Eers Christen, dan Afrikaner

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Kersfees is pas agter die rug. Dit is die tyd van die jaar wanneer ʼn mens oor allerlei sake – met inbegrip van jou eie lewe – besin. Wie is ek? Wat bepaal my lewe? Waarheen is ek op pad? Meer konkreet: Wat is die inhoud van my identiteit? Is ek primêr ʼn Suid-Afrikaner of ʼn Afrikaner? Of dalk heel eerste ʼn Christen?

Vir my persoonlik word my identiteit deur ’n mengsel van verskeie sake bepaal. Ek is (nie in volgorde van belangrikheid nie) manlik, heteroseksueel, ’n liefhebber van rugby, klassieke musiek en braaivleis, Afrikaner, Suid-Afrikaner, ek probeer ʼn Christen wees – noem maar op.

Tog moet ʼn mens êrens prioriteite stel. Wat is die belangrikste; wat is minder belangrik? Wel, hoe baie ek dit ook al geniet om ’n rugbywedstryd te aanskou, ek kan daarsonder leef as dit moet. Ook hang my bestaan nie van braaivleis af nie.

Die feit dat ek ’n heteroseksuele man is, beteken nie dat ek soos ’n pou pronk om indruk op die vrouegeslag te maak nie. (Met my bleskop en grys baard is dit in elk geval verlede tyd; ek is vinnig op pad na 70). Dit beteken ook nie dat ek neerkyk op vroue of homoseksuele mense nie. Ek kan nie help dat ek heteroseksueel en manlik is nie; dis vir my gegéé, maar ek gaan nie daaronder gebuk nie.

Uiteindelik moet dinge egter op ʼn ry gestel word. En mý ry lyk só (elkeen moet natuurlik sy eie ranglys saamstel): Vir my persoonlik is my – onvolkome – geloof die allerbelangrikste. Aangesien ek (agter die liefde aan) in Nederland woon, is ek lidmaat van die Protestantse Kerk hier, die Nederlandse ekwivalent van die NG Kerk, en wat ek daar aantref, is oneindig belangriker as die verskille.

Trouens, dit geld selfs die gelowige Rooms-Katolieke op die dorp waar ek kerk bywoon, Schipluiden, net buite Delft. Ons gemeente het uitstekende ekumeniese bande met die Katolieke, en by ons gesamentlike Bybelstudie-byeenkomste merk jy geen onoorkomelike verskille nie.

Daar is selfs twee Iranse vlugtelinge wat hier tot bekering gekom het en wat dikwels in die kerk kom. Hulle is onmiddellik gasvry in die gemeenskap ingetrek, soos die Christelike geloof ʼn mens ook opdra.

Uiteindelik dus, as dit puntjie by paaltjie kom, is jou identiteit as Christen belangriker as jou identiteit as Afrikaner, Nederlander, Iraniër, Zoeloe of Xhosa. Dit wil nie sê dat die ander aspekte van jou identiteit verdwyn nie, maar dit sak laer af in die ry.

Dit gesê bly my Afrikanerskap en my moedertaal belangrik, ook – en dalk veral – in die vreemde. Ek sal nooit iets anders as ʼn Afrikaner kan wees nie. Dis geen bewuste keuse nie, saam met my heteroseksualiteit en manlikheid is dit aan my gegéé.

ʼn Mens kry die indruk dat sommige mense deesdae hul etniese identiteit ekstra beklemtoon. Dis op sigself begryplik in omstandighede waar mense voel dat dié aspek van hul menswees onder druk is.

In Suid-Afrika is dit duidelik dat ʼn belangrike deel van die regerende ANC besluit het om die Afrikaner-identiteit sodanig onder druk te plaas dat dit ʼn langsame dood deur verstikking sterf. En die deel van die party wat nie aktief meewerk nie, staan passief langs die kantlyn en kyk toe sonder om in te gryp.

Wat dit des te erger maak, is dat ʼn aktiewe minderheid Afrikaners hulle daarvoor laat misbruik. ʼn Mens dink byvoorbeeld aan al die Afrikaanssprekende universiteitsrektore wat hul moedertaal in die rug steek deur die Engelse vloedgolf by wyse van spreke deur die agterdeur te laat binnestroom.

Ook in Europa, waar honderdduisende vlugtelinge uit die Midde-Ooste en Afrika die laaste jare ingekom het, sien jy ’n oplewing van etniese identiteit. Objektief gesien is mense se vrees om ondergeploeg te word hopeloos oordrewe, maar dit maak die subjektiewe vrees nie minder eg nie.

Politieke leiers het dus gemerk dat jy daardie gevoelens tot jou nadeel ignoreer. Dus is ook iemand soos Angela Merkel, Duitse bondskanselier, wat die vlugtelinge aanvanklik op grond van haar uitgesproke Christelike oortuigings toegelaat het, gedwing om ’n strenger beleid te voer.

As daardie Christelike oortuigings eg is, kan jy weliswaar nie mense wat in werklike nood verkeer, wegwys nie. Daar dink ʼn mens aan diegene uit Sirië, ʼn land wat deur burgeroorlog en verwoesting uitmekaar geskeur word en waar mense hul lewe nie seker is nie.

Maar goed, dit lyk of die burgeroorlog daar einde se kant toe staan. Moontlik sal jy sien dat talle Siriese vlugtelinge wat die laaste jare na Europa gekom het, in die volgende jaar of twee, drie weer teruggaan.

Anders is dit met onwettige migrante uit Afrika. Dis dikwels kansvatters wat eenvoudig ʼn beter lewe soek, maar wie se lewe nie akuut bedreig word nie.

Maar goed, hoe begryplik dit dus ook al is dat mense geneig is om hul etniese identiteit as belangriker as die Christelike geloofsoortuigings te verhef, dit bly – altans as jy gelowig is – problematies.

Baie Duitsers het presies dit in die jare dertig gedoen, toe die beweging bekend as Deutsche Christen die Bybel só herinterpreteer het dat dit die goddelose Nazi-ideologie geregverdig het. In ’n baie geringer opsig het ons Afrikaners ook in dié rigting beweeg toe ons apartheid uit die Bybel probeer verdedig het.

En in vorige eeue is die agterstel van vroue en selfs slawerny ook op grond van Bybeltekste as Gods wil verkondig.

Deesdae het ons natuurlik te make met politici wat beweer die ANC sal regeer totdat Jesus weer kom. En dat die ANC by sy stigting deur evangeliste en priesters geseën is, dat God se guns gevolglik nét op dié party rus, en nie op sy teenstanders nie.

Dis ewe verkeerd as wat mense in die verlede gedoen het. Die Bybelse boodskap is soewerein en mag nie as die eksklusiewe eiendom van enige ras, volk, geslag, politieke party of skaakklub of wat ook al geannekseer word nie.

Dít is wat ek so rondom die Kerstyd sit en filosofeer terwyl ek na die pragtige Kersmusiek van Bach, Handel of Mendelssohn op die radio luister.

Moenie ʼn fout maak nie. My gedagtes word in Afrikaans geformuleer. Maar hulle strek baie wyer as dié taal, hoe geliefd hy ook al is.

 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae