuter. Hierdie is twee voorbeelde van wat die afgelope weke in die koerante was.

Wanneer ‘n regering nie meer die howe respekteer nie, kan mense se ander regte ook volg. Suid-Afrika is reeds op daardie pad, en dit is die MENSE se plig om dit te keer, in die hof, en ook by die stembus.

DMC de Koker ·

Feit is, as dit gaan gaan oor iets soos om eiendomsreg weg te neem sal die EFF waarskynlik saam met die ANC stem wat hulle die tweederde meerderheid sal gee om die grondwet te verander. Beide die DA en EFF het al saam met die ANC gestem oor aangeleenthede in die parlement. Dinge is eintlik maar op ‘n mespunt balanseer wat betref of die ANC in stemmings ‘n tweederde meerderheid sal haal.

Loeis ·

Die skeiding van magte gee aan die regstelsel die mag om ook politici te keer om te maak en breek soos hulle wil want ‘n hof kan vir die regering “nee!” se.

Dink aan die ou Romeinse tyd met sy slawerny. Eienaars van slawe kon hul slawe slaan, verkrag of kruisig as hulle wou, dit was 100% in orde en het ook daagliks gebeur. Ons wetgewing keer dat hierdie praktyke vandag gebeur, en selfs die regeerders kan dit nie verander nie want hulle mag word deur die grondwet beperk. Die howe sorg dat politici die wet eerbiedig.

‘n Vry samelewing het dus ‘n regverdige grondwet en ‘n regstelsel wat die WET toepas, nodig.

Loeis ·

Terloops, wat staan in Suid-Afrika tussen die ANC en absolute mag? Die ANC het 62% van die setels in die parlement, wat beteken dat hulle ENIGE stemming daar kan wen. Al die opposisie partye saam kan nie die ANC in ‘n stemming oor wette in die parlement wen nie. Dit maak dus nie saak vir watter opposisie party jy stem nie, daardie party SAL in ‘n stemming teen die ANC verloor. MAAR, opposiesie partye vervul een groot rol wat broodnodig is vir demokrasie: hulle staan tussen die ANC en ‘n twee derde meerderheid, wat nodig is om die grondwet te verander. Hulle keer dus dat die ANC die grondwet eensydig kan wysig (sou lg gebeur, kan die regstelsel se mag weggeneem word en sal die ANC min of meer absolute mag verkry).

Die skrywer maak ‘n baie goeie punt dat kaders van ‘n regering as regters ‘n bitter groot risiko is, en Zimbabwe is ‘n uitstekende voorbeeld van wat kan gebeur. Die risiko in Suid-Afrika word ongelukkig reeds sigbaar. Die regering het, ten spyte van ‘n hofbevel, toelaat dat die Sudanese president hier wegvlieg. Dan is daar ook die stadsraad van Pretoria, wat ten spyte van ‘n hofbevel voortgegaan het om met straatname te peuter. Hierdie is twee voorbeelde van wat die afgelope weke in die koerante was.

Wanneer ‘n regering nie meer die howe respekteer nie, kan mense se ander regte ook volg. Suid-Afrika is reeds op daardie pad, en dit is die MENSE se plig om dit te keer, in die hof, en ook by die stembus.

Winston ·

Daar rus ook n plig op minderhede om hulself te beskerm. Hiervoor kan organisasies soos Afriforum ens gesteun en dankie gesê word voor. Wat die kiesers betref, kan mens maar net toekyk hoe n groot groep die absolute gebrek aan kennis by die stembus openbaar. Miskien is dit weereens apartheid se skuld.Die regering minag doodluiters die howe en dit is reeds talle kere bewys. As een bevolkingsgroep dit nie te bowe kan kom om uit sy derde wêreld land standaarde uit te kom nie, waarom haat hy volke wat nie daar agtergebly het nie? Daar is net agteruit beweeg met die land onder ANC bewind en al die omdersteuners van die ANC dink dit gaan goed weens n gebrek aan insig en kennis.

Melt Olckers ·

Die ANC wil graag ‘n regstelsel he soos wat die voormalige Soviet Unie gehad het, en soos wat dit tans in China is. Die howe daar is ondergeskik aan die staat en is daar om die staat teen die publiek te beskerm, in plaas van om die publiek teen magsvergrype te beskerm.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.