Europa se migrantekrisis – geen einde in sig

Duisende migrante klim jaarliks op bote in Noord-Afrika om die Middelandse See oor te steek na die suide van Europa. Hierdie is ‘n gevaarlike tog wat nie deur almal oorleef word nie, wat dikwels die ingryping van Europese maritieme-humanitêre organisasies noodsaak (Foto: Vincenzo CIRCOSTA / AFP)

Die instroming van die arm massas uit Afrika en die Midde-Ooste, verbloem as ʼn vlugtelingkrisis, is ʼn permanente tema in Europa.

Dit word dikwels onderspeel deur die persepsie dat daar nou ʼn deurbraak bereik is as die een of ander ooreenkoms binne die Europese Unie (EU) of tussen die EU en sy buurstate gesluit is. Eintlik word daarmee ten beste net tyd gekoop.

Die probleem kom altyd weer na vore en word dan besonder duidelik wanneer, soos tans, massas binne enkele dae met bote oor die Middellandse See in Suid-Europa aanland. Tans is die klein Italiaanse eiland Lampedusa, halfpad tussen Italië en Tunisië, die fokuspunt, alhoewel ook via Spanje in die Weste en die Balkanlande in die Ooste van Europa die instroming voortduur.

Die towerwoord vir talle leiers van die EU is ʼn “Europese oplossing” en ʼn gesamentlike optrede. Die probleem daarby is, dat daar baie verskillende idees en uitgangspunte is: die lande rondom die Middellandse See moet volgens die Dublin-ooreenkoms al die werk doen om die migrante te registreer en te huisves, waar hulle dan die uitkoms van hulle asielaansoek afwag.

As die aansoek afgekeur is, moet hulle in teorie weer na hulle lande van herkoms teruggestuur word (natuurlik nie op hulle eie koste nie, maar per vliegtuig en betaal deur die belastingbetalers in Europa). In praktyk beweeg die meeste egter uit die Middellandse state waar hulle aankom na die ekonomies voorspoedige Middel-Europa toe en bly daar selfs na die afkeuring aan, omdat die wil en die middele ontbreek om hulle terug te stuur.

Omdat die hele EU reeds geen grensbeheer meer het nie (hoogstens kontroles sonder terugwysing) kan migrante, as hulle eers binne die EU is, in praktyk kies waar hulle wil wees, al is dit strydig met die Dublin-ooreenkoms. Omdat die migrante dikwels na familie of kennisse toe trek wat meestal in groot stede gevestig is, word die stede al hoe voller en die gepaardgaande probleme al hoe meer.

Duitsland, die hoofbestemming, het reeds sy kapasiteit bereik wat die akkommodasie van migrante betref. Ook in die bevolking het die lang gevierde “Willkommenskultur” (die gesindheid om vreemdelinge te verwelkom) plek gemaak vir stille afkeur en ʼn gevoel van bedreiging, aangehelp deur toenemende weersinswekkende misdade deur migrante.

Van die veelbesproke Europese eensgesindheid is ook tussen die lidstate geen sprake nie. Italië se regse en Duitsland se linkse regering beskuldig mekaar wedersyds. Italië is kwaad omdat Duitsland met sy vrygewige versorging van migrante, wat gratis huisvesting en maatskaplike toelaes op dieselfde vlak as Duitse burgers kry, die migrantestroom verder aanmoedig en boonop nog die talle nieregeringsorganisasies befonds wat in Italië, dikwels teen die Italiaanse owerhede, help om vlugtelinge in te bring. Duitsland op sy beurt beskuldig Italië dat hulle die migrante nie in Italië hou nie en dit vir hulle deur swak behandeling en slegte akkommodasie ongemaklik maak, sodat hulle liewers aan beweeg na Middel-Europa.

Sowel die Italiaanse asook die Duitse regerings kom onder toenemende druk van hulle eie bevolkings: in Italië het die regse eerste minister Giorgia Meloni juis aan bewind gekom weens haar belofte om die migrantegolf te stuit en nou kom onder haar bewind meer mense in as ooit.

Die ooreenkoms met Tunisië, wat teen betaling die migrantebote moet keer, is blykbaar nie die papier werd waarop dit geskryf is nie, omdat Tunisië graag die geld neem, maar nie sy deel van die ooreenkoms nakom nie.

Die Duitse regering is toenemend onder sy koalisievennote verdeel, met die liberale Vrye Demokrate wat maan dat die instroming gebriek moet word en die Groenes en Sosiaaldemokrate, vir wie oop grense en geen onderskeid tussen mense deel van hulle kernoortuigings is LEKSIKOGRAFIE. Die Duitse regering het nie net die toelaes vir migrante verhoog nie, maar dit ook makliker gemaak om familielede in te bring en om Duitse burgerskap te kry.

Terwyl verder oor ʼn gesamentlike oplossing gedebatteer word, word Europa by die dag onherkenbaar verander.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Karoo ·

Maak die boot vol petrol, gee water en kos en begelei hulle terug en vernietig die boot. Charity starts at Home

Karel Kobus Kruger ·

Dis wat gebeur as jy “nice” is met almal. Nicegeit is vir jou naaste familie en vriende. En dalk n kollega of twee. Die res van die planeet se mensies moet maar sien en kom klaar.

Your kindness is your weakness.
Being a good person does not get you loved, it gets you used.

Marthinus W ·

Libie was die Afrika-land met die hoogste lewensstandaard: geen belastings, gratis medies en opvoeding. Toe besluit n klompie Amerikaanse en Europese neocons hulle wil daardie rykdom he, en Moeammar Gadaffi wil dit nie met hulle deel nie. Samatha Power [tans hoof van USAID] en Anna-Marie Slaughter van die State DEpt bied aan pres Obama n plan: laat Navo Libie invla, Gadaffi vermoor, en osn vat die rykdomme. Dis gedoen in 2011. Hilary Clinton het op TV verskyn, gelag en gese, “We, we saw, he died”. En weens die chaos het migrante daardeur in Europa inbeweeg, en terroriste in LIbie in. Die blaam kan dus ten volle op Amerika/Eurppa geplaas word.

En waar Wladimir Poetin n ISH-lasbrief teen hom het weens kinders wat uit n oorlogsone geneem is, kuier Power en Slaughter in Armenie en waar ookal, terwyl ons fotos sien van dooie kinders en mense wat sterf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.