Hoogtepunte op Die Groot Debat, 2011: Afrikaners, veral regs, kort konserwatiewe realisme

Artikel oorspronklik op 4 Augustus 2011 gepubliseer op Maroela Media.

Is daar ’n egte ‘konserwatiewe tradisie’ onder Afrikaners? In weerwil van die algemene opinie word hieronder aangevoer dat daar met enkele uitsonderings na nie iets soos ’n egte konserwatiewe benadering onder Afrikaners aanwesig is nie.

Hoekom? Weerspreek die feite nie op ’n mees ooglopende wyse hierdie stelling nie? Regses onder Afrikaners maak immers daarop aanspraak om ‘konserwatief’ te wees? Soveel so dat die grootste regse party van die afgelope dekades homself die Konserwatiewe Party genoem het?

My antwoord hieronder is dat dit ’n groot vergissing is om na die meeste regses as konserwatief te verwys. ’n Kort omskrywing van die begrip ‘konserwatief’ sal aantoon dat ‘regs’ onder Afrikaners eintlik bloedweinig met ’n egte konserwatiewe gedagte in gemeen het.

Alvorens ons egter ‘konserwatief’ omskryf, is dit nodig om te sê dat dié begrip ook nie noodwendig met ‘links’ saamval nie. (Alhoewel dit heeltemal moontlik is om linkse konserwatiewes te kry). Om konserwatief te wees, beteken eerder om jouself anderkant die selfvernietigende uiterstes van links en regs te bevind.

Maar hoe so?

Edmund Burke (1729-1797)

Om hierop te kan antwoord, verwys ons kortliks na Edmund Burke (1729-1797), die 18de eeuse Britse politikus en denker. Burke word tereg as die grondlêer van die moderne konserwatiewe gedagte beskou. As ons dus na die betekenis daarvan vra, is dit goed om by Burke aan te knoop.

As ’n mens Burke se steeds relevante werke lees, is dit duidelik dat hy die begrip ‘konserwatief’ met die kwessie van verandering in verband bring. Volgens Burke beteken konserwatief nie – soos wat dikwels gesê word – om teen verandering te wees nie, maar om eerder vir ’n bepaalde soort verandering te pleit.

Konserwatiewes, sê Burke, verander nie deur die bestaande sosiale en politieke werklikhede met abstrakte bloudrukke storm te loop nie. Laasgenoemde is die tipiese werkswyse van diegene wat deur ’n verlies aan werklikheidsin gekenmerk word. En wat as gevolg daarvan poog om die verwikkelde aard van die politieke werklikheid binne die dwangbuis van sodanige bloudrukke – Burke noem dit ‘metafisiese spooksels’ – te boender.

Nee, egte konserwatiewes verander deur by die verwikkelde aard van die alledaagse aan te knoop. Van daar dwing konserwatiewe nie bloudrukke op alles af nie. Hulle vra eerder hoe hulle ideale in en deur die moeisame weg van die alledaagse werklikheid bemiddel kan word. Konserwatiewes werk daarom ook nie vanuit die kille hoogste van abstrakte idees nie, maar van onder af, vanuit die voorhandende, vanuit dit wat moontlik is.

Hieraan voeg Burke ten minste twee belangrike riglyne wat in die hart van die konserwatiewe lewe staan:

Eerstens, mense is per definisie tradisie-afhanklike wesens. Sonder die voorbeeld van die tradisie kan daar nie so iets as ʼn ordelike – ingesluit ʼn wyse politieke – lewe moontlik wees nie. Anders as wat dikwels vanaf Burke se tyd tot en met vandag geglo word, is die tradisie daarom ook nie per definisie boos, sleg of verwerplik nie. Inteendeel, die tradisie is meestal ’n bron van ervaring, wysheid en insig. Sonder die voorbeeld van die tradisie word ons juis uitgelewer aan die abstrakte bloudrukke en al die geweld wat daarmee gepaardgaan.

As ons dus wil verander – en ons kan meestal nie ander as om te verander nie – moet ons in die eerste plek vra of dit hoegenaamd ’n verbetering op die tradisie verteenwoordig. Indien ons nie met geloofwaardige argumente kan aantoon dat ons planne ’n verbetering op die tradisie verteenwoordig nie, moet die tradisie eerder gehandhaaf word.

