Frankryk: Nasionaliste wen ver in Korsika

’n Uitsig oor die hawe van Calvi in Korsika. Foto: Sdann/Commons.wikimedia.org

In die streeksverkiesing op die eiland Korsika het die nasionalistiese blok ver gewen en net-net die volstrekte meerderheid gemis. Pè a Corsica (Vir Corsica), die blok saamgestel uit separatiste en voorstanders van outonomie, het in die eerste ronde 45% van die stemme op homself verenig. Die gesamentlike leier is Gilles Simeoni. Dit is ook merkwaardig dat die nasionaliste, wat gewoonlik verbete onder mekaar veg oor hoe ver hulle wil gaan (algehele onafhanklikheid of slegs outonomie met die opsie vir meer) een gesamentlike blok kon vorm. Meer nog, die nasionalistiese blok is 30% voor die naaste teenstander. Alle ander partye is klein, met 12% of minder.

Vir die Franse pres. Emmanuel Macron en sy kitsbeweging La République en Marche! (Voorwaarts die Republiek) wat vroeër vanjaar ʼn groot sukses in die presidents- en parlementsverkiesing behaal het, was die verkiesing in Korsika ʼn erge ontnugtering met net 11%. Ook Front National, in die presidentsverkiesing nog ʼn kortkop agter Macron in Korsika, het feitlik verdwyn in dié verkiesing. Dieselfde geld die linkse blok uit sosialiste en verlinkses. Die deelname aan die verkiesing was met 52% egter besonder laag. Die verkiesing was nodig omdat ná die administratiewe hervorming die twee distrikte van Korsika saamgevoeg is tot een provinsie. Korsika se kunsmatige verdeling in twee distrikte (ofte wel “departements”) is nou verby en die eiland se parlement het meer magte.

Alle partye met meer as 7% steun gaan deur na die tweede ronde einde Desember. Die nasionaliste behoort dan gemaklik te wen. Die nasionalistiese blok het reeds twee jaar gelede suksesvol aan die distriksverkiesing deelgeneem en 35% verower, maar niemand het verwag dat hulle só ver sal wen nie. Veral ná die “hype” rondom Macron se verkiesingsoorwinning is verwag dat regionalisme en nasionalisme minder belangrik word en die globalistiese beweging vir al hoe groter seggenskap vir super-nasionale organisasies soos die EU sal veld wen. Macron is by uitstek ʼn verteenwoordiger van dié beweging.

Katalonië se eensydige onafhanklikheidsverklaring en die fokus op outonomie en afskeiding het ook die Korsikaanse vryheidstryd weer aangewakker. ʼn Ander rede vir die nasionaliste se sukses is ook iets wat algemeen in Europa is, naamlik ʼn moegheid vir dieselfde gevestigde orde politici wat al vir dekades die politiek in Frankryk en ook in Korsika beheer. Die nasionaliste was nog altyd in die opposisie gewees, maar doen goeie werk vir hul mense op grondvlak in die munisipaliteite. Simeoni was tot dusver ʼn suksesvolle burgemeester van die grootste stad van Korsika, Bastia.

In die tweede ronde sal die nasionaliste na alle verwagting wen en Korsika regeer en dan aandring op meer selfseggenskap. Tans het Korsika net die status van ʼn provinsie.

Korsika se nasionaliste het ʼn paar jaar gelede (2014) die gewapende stryd opgegee en hulle slegs op die politieke pad toegespits, soortgelyk aan die Baske. Dit het dividende betaal, soos in die verkiesing gesien kon word. Die bande met die gewapende organisasies het talle kiesers in die verlede huiwerig gemaak om nasionalisme te ondersteun. Simeoni het egter ook die lesse van Katalonië geleer, dat geduld in die politiek soms beter is as oorhaastige, emosionele besluite. Hy en sy party wil binne drie jaar onderhandelinge met die Franse regering oor outonomie voer en die besluite binne tien jaar implementeer.

Onafhanklikheid is nie nou ter sprake nie, en Korsika is ook anders as Katalonië nog glad nie gereed om onafhanklik te bestaan nie: Die eiland het slegs 320 000 inwoners, dit is die armste deel van Frankryk en die ekonomie is veral op toerisme en landbou geskoei en het nie die gesofistikeerdheid van dié van Katalonië nie. In Europa is dit ook gewoonlik die welvarende dele wat wil afskei, nie die arm dele nie. Korsika se nasionalisme is veral emosioneel en nie rasioneel nie. Dit het veel te doen met die eiland se eiesoortige geskiedenis, sy kultuur en taal (wat nader aan Italië as aan Frankryk is) en ʼn emosionele band met die natuur en die leefwyse. Die nasionaliste is byvoorbeeld sterk gekant teen die kolonisering van hulle heimat deur Franse en ander toeriste, wat alles opkoop, omskep in vakansiegebiede en die natuur vernietig.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Hendrik ·

Wel dit klink heel positief wat daar gebeur. Ek dink dat Europa net geweldig gaan sukkel om ontslae te raak van die oorsese immigrante.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.