Dit is (ook) wat ’n monument is

alana-bailey-afriforum-featured

Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum. (Foto: Reint Dykema)

Die afgelope maand het die debat oor monumente en standbeelde weer opnuut vlamgevat, ten gevolge van die parlementêre goedkeuring vir die belaglike voorstel om sogenaamde “aanstootlike” standbeelde uit die openbare oog na temaparke te verskuif.

’n Soortgelyke debat heers ook in die res van die wêreld. Mense vind dit toenemend maklik om hul onverdraagsaamheid jeens mekaar en jeens mekaar se denkrigtings op erfenisbakens uit te haal.

Daar is vele akademiese navorsingspublikasies wat die betekenis van monumente, standbeelde en gedenktekens in fyn besonderhede ontleed.

Dit is egter ook soms nodig om minder wetenskaplik na die saak te kyk. Waarom is dit nodig dat dié voorwerpe behou moet word, en selfs dat daar ook meer soortgelyke bakens by die bestaandes gevoeg word?

Die aanvanklike motief wat oorheers het toe ’n standbeeld of monument opgerig is, is gewoonlik maklik om te bepaal – dit kan strek van patriotisme tot smart, heldeverering, nasionalisme of selfs propaganda. Met die jare vervaag hierdie motiewe en dan begin elke baken meer lae van betekenis kry.

Sommige meningsvormers voer aan dat monumente ons van die verlede leer. In ’n aanlyn debat oor standbeelde in die VSA, het baie deelnemers gesê geskiedenis moet in boeke gevind word, ons hoef nie standbeelde te hê om dit onder ons neuse te vryf nie. Dit is ’n besondere eng siening. Ek is bereid om te wed dat vele van die mense wat dít aanvoer, die afgelope jaar geen enkele geskiedenisboek gelees het nie.

Wat ek wel weet, is dat ek al telkens in vreemde dorpe en stede ’n standbeeld of monument raakgeloop het wat my belangstelling geprikkel het sodat ek begin lees het oor die mens of gebeurtenis wat dit verteenwoordig. Soms laat dit ’n mens effe verstom – ’n monumentale gedenkteken verteenwoordig soms iemand wat nie juis ’n beduidende invloed op die geskiedenis gehad het nie. Ander kere lei dit jou op die interessantste spore van gebeure wat jy andersins sou misgeloop het, en verdiep dit beide jou insig in gebeure van die verlede en jou belewenis van die plek wat jy besoek.

Vir die mense wat dus hoegenaamd in die verlede belangstel, is gedenktekens beslis ’n poort na die verlede. Vir die vreemdeling is dit gestroop van enige agenda en ideologie. Vir die aanhanger of veroordelaar nie, maar ons is tog elkeen geregtig op ’n eie mening? Die feit dat ’n monument sentraal geleë, of mooi, of indrukwekkend is, beteken net so min dat dit nie aan kritiek blootgestel mag wees nie as wat ons alles wat in boeke geskryf is, sonder meer onkrities kan aanvaar!

Daar is tye wat ’n monument wel iets regkry wat boeke minder maklik kan doen. Dit het ek weer besef met ’n besoek aan die Vrouemonument in Bloemfontein ’n paar jaar gelede. Ek het heelwat tyd op die terrein spandeer omdat ek ’n nuwe kamera wou uittoets. So merk ek op dat ’n deel van een van die reliëfpanele buitengewoon blink. Dit is naamlik die paneel wat ’n seuntjie in ’n konsentrasiekamp uitbeeld ‒ hy lê sterwend in ’n tent en geliefdes is om hom daarbinne en -buite geskaar. Sy gesig is blink, teenoor die res van die bronspaneel wat dof en effe stowwerig is. Terwyl ek wonder hieroor, kom twee gesinne met hulle kinders ook aan. Die een pa vertel die geskiedenis vir die kleinspan. Toe hy kom by die deel oor die konsentrasiekampe en kinders wat siek geword het en dood is, loop een van die outjies na die paneel en vryf troostend oor die siek kind op die reliëf se gesiggie. Later is daar nog ’n gesin en dieselfde toneel speel af. So kan ’n monument die grense tussen mense van alle tye op ’n byna magiese wyse laat vervaag en dit met empatie oorbrug.

Geld dit ook vir monumente wat nie direk aan ’n mens se eie voorgeskiedenis gekoppel is nie? Beslis ja. In 2011 het vriende en ek deur Duitsland getoer. Hulle wou die skrywer Karl May se huis in ’n dorpie genaamd Radebeul besoek. Ek het nog nooit van sy boeke gelees nie en terwyl hulle toer, het ek solank vir ons middagete gaan koop. Op pad terug dwaal ek deur die kerkterrein en sien ’n gedenkteken vir die dorp se gesneuweldes van die Eerste Wêreldoorlog. Hoewel ek geen band met enige van hulle het nie, het die beeldegroep en name van soveel plaaslike slagoffers in ’n sinnelose oorlog my op daardie oomblik tot trane geroer.

Dieselfde het gebeur met ’n gedenkteken bo ’n blombak op ’n muur in Parys, wat net my oog gevang het omdat ek voetseer vasgesteek het om die mooi malvas te bewonder. Hier is Henri Jean Pilot, ’n 23-jarige regsstudent, in 1944 doodgeskiet omdat hy vir die bevryding van die stad teen die Nazi’s geveg het.

Dit bring my terug na die argument oor verskuiwing. Soveel mense sê verskuiwing sal help om gedenktekens beter te bewaar. Pilot se gedenkteken toon inderdaad tekens van wind en weer, maar as ek dit iewers in ’n park of museum met klimaatbeheer raakgeloop het, sou dit my op dieselfde wyse kon raak as hier, waar ek weet dat ek letterlik staan waar hy gesterf het, waar ek die reuke van die stad en die Seine ruik, soos hy dit op daardie Augustusdag pas voor sy dood ervaar het? Natuurlik het parke en museums ’n noodsaaklike rol om te speel, maar dit bly ook belangrik dat ons in spore van die verlede moet kan staan waar dit oorspronklik getrap is.

Groot monumente en seremonies gryp ons net so aan die hart – wie kan onaangeraak teen sononder by die Arc de Triomphe in Frankryk, of Meninpoort in Vlaandere staan wanneer daar hulde aan gestorwenes gebring word? Maar soms is dit hierdie toevallige ontdekkings wat ons die naaste aan die mense van dekades of selfs eeue terug bring. Was hulle lofwaardig, of nie? Dit weet ons nie altyd nie, maar wat ons wel weet, is dat hulle mense nes ons was.

Vir elkeen wat al moeite gedoen het om ’n monument, standbeeld, gedenkplaat, of enige ander spoor van die verlede in die openbare sfeer te behou, dankie. Julle maak ons belewenis van die omgewing waarin ons beweeg, net soveel meer genuanseerd en ryker.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.