Emosie en rasionaliteit – ’n balanstoertjie soos min

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Elke mens herberg twee – teenstrydige – elemente in sy of haar boesem: emosie en rasionaliteit.

Álbei is noodsaaklik as jy volledig mens wil wees. Maar as die een ten koste van die ander oorheers, ontstaan daar ’n probleem.

Dit is teen dié agtergrond dat ’n mens die laaste tyd se gebeure in Senekal moet beskou.

Daar het wit en swart verlede week byna slaags geraak na aanleiding van die moord op die plaasvoorman Brendin Horner van Paul Roux. Voor dit het ’n groep mense die polisiekantoor in Senekal glo bestorm om te keer dat die beweerde moordenaars op borgtog vrygelaat word.

Op die gevaar af om gruwelik te oorvereenvoudig, kan ’n mens drie groepe hier identifiseer – twee by die wit mense en een by die swart mense.

By die wit mense bestaan die een groep – blykbaar ’n kleinerige minderheid – uit ’n aantal regse ekstremiste. As ’n mens op ’n indrukartikel in verlede Sondag se Rapport kan afgaan, is een van die voorbokke onder dié groep ene Hannes van Zyl, wat in 1994 medepligtig was aan die ontploffing van ’n pypbom by Germiston se taxistaanplek, waarin 10 mense dood en agt ernstig beseer is.

Dié ekstremiste het blykbaar tot die tande toe gewapen en geklee in kamoefleeruniforms in Senekal opgedaag.

Die ander groep wit mense, onder leiding van die burgerregte-organisasie AfriForum, is meer gematig. Hulle het ook verlede week ’n betoging in Senekal gehou, maar dit het vreedsaam en ordelik verloop.

In ’n verklaring het AfriForum se uitvoerende hoof, Kallie Kriel, gesê die beweging “is trots dat ons ondersteuners vandag gewys het jy kan kwaad wees oor plaasmoorde en die terreur wat op ons plase losgelaat word, maar dié woede terselfdertyd op ’n baie ordelike wyse wys”.

Daar is nie alte veel liefde tussen dié twee groepe verlore nie. Van Zyl het aan Rapport gesê sy groep “is nie saam met AfriForum en hul liberale maatjies nie. Waar was hulle en die Facebook-warriors in Bophuthatswana of by die Slag van Ventersdorp? Waar was hierdie mense by Eugène Terre’Blanche se begrafnis?”

Miskien doen ek die swart mense op die toneel in Senekal nou ’n onreg aan, maar ek kon slegs een groep identifiseer. Dit was die EFF onder leiding van Julius Malema homselwers.

Malema het homself in ’n toespraak voor sy ondersteuners oortref. Hy het ’n apologie en miljoene se skadevergoeding van wit mense aan swart mense geëis: “Vir hul apartheid, vir hul verkragting en moord. Wanneer hulle ekskuus vra, moet hulle dit op die Afrika-manier doen. Ons het vee nodig … ’n sinoniem vir geld. Hulle moet ons miljarde en miljarde betaal.”

Hy het ontken dat plaasmoorde plaasvind: “Geen wit boere word in Suid-Afrika doodgemaak nie. In Suid-Afrika word [swart] vroue doodgemaak. In Suid-Afrika word [swart] kinders doodgemaak.”

Ek het al tevore op ’n interessante feit gewys, maar dis hier uiters relevant. Moenie die politieke spektrum as ’n reguit lyn van uiters links tot uiters regs sien nie. Sien dit eerder as ’n hoefyster, waar die uiterstes na aan mekaar is, in elk geval veel nader as die afstand tussen hulle en die gematigdes aan die bopunt van die hoefyster.

Dis ’n verskynsel wat herhaaldelik in die 20ste eeuse geskiedenis gesien kon word.

Benito Mussolini het sy politieke loopbaan as ’n linkse ekstremis begin, maar kon moeiteloos na regs-ekstremisties oorskakel. As jy kyk hoe Adolf Hitler en Josef Stalin se diktature hulself in die praktyk gemanifesteer het, sien jy hoe groot die ooreenkomste was. Geen wonder nie dat hulle hul dikwels baie lowend oor mekaar uitgelaat het.

Dieselfde geld vir die EFF en die groepie regses in Senekal. Wat hulle met mekaar verbind, is hul ekstremistiese idees, hul ontkenning van die werklikheid.

Hier kom ons weer terug by die begin van die artikel – emosie en rasionele denke.

Albei is nodig. As jy geen emosie het nie, is jy ’n kil masjien wat nie kan nadink nie. Haat en vrees is deel van die menslike psige, maar so ook liefde en mededoë. Dis wat mense ménse maak.

Maar mense is ook in staat tot rasionele denke. Cogito, ergo sum (“Ek dink, daarom bestaan ek”), lui die Franse filosoof René Descartes (1596-1650) se beroemde uitspraak.

Die Atheense filosoof Sokrates (470-399 v.C.) het sy stadsgenote se oordrewe emosies en vanselfsprekende aannames oor alles en nog wat getoets met voortdurende kritiese vrae. Hy het mense gedwing om hul fundamentele uitgangspunte steeds opnuut te ondersoek (een van sy bekendste uitsprake lui: “’n Ongetoetste lewe is nie die moeite werd nie”).

Sokrates het met sy lastige vrae homself natuurlik baie ongewild gemaak, en uiteindelik is hy gedwing om gif te drink. Maar sy soort kritiese vrae is van die grootste belang in enige samelewing – en dit kry jy nie by Hannes van Zyl of Julius Malema nie.

Albei se wêreldbeeld word deur negatiewe emosies – haat en vrees – bepaal. Albei laat hulle lei deur ideologieë – hier gedefinieer as ’n gedagtestelsel wat aan jou voorskryf hoe die werklikheid lyk, pleks daarvan dat dit die werklikheid soos dit ís, help verklaar.

Albei word beïnvloed deur vyandbeelde. Vir Malema is alle wit mense leuenaars, diewe en rassiste. Vir die wit ekstremiste is alle swart mense wreed en minderwaardig.

Meer nog: Malema en Van Zyl duld geen ander denke naas hul eie nie. Húlle is reg, en niémand anders het die waarheid nie (selfs Kallie Kriel en AfriForum is – snak na asem – “liberaal”).

As jy eenmaal só dink, is dit net ’n enkele tree na ’n totalitêre stelsel waar afwykende menings ontoelaatbaar is en diegene wat hulle daaraan skuldig maak, vervolg word. Dit sien ’n mens tans in lande soos Rusland, China, Turkye, en in mindere mate ook in Pole en Hongarye.

Let wel, regse en linkse ekstremiste is ewe geneig om só op te tree.

Die fundamentele probleem tree dus na vore wanneer een van die twee elemente wat ons reg aan die begin van die artikel genoem het – emosie en rasionele denke – sodanig oorheers dat dit die ander dooddruk. Dis wat die laaste tyd by sommige mense in Senekal gebeur het.

Emosie is normaal. So ook rasionaliteit. Maar hou hulle in ewewig!

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Mieke

Die probleem kom wanneer normale morele waardes laat vaar word en die groep die ‘normale’ mense begin benadel met hulle selfsugtigheid, onvergifnis en wraaksugtigheid oor verkeerde, waningeligte en verdraaide feite, waarin hulle nou glo. Dit dien dan basis vir die ontstaan van die groep, waarin ongeletterdes gebruik word om hulle ideologie te bereik.

Maria

‘n Mens vra jouself die vraag af – watter soort mens sou dit nodig voel om op te tree teen alle grein van ordentlikheid, respek en goedheid? Wat gaan aan met Malema of enige rassis dat hulle so optree? Die antwoord kan net wees – ‘n baie stukkende groep mense. Dinge in so ‘n mens se lewe het seker nie aldag goed geloop nie. Mens hoop dat mens met so ‘n persoon kan praat en sê: Hoe kan ek u beter leer ken? Wat is u lewensverhaal – waar het dinge verkeerd geloop vir u? Wat kan ek en jy… Lees meer »

Drikus

Het ordentlikheid ‘n perk? Wanneer is genoeg gepraat genoeg? Wat maak dat die balans waarvan hierbo gepraat word so verstuur word, dat iets in ‘n totale wan-belans omswaai? 2020 -1994 = 26. Ses-en-twintig jaar van mooi praat, kompromieë, ooreenkomste, ondersoekende kommissies, regsuitsprake ens. Die lys gaan aan en aan. Hoe vêr moet ‘n mens agteroor buig, sonder om self te breek?