Globale stryd van mag en invloed midde koronapandemie

Argieffoto: Pixabay

’n Opmerking wat die afgelope tyd wêreldwyd herhaal word, is dat die koronapandemie die wêreld vir altyd verander het. Sommige mense is bereid om sover te gaan om te sê dat dit juis dit – wat ons as normaal voor die pandemie beskou het – is wat tot die omvang van die krisis aanleiding gegee het.

Ons globale interafhanklikheid, miljoene mense wat daagliks reg oor die wêreld van een bestemming na ’n ander reis en die aard van verstedeliking die afgelope paar dekades het alles tot die snelle verspreiding van die koronavirus bygedra. Die huidige ekonomiese krisis ontbloot ook die probleme in voedselverspreidingskettings en internasionale afhanklikheid van markte, produkte en dienste.

Nog voordat die pandemie uitgebreek het, was daar nuwe spanningslyne wat in verskeie wêrelddele begin ontstaan het. Die spanning tussen China en die VSA bou reeds vir jare op weens die groot handelstekort wat die VSA met China het, beweerde Chinese spioenasie op Amerikaanse tegnologie- en ander maatskappye en China se toenemend aggressiewe houding in Asië.

In Rusland word die Poetin-regering aan die gang gehou deur ’n beleid van staatsbemoeiing, internasionale status en aansien en ‘n magvertikaal wat, hoewel Rusland ’n federale land is, die mag binne die nasionale regering konsentreer. Rusland se optrede die afgelope paar jaar in veral Oos-Europa en die Midde-Ooste was alles gebou op die vertrekpunt dat ’n sterk en gesonde Rusland een is wat homself as ’n globale leier in verskeie wêrelddele, maar veral die streke naaste aan hom, laat geld.

Ook die transatlantiese samewerking wat nou reeds meer as sewentig jaar aan die gang is, is die afgelope paar jaar uitgedaag deur toenemend kontrasterende prioriteite in die VSA en Europa. Brittanje se rol in ’n post-Brexit wêreld is ook nog onseker.

In Asië is daar talle nuwe spanningslyne tussen, onder meer, die groot rolspelers China, Japan, Suid-Korea en Indië. Ook neem die spanning tussen die twee lande wat beide oor kernwapens beskik, Pakistan en Indië, die afgelope tyd weer toe.

Wat die koronapandemie veroorsaak het, is dat ’n globale magsherskikking nou makliker en meer logies kan plaasvind. Hoewel ’n mens versigtig moet wees om ’n snelle en omvangryke herskikking van verhoudinge te voorspel, is daar tog genoeg rede om te glo dat die wêreld oor die volgende paar jaar ’n verandering in die gedrag van groot moondhede gaan waarneem.

Australië se pleidooi aan die VSA en verskeie Europese lande om sy eis tot ’n internasionale ondersoek na China se aanvanklike hantering van die pandemie te ondersteun, is ’n voorloper van hoe die Weste waarskynlik nog vir lank vinger gaan wys na China.

Daarteenoor toon China duidelik die behoefte om homself in Asië, maar ook in ander wêrelddele, te laat geld. Die Chinese poging verlede week om sy eie e-geldeenheid vir internasionale handel te toets, is ’n duidelik uitdaging aan die Amerikaners met die dollar wat tans nog die algemene geldeenheid vir internasionale handel is. China is egter ook nie bang om militêr meer aggressief op te tree nie. Sy optrede die afgelope tyd in die Suid-China See is ’n bewys daarvan.

Die afgelope weke se globale reaksie op die koronapandemie het ons slegs ’n voorsmaak gegee van die stryd om mag en invloed wat binne streke, maar ook globaal, die volgende paar jaar voorlê.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.