Duitsland: Terugblik op oudkanselier Helmut Kohl

helmut-kohl-in-1989

Helmut Kohl in 1989. Foto: Commons.wikimedia.org.

Helmut Kohl, Duitsland se bondskanselier van 1982 tot 1998 en daarmee die langs regerende kanselier sedert Otto von Bismarck, is verlede Vrydag in die ouderdom van 87 jaar oorlede. Hy was ook die leier van sy Christen-Demokratiese Unie (CDU) vir 25 jaar.

Merkwaardig aan Kohl is dat hy so ʼn gewone man was en nogtans so lank aan bewind gebly het. Hy was seker die mees onderskatte politikus van die Duitse Bondsrepubliek. Kohl het nie die charisma van ʼn Margaret Thatcher, Ronald Reagan, Francois Mitterrand, Michail Gorbatsjof, sy tydgenote, gehad nie, maar tog langer as hulle almal regeer.

Toe Helmut Kohl in 1982 aan bewind gekom het, nie deur ʼn verkiesing nie, maar deur die uitmekaarbreek van die koalisie uit Sosiaal-Demokrate en Vrye Demokrate (Liberale) en die vorming van ʼn koalisie van die CDU met die Vrye Demokrate (FDP), het die links-liberale establishment na asem gesnak.

Kohl is op ʼn manier aangeval en afgekraak soos wat Donald Trump vandag afgekraak word. Nogtans het hy verkiesing ná verkiesing gewen, met uitslae waarvan vandag se partye net kan droom. Soos Trump kon hy ʼn taal praat wat die gewone mense verstaan het, sonder om populisties te wees, en het hy nooit sy plattelandse afkoms verloën nie, al het dit beteken dat die elite hom (wat nie Engels kon praat nie, vetterige kos verkies en elke jaar op dieselfde plek in Oostenryk vakansie gehou het) bespot het.

Kohl was in die eerste plek ʼn pragmatis en nie die konserwatiewe stoomroller wat sy teenstanders van hom wou maak nie. Die 1980’s was oor die algemeen ʼn stabiele fase met goeie ekonomiese groei en min aardskuddende skandale. Die welsynstaat, ná 13 jaar van Sosiaal-Demokratiese regerings goed gevestig, is ook deur Kohl in stand gehou, iets waarsonder niemand in Duitsland aan bewind sal bly nie. Die CDU en die FDP was natuurlike vennote en hulle beleid was so sentristies dat die meerderheid kiesers hulle daarmee kon vereenselwig.

Uit die huidige perspektief, met amper elke dag ʼn terroriste-aanslag en talle aardskuddende korrupsieskandale, was die dinge waaroor mense in die 1980’s opgewonde geraak het eintlik kleinighede. Kohl se eerste termyn was deur allerhande struwelinge gekenmerk en sy teenstanders binne sy party het hom probeer verwyder, maar hy kon elke keer weer bo uitkom, sy teenstanders uitknikker en die party agter hom verenig. ʼn Sekere stagnasie en min nuwe idees en nuwe gesigte was egter die keersy daarvan.

Kohl se hoogtepunt as leier, wat van hom ʼn staatsman gemaak het, was die dramatiese gebeure van 1989 en 1990, die val van kommunisme in die Sowjetunie en Oos-Europa en die hereniging van Duitsland. Aan die een kant was Kohl gelukkig om op die regte tyd op die regte plek te wees, aan die ander kant het die Duitse eenheid, sy groot prestasie, nie maar net vanself gebeur nie. Al was Kohl nie ʼn intellektueel nie, het hy ʼn stewige kennis van die geskiedenis gehad en het hy, anders as die filosowe en meningsvormers, ʼn instink gehad dat hierdie geskiedkundige gebeurtenis tot voordeel van Duitsland aangegryp moet word.

