Eiendomsreg in die Ou Testament

huis-sleutels-huiseienaar-eiendomsreg

Foto: Mastersenaiper/Pixabay.com

Deur prof. Koos Adendorff

Die kwessie van eiedomsreg is ’n onderwerp wat vandag in Suid-Afrika tot vuurwarm debatte lei. Populistiese uitsprake deur politici dat wit mense die grond in Suid-Afrika gesteel het en dit moet teruggee, het gelei tot die ANC se voorneme om die Grondwet te verander sodat onteiening van eiendom sonder vergoeding wettig kan plaasvind. Daarmee is die lont vir ’n moontlike ontploffing aan die brand gesteek.

Dit was interessant en bemoedigend om in Amerika te verneem dat reg op privaat besit hoog geag word as een van die grondslae van ’n vrye samelewing. Meer as een van die onderwerpe wat aangebied is by die konferensie wat ons bygewoon het, het oor dié saak gehandel. Ek het die lesing oor eiendomsreg in die Ou Testament bygewoon, aangebied deur prof. John Bergsma van die Franciskaanse Universiteit van Steubenville.

Bergsma het daarop gewys dat besigheid en selfs eiendomsreg dikwels in die hedendaagse kultuur as inherent boos voorgestel word. In die lig daarvan het hy die vraag probeer beantwoord wat ons uit die eerste vyf hoofstukke van die Bybel kan leer oor die plek en verantwoordelikhede van eienaarskap. Wat volg, is enkele pennestrepe uit sy aanbieding.

Eiendom en aanbidding

Die saak van eiendom kom reeds in die openingshoofstukke van die Bybel voor. Binne die verbond wat die Here met Adam aangegaan het, het Hy die mens heerskappy oor die skepping gegee. Die mens het die reg om die tuin van Eden te bewoon en van sy vrugte te geniet, maar hierdie voorreg gaan met ’n verantwoordelikheid gepaard, naamlik om die tuin as sy besondere woonplek te bewerk en te bewaak (Gen. 2:15).

Wanneer ’n mens daaraan dink dat die tuin ook die plek is waar God en mens op ’n gereelde basis met mekaar gemeenskap gehad het (vgl. Gen. 3:8), besef jy dat die ekonomiese en liturgiese lewe van die mens ten nouste verweef is. Ekonomiese aktiwiteit is deel van die wyse waarop God aanbid moet word en moet op so ’n wyse bedryf word, dat God daardeur verheerlik word.

Die sondeval het ook die eiendomsreg van die mens aangetas. Die Here het die mens uit die tuin gestuur, maar steeds met die opdrag om die grond te bewerk (Gen. 3:23). Die besit van eiendom het egter nou onder die gevolge van die sondeval gely. Die moontlikheid is geopen dat die mens nou onregmatig van sy eiendom ontneem kan word. Hierdie moontlikheid word byvoorbeeld ’n werklikheid wanneer diewe inbreek en steel (Matt. 6:19) of mense deur gewelddadige aksies van hul grond verdryf word (Rig. 18:1-2, 27-29).

Eiendom as verbondseën

In die geskiedenis wat vanaf Genesis 12 opgeteken is, word gewys op die roeping van Abraham en die verbond wat die Here met hom gesluit het. Die besit van ’n eie land, naamlik die land Kanaän, is ’n belangrike deel van die verbondsbeloftes wat die Here aan Abraham gegee het. Die besit van eiendom is nou deel van die verbondseën (Gen. 13:14-17; 15:18; 26:3; 28:4) en het dit op grond van die verbond familiebesit gemaak. Daarmee is ’n individualistiese en selfsugtige benadering tot eiendom by die wortel afgesny. Die verdere verloop van die heilsgeskiedenis in Genesis toon hoedat hierdie verbondsbeloftes in die verkryging van besittings, d.w.s. persoonlike eiendom, werklikheid geword het: Die nageslag van Abraham sal met baie goed uit Egipte trek (Gen. 15:14); Abraham self was baie ryk aan vee, aan silwer en goud (Gen. 13:2); sy kleinseun Jakob het buitengewoon uitgebrei (Gen. 30:43). Hulle besittings het egter in diens van God se groot verlossingsplan gestaan.

Eiendomsreg wetlik beskerm

In die eerste hoofstukke van Eksodus lees ons van eiendomsontneming as deel van volksverdrukking. As gevolg van die slawerny is Israel van ekonomiese keuses beroof en was die demografiese beleid van die farao gemik op die uitwissing van Jakob se nageslag. Die verlossing wat die Here bewerk het, het herstel van ekonomiese en liturgiese vryheid vir Israel gebring. Hulle sou uiteindelik ’n eie land as besitting hê (Eks. 6:1-7) waar hulle die Here hul God kon aanbid. Uit die gegewens in Eksodus 10:21-26 lei ons verder af dat private besit ’n voorwaarde vir aanbidding is.

Die wetgewing by Sinai leer ons baie aangaande eiendomsreg:

  • Dit word in die agtste gebod beskerm (Eks. 20:15).
  • Die verbod op sondige begeertes veronderstel ’n bepaalde vlak van ongelykheid in die samelewing (Eks. 20:17).
  • Die voorskrifte in verband met restitusie hou die wettigheid van eiendomsregte in ere (Eks. 22:1-15).
  • Die voorsiening in die behoeftes van die armes is ’n verbondsplig en word aan die aanbidding van die Here verbind (Eks. 23:10-13, vergelyk ook Jak. 1:27).

