Gedenkdae van vroeë kerklike martelare en die betekenis vir vandag

Valentinus kniel voor die Maagd Maria om ‘n rosekrans te ontvang. Valentinus was in die derde eeu biskop van die stad Terni in die provinsie Umbrië, in sentraal-Italië.

Valentynsdag geniet jaarliks op 14 Februarie groot aandag binne die sekulêre wêreld. Die Kapitalisme buit hierdie dag uit om hulle omset te verbeter. Die vraag is: Het die kerk enige belang by hierdie dag, terwyl ons weet dat talle lidmate uitsien na hierdie dag en wat dit inhou en aanbied?

Die historiese oorsprong van hierdie dag kan nie met sekerheid vasgestel word nie. Betroubare skriftelike bewyse ontbreek, en daarom word daar grootliks op legendes gesteun. Wat ons wel met sekerheid weet, is van kerklike belang.

Valentinus was in die derde eeu biskop van die stad Terni in die provinsie Umbrië, in sentraal-Italië. Hy is op 14 Februarie 269 n.C. deur keiser Claudius II weens sy Christelike oortuigings onthoof.

Valentinus word dus gereken as een van die vroeg-kerklike martelare. Die rede vir sy onthoofding was dat hy jaarliks, op 14 Februarie, verliefde pare in die huwelik bevestig het en aan hulle blomme uit sy eie tuin geskenk het. Onder hulle was ook Romeinse soldate. Volgens keiserlike bevel, was die soldate verbied om in die huwelik te tree. Valentinus het dus volgens die Romeinse reg van daardie tyd, die doodstraf verdien.

Die rede hoekom 14 Februarie vir die teregstelling gekies is, is nie seker nie. Twee legendes dien as begronding.

Die eerste: ʼn Enkele kerklike bron toon aan dat die kerk in Italië, minstens in die tweede en derde eeue die aankoms van Jesus as die hemelse bruidegom vir sy hemelse troue (Matteus 25:1–13), op 14 Februarie, gedenk het. Claudius II wou met Valentinus se onthoofding, die Christelike kerk intimideer.

Die tweede: 14 Februarie was ook die dag van ʼn Romeinse fees met Griekse wortels. Die fees Lupercalia, het die Romeinse godin Juno (Hera volgens die Grieke), die eggenote van Jupiter (Zeus volgens die Grieke), op 14 Februarie gedenk as die beskermvrou van die Romeinse huwelik.

Jong meisies het na die Juno-tempel gegaan om deur ʼn orakel inligting te kry oor haar toekomstige huweliksmaat. Die jong mans het daar lootjies getrek met die name van die meisies wat die tempel besoek het. Só is paartjies by mekaar uitgebring met die oog op ʼn moontlike huwelik. Hierdie praktyk is nie net deur die kerk nie, maar ook deur die Romeinse aristokrasie as immoreel verwerp. Hulle het volstaan met die skenking van blomme aan die huweliksmaat.

Die herdenking van Valentinus die martelaar, het tydens die vroeë Middeleeue vergete geraak. Iemand, waarskynlik in Engeland, moes die legende in die sestiende eeu herontdek het, aangesien William Shakespeare, Ophella in Hamlet laat sing oor die nadere herdenking van die heilige Valentinus, die dag wanneer sy dalk haar Valentinus kan ontmoet.

Die sekulêre doenighede in die Weste op 14 Februarie het min, of dalk niks, met die waardes van die ou Christen-martelaar te make nie. In plaas van die bevordering van die huwelik, word buite-egtelike, kortstondige genot, gepropageer. Christene behoort hulle stem te laat hoor op 14 Februarie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Natie van Wyk

Prof. Natie van Wyk is navorsingsgenoot van die Departement Historiese en Sistematiese Teologie, Fakulteit Teologie en Religie, Universiteit van Pretoria.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Conraad ·

Dankie aan die skrywer. Inderdaad ‘n goeie (of dan, beter) boodskap om te versprei na ander; dat dit te doen het met “egpaar”-liefde eerder as oppervlakkige verhoudings.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.