Grondhervorming: Dit is tyd vir ’n eenhoring-Kodesa

eenhoring-unicorn

Foto: ErikaWittlieb/Pixabay.com

Radikale ekonomiese transformasie is die nuwe gonswoord. Almal praat daaroor, maar niemand weet regtig wat dit beteken nie. Een van die voorstelle wat uit hierdie gesprekke voortgespruit het, is dat dit tyd is vir Suid-Afrika om weer te begin met ’n Kongres vir ’n demokratiese Suid-Afrika (Kodesa), maar hierdie keer spesifiek oor grondhervorming.

Toe ek hieroor gevra is tydens ’n onlangse telefoniese onderhoud op ANN7, het ek gereageer dat ’n Kodesa oor eenhorings (unicorns) waarskynlik beter vir hierdie land sou wees. Die woedende aanbieder het geantwoord dat ek duidelik nie verstaan ​​dat grondhervorming en werkskepping dieselfde ding is nie, en my toe van die res van die program afgesny, terwyl die ander paneellede voortgetier het oor hoe rassisties ek was om so iets te sê.

Natuurlik het ek dit tong-in-die-kies bedoel. Ek het nie probeer sê dat ons regtig ’n eenhoring-Kodesa behoort te hê nie. Maar eenhorings is ’n bietjie soos wit monopolie-kapitaal: net die mees verbeeldingryke onder ons glo dat dit bestaan. ’n Kodesa oor eenhorings sal ’n vermorsing van tyd en geld wees. Die punt is egter dat ʼn Kodesa oor grondhervorming waarskynlik nog erger sou wees, as ons moet aanneem dat dit sal lei tot ’n instelling van die wense van die meerderheidsparty (en nie die meerderheid mense nie). Dit sou nie net ’n vermorsing van tyd en geld wees nie, maar ook ’n ingryping wat vernietigend vir die ekonomie sou wees. En ek tref doelbewus ’n onderskeid tussen die meerderheidsparty en die meerderheid mense, want as dit gaan oor grondhervorming, is die twee nie dieselfde nie.

Radikale ekonomiese transformasie van grond sal lei tot groter werkloosheid, groter ongelykheid, groter armoede, groter invoer, minder uitvoer, minder kos, groter hongersnood en – die grootste ironie van alles – groter ontnugtering met die regerende ANC.

As ons praat oor radikale ekonomiese transformasie en grondhervorming, is daar eintlik net twee kwessies wat oorweeg moet word: eerstens, of mense werklik landelike grond wil hê; en tweedens of die voorgestelde ingryping goed of sleg sal wees.

Niemand gee om nie

Ondanks al die regering se pogings om die agenda van grondhervorming te bevorder, het minder as 1% van swart mense ’n poging aangewend om grondeise in te stel. Hiervan was ’n aansienlike aantal grondeise in werklikheid slenters, soos die man wat die grootste gedeelte van Pretoria-Oos geëis het en die vele gevalle waarin verskillende gemeenskappe eise vir dieselfde stuk grond ingestel het. Van hierdie 1% het slegs 7% inderdaad gekies om grond te ontvang. Die res het gesê dat hulle eerder geld as grond wou hê. Hierdie realiteit is so ’n doring in die vlees van die ANC dat pres. Zuma in sy jongste staatsrede sy teleurstelling uitgespreek het oor swart mense se voorkeur vir geld eerder as grond.

Dit is nie verbasend nie, want swart Suid-Afrikaners verstedelik teen ’n groter tempo as enige ander rassegroep. Ook studeer slegs 2,8% van almal wat tans by tersiêre instellings in Suid-Afrika ingeskryf is, in ’n landbou- of soortgelyke rigting. Voorts het ’n onlangse opname deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRR) gevra wat gedoen moes word om mense se lewe te verbeter, en ’n skamele 1% van respondente het aangedui dat “meer grondhervorming” nodig is.

Vernietiging van die ekonomie

Die ander bekommernis is natuurlik of dit haalbaar sou wees. Met ander woorde: Sou Suid-Afrika beter daaraan toe wees as ons ’n soort radikale ekonomiese transformasie ten opsigte van grondbesit sou instel, wat dit ook al mag behels?

Weer eens dui die bewyse daarop dat dit vernietigend vir die ekonomie sal wees en dat dit ons almal arm en honger sal laat. Volgens die regering se eie verslae het meer as 90% van die grond wat deur die staat herverdeel is, misluk. Hierdie plase is omskep van kommersiële plase in bestaansplase of plakkerskampe.

Die probleem is, soos R.W. Johnson daarop wys, dat die bevordering van grondhervorming nie kennis neem van die feit dat boerdery deesdae baie gespesialiseerd is nie en dat baie kommersiële boere baie gesofistikeerde aktiwiteite uitvoer met rekenaarbeheerde graansilo’s, uiters komplekse besproeiingstoerusting, ’n grondige kennis van bewegings in kommoditeite en toekomstige markte, ensovoorts.

