Help Afrikaanse jongmense om hul volle vermoë te verwesenlik

flip-buys-2017-11

Flip Buys, die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: René Roux.

Die omvangryke krisis in die land se onderwys vir swart mense is welbekend. Daarteenoor bedek die uitnemende prestasie van Afrikaanse skole soms die verskuilde onderrigprobleme in die Afrikaanse gemeenskap. Statistieke van die Solidariteit Navorsingsinstituut wys dat hier egter ook groot probleme skuil.

ʼn Belangrike aanwyser van die onderwysuitdagings onder bruin jongmense is dat ʼn skrale 2,5% bruin mense aan universiteite studeer. Hoewel daar jaarliks talle toppresteerders onder Afrikaner jongmense is, verskuil dit soms die onderliggende probleme. Min mense weet byvoorbeeld dat byna 20% van Afrikaner kinders die skool sonder matriek verlaat.

Nóg ʼn rooi lig is dat net 27% van jong Afrikaners universiteit toe gaan. Dit beteken dat bykans 75% van Afrikaner jongmense nie universiteitskwalifikasies verwerf nie. Wanneer dit gemeet word aan die 40% jongmense onder wit Engelssprekendes wat universiteit toe gaan, wys dit dat alles nie pluis is wat die opleiding van jong Afrikaners betref nie. Hoewel die Afrikaanse skoolonderwys oorwegend nog uitnemend is, laat Afrikaners se deelname aan naskoolse opleiding veel te wense oor.

Die gaping tussen die goeie Afrikaanse onderwys en die ondergemiddelde deelname aan naskoolse opleiding kan aan die hand van drie faktore verklaar word: Engelssprekendes woon meer gekonsentreerd in metropole met goeie universiteite; die Engelse gemeenskap het ʼn langer tradisie van universiteitsopleiding; en hierdie twee faktore lei tot groter welvaart wat die derde rede vir hul hoër vlakke van opleiding is.

Daarteenoor veroorsaak Afrikaanssprekendes se yl, landwye verspreiding dat baie jongmense ver van universiteite af bly wat meebring dat hulle nie maklike toegang tot naskoolse opleiding het nie. Die feit dat daar minder welvaart in talle plattelandse gebiede is, is egter die belangrikste rede dat hierdie groep so ʼn lae deelname aan universiteitsopleiding het. Dit is dubbel so duur vir plattelanders om kinders universiteit toe te stuur omdat verblyf, kos en vervoer die koste van die reeds duur universiteitsopleiding verder opjaag.

Die transformasie van baie universiteite beperk die toegang van hierdie jongmense verder. Daarmee gepaardgaande ontmoedig die ingrypende rassewetgewing talle Afrikaanse jongmense om verder te studeer. Die gesamentlike uitwerking van al hierdie faktore is die kommerwekkende verskynsel dat baie Afrikaanse jongmense swakker as hul ouers opgelei is. Navorsing toon dat dit een van die belangrikste vroeë waarskuwingstekens vir komende armoede van die nuwe geslag is.

Daar is egter hoop. Die vader van die moderne Singapoer, Lee Kuan Yew, het met dieselfde probleem gesit ná hierdie stadstaat se onafhanklikwording in 1960. Sy oplossing was ʼn eenvoudige resep wat Singapoer binne een geslag van ʼn derderangse landjie na die top van die Eerste Wêreld laat uitstyg het. Hierdie suksesresep was dat elke lid van hierdie klein stadstaat gehelp moes word om sy of haar volle potensiaal te verwesenlik. In die praktyk het dit beteken dat elke jongmens, sover hulle kon, verder opgelei moes word. Grootskaalse befondsing is daarvoor beskikbaar gestel.

Die oplossing vir ons probleem is dat grootskaalse studiefondse bymekaargemaak sal moet word om Afrikaanse jongmense by te staan om verder te studeer.