Tweedens, konserwatiewes heg in aansluiting by die Klassieke politieke denke ʼn belangrike waarde aan wat Aristoteles die ‘goeie oordeel’ genoem het. Waarna verwys dit? As ʼn mens die wese daarvan kan raakvat, kan gesê word dat die goeie oordeel presies nie daar na vore tree waar ons probeer om eenvoudig ʼn abstrakte bloudruk op die werklikheid af te dwing nie. Inteendeel, die goeie oordeel tree daar na vore waar ons vra hoe ons ideale met die verwikkelde werklikheid bemiddel kan word.

Dit bring ons by die aanvanklike vraag: Is daar iets soos ʼn egte konserwatiewe tradisie onder Afrikaners? Gemeet aan Burke kan die regses meestal nie as ‘konserwatief’ bestempel word nie. Daarvoor word hulle benadering te veel deur werklikheidsvreemde skemas – ʼn abstrakte van bo-af benadering – en ʼn gebrek aan die goeie oordeel gekenmerk.

Die Konserwatiewe Party (1982-2003)

Die Konserwatiewe Party was miskien die beste voorbeeld hiervan. Terwyl die harde werklikhede – demografiese ontploffing, ekonomiese druk, internasionale isolasie, ensovoorts – teen die KP se toekomsvisie geskreeu het, was die party eenvoudig nie in staat om aan te pas en te verander nie. Sy uiteindelike mislukking was daarom net so ‘spektakulêr’ (Burke se ‘spectre’ of spooksel) as sy toekomsvisie. Bykans geen poging is in dié geledere aangewend om hulle toekomsvisie met die bestaande werklikhede te bemiddel nie.

ʼn Meer onlangse voorbeeld is die poging om ʼn verkiesing onder Afrikaners te hou. Volgens woordvoerders van dié poging sal so ʼn verkiesing aan verkose Afrikaner-leiers die mandaat gee om ʼn ‘volkstaat’ van die owerheid te eis. Niks kan egter verder van die harde werklikhede verwyder wees as dit nie. Buiten talle taktiese en strategiese vrae wat ʼn mens ten opsigte daarvan kan vra (soos Z.B. du Toit se stelling dat ‘minderhede hulleself nooit moet laat tel nie’), is die belangrike vraag binne hierdie konteks vanuit watter bloue-hemel die ‘volkstaat’ op ons sal neerdaal? Gʼn volkstaat sal ʼn werklikheid word as dit nie in en deur  harde werk – van onder af – bemiddel word nie. Maar presies vir hierdie harde werk van bemiddeling word klaarblyklik weggedeins. Burke sou dit na alle waarskynlikheid as ʼn voorbeeld van metafisiese ontvlugtingsdenke beskou het.

Nogtans is daar een duidelike uitsonering onder ons mense. Ek verwys na Orania. Alhoewel Orania dikwels met regs verbind word (en daar sekerlik goeie historiese gronde daarvoor bestaan), is Orania eerder konserwatief in die Burkiaanse sin van die woord. Waarom?

Net soos wat Burke sê, doen Orania by uitstek nie ʼn beroep op ʼn abstrakte droom wat kunsmatig op die werklikheid afgedwing moet word nie. Orania is eerder besig om stap vir stap – in en deur die moeisame weg van konkrete handeling – ʼn harde en onvermybare werklikheid op die ‘grond’ neer te sit. Die uitgangspunt ten grondslag hiervan is tipies van Burke: Harde feite gaan ons abstrakte konstruksies vooraf. Begin dus by die harde werklikhede en bou vandaar verder.

Hierby moet ook ʼn tweede punt gevoeg word. Vir enigiemand wat Orania dophou, is dit opvallend hoe sy leiers se optrede deurgaans deur ʼn sin vir die goeie oordeel gekenmerk word. In ander taal geformuleer, Orania se handeling word meestal deur ʼn soort konserwatiewe geduld gekenmerk, dit wil sê deur die wete dat ons slegs in die praktyk iets gaan bereik as dit via die omweg van harde werk geskied. Hier is gʼn sprake van ontvlugtingsdenke nie.

Miskien het dit tyd geword om Orania anderkant die ou verdeling (en nogmaals: selfvernietigende) verdeling tussen links en regs te definieer. Dit wil sê as dit hoegenaamd nodig is, want Orania is kennelik al lankal daarmee besig.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Danie Goosen

Meer oor die skrywer: Danie Goosen

Danie Goosen is voorsitter van die FAK en professor in Godsdienswetenskap aan die Universiteit van Suid-Afrika.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae