Een week in Hongarye: Boedapest en Pecs

Boedapest. (Foto: Sebastiaan Biehl)

Ek was nog nooit in die Balkanstreek nie en toe twee vriende die voorstel maak om Hongarye vir ʼn week lank te gaan verken, het ek dadelik ingestem. Daar is gelukkig ʼn trein wat daagliks direk van Berlyn na Boedapest ry en wat jou in 11 ure nie net van die Duitse na die Hongaarse hoofstad neem nie, maar boonop ook verby twee ander hoofstede, naamlik Praag (Tsjeggiese Republiek) en Bratislawa (Slowakye); bestemmings vir ʼn volgende keer.

Wene, nóg ʼn hoofstad, is ook naby. Die treinrit gaan deur die romantiese Middel-Europese landskap, soos die Elbe-vallei en die Sudentenland met sy berge, woude en kastele, dan al langs die Moldaurivier wat deur Praag vloei. Die Moldau sal ook as musiekstuk uit die monumentale patriotiese siklus ma vlast (my vaderland) van Frederik Smetana aan klassieke musiekliefhebbers bekend wees – een van sy grootste werke.

Hongarye is vandag in die Europese Unie (EU) amper in dieselfde bootjie waarin die “ou” Suid-Afrika was. Alles wat hulle doen word veroordeel en hulle is die sondebok waarteen die ander “verligtes” kan verenig in hulle morele meerderwaardigheid. Daarby het Hongarye nie net teen ontsettende lewensverliese gekeer dat die Turke Middel-Europa binnedring en sodoende die Awendland gered het nie, maar was ook van die eerste lande wat die sosialistiese ystergordyn afgebreek het, nog voor die val van die Berlynse muur.

‘n Plakkaat oor die referendum. (Foto: Sebastiaan Biehl)

Die nuutste steen des aanstoots tussen Hongarye en die EU is ʼn wet wat die uitbeelding of bevordering van homoseksualiteit onder kinders verbied. Om vir die links-liberale EU-leiers te wys dat die Hongare agter daardie wetsvoorstel staan, het Victor Orban, Hongaarse eerste minister, nou ʼn nasionale samespreking uitgeroep waar burgers in ʼn referendum oor dié en soortgelyke morele kwessies hulle opinie moet lug.

Dit moet egter beklemtoon word dat Orban of Hongarye nie teen homoseksuele mense per se gekant is nie, maar teen die blootstelling daarvan aan minderjariges. Ook in Boedapest en selfs Pecs het ons hier en daar die reënboogvlag en paartjies van dieselfde geslag hand aan hand en selfs ʼn transvestiet gesien. Trouens, ʼn dag voor ons aankoms was daar ook ʼn taamlike groot Christopherstraat-optog, blykbaar aangevul deur mense uit Oostenryk en Duitsland. Wat die EU-elite nie begryp nie is dat Hongarye egter vryheid van spraak het, waar jy ook die reg het om sekere heilige koeie te kritiseer – iets wat in die grootste deel van die EU as haatspraak geld.

Interessant genoeg is godsdienstige minderhede, spesifiek die Jode, in Hongarye veel veiliger as in die meeste Wes-Europese lande. Nie net skroom die Jode in Hongarye nie om in die openbaar hulle godsdienstige klere te dra nie, maar beskik Boedapest ook oor die grootste sinagoge in Europa. Daarteenoor soek ʼn mens tevergeefs na moskeë.

(Foto: Sebastiaan Biehl)

Ons het ons egter nie veel met politiek bemoei nie, maar veral die gees van die Awendland (ook Aandland) – wat hoogs lewendig in Hongarye is – ingedrink. Boedapest en ook Pecs is ʼn lus vir die oog met hulle magdom pronkgeboue: die St. Stefanskatedraal met sy imposante koepel, die spierwit parlementsgebou direk langs die Donaurivier, die Boedaheuwel waar die paleis van die eertydse Habsburg-dinastie asook die setel van die eerste minister en die bekende Vissersbastion is. Hier en ook elders in die stad word geskiedkundige geboue herstel. Die stad was een van die frontlinies in die Tweede Wêreldoorlog en dienooreenkomstig beskadig. Dekades van kommunistiese afskeep en wanbestuur het die verval vererger. Die trots op die stad en land met sy ryk geskiedenis is sigbaar in die pogings om die eertydse glorie te laat herleef. Boedapest het ook ʼn koffiehuiskultuur, amper vergelykbaar met Wene. Die New York Café met sy oordadige Neo-barok word as die pragtigste koffiehuis ter wêreld gereken.

Die stadsaal en hoofplein in Pecs. (Foto: Sebastiaan Biehl)

Pecs, heelwat kleiner met sy sowat 150 000 inwoners teenoor Boedapest se 2 000 000, het ook heelwat om te bied, soos ʼn asemrowende hoofplein en ʼn Middeleeuse katedraal met vier torings. Al twee stede dateer terug tot in die Romeinse era, waar die Donaurivier die grens van die Mediterreense beskawing teenoor die wildernis markeer het. Pecs was tydens die amper 150-jarige Turkse besetting van Hongarye (1543-1686) een van die sentrums van die Osmane. Uit dié tyd staan daar nog twee eertydse moskeë (deels op die fondasie van kerke gebou) wat later weer kerke of museums geword het.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marthinus W ·

Hongarye is `n Christen-land, waar taal en kultuur nog belangrik is. Omdat hulle nie die knieg voor die liberale Weste wil buig nie, word hulle onder druk geplaas deur die EU.

Filistyn ·

Like my dit is die regte plek indien jy wil immigreer – christelike waardes. Ek saluut julle beginsels en beny julle burgers .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.