Goeie opleiding bly die beste belegging wat in die nuwe geslag se toekoms gemaak kan word.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

jennefer ·

Ouers moedig nie hul kinders aan nie, kinders lees nie boeke van jongs af nie.

Maartin ·

Die probleem is dat Afrikaanse skole heeltemal te veel op rugby fokus. Sport gee slegs beroep aan ‘n fraksie van ‘n persentasie van leerders, tog dink baie leerders en hulle ouers hulle kan ‘n beroep daaruit maak.

lewies ·

Ek stem saam dat leerlinge hulle volle potesiaal moet bereik. As ons dit regkry wat dan? ‘n Mens stel dit as ‘n doelwit met vooruitsigte om werk te kry. Ons weet wat tans in die land aan die gang is. Die krisis is werkskepping en nagmaals werkskepping. Die voorbeeld wat die regering stel deur mense aan te stel wat nie eers gekwalifiseer is vir die werk wat hy/sy moet doen nie is baie sleg vir ons kinders se moraal.

Elsie ·

Ja sport domineer steeds in Afrikaanse skole en dit is nie iets wat ons bou nie, dit laat ons mag verloor. Die toekoms van ons as individue en gemeenskap lê in entrepreneurskap en tegnologie, nie in sport nie.

rina ·

My persoonlike ervaring is dat ons blanke jongmense onderdruk word deur regstellende Aksies en dat daar vir die blanke min werksgeleenthede is en ouers ervaar dieselfde druk en het nie geld om hul kinders verder te kan laat studeer nie. Daar word gedurig gese gaan buiteland toe vir werk en beter studeer geleenthede.

Dawie ·

Ons jonges en oues moet coursera en edx gebruik om aanlyn verniet te leer, die toekoms is kragtige kortkursusse van goeie universiteite.

Elsie ·

Ek verstaan nie hoekom so min Afrikaners nie die geleentheid gebruik nie. Baie goeie opvoedkunde is nou verniet beskikbaar, tog gryp ons mense dit nie aan nie.

Apartheid ·

Die kinders kan nie meer studeer waarna hulle uitgesien het nie. AGV die KWOTASISTEEM op universiteit en die diskriminerende VEREISTES wat daar gestel word, kan ‘n kind met goeie resultate bv nie medies studeer nie want hy is nie die regte velkleur nie. Met ingenieursstudies word sekere kinders aan baie strenger slaagvereistes gemeet as ander as ook die toelatingsvereistes. MEESTE Afrikaner kinders het die vermoe om vir ‘n graad te studeer maar EERSTENS kan al hoe minder ouers dit bekostig want hulle kwalifiseer NIE vir ‘n beurs nie agv hulle velkleur. So as die ouer nie ‘n lening kan uitneem nie (want die pa het sy werk agv BEE verloor), kan die kind nie gaan studeer nie. ONGELUKKIG het die nuwe apartheid Afrikaners kinders met GOEIE resultate verhoed om te gaan studeer waarin hulle belangstel. Hulle skryf by tot 3 universiteite op ‘n slag in om te kyk of hulle hulle droom kan verwesenlik maar helaas .. NEEWAT . ek le dit 100% voor die deur van die regering . niks anders as apartheid nie.

Carpie ·

Ek stem nie saam met Jou nie. As die kinders (en ouers) meer fokus op hul akademie as op sport, kan n blanke gaan studeer wat hy wil ( mits dit in sy vermoee is). Ja, dit is dalk moeiliker om te kwalifiseer, maar dit is beslis in jou bereik as die kinders minder sosialeer, en harder werk. Afrikaanse skole fokus baie meer op rugby en netbal as op akademie.

