Frankryk se verkiesingsveldtog kry momentum

Pres. Emmanuel Macron van Frankryk (Foto: Ludovic MARIN / AFP)

Frankryk se verkiesing vind in April volgende jaar plaas.

In die Franse politieke stelsel het die president sterk uitvoerende magte sowel as seremoniële pligte. Hy word ook direk deur die burgery gekies, maar wel in twee rondes. Emmanuel Macron, huidige president, sal hom weer beskikbaar stel. In die eerste ronde is daar gewoonlik ʼn groot verskeidenheid kandidate regoor die politieke spektrum wat meeding. Die wenner en naaswenner sal dan in die uitklopronde teen mekaar te staan kom.

Macron en sy politieke kitsbeweging La République En Marche (LREM) word breedweg as links-liberaal gereken. In die vorige presidentsverkiesing in 2017 het Macron teen Marine Le Pen, kandidaat van die verregse Rassemblement National (RN, voorheen Front National), in die uitklopronde gewen. Hy het die voordeel gehad dat almal van gematigd regs tot verlinks vir hom as die “minder bose” gestem het, asook die geweldige steun deur media en gesagspersone.

Alhoewel Macron se gewildheid getaan het en ook LREM heelwat parlementslede deur oorlopery en afstigtings verloor het, bly hy die gunsteling om die presidentsverkiesing te wen. Daar is ʼn redelike kans dat volgende jaar se uitklopronde ʼn herhaling van 2017 s’n sal wees.

Die linkerkant van die politieke spektrum in Frankryk, ʼn dekade lank deur Sosialiste gedomineer, is intussen erg versplinter en selfs binne in die partye verdeel. Kandidate van links staan waarskynlik geen kans om na die tweede ronde deur te dring nie. Die voorloper onder die linkses is Jean-Luc Mélenchon met sy verlinkse beweging La France Insoumise (Onbuigbare Frankryk), maar selfs hy sal ten beste 10% van die stemme kry. Die Sosialiste, Groenes en Kommuniste is nog verder agter.

Intussen het Le Pen egter kompetisie aan die regterkant gekry. Eric Zemmour, bekende, welsprekende en omstrede skrywer en joernalis, het na ʼn maandelange getalm sy kandidaatskap bekendgemaak. Hy is, anders as Le Pen en RN wat al vir dekades deel van die Franse politiek is, geen politikus nie en het ook geen party nie, maar het, soortgelyk aan Macron verlede keer, ʼn kitsbeweging genaamd Reconquête (Herowering) gestig wat rondom hom gebou is.

Eric Zemmour (Foto: Karen MINASYAN/AFP)

Zemmour is ’n intellektueel en sy veldtog is op die afkeur van die linkse elite gerig, in veral die media wat hy as verraaiers van die Franse volk brandmerk. Ook globalisme en die Islam-immigrasie is een van sy aanvalspunte en hy bepleit die terugkeer na ʼn geïdealiseerde, eensgesinde en sterk Frankryk onder leiers soos Charles de Gaulle en selfs Napoleon Bonaparte. Daar is raakpunte tussen hom en Le Pen, maar Zemmour is baie meer op regse intellektueles en burgerlikes met ʼn historiese besef gefokus, terwyl Le Pen en die RN se sterk steun veral by die “gewone mense” uit die laer klas en laer middelklas lê, wat die ekonomiese agteruitgang en die verdringing deur vreemdelinge aan die eie bas voel.

As Zemmour en Le Pen enigsins kragte saamsnoer, kan dit ʼn sterk beweging word, maar dit lyk tans onwaarskynlik, ook weens die onderskeie leiers se ego’s. Die situasie kan ook intree dat die verregse stem verdeel word in so ʼn mate dat nie een van hulle na die uitklopronde deurdring nie.

Dan is daar nog die Les Républicains (LR, die Republikeine), tradisioneel die hoofstroom-konserwatiewe party, wat nes die Sosialiste net nog ʼn skaduwee van hulle eertydse self is en wat deur talle afstigtings en binnegevegte verlam is. Nogtans kon LR dit regkry om na ʼn stemming onder hulle partylede en die aanwys van Valérie Pécresse as kandidaat nuwe momentum en ʼn duidelike styging in steun in die meningspeilings te bereik. Pécresse is deel van die gevestigde orde en is taamlik sentristies, wat haar wyd aanvaarbaar maak en haar kans verhoog om teen Macron te staan te kom en selfs te wen. Die onlangse styging in steun moet egter nie oorbeklemtoon word nie: die aanwysing as kandidaat het die fokus op haar geplaas en haar party toon vir die oomblik eensgesindheid. Die Republikeine het egter verskeie faksies en dit is moontlik dat die meer regse deel van hulle kiesers uiteindelik vir Le Pen of Zemmour in die eerste ronde sal stem.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.