Goedvoelpolitiek eindig altyd in ’n tranedal

Deur Du Preez de Villiers 

Du Preez de Villiers

“L’enfer est plein de bonnes volontés ou désirs.” Die hel is vol goeie wense of begeertes. – St. Bernard of Clairvaux (c. 1150).

Ons almal wil graag linksgesind en sosialisties wees, want gelykheid, broederskap en liefde is seker die soetklinkendste woorde wanneer die wêreld se sosio-ekonomiese probleme ons in die gesig staar. Daar is ook niks fout daarmee as almal in harmonie wil saamlewe nie. Dit is tog voor die hand liggend dat vrede en samewerking tot voorspoed lei en konflik tot agteruitgang.

Ongelukkig het hierdie denkrigting, met gelykheid as dryfkrag, ’n voorspelbare kettingreaksie aan die gang gesit wat tot die verlies van ’n berekende 100 miljoen lewens in die vorige eeu gelei het. Wat dit erger maak, is dat die eietydse voorbeelde steeds ophoop, waarvan Suid-Afrika ’n klassieke voorbeeld is.

In Suid-Afrika is hierdie terminologie net effens aangepas om dit nog beter te laat klink. Ons het dit regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging gedoop. Bedrywe hervorm ook so ver moontlik om die demografie daarbuite te weerspieël. Wat is dan beter as om die mense wat voorheen ekonomies uitgesluit was, ’n voorsprong te gee om na gelykheid te streef?

Maar hierdie goedvoelstrategie het ook ’n vernietigende kettingreaksie tot gevolg gehad.

Die krisis het ontstaan toe erkende en bestaande sosiologiese navorsing met die skryf van die SEB-wetgewing geïgnoreer is. Boonop het kleur in ’n oogwink belangriker as kwalifikasie geword, want die regering wou nie rede verstaan as hulle nie die neergelegde kwotas in die werksplek sien nie. Dit het omgekeerde en onbedoelde gevolge gehad en tot ontnugtering gelei omdat doelwitte nie bereik is nie.

Om redes te soek en skuldiges uit te wys, het opportunistiese rasbeheptes uiters teenproduktiewe, skadelike en verdelende terminologie soos strukturele rassisme, wit bevoorregting en witmonopoliekapitaal uitgedink of afgestof. Om die situasie verder te versleg glo ons politieke klas dat die probleem opgelos sal word as SEB-wetgewing deurlopend verskerp word.

Onbevoegdheid kweek onbevoegdheid, want bevoegdes word misbruik en gee pad. En onbevoegde grondvlakaanstellings word later onbevoegde besluitnemers. Verder ontwikkel onbevoegdes in bestuursposisies ’n minderwaardigheidskompleks wat tot jaloesie oorgaan. Hulle raak dus ontslae van bevoegdes en verkies om hulself met onbevoegde genote te omring. Onbevoegdheid in ons munisipaliteite, polisie- en gesondheidsdiens het al tot die andersins maklik voorkombare dood van derduisende mense gelei.

Vandag sien ons ook hoe entiteite wat deur SEB en regstellende aksie beïnvloed word, geweldige spanning verduur of op ’n stadige en skouspelagtige manier ineenstort. Grondhervorming het ná 14 jaar steeds ’n suksessyfer van tussen 5 en 10%, terwyl die landbou meedoënloos voortgaan om dit te laat werk. Ondernemings moet buitensporige salarisse betaal om hul kwotas te behou en rillerstories oor politieke aanstellings wat ongekende skade aanrig, doen die rondte. Eskom, die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), Prasa (Passasierspooragentskap van Suid-Afrika) en ’n klomp ander semistaatsinstellings snak heel waarskynlik na die laaste bietjie suurstof voor hulle in die dieptes gaan verdwyn.

Die groot tragedie van SEB is dat die meerderheid hoogs intelligente, hooggeplaastes in ons sosiale en sakewêreld, wat ekonomies geletterd is, steeds hierdie goedvoelpolitiek-ideologie ondersteun en selfs op openbare platforms lof toesing.

Ja, ons durf nie anders dink in ’n land waar ’n kruipende Orwelliaanse regering dít wat ons dink en sê, probeer polisieer nie. Helen Zille en Chris Hart se twiets is sprekende voorbeelde. Ons lei af dat die vernames en “leiers” wat so mooi in gelid marsjeer dit doen ter wille van loopbaan- en sosiale sekerheid. Sakemanne moet dit net eenvoudig doen om kontrakte te behou en tenders te kry. Hulle probeer die realiteit vir nog so rukkie ignoreer terwyl daar verbete gehoop word dat die volgende staats- of begrotingsrede uitkoms sal bied.

Hierdie “donkie” stamp sy kop herhaaldelik teen dieselfde klip, want niemand roep hom tot rentmeesterskap van sy uitlatings nie. Maar dit word al hoe moeiliker om in die spieël – wat Moody’s, Fitch en Standard & Poor’s ophou – te kyk en goedvoelpolitiek te bedryf.

Gerrie Fourie, uitvoerende hoof van Capitec, het uiteindelik op Radio 702 gesê dat swart ekonomiese bemagtiging nie werk nie. Dit verg mannemoed vir iemand soos hy in ’n land waar jy jou loopbaan kan ontspoor as jy selfs die fynste polities verkeerde nuanses in ’n twiet laat skuil.

