#JongStemme: ‘Ek is 23 en ’n Christen’

dirk-meijer

Dirk Meijer. Foto: Verskaf.

Deur Dirk Meijer

Nie lank terug nie het daar in die media ʼn artikel verskyn met die titel “Ek is 24 en nie ʼn Christen nie”. Nog ʼn reeks soortgelyke skrywes uit die penne van jong Afrikaners het die media gebombardeer, en elkeen blaas selfgerigte godsdiens op sy eie manier aan. Dit is niks vreemds in ons wêreld dat my stem die belangrikste is en ek eerder gehoor wil word as om te luister nie. So skep elkeen maar sy “eie waarheid”.

Die artikel van die 24-jarige het my egter met groot hartseer gevul. Simpatie tot op ʼn punt, maar grotendeels hartseer. Hy is moeg vir die kerk met al sy voorwaardes. “So, ek is nie meer ʼn Christen nie” sê hy, “ek is wel in ʼn aktiewe liefdesverhouding met God”.

Die naam Christen het vir baie ʼn skeldnaam geword. Vir sommige met goeie rede – weens ʼn klomp sogenaamde “naam-Christene” vir wie die woord Christen net ʼn inhoudlose titel geword het. Daarom gooi heelwat mense, soos die 24-jarige, eerder die titel weg. Tegelykertyd word die baba saam met die badwater uitgegooi. Die kerk en enigiets wat Christene in lyn met God se Woord sê, word eenkant toe geskuif. Die eindresultaat is drasties: jou eie idees oor God kry voorrang bo die stem van God self.

Maar, ek is ook (amper) 24, en ek is ook in ʼn aktiewe liefdesverhouding met God. Én ek is ʼn Christen. Saam met my gelowige broers en susters in Antiochië, wat omtrent 2 000 jaar gelede vir die eerste keer Christene genoem is (Hand. 11:26), is die naam Christen vir my ʼn eretitel. Christen is nie net ʼn naam nie, dit is my identiteit. Dit beteken ek is een met Christus, en daarom wil ek Hom navolg in alles wat Hy van my vra.

Uit myself sou ek nie ʼn Christen gewees het nie. Ek roem veel eerder in God wat my deur sy onvoorwaardelike liefde nuut gemaak het. Maar nou lei Hy my ook deur sy Gees om ook vir Hom lief te wees. Dit is wat Christen-wees inhou: nie om God se liefde te verdraai om heeltyd maar my eie kop te volg nie, maar om Christus te volg in al sy spore. So sê Jesus tog Self vir sy volgelinge: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg.” (Luk. 9:23).

Om jouself te verloën, is nie iets wat sommerso vanself gebeur nie, veral nie in ons egosentriese kultuur nie. As Christen wil ek egter gekenmerk word aan selfverloëning. Daarom skuif ek eerder my eie idees eenkant om biddend na God se wil te soek. Voordat my mond oopgaan, wil ek hê my ore moet oop wees. Ek wil luister na wat God sê en kerk wees soos wat Hy dit wil hê. Ek wil hard stry teen sonde omdat God sonde haat. Ek wil my naaste in waarheid liefhê en ek wil Christus se Naam bely in ʼn wêreld wat dit so nodig het. Ek wil God aanbid soos wat Hy aanbid wil word.

Ek is maar 23 jaar oud in ʼn wêreld waar ek gekonfronteer word met elke persoon se “eie waarheid”, maar met ʼn hart vol blydskap mag en wil ek as Christen voor die enigste Waarheid buig.

  • Dirk Meijer kom van Pretoria af en studeer tans Teologie aan die NWU. Hy beywer hom vir die opbou en uitbou van die Gereformeerde leer en lewe.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan! 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

35 Kommentare

Sarie ·

Jy is reg hierdie blydskap wat alle verstand te bowe gaan is die enigste antwoord tot ‘n vervulde lewe en kan net deur die Gees binne in jou verwek word. Dis soos suurdeeg. Werk stadig maar seker. Hoe gelukkig is jy om dit so op ‘n jong ouderdom te ontdek. Die teksvers by my belydenisaflegging was – Laat Hy meer word en ek minder.

stefan ·

Dirk, dit was nou lekker om jou stuk te lees. So saam met die oggend de koffie het jy sommer my hart ook warm gemaak. Ek stem 100% saam met jou, wat ander mense wat hulself Christene doen kan nie bepaal hoe ek myself definieer nie.
Sterkte met jou studies

Nika ·

Wat n wonderlikke artikel! Dit is so waar, baie mense wil hê die Bybel en Christenskap moet by hulle aanpas en nie anders om nie. Ek dink hierdie 24-jarige is n goeie voorbeeld hoe ons as Christene moet optree en wees. Dit is n eretitel waarop ons moet trots wees.