Landbou maak sowat 2,4% van Suid-Afrika se BBP uit (teenoor 16% in die 1950’s). Tans is ongeveer 670 000 mense in die landbou betrokke. Dit het sedert 2001 as gevolg van staatsinmenging met sowat 300 000 gedaal – maar nogtans doen die regering se eie nasionale ontwikkelingsplan (NDP) ’n beroep op die landbougemeenskap om teen 2030 een miljoen werksgeleenthede te skep.

’n Onlangse studie onder swart sakemanne in verskeie Afrika-lande het ook bevind dat 80% van hulle bekommerd is dat staatsinmenging en -regulering dit moeiliker maak om sake in Suid-Afrika te doen.

Hierdie situasie lei wesenlik tot minder kos, minder uitvoer, minder werksgeleenthede, groter werkloosheid, groter ongelykheid, groter hongersnood.

Maar hier is die vangplek …

Die magstryd

Vir die ANC en die Suid-Afrikaanse regering gaan dit oor mag – nie vryheid nie. Die ANC se strydkreet was nog altyd “Amandla!”, wat beteken “mag”. In ANC-toesprake en uitsprake oor hierdie onderwerp is die onderliggende boodskap amper altyd ’n kommer oor die feit dat die regering nie genoeg grond besit nie. Sommige ministers, soos Ayanda Dlodlo, het in die openbaar die feit bekla dat die regering “slegs” 14% van die grond in Suid-Afrika besit. Baie mense glo die werklike syfer is veel hoër.

Die onderliggende kwessie is die volgende: Radikale ekonomiese transformasie met betrekking tot grondbesit gaan geheel en al oor grondbesit deur die regering, en nie deur die mense nie. Dit verklaar waarom ’n onlangse studie deur Farmer’s Weekly en Agri Development Solutions bevind het dat swart mense wat grond privaat koop, kla dat hulle feitlik niks steun van die regering ontvang nie.

“Dit is die kruks van die saak,” skryf R.W. Johnson. “Onder die ANC-regering gaan slaap meer en meer Suid-Afrikaners saans honger. Geen wonder dat die verspreiding van kospakkies ’n al groter deel van ANC-verkiesingstaktiek is nie, selfs op munisipale vlak.”

Ondanks al die bewyse dat die meeste mense nie belangstel om boere te word of landelike grond te besit nie en dat grondhervorming sleg is vir die ekonomie, blaas die ANC nog steeds daardie agenda aggressief aan. As ons sou aanvaar dat ’n Kodesa oor grondhervorming sou lei tot ’n meer aggressiewe instelling van die oorheersende idees in die ANC-alliansie, sou ons die tyd daarom beter kon bestee aan ’n Kodesa oor eenhorings.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Ernst Roets

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Ernst Roets is die Adjunk-Uitvoerende hoof van Afriforum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johann

En dan is Cyril, onse hoopvol volgende president, die een wat nie uitgepraat kan raak van RET nie, dit oral belowe en goedpraat, terwyl hyself ‘n stinkryk boer is.

Rynhardt

Gistraand op SABC2 het die gryse Roelf Meyer (hy en res van natte het destyds geonderhandel volgens Vryheidsmanifes wat grondonteiening uitspel), gou sy mond gerek en voorgestel dat alle rolspelers by die grondkwessie betrek word.Verstommend hoe die verraaiwrs tussen die boere rondbeweeg.Waarom praat hoofstroommedia nog steeds met die arrogante Meyer? Hul het lankal geen rol meer te speel in chaotiese SA wat hul en Frikkie de Klerk geskep het nie.

John

Kodesa was destyds juis jou towerperd… met die regte idiote om ‘n tafel kan hierdie ongelooflike dwase gebeure waar ‘n regering of volk alles op ‘n goue skinkbord skenk dalk weer plaasvind… of so hoop ann7 se trawante..

Johannes van Staden

Ek moes so lag toe Blade se vir radikale ekonomiese tranformasie om te gebeur moet daar radikale infesteering plaasvind….nou wonder ek net wie sal so dom wees om nou in SA te infesteer met so baie onsekerheid en n leierskap wat sulke dom besluite maak ….dink weer ou Blade dink asb weer !

isabel

Dis baie duidelik dat die swart regering die blankes wil onderwerp deur die grond/ vastrapplek onder hul uit te ruk. Niks gaan hul keer, huls vasberade. Afriforum en Solidariteit het ‘ntyd gelede begin om veiligheids strukture in plek te sit. Ons moet regmaak en gereed wees vir chaos.