Ek hoop die land het ’n draaipunt bereik. Net een persoon met mannemoed hoef na die kaal keiser te wys om ’n positiewe kettingreaksie aan die gang te sit. Maar ons land is ook op ’n punt waar ons nie meer anders kan as om die keiser voor stok te kry nie. Eskom en die SAL se laaste spartelinge kan hierdie moontlike sneeubal verdere momentum gee.

Sal die hoofstroom-meningvormers hul moralisme en goedvoelpolitiek vir rasionele politiek verruil? Sal hulle uiteindelik by die Bittereinders uit die geledere van die HNP, TLU SA, Vryheidsfront, Solidariteit en AfriForum aansluit wat bloot ’n baie akkurate afleiding gemaak het toe hulle destyds noord van ons grense gekyk het?

  • Du Preez de Villiers is ‘n landboujoernalis wat ook graag sy neus in politieke sake steek. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

John ·

Nee, nie almal wil linksgesind en sosialisties wees nie… dit is wat die Nuwe Era- bloedsuiers op hoop. Die groot saam-wees en gee-gee van dis demokrate in die VSA sal wel in trane en skande eindig

Hendrik ·

Laak laas het ek so op die man af skrywe gesien. Ons ervaar dit daagliks in ons werkomstandighede ne het al lankal begin planmaak om val te oorleef. Soos Frans Cronje voorskryf hoe om die huidge krisis te oorleef. Ons kry geen ondersteuning van SA Besigheid nie en dus moet jy self plan maak.

Feite ·

Kettingreaksie en draaipunt, die is daar beslis te bespeur, maar om te dink dat dit positiewe gevolge teweeg gaan bring is n uiters swak analise, veral nadat daar tot dusver polities en ekonomies slegs negatiewe verwikkelinge plaasgevind het en dat verandering van kolonialistiese stelsels in oordrag na nasionalisering vir nasionalistiese stelsels onstuitbaar aan die gang is. Omdat alle SOE’s in die grond in bestuur is, nou dui n bietjie politieke rigting en ekonomiese herstel kwansuis op positiewe verwikkelinge. In die eerste plek was die val van die rand deur die ANC, vir die ANC en in die tweede plek is die optel van die rand deur die ANC, vir die ANC. Daar is niks positief vir die res nie. Om te se dat SEB n mislukking is, is goed en wel vanuit n westerse perspektief, dit is egter vanuit n pan afrikanistiese siening anti rewolusioner om te se SEB is n mislukking, omrede mislukking van SEB word nie gesien as mislukking of n skande nie, maar as broodnodige ontwikkeling en ervaring en oordrag van wit monopolie na swart monopolie. Wanbestuur, korrupsie, onbevoegdheid, mislukking bestaan nie by pan afrikanistiese denke nie, maar word beskou as deel van die “struggle” en as oorwinning oor kolonialisme en uiteindelike vernietiging van kolonialistiese stelsels, want dit werk nie vir afrika nie en moet vervang word met sosialistiese stelsels.

Gert ·

Uiteindelik begin mense dit waag om die keiser se naaktheid te erken en verwoord! Ek het regtig begin dink ons gaan vir altyd met die leuen leef omdat almal te bang is vir die waarheid!
Baie baie dankie vir hierdie artikel, en ook aan mnr Fourie.

Feite ·

Musi Maimane het by verskeie geleenthede na die kaal keiser gewys in die parlement en die keiser voor stok gekry, maar wie het die onderspit gedelf? Beslis nie die kaal keiser nie. Woorde kan nie die kaal keiser tot die regte insigte dwing nie, ook nie wetgewing wat nie afdwingbaar is nie. Of die keiser kaal is of nie, in SA slaan die keiser die kitaar, dus gaan dit baie meer insig en wysheid verg as net mannemoed en woorde om hierdie kaal keiser bymekaar te maak. Juis agv manmoedige woorde en uitdagende hofsake, word die vuur gestook wat die paddatjies braai. Daar was tot nou toe geen manmoedige dade wat die vuur geblus kon kry nie, want daar is n ernstige tekort aan leierskap met gesonde verstand. Die vorige kaal keiser was bloot herontplooi deur die ANC en die huidige kaal keiser sal ook bloot herontplooi wanneer die klimaat geskik is daarvoor. Intussen gaan die poppe begin dans!

Jan ·

Waarheid maak soms seer en soms bevestig dit maar net wat ons in elk geval weet

skurweberg ·

Iemand met invloed, integriteit en ‘n profiel wat nie onder verdenking is nie, moet nou ‘n opebrief aan die President skryf om hom te vra dat hy in hierdie krisis oomblik van Suid-Afrika leierskap te toon. Ek is daarvan oortuig en ek is nie nou sarkasties nie, dat hy (die President) presies weet wat die probleem is vir hom om op te tree en hoe hierdie sake reg gestel kan word.

Andre Bence ·

Van omdraai is daar nie sprake nie. SAL, PRASA,ESKOM,ONDERWYS en Opvoeding en hul maatjies (SOE’s) is lankal by die punt van herstel verby. Die regering kan ook nie meer reddingsboeie gooi nie, want huidiglik knor dit om net die rente op buitelandse skuld te betaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.