Marlise Odendaal ·

Dankie vir jou getuienis. Dankie vir Jesus se liefde. Dankie vir God se genade. Nou kan die heilige gees, wat in ons woon, die werk wat jy met dié leesstuk begin het, verder neem.

Kobus ·

Dirk mag jy geseëd wees in jou studies. Mag Messias ook jou oë oopmaak ten opsigte van die strydighede met Sy Woorde teenoor die van die kerklike doktrine wat jy leer. Baie goeie dinge is op universiteit te leer maar onthou God se Woord staan steeds bo mense se woorde.
VB. Joh14:15 “As julle My liefhet, bewaar my gebooie.” (53 vertaling) die 83 vertaling praat van “opdragte” Gaan ondersoek wat meer korrek is. Onthou dan die Gebooie wat Hy ons gegee het (Exodus 20) waarvan ons hedendaagse samelweing veral die 4de gebod verdraai soos dit ons pas en “bewaar” ons nie meer die gebod van Hom nie, maar ons eie een.

Charles ·

Baie dankie vir jou stuk, dit is pragtig!
Ek het onlangs die rolprent “Paul, Apostle of Christ” gekoop en dit inspireer my werklik!
Ek is wat beskryf word as ‘n “millennial” (gebore in die tydperk 1980-1994) , en wat vir my snaaks is dat Gen Z (die wat gebore is in ’95 en daarna) meer konserwatief, behoudend en koersvas moet wees, maar dit bly egter nie die geval te wees met ‘n klomp jongmense nie, met jyself wat een ligpunt is.
God-seen!

JANEE ·

Steeds sal ek dit van die dak basuin …..Ek is n Christen!! God is my Verlosser…n eretitel om n kind van ons Almagtige Vader te wees….dankie Heer.

Tannie ·

Ek weet regtigwaar nie hoe mense wat die Here nie ken nie, staande bly in hierdie gebroke wêreld. Ek kan maar net dankbaar wees die Here het my in Sy groot genade Sy kind gemaak.

Die wat nie Sy kind is nie, sal altyd neerhalende en afbrekende kommentaar sal hê.

Erna van Biljon ·

Ek stem saam met Tannie. Die wereld is donker en vol boosheid. Geen mens kan staande bly sonder die krag en genade en wysheid en liefde van die Allerhoogste en Almagtige God en Vader nie. Sonder Hom is ons veral in hierdie pragtige land van ons wat so ontsier word deur haat tussen wit en swart, weerloos.

Tannie ·

Dis waar, Erna. Wanneer dit vir my voel die boosheid raak te veel en wil my oorweldig, troos dit om te weet ons tydjie op aarde is van verbygaande aard, daar wag ‘n ewige heerlikheid vir ons. Ons moet bid dat ons geloof behoue sal bly, en ons moet elke geleentheid gebruik waar ons die lig van die Here kan laat skyn in die donkerte van Suid-Afrika. Nie vir eie “honour en glory nie”, maar tot Sy eer.

OWO ·

Ek wil nie graag in jou skoene staan nie.Die dag as jou lewe hier op aarde verby is,gaan God jou net vraag vra.Hoekom moet Ek iemand in die hemel toelaat wat niks met My te doen wou gehad het op aarde nie?God se:Jou keuse wat jy uitoefen,is die keuse waarmee jy in die ewigheid gaan leef.Sterkte.

Netta ·

My liewe Dirk
Dis ‘n inspirerende getuienis wat jy hier lewer. Trouens, jy herinner my baie aan myself op daardie ouderdom. Maar dertig jaar later is my innige wens vir jou: minder dogma en meer Gees, selfs al moet dit jou wegneem van jou herkoms. Ek het ook onder Potch se akkerbome geloop en gedink dat ek die saligheid het. Ons God is die Almagtige Vader en Skepper en Onderhouer en Christus Verlosser, maar ook Gees wat bonatuurlik bystaan en wonders doen en hemel en aarde beweeg vir dié wat Hom gehoorsaam en soek na sy wil vir hul lewens. Maak Hebreërs 11:6 deel van jou daaglikse geloof en bestaan. En dit het absoluut niks met welvaartsteologie te doen nie.
Sterkte vir jou.

NET EK ·

Mens hoef nie kerk toe te gaan om n christen te wees nie …. mens kan Die Here dien in jou eie huis of woon plekkie

Edmund ·

Dirk, baie dankie vir jou artikel. Ek wens jou baie sterkte toe met jou studies. Mag God jou seën.

liefie ·

Baie geluk aan ons aspirante predikant. Alles wat goed is vir die toekoms en mag die Woord van God jou lei.

