Die Ingonyama-trust is in 1994 deur die provinsiale regering van KwaZulu-Natal in die lewe geroep met die doel om as rentmeester van die Zoeloes se grond in die provinsie op te tree en om om te sien na die welstand van die stamme en gemeenskappe wat dit bewoon. Die trust administreer 2,8 miljoen hektaar grond en die Zoeloekoning is te alle tye die enigste trustee. In dié stadium is dit koning Goodwill Zwelithini.
Die ANC en EFF se uitsprake oor die wysiging van artikel 25 en die moontlikheid dat dit tot onteiening sonder vergoeding sal lei, het ’n spesiale imbizo van tradisionele leiers in KwaZulu-Natal tot gevolg gehad. Tydens die imbizo het tradisionele leiers gesê dat hulle die howe sal nader vir uitsluitsel oor die regte wat die Zoeloekoning oor grond het. Dit is meer gematig as vorige uitsprake waar tradisionele leiers gesê het dat hulle bereid is om vir die grond te sterf.
Die spanning tussen die regering en die Zoeloe-bevolking is nou van só aard dat president Cyril Ramaphosa aangedui het dat hy en ’n hoëvlak afvaardiging graag met die koning wil vergader. Die koning se ongelukkigheid is heeltemal verstaanbaar. Alhoewel die ANC se verkiesingshoof, Fikile Mbalula gesê het dat daar nog nie ’n besluit geneem is oor hoe met die grond in die Ingonyama-trust gehandel sal word nie, het ’n paneel onder leiding van oudpresident Kgalema Motlanthe voorgestel dat die Wet op die Ingonyama-trust geskrap word en dat die grond aan munisipaliteite oorgedra word.
Die wyse waarop die Ingonyama-trust funksioneer en die sterk uitsprake wat gemaak word oor hoe daar te werk gegaan sal word om die grond te beskerm, is ’n aanduiding van hoe sterk tradisionalisme steeds onder die Zoeloes is. Die ANC se struggle-geskiedenis is nie sterk genoeg om te verseker dat die breë Zoeloe-gemeenskap die regerende party in hul poging om onteiening sonder vergoeding daar te stel, sal ondersteun nie.
Die ANC-euforie weeg ligter as Zoeloe-nasionalisme.
Op 28 Maart 1994 het lede van die Inkatha Vryheidsparty ’n optog na die ANC se hoofkantoor, Shell House, in Jeppestraat, Johannesburg gehou. Die ANC se sekuriteitswagte het op die IVP-lede losgebrand en 19 mense is doodgeskiet. Die IVP sê hulle wou met die optog hul ongelukkigheid betoon met die ANC se voorneme om die tradisionele gesag van die Zoeloe-gemeenskap te ondermyn.
Indien die regering die Ingonyama-trust se grond nasionaliseer sal die bloedbad van 1994 nie die laaste bloedige konflik tussen Zoeloes en die regering wees nie.
- Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
16 Kommentare
Wat ons dus laat met die gevolgtrekking dat die rasbeheptheid in die grondgryp sentraal staan.
Of gaan hul die Vrystaat terugbesorg aan die Basotho, wat die oorspronklike eienaars was?
Die meerderheidregering se gevurkte tong gaan verseker n paar interressanthede oplewer.
Die hele kwessie handel oor grond wat onregmatig bekom is. Die argument is dat grond wat gedurende apartheid bekom was, was onregmatig bekom deur witmense, Zulus en die tradisionele leiers omrede dit sekere ander bevolkingsgroepe uitgesluit het. Onlangse uitsprake dui egter nou sterk daarop dat die Zulus en tradisionele leiers die grond wat hulle gekry het gaan hou, eerstens omrede dit die beloofde konflik tussen swart en swart ontlont en tweedens dat dit die onreg van apartheid teenoor hulle regstel en derdens dien dit as n versoeningsgebaar van CR en die ANC vir die 2019 verkiesing. Uiteindelik gaan die speletjie… Lees meer »
Weet ons al wat regtig by Shellhouse gebeur het?
Nog nie ‘n oomblik getwyfel dat geen korrel grond van enige koning of so geneem sal word nie. Dis tog regtig nie die doelwit nie. Baie bly dat hierdie koning wel duidelik gewys het hoe hy en sy gevolg voel.
Ag CR wil net vergader en vergader en doen niks nie. Ons is mos paddas volgens hom.