Hoe Afrikaans is jy?

Deur Veniece Janse van Rensburg

Veniece Janse van Rensburg

Dit is werklik ʼn goeie vraag. Wat sal jy antwoord as ek dit vir jou vra? Sal jy praat van voedsel, aktiwiteite of iets anders? Hoe beskryf jy hoe Afrikaans jy is? Hoe eg is jy in jou eie taal? Ek dink die vraag vra baie mense vas. Ek het 30 mense gevra, elkeen verskaf toe ʼn humoristiese antwoord. Van biltong tot sokkie na vellies dra en boer. Maar is jy dan regtig Afrikaans? Ek dink jy bieg.

Hoe Afrikaans is ek? Hier is hoe Afrikaans ek is: As ek dink aan Afrikaans dink ek aan sonsondergange waar boere hulle gebede, met ʼn koppie koffie in die hand, hemel toe stuur. Hoe God die veld en lande seën met reën, en hoe jy jou plaashoed op jou bors neerlê en opkyk na die wolke terwyl die donderweer slaan. My geloof is waaraan ek dink as ek dink aan Afrikaans. ʼn Volk wat deur sweet en trane ʼn vestiging met God se leiding gebou het. ʼn Gelofte opgerig in Afrikaans, in God se naam en met God se hulp, deur Voortrekkers.

As ek dink aan Afrikaans dink ek aan elke man wat die huis in diensplig verlaat het en elke vrou wat ʼn huis opgerig het. Die os en wa wat suid getrek het. Ek dink aan Verwoerd en Pretorius wat ons volk kon lei. Ek dink aan Afrikaans as meer as ʼn taal. Afrikaans is ʼn lewenswyse, gerig in die Woord van die Here, vertroue in Hom en vertroue in jou eie vaardighede. ʼn Man of vrou geanker in God. Met Goddelike selfvertroue praat ek Afrikaans.

Hoe praat jy? Afrikaans is meer as net biltong en sokkie. Afrikaans is waarvoor jou ma en pa se ouers geveg het. Ons kan nie in ons gemaklikheid vergeet van waar af ons taal kom nie. Afrikaans is wie ek is en vir wat ek veg, die taal waarin ek studeer en die lewenswyse waarin ek my kinders gaan grootmaak. Afrikaans is nie net ons Boere en Voortrekkers nie. Afrikaans is hart. My en jou hart.

Afrikaans is die klein seuntjie met die droom om eendag kop omhoog oor sy landerye te kan kyk, terwyl hy in sy klein stadskamertjie trekker speel. Afrikaans is die klein meisie, wat grootgeword het in die stad, wat na die hemele kyk en weet waar haar krag vandaan kom, met vertroue in God se plan vir haar lewe. Afrikaans is die tannie wat haar oë kan toemaak en haar ma se groot Sondagete ruik. Afrikaans is jou ouma wat vertel hoe sy jou oupa ontmoet het in die strate, waar hulle gedans het en hoe oupa nooit van ouma se rooi rokkie sal vergeet nie. Afrikaans is die bakkie in die middel van die pad stop sodat jy die hemelse kunswerk, gevorm deur die son, kan inneem. Afrikaans is baie koffie en baie vertroue.

Ek kan my oë toemaak en sien wat Afrikaans is. Wat Afrikaans vir my beteken. My hart word stil en dit ruik soos nat grond. Hoe Afrikaans is ek? So Afrikaans soos ek kan wees. Die harde werk van ʼn Afrikaner is afkomstig van die krag van Bo. Hoe ons as ʼn volk vir onsself wil bou, die gretigheid het om na ons eie volk te kan omsien. Onafhanklikheid, maar nie sonder God nie.

Daar is niks mooier nie as ʼn man of vrou wat met Goddelike selfvertroue kan sê ek het alles voor my self gedoen. Die trots op jou eie handewerk. Kinders en jongmense wat van kleins af pleit dat hulle soos hulle ouer(s) wil wees. Droom is Afrikaans. Liefde bo alles is Afrikaans. Om Afrikaans te koppel aan biltong en sokkie is oppervlakkig en beledigend. So baie geskiedenis, ʼn trotse vlag, gebede, die slag van Bloedrivier, is alles en soveel meer as net ʼn kort antwoord. Duisende manne het geval, duisende vrouens en kinders tesame vir ʼn beloofde toekoms in ons land. Afrikaans is ons Land. Afrikaans is ons klein dorpies. Staan jy saam Afrikaans of praat jy net Afrikaans?

Afrikaans is die klein meisie en klein seuntjie wat in die strate baljaar, fiets ry, modderkoekies bak en kliphard lag. Die hond is lankal uit die bos. Afrikaans is die huishouding wat hulle hande saambring en hulle hoofde sak in gebed voor die aandmaaltyd. Die huishouding waar probleme met God laat aande bespreek word. ʼn Man en vrou gebind deur God, besig om so hard te lag vir mekaar, terwyl die braaibroodjies op die vuur brand.

Afrikaans is liefde tussen mekaar. Afrikaans is mekaar groet. Onophoudelik mekaar groet. Is jy Afrikaans of praat jy net Afrikaans? Wat maak jou hart klop as jy dink aan Afrikaans? My hart klop as ek dink aan die manne wat die gelofte opgerig het. My hart klop vir groot landerye met die Afrikaanse van op die plaasbord. Generasies wat trots boer. My hart klop vir elke Afrikaanse straatnaam, elke Afrikaanse dorp. My hart klop vir elke storie oor Afrikaans. Elke kind opgerig in Afrikaans en elke liedjie geskryf in Afrikaans.

Is Afrikaans meer as net ʼn taal vir jou? Afrikaans is so suiwer. Hoe ongelooflik om te dink ek en jy kan alles doen tot eer van die Here, in Afrikaans. Alles in Afrikaans. Ek is ʼn trotse Afrikaner. Afrikaans is ʼn keuse, nie net ʼn taal nie. As jou antwoord op die vraag “Hoe Afrikaans is jy?” nog nie beantwoord kan word nie, lees die gelofte − opgerig 16 Desember 1838.

  • Veniece Janse van Rensburg is 20 jaar oud en studeer BSC Wiskundige Wetenskappe aan Akademia.

Is jy ʼn student wat aktivisties en trots is op jou taal en kultuur? Kom, neem deel aan Solidariteit Jeug se kompetisie en vertel ons hoe Afrikaans is JY! Klik op die skakel om deel te neem.

Wen moontlik die volgende as jy deelneem:

1x Solidariteit Jeug-geskenkpak

2x kaartjies vir ´n Riaan Benade-vertoning in die AfriForum Teater (28 Julie) en

ʼn Buffelsfontein Beesboerdery-geskenkbewys van R250.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Nommer 7 ·

Baie min afrikaners kan hulself behoorlik uitdruk in hul eie taal.

madels ·

Dis baie waar, vriende van ons is al baie oud en dis verskriklik mooi om na die Omie te luister want hy praat suiwer Afrikaans. Ons het eintlik n baie mooi taal

BARNEY ·

Ek het online na n radio onderhoud met n paar skool learners geluister. Wat treffend was, is die swak gebruik van Afrikaans as voertaal. Afrikaans is besig om te verengels, en as taal sy identiteit te verloor.
Ons identiteit begin sekerlik by ons taal? En dan al die kulterele aspekte. En dan die feit dat ons as Afrikane die dinge van Afrika geniet.
Dit is my 5c werd.
Geseende dag aan almal

JohanNL ·

Hierdie kommentaar is baie ironies.

“online” vs aanlyn, “learners” vs leerlinge of die aaklige “leerders” en ‘n Anglisisme oor 5c vs “stuiwer in die armbeurs”.

Oom ·

Nee “aanlyn” is ook ‘n Anglisisme. Die korrekte Afrikaanse woord is “intyds”.

JohanNL ·

@Oom, interessant. Ek dag dat “intyds”slegs die Afrikaans is vir “live” / “real time”. Dankie!

Oom ·

Is dit nie wat “online” is nie? Om op hierdie webblad kommentaar te lewer, kan slegs gedoen word as ek aan die internet gekoppel is d.w.s. “intyds”. Ek is deur middel van ‘n kabel (line) of radiogolwe (WiFi) aan die internet gekoppel. Daarsonder sal hierdie boodskap nie op dadelik die webblad kan verskyn nie.

madels ·

Afrikaans vir my ook was die wonderlike dae van op die plaas gaan kuier waar daar ALTYD allerlei van die heerlikste soet koekies vars gebak was. Gasvryheid was aan die orde van die dag. Dit was nooit ongerieflik om te gaan kuier nie. Ons was altyd met ope arms ontvang. Deesdae moet n mens afsprake maak, almal is te besig. Ons as gesin het besluit om weer so gasvry te wees…. ons deure staan altyd oop en die koffie is warm. Mense is altyd verbaas oor ons gasvryheid maar dis hoe dit moet wees..

De Villiers ·

Maw, jy weet as jy Afrikaans/Afrikaner is. Dit is in jou bloed en vloei deur jou are.

Jy twyfel nie daaroor nie, dit is wie jy is.

Elma ·

Afrikaans is ook n baie goeie sin vir humor. Afrikaners kon nog altyd die ligtheid in enige ding raaksien. So ja, biltong sokkie en vellies is sonder om beledigend of oppervlakkig te wees, beslis vir my Afrikaans.
Nietemin, n mooi stuk om te lees.

Oom ·

As jy by een van die voorste prokureursfimas in Duitsland en Europa betrokke is en jy verklaar openlik op die firma se webwerf dat een van die tale waarin jy kliënte kan help Afrikaans is. Dit is hou Afrikaanswees gedemonstreer kan word.

Jenny ·

Ek en my man glo as jy Afrikaans praat meng jy dit nie met ander tale nie. Afrikaans is so mooi taal en is nog nie eens ‘n honderd jaar oud nie.
Dit is werklik ‘n skande dat ons taal so gemeng word met ander tale.
Geen wonder ons het nie meer die trots van om ‘n Afrikaans sprekende persone erken te word nie.
As ons mense ons taal meng met ander tale maak ek en my man ons hulle nie verstaan nie.
Ek is trots om te kan sê ek is ‘n Afrikaans sprekende Afrikaner.
Afrikaans is ‘n baie mooi taal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.