Floyd ·

In my eerlike opinie as iemand wat Christenskap verwerp het (nee, nie agv ander mense in die kerk), lewe ek n lewe wat ek op trots kan wees. Indien God besluit om goeie mense, wat immers net nie glo nie, hel toe te stuur, bly dit n geloof van huigelaars. Buitendien, daar was nog net een Christen en die het op die kruis gesterf.

John ·

Jaco, waar leer jy die verskil tussen verkeerd en reg en voor wie buig jy jou knie saans voor jy jou oè sluit om dankie te sè vir al jou seèninge en by wie pleit jy om hulp en genade?

Ander Jaco ·

Dankie vir die stukkie Dirk. Belangrik om die regte leer te laat hoor. Met geen verbasing maar tog met hartseer kommentaar deur mense wat nie die Woord ken nie en menslike sienings deel. Ek sal graag wil sien dat hulle hulself met die regte leer vereenselwig dat hulle ook die berig kan verstaan. Ons lees veral oor hierdie sienings in Openbaring en soos ons weet kan ons slegs getuig in leer en lewe maar nie oortuig. Gelukkig het God dit nie so besluit dat ons ons eie verlossing moet bewerk nie maar dat Hy ons deur genade aangeneem en uitverkies het. Sterkte met jou die res van jou studies.

Jerry ·

Baie mooi Dirk. As dit jou roeping is en jou gelukkig maak, gaan voluit daarvoor. Neem jou roeping ernstig op en skryf ook n brief aan Steve, net dalk sal die skille van sy oe afval!

Dries du Toit ·

Aag Jerrie. Jy het n obsessie oor Steve. Seker vrek bang vir hom

Petrus ·

Ek was pas in Nederland. Die Gereformeerde kerke daar is maar leeg en maak plek-plek toe. Die jong man moet na sy studies sendingwerk daar gaan doen. Islam neem oor.

Ruan ·

Dit is ‘n voorreg om Dirk te ken en te weet dat hy nie net iemand is wat praat nie, maar iemand is wat Christus werklik volg.

Oom Pieter ban der Dussen ·

Nee Hello! Die Here Jesus het Sy dissipels opgedra: Gaan heen en verkondig My Evangelie aan alle tale en volke en nasies tot aan die eindes van die aarde. Die Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, het hier aan die einde van die Afrika-aarde ‘n nuwe volk in die lewe geroep van wie uit die geskiedenis blyk dat hierdie volk aan die einde van Afrika daardie opdrag moet uitvoer. Dat hierdie volkie nog bestaan, is bevestiging daarvan. Hierdie volkie heet Afrikanervolk, wat vandag ook Engelstaliges en ander insluit wat hulle met ons vereenselwig, besonderlik ten opsigte van ons geroepenheid. En deesdae staan daar talle kerktorings waar honderde duisende Christene van alle volke en tale in die land die HERE aanroep, hoofsaaklik Sondag, soos dit hoort. Dit gaan nie oor mense nie, maar enkel en alleen oor die Eer van God.

Oom Pieter van der Dussen ·

Ons was bevoorreg om aanstaande Proponent Dirk Meijer op 16 Junie te hoor preek. Vir ‘n student-predikant spreek sy Woordverkondiging tot troos van die Gemeente van groot genade dat so ‘n jong man in hierdie tyd van verwording en afval die Woord uit die Woord verkondig: Só sê die HERE! Sy vrou,, ouers en skoonouers en gesinslede lewe almal hulle lewe lank binne die Genadeverbond en mag dankbaar wees dat Dirk soos sy ouer broer vasstaan op die Vaste Fondament van onse Here Jesus Christus, die Hoeksteen van ons geloof. Dirk, wanneer stuur jy jou preke? Jou Pa het my eposadres

humor ·

Belaglik!Mooi getuienis van wat? Kwalifiseer tog breedvoerig of se vir almal dapper en ronduit dat jy n ateis is.

sherise ·

Dirk, wat n wonderlike artikel, dankie.
Ja ek sal ook staan vir my God, en n wedergebore Christen sal ek bly..dankie vir jou wat opstaan en wat glo in wat reg is.

Ronel Nortje ·

Jaco, ek kan nie verstaan nie – die berig, wat nogal lank is, is nie nuuswaardig nie, maar duidelik het jy dit gelees. Hoekom dit dan lees? Jy weet daar is duisende ander berigte wat jy kan lees, wat dalk vir jou meer “nuuswaardig” kan wees. Gelukkig is daar baie mense wat hierdie berig wel “nuuswaardig” vind en selfs iets daaruit kan leer. Ek sê maar net.

Ruan Combrink ·

Mooi jongman. Hierdie tipe nederigheid is deesdae skaars.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.