Terugskouend lyk dit ongelooflik hoe baie in minder as ʼn jaar gebeur het, van November 1989, toe die muur geval het, tot in Oktober 1990, toe Duitsland verenig is. Kohl het net op die regte tyd, toe die kreet “Ons is die volk” (die leuse van die burgerregtebeweging in Oos-Duitsland) verander het na “Ons is een volk”, die pad vir vereniging voorberei. ʼn Konfederasie tussen die twee Duitse state, bande tussen partye, organisasies, stede en provinsies en die instelling van die Duitse mark ook in die Duitse Demokratiese Republiek was alles bakens op die pad na vereniging.

Kohl moes die regte balans vind tussen groeiende populêre aandrang op vinnige vereniging (ten spyte van teenstand uit veral die klas van die linkse elite) en internasionale skeptisisme oor ʼn nog groter en magtiger Duitsland. Hy moes leiers soos Michail Gorbatsjof, George Bush, Margaret Thatcher en Francois Mitterrand asook die leiers van Pole en ander lande wat in die verlede slagoffers van Duitsland se aggressie was, oortuig dat ʼn verenigde Duitsland nie ʼn bedreiging nie, maar ʼn aanwins vir Europa sou wees. Om dit reg te kry, het Kohl saam met die Duitse eenheid die Europese eenheid bevorder.

Die oorskakeling van die Europese Gemeenskap na die Europese Unie deur die Verdrag van Maastricht en die instelling van ʼn gemeenskaplike geldeenheid, die euro, is grootliks deur Kohl gedryf. Dit was die prys vir die Duitse eenheid, maar Kohl was ook ʼn oortuigde Europeër en het dit as historiese missie beskou om die nasionale verdeeldheid te oorkom. Hy het nog tot die generasie behoort wat die Tweede Wêreldoorlog beleef het en diep onder die indruk gekom het dat die Europese lande so nou aan mekaar gebind moet word dat oorlog in Europa onmoontlik sou word.

Vandag het die destydse naïewe optimisme oor Europese vereniging plek gemaak vir ontnugtering met die EU en word die wysheid van ʼn gesamentlike geldeenheid tussen sulke uiteenlopende lande soos Duitsland en Griekeland bevraagteken.

Die gebeure van 1989 en 1990 het ook vir Kohl nog verdere verkiesingsoorwinnings verseker, maar in 1998 het hy die verkiesing teen Gerhard Schroeder verloor, nie omdat hy groot foute gemaak het nie, maar eenvoudig omdat die mense ná 16 jaar moeg geword het vir hom en sy beleid.

Kort ná die verlore verkiesing het ʼn skandaal oor ongedokumenteerde partyfinansiering Kohl ingehaal en sy status skade aangedoen. Hy het uit alle posisies bedank. Die skandaal het ook die pad vir Angela Merkel voorberei, omdat sy een van die min senior mense in die CDU was wat nie deur die skandaal geraak was nie en haar duidelik van Kohl gedistansieer het (ten spyte daarvan dat sy deur Kohl minister en een van die adjunkleiers gemaak is). Sy het die era van Kohl afgesluit en die CDU na links getrek.

Persoonlike rampe soos die selfmoord van sy vrou, Hannelore, ʼn beroerte en die vervreemding van sy seuns het Kohl ná sy aftrede getref. In 2008 het hy ʼn tweede keer getrou, dié keer met ʼn heelwat jonger vrou wat hom, wat in ʼn rolstoel was, versorg het. Met die herdenking van die Duitse eenheid in 2010 is hy nog ʼn keer wyd en syd geëer, maar het daarna maar min in die openbaar verskyn.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Houtoog ·

Verander die hoofopskrif se ‘Hemut’ na ‘Helmut’.

Janie du Plessis ·

Dagsê Houtoog,
Dankie vir jou kommentaar. Jammer vir die vingerglip, die berig is reeds gewysig.

Goetnis
Janie nms. Maroela Media

Therese van Schalkwyk ·

Dankie vir hierdie baie interessante stuk!
Het bitter min van Helmut Kohl geweet, maar sou sommer baie van die man kon hou. Enigiemand wat dit reg kry om die sogenaamde elite te irriteer, verdien ‘n lekker vetterige bratwurst!

Sebastiaan ·

Of ‘n “Pfaelzer Saumagen”, Kohl se gunsteling-gereg ;-0.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.