Europese verkiesing ʼn groot uitdaging vir Britse politiek

Pro-Brexit-ondersteuners neem deel aan die “March to Leave” in Londen (29 Maart 2019) (Foto: AP Photo/Matt Dunham)

Twee maande gelede was Brittanje nog veronderstel om op 29 Maart uit die Europese Unie te tree, en sou die land nie aan die Europese verkiesing deelgeneem het nie. Intussen is die Britte se uittrede uit die Europese Unie (EU) tot Oktober uitgestel en woed daar ’n verstommende verkiesingsveldtog waarin die politieke toneel in Brittanje behoorlik op sy kop gekeer word.

Met minder as twee weke voor die verkiesing is dit die Brexit Party, ’n nuwe politieke party wat eers op 20 Januarie vanjaar saamgestel is, wat in die peilings voorloop. Die Brexit Party het slegs een doel voor oë en dit is om te verseker dat die wil van Britse kiesers – dat Brittanje uit die Europese Unie moet tree – realiseer.

Oor die afgelope paar maande het die Britse eerste minister Theresa May en haar Konserwatiewe Party probeer om ’n ooreenkoms met die Europese Unie vir Brittanje se uittrede te sluit. Die hele poging het klaaglik misluk weens die verdeeldheid in Tory-geledere oor die toekomstige verhouding tussen Brittanje en die EU.

Intussen het Theresa May ook gesprekke met die Arbeidersparty aangeknoop in die hoop dat ’n skikking tussen ’n deel van haar party en ’n deel van die hoofopposisie tot ’n meerderheidstem in die Britse parlement kan lei. Dit blyk toenemend dat daar ook niks hiervan gaan kom nie.

Miljoene Britte is met goeie rede moeg vir die wyse waarop Brexit hanteer is en mense is gefrustreerd met die gevolge wat die Brexit-drama op hul land se beeld en ekonomie het. Nigel Farage het reeds jare gelede die gesig geword van die veldtog om Brittanje uit die Europese Unie te neem. Nadat ’n meerderheid van kiesers in 2016 ten gunste van uittrede gestem het, het Farage uitgetree as leier van sy party, die Verenigde Koninkryk Onafhanklikheidsparty.

In Januarie vanjaar het hy egter die Brexit Party daargestel en die nuutste peilings wys dat dié party tot 35% van die stemme in die komende Europese verkiesing kan kry. Dit is heeltemal moontlik dat meer kiesers vir die Brexit Party kan stem as wat die Konserwatiewe Party en die Arbeidersparty saam gaan kry.

In munisipale verkiesings vroeër hierdie maand het Britse kiesers hul eerste waarskuwingskote na die politici van die Konserwatiewe Party, en tot ’n mindere mate die Arbeidersparty, afgevuur. Die Tories het meer as 1 300 munisipale setels verloor, terwyl die Arbeidersparty 82 verloor het. Kiesers het na talle ander partye en veral onafhanklike kandidate gestroom.

Vanjaar se Europese verkiesing sal die sterkste bevestiging in dekades van nasies en volkere in Europa se behoefte na soewereiniteit wees. Peilings in lande en streke soos Hongarye, Italië, Katalonië en Vlaandere bevestig dit reeds. Wat in Brittanje gebeur sluit hierby aan.

Die Konserwatiewe Party gaan waarskynlik ’n vernietigende nederlaag ly en indien die party nie binne die volgende paar maande daarin slaag om ’n Brexit-ooreenkoms in die Britse parlement goed te keur nie, kan Theresa May se regering tot ’n val kom en kan die Tories hul grootste nederlaag ooit in ’n algemene verkiesing beleef.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Stephan de S ·

Dis goeie nuus…..
hoogtyd dat die hoofstroompartye ernstige opposisie kry. Onthou dis was die Tories wat die AB oorlog veroorsaak en geveg het!

Attie. ·

Duidelik stel ons meer belang in die koningshuis as in Bratanje se politiek. Neem inag dat die Liberaleparty in Engeland aan SA se kant was en dat hulle Konserwatieweparty teen SA was. Op skool het ons altyd gese en dan baie belangrik probeer lyk. “There wil always be a country where England used to be.”

Danie ·

Die konservatiewe of pro Westerse partye van alle Westerse lande moet begin saamwerk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.