Enkele gevolgtrekkings

Daar is veel meer in die Pentateug te ontdek aangaande eiendomsreg, maar wat sover gesê is, is genoeg om duidelik te maak dat die Ou Testamentiese wetgewing daarop gemik was om persoonlike eiendom, as ’n seën van God, ’n werklikheid vir elke Israeliet te maak. Dit is verder rigtinggewend dat besit van eiendom onlosmaaklik aan aanbidding en familie verbind is. Eiendom word in diens van God en die medemens aangewend en dien op só ’n wyse die gemeenskap met God en die medemens. Selfsugtige en individualistiese gebruik van eiendom was vreemd aan die Ou Testamentiese siening van eiendomsreg.

Hierdie pennestrepe dien as ’n wegspringplek om eiendomsreg in die Suid-Afrikaanse samelewing Bybels te deurdink.

  • Hierdie rubriek het oorspronklik op die APK se webwerf verskyn en word met die APK se vergunning op Maroela Media gepubliseer.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Boiledfrog ·

Hierdie is die Ou Testament. As God dit dus gesê het, het Jesus dit ook gesê omdat die Drie-enige God nie van mekaar kan verskil nie. En ja, Jesus kom onder verskeie ander benaminge in die Ou Testament voor. Die hoofletter van ‘n woord is ‘n goeie aanduiding, bv. Kneg.

MissDemeanor ·

Die Ou Testament se idee van eiendomsreg sluit ook salwerny in, asook die idee dat vrouens bessitings van mans is, soortgelyk aan kamele. Al wat mens uit die Ou Testament kan leer is “tye verander”.

Jerry ·

Jesus het gese volg my wee van geloof, hoop en liefde. Die Afrikaner nageslag het met baie goed uit Afrika/Suid Afrika getrek na elkeen se nuwe Kanaan, versprei na die uithoeke van die wereld, daar waar Afrikaner nageslagte welkom en veilig is om Jesus se wee te volg!

Saartjie ·

Het ek dit reg dat al hierdie voorbeelde van eiendomsreg net op mans van toepassing was?

Boiledfrog ·

Ag, Saartjie, In die ou Testament was die man die hoof van die huis of die familie, of die stam en het dit wat aan hom beloof is, vir die hele gesin bedoel. Wat karring julle feministe altyd so oor manlik en vroulik? Mans het ook reg op bestaan. Ons kan mos nie God se wil bevraagteken nie?

Jerry ·

Ja Saartjie, dit is so in die ou testament, daarom het Jesus volgens die nuwe testament die wereld kom belig met die waarheid. Jesus het bv. gese dat die besnydenis wat Abraham ingestel het en wat net vir seuns geld verander hy wat Jesus is, na die doop, want dit is vir seuns en dogters! Daarmee het Jesus seuns en dogters gelyk gestel. Die profete was besiel met die werke van God en het foute gemaak en daarom het Jesus wat besiel was deur die heilige gees die wereld kom belig met die waarheid. Volg jy die ou testament slaafs na volg jy mense wat besiel was met die werke van God, mense wat foute gemaak het na. Volg jy Jesus se wee, dan volg jy die seun van God wat besiel was met die heilige gees, dan volg jy die waarheid!

Ray ·

Ek is nou nie sy grootste “fan” nie, maar ek luister netnou na Kurt Darren se nuwe liedjie. Dink ek toe by myself. Hierdie tipe van kommentaar word elke dag lukraak rondgegooi. Die interessante ding is dat gelyke regte word daagliks genoem, maar as daar beskerm moet word dan val dit op die man. As daar fout gaan en daar is nie kos nie, is dit die man se skuld. Die man however is die ergste ding wat in almal se lewens kan wees. Veral ‘n wit man. Ek is nou al op die punt waar ek lus voel en se. Nou maar moenie al die verantwoordelikheid op my skuif nie, vat die verantwoordelikheid, ons kan rolle ruil. Elke persoon hetsy ‘n man of vrou het ‘n rol in die samelewing. Hoekom wil ons mekaar se rolle so gemaklik oorvat of kommentaar lewer? Dit versuur net ons almal se lewens op ‘n daaglikse basis.

Eish ·

En toe stry ons…

Die prof gooi toe onse eiendom innie Woord,
en toe stry ons!
Baie van ons is sonder selfs brood,
en toe stry ons!
Kinders wyk uit oorsee,
en toe stry ons!
Flip sê née, doen plan B,
en toe stry ons!

Help ook maar nie ons haal net die stukkie uit die Woord wat ons argument pas nie. Die skuld wat afgeskryf moet word na 7 jaar en grond wat moet terug na die oorspronklike eienaar in die Jubelium jaar (49ste) is net so deel daarvan as aangehaalde dele in die artikel.
En toe stry ons…

Leerling ·

Nee, dogters kon ook erf. Lees Num 27.
As daar nie seuns is nie, het die dogters ge-erf

Jerry ·

Eish is reg! Ons moet ophou stry. Daar is egter n punt in tyd wat ons sal bereik wat ons sal dwing om nie meer te stry nie en om saam te staan. Ons is egter nog nie by daardie punt nie Eish! Ons het nog met die genade van bo nog tyd om te stry om ons huis in orde te kry!

Conrad ·

Gegewe die Ou Testament het God sy opinie verander in die Nuwe Testament?

Jesus het na hom gekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: “Net een ding kom jy kort. Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My!”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.