Hulle wil nie minder Afrikaans hoor, hulle wil minder Afrikaans sien

Deur Francois Redelinghuys

Hoofgebou-potchefstroomkampus1

Hoofgebou by die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit Foto: Maryke Laas/NWU.

ʼn Storm het vandeesweek op die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) losgebars toe die primaria van Karlien-dameskoshuis haar toespraak by die koshuis se jaarlikse dinee in Afrikaans gelewer het.

Die betrokke student is daarna van haar amp onthef en politieke drukgroepe het begin eis dat hierdie “rassis” en andere soos sy – met verwysing na oënskynlike rassiste – op die huiskomitee ook summier uit die koshuis geskop en moontlik geskors word.

Tot so onlangs as drie weke gelede het dr. Bismark Tyobeka, die universiteit se visekanselier, dit benadruk dat die NWU – en veral die Potch-kampus – ʼn nisbestemming vir Afrikaanssprekende studente is. Trouens, Tyobeka het dit gestel dat Afrikaans as “norm” gebruik moet word om ander inheemse tale soos Tswana tot volwasse onderrigtale te ontwikkel. Hoe mooi!

Dit is baie belangrik om die gebeure wat vandeesweek ná die Karlien-dinee afgespeel het in ʼn groter konteks te plaas. ʼn Gebeurtenis wat grootliks ongesiens verbygegaan het, sal help om die kwessie ʼn bietjie meer toe te lig. Die NWU het vroeër vanjaar voorgestelde wysigings aan sy werwing- en keuringsbeleid aangebring.

Volgens hierdie wysigings word daar in geen onseker terme in die beleid bepaal dat die aanstelling van wit mans en vroue op dieselfde manier hanteer moet word as dié van buitelanders wat nie permanente verblyfreg in Suid-Afrika het nie aangesien hierdie groepe nie onder die “aangewese” groepe van die universiteit val nie. Wit Suid-Afrikaners moet derhalwe dieselfde as buitelanders gesien en op dieselfde manier as hulle hanteer word wanneer dit by keuring en aanstellings kom. Nadat kritiek hieroor uitgespreek is, is die bewoording van die betrokke sin wel verander. Dit is nogtans uiters kommerwekkend dat die aanvanklike formulering in die eerste plek so gelui het.

In hierdie konteks moet ook genoem word dat koshuisplasings nou op ʼn 50-50-rassegrondslag plaasvind. Voorts is die verwysing na enige iets wat met die Puk te make het doelbewus verwyder en wie sal vergeet hoe pers as kleur as’t ware deur boelietaktiek afgedwing is? Weg met die oue!

Dr. Tyobeka se woorde is nou nie meer so gerusstellend nie …

Hier sit ons met ʼn student wat ʼn toespraak in Afrikaans gelewer het. Daaroor is sy van haar amp onthef. Haar “sonde” is dat sy haar taal gepraat het, ʼn taal wat boonop een van die amptelike tale van die universiteit is en wat volgens die einste universiteit se visekanselier as norm vir ander inheemse tale gesien behoort te word.

Ek kan my egter nie indink dat ʼn student wat ʼn toespraak in enige van die ander amptelike tale van die universiteit lewer, voor ʼn gehoor wat oorwegend daardie taal magtig is, daaroor van hul amp onthef sal word nie. Die student sou dalk net agterna vriendelik versoek word om ander tale ook in ag te neem.

Die woordvoerder van die kampus verdedig die besluit om die primaria te onthef: “Die Noordwes-Universiteit se standpunt was nog altyd dat taal nooit gebruik moet word as ʼn manier om ander uit te sluit nie. Die NWU het vier amptelike tale, Engels, Afrikaans, Setswana en Sesotho.”

Die teenstrydigheid is skrikwekkend!

Al wat ek na dese doen is om die kolletjies te verbind en my gevolgtrekking is helaas dat die universiteit nie minder Afrikaans wil hoor nie. Die universiteit wil minder Afrikaans sien.

  • Francois Redelinghuys is kommunikasiebestuurder van die Solidariteit Beweging Trust. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JJB ·

So kaap jy ‘n instelling. Die kommuniste (ANC, EFF en ander wat soos hulle dink) is werklik onnosel genoeg om te dink dat hulle nou ‘n Universiteit gewen het. Die verlies vir Afrikaners en Afrikaans sprekendes is natuurlik geweldig. Mens hoop maar net papbroekige saampraters soos Louis Jacobs gaan saam met die NWU in ‘n pers wolk onder. Hul sal enige iets doen om hul pensioen geldjies te beskerm. Ons begin weer van voor af, kom ons beskerm hierdie keer ons instellings met meer toewyding en ywer.

Gert ·

Een of ander tyd sal almal seker agterkom die tyd van staats of semi-staatsinstellings is verby. Ek wil niks te doen he met enige instelling waar die staat betrokke is nie. Daar is genoeg instrumente in die privaatsektor.

Republikein in die Wes Kaap ·

Dawie Roodt sê altyd die openbare universiteite is basies net welsyns instansies.

Hennie Biebouw ·

Nou wonder ‘n mens wat sou gebeur het as ‘n toespraak slegs in isiXhosa gehou was en heel aand die musiek van Brenda Fassie gespeel is.
Is die “goue middeweg” dan onder konstruksie in Suid-Afrika?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.