John ·

Afrikaner na Afrikaanse, is ‘n groot sprong. Wie gaan eintlik gehelp word? Kleurlingkinders met Afrikanergeld. Die Kleurlinggemeenskap is nie meer arm as die huidige Afrikaners nie en bestuur reeds ‘n tv-stasie wat Afrikaners nie eens het nie. Ons moet besluit wie se belange ons op die hart dra, ons eie jeug s’n of gaan ons ‘n nuwe welsynsparty stig? Mnr Buys kan nie ‘n unie vir almal bestuur die leier van die sukkelende Afrikaners wees nie. Hy sal moet kies. Geen generaal hoe fiks ook al kan twee perde gelyk ry nie. Taal is ‘n medium en almal wat Afrikaans praat is nie Afrikaners nie. My eie mense ly. Rylopers is nou buite die kwessie. ‘n Mengelmoes-volk sal binne ‘n paar jaar weer wees waar ons nou is… Arm Afrikaners en steeds wagtende Kleurlinge.

MTSteyn ·

Korrek opgesom! Maar as daar nou iets is wat ‘n Middelgrond Man meer as die dood vrees, is dit om deur ‘n mede-landsburger die skelwoord ‘rassis!’ toegesnou te word. Daarom mag daar niks meer ekslusief vir ‘n Blanke deur ‘n Blanke gedoen word, aangebied word, of vermag word nie.

Middelgrond Manne is bereid om alles, sy eie voorbestaan ingesluit, weg te gee, solank hy tog net nie as ‘n ‘rassis’ bestempel word nie. En daarom is daar geen onderskeid vir Middelgrond Manne as dit kom by Afrikaanssprekend en Afrikaner nie.

Reinhardt ·

Natuurlik is almal wat Afrikaans praat Afrikaners, indien hulle sou verkies om so genoem te word. Dit is mense soos jy wat ons in hierdie probleem geplaas het in die eerste plek. Stop met hierdie ons en julle narratief, almal wie afrikaans praat is my mense. As ons gaan aanhou met “vir n blanke deur n blanke” nonsens dan gaan ons nerens kom nie. Engelssprekendes verkoop nie hul produkte/dienste/kultuur aan slegs hul eie mense nie, hulle verkoop dit aan almal, en maak dit sodoende toeganklik vir almal. Dit het die gevolg dat almal deel van daardie kultuur wil wees – jeens die rede hoekom soveel Afrikaners en ander kulture verkies om Engels te wees.

Ons moet eerder ons tyd spandeer om ander te betrek by ons kultuur (wat ek nogsteeds dink goeie beginsels het), maar wat doen ons? Ons jaag almal weg, noem almal name, plaas almal in boksies.

Moet my asseblief tog nie verkeerd verstaan nie, ek is n trotse Afrikaner, maar daar is plek in ons gemeenskap vir almal. Kom ons maak die wat wil, deel van ons.

Andrea ·

Akademia sal moet groei om kursusse soos medies, ingenieurswese, tandheelkunde, arbeidsterapie, veeartseny, spraaktaalterapie, ens. aan te bied. Min wit studente word gekeur vir hierdie grade, al is hul punte baie hoër as die ander aansoekers s’n. Daarby is die kurrikulum nou byna orals uitsluitlik in Engels. Dit benadeel ons Afrikaanse kinders nog verder.

Oom Piet ·

Alle inskrywing fooie en klasgelde plus inwoning, gesonde voeding, veilige vervoer, voorgeskrewe handboeke en studie materiale van alle nuwe universiteits en tegniese kollege studente, vanuit huishoudings met bewese minder as R600,000 per jaar gesamentlike Bruto Inkomste , word nou geheel en al ten volle deur die Staat, via NSFAS, bevonds en betaal, vanselsprekend op vooraf aansoek en goedkeuring. Dink, onder korreksie, dit sluit UNISA in, asook betaalde ambags appies en bv. studente wat by Regs of Geoktieerde Rekenmeesters firmas praktiese werks ondervinding opdoen terwyl hul deeltyds studeer, klasse draf, toetse en eksamens aflê. Ja, alle vaste inkomstes, betaald of nie, is byrekend. Maak ‘n plan, genoegsaam vooruit, in belang van u kind/ers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.