
Pres. Jacob Zuma en Pravin Gordhan, die minister van finansies, Woensdag (26 Oktober 2016) tydens die aankondiging van die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) in die parlement (Oktober 2016) Foto: Kopano Tlape/GCIS
Sedert Donderdagaand verlede week val ontleders oor mekaar se voete soos hulle eiertjies oor die weglating van Pravin Gordhan uit die kabinet probeer lê. Al om die uur was dit egter ook duidelik hoe dikwels die pot misgesit is, of die ore aan fopnuus uitgeleen is.
Wat redelik duidelik is, is dat die laaste hoofstuk oor hierdie sage nog nie geskryf is nie. Verskeie kragte is aan die woel, en verskeie daarvan het dit ten doel om van pres. Jacob Zuma ontslae te raak. Voorlopig lyk dit of Zuma sy sin gekry het, al het dit groot weerstand onder die Topses gekry.
Daar was selfs sprake dat Suid-Afrika reeds die afgelope naweek afgegradeer sou word as die politieke situasie nie stabiliseer nie.
Intussen het Suid-Afrikaners opnuut die boodskap gekry dat as Zuma iets wil doen, en hy het die mag daartoe, dan doen hy dit, ongeag die gevolge vir die land. Soos sake nou staan, gaan die land se goedkoper petrol in April ook nie lank hou nie – net sodat Zuma sy sin kan kry.
Dit is reg en noodsaaklik dat die inspekteur-generaal vir intelligensiedienste die sogenaamde intelligensieverslag wat Zuma as verskoning gebruik het om Gordhan af te dank, deeglik ondersoek. Volgens alle aanduidings is dit ’n slordige stuk ploertwerk. Volgens die EFF is dit die werk van iemand wat deur die Guptas betaal is, en is die opsteller ook sommer met ’n leuen oor die EFF uitgevang. Kom dit werklik uit die Suid-Afrikaanse intelligensiegemeenskap, is die land hier ook wat gehalte betref diep in die knyp.
Dit sal interessant wees om te sien hoe die veldtogte om Zuma te laat bedank nou verskerp gaan word. Die EFF, met die rugsteun van die UDM en Cope, het ’n aansoek aan die konstitusionele hof gerig om die Speaker te verplig om Zuma in ’n staat van beskuldiging te plaas. Die DA gaan nog ’n mosie van wantroue instel, en dit sal interessant wees om te sien of mense soos Gordhan en afgedankte min. Derek Hanekom teen so ’n mosie sal stem. Hulle sal vermoedelik afwesig wees.
Voorts word ’n groot optog deur Save South Africa en Zwelinzima Vavi se nuwe vakbondfederasie na die Tesourie beplan. ’n Petisie waarin Zuma gevra word om sy goed te vat en te loop is op die sosiale media in omloop.
Die samestelling van die nuwe kabinet word as ’n oorwinning vir die Guptas beskryf. Indien dit ook die waarneming van die SAKP is, gaan die onmin in die kabinet voortduur. En miskien ontwikkel die Groot Ses so ʼn bietjie ruggraat, wat die situasie op die duur kan omkeer.
Want so kan dit nie aangaan nie …
- Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
8 Kommentare
Aan al die Hooggeleerdes en Alwetendes, Kommentatore en Nie-Kommentatore, Studente, Filosowe, Geldgeleerdes, Politiekgeleerdes en Watookal-geleerdes,
Wat leer ons nou uit al hierdie leierskappe, volgskappe, grondwette en hemelwette, geregtighede en ongeregtighede, mallighede en nie-mallighede, menswees en barbaarwees en wat ookal?
En wat gaan ons Suid-Afrikaanse soogdiere Homo sapiens sapiens en soogdiere varkerasies doen om vredeliewendheid en naasteliefde en selfrespek en selfaktualisering en werktrots te bevorder? En om ons natuur te beskerm? Wat moet ons soogdier-kinders van ons dink?
NIKS gaan Zuma laat bedank nie!
Hy moet verwyder word!
ZUMA MOET VAL!!
Vir ‘n oomblik het die foto van Gordhan en Zuma my laat dink aan Piet Retief.
Ek en jy moet braai.
Al verwyder hulle Zuma gaan die blankes nog steeds nie werk kry nie. In Mbeki se tyd het ek gedink enige iemand is beter as Mbeki, Hoe verkeerd was ek nie. As Zuma uit is , sal dit beter gaan ?