Hertzogville-brande en die verskroeideaardebeleid

Deur Natasha Venter

Sowat 100 000 hektaar weiveld is verwoes. (Foto: Vrystaat Landbou)

Die brande wat onlangs in groot dele van die Wes-Vrystaat gewoed het, laat mens onwillekeurig dink aan die destydse verskroeideaardebeleid wat Lord Kitchener in 1900 tydens die Anglo-Boereoorlog toegepas het, omdat die Engelse nie die oorhand oor die Boere kon kry nie. In die 1900’s is meer as 30 000 plase en 60 000 huise afgebrand ná ’n amptelike bevel van die Engelse owerhede.

Die afgelope week het meer as 130 000 ha plaasgrond in die slag gebly – nié op amptelike bevel van die owerhede nie, maar wel nadat spanning hoog geloop het by die hofsaak van Brendin Horner se twee moordenaars in Senekal. Lede van die EFF het hier weer die “Kill the Boer”-lied gesing en daar is beeldmateriaal van Mbuyiseni Ndlozi, een van die leiers van die EFF en ook ’n parlementslid, wat die volgende in Zoeloe gedreunsing het: “Roep die brandbestryders! Brand die boere! Die EFF betree die plek!” Volgens berigte oor die Hertzogville-brande word ’n saak van brandstigting ondersoek ná ’n JoJo-tenk op die R708- pad na Christiana aan die brand gesteek is.

Nadat die Anglo-Boereoorlog verby is, moes verslae Afrikaners terugkeer na huise wat nie meer bestaan het nie, landerye wat verwoes is en karkasse van die eens gesonde vee (die Britte het ongeveer 1,9 miljoen skape en beeste van kant gemaak om te verhoed dat die Boerekrygers voorraad van die plase kon kry). Een van die oorlewendes van die konsentrasiekampe onthou hoe die Britse soldate ’n speletjie daarvan gemaak het om skape op hul plaas met bajonette dood te steek. Die hartverskeurende foto’s van beeste en ander diere wat tydens die onlangse Vrystaat-brande doodgebrand het, skets die prentjie van wat die Boere destyds moes deurmaak. Wrede berigte oor diere wat ook deurentyd onder veediewe deurloop en lewend geslag word, trek ’n verdere parallel.

Die Afrikaner van die 1900’s wat die oorlog en konsentrasiekampe oorleef het, moes verslae en vol sielesmart gewees het oor alles (en in baie gevalle was dit álles) wat hulle verloor het – maar hulle het nie gaan lê nie. Hulle het besef dat hulle op hul God, hulself en mekaar aangewese was en dat hulle weer kon bou en uit die as kon herrys – want dis wat Afrikaners doen: Ons bou. Plase, huise, kuddes en gewasse is weer uit niks uit opgebou.

Die skade in die Wes-Vrystaat is enorm en hartseer onnodig, maar dit skep ’n geleentheid vir die Afrikaner om mekaar weer (soos in die verlede) by te staan, sodat ons hierdie boere kan help om weer op te bou. As ’n gemeenskap behoort jou broer of suster se krisis ook jóú krisis te wees, want ’n krisis staar ons almal die een of ander tyd in die gesig. Kom ons help hierdie boere om weer te bou.

  • Natasha Venter is veldtogbestuurder by AfriForum.

Bronne:

Strydom, C.N. 2017. “Kinders in die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) konsentrasiekampe: ’n Ondersoek na die moontlike invloed van voeding en belewenis”. Ongepubliseerde M-verhandeling. Stellenbosch: Stellenbosch Universiteit.

Langer, D. 2015. “16 Junie: Afrikaners gedenk 22 000 konsentrasiekampkinders”. Maroela Media, 16 Junie. Beskikbaar by https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/16-junie-afrikaners-gedenk-22-000-konsentrasiekampkinders/.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kokerboom ·

Eendrag maak Mag bly van toepassing. EFF se beleid van”divide and rule” SAL NIE ons breek

Persheks Adri ·

Hierdie maak my boos kwaad verby: “Roep die brandbestryders! Brand die boere! Die EFF betree die plek!” en Kill the boer!

Julle sal ons NIE breek NIE al probeer julle ook hoe hard! Loop tsek man tsek hoe durf julle? Gemors van die wortel af

AndréS ·

Dit het nou heeltemal handuit geruk
Gister by Bothavlle
Tog word daar niks aan die eff gedoen wat dit openlik aanhits nie

Michael ·

Daar sal niks met hulle gebeur nie, hulle is deel van die ANC

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.