Ingehok met humor, goeie moed – ruimtevaarders en verkenners se wenke

Foto ter illustrasie. (Foto: Stéphane Delval/Unsplash.)

Die Covid-19-pandemie lei tot wydverspreide emosionele en ekonomiese ontwrigting wêreldwyd. Om Kung Flu se impak te beperk, leef baie mense al hoe meer ingehok tuis.

Dít lei soms weer tot nuwe frustrasies en uitdagings. Ruimtevaarders en Antarktika-verkenners soos Ben Saunders moes reeds die kuns van ’n ingehokte lewe leer bemeester. Dieselfde geld vir duikbootbemanning tydens onderwateroperasies en vir ontwikkelingswerkers in konflikgebiede.

Hierdie ervare praktisyns gee eenvoudige, maar handige wenke hoe mens ’n ingehokte lewe moet hanteer. Die navorsing van sielkundiges soos Nathan Smith van die Universiteit van Manchester in Brittanje en Gonggu Yan van die Beijing Normal University in China, bevestig die geldigheid hiervan vir baie mense.

Dikwels doen ons reeds die regte ding. Maar dis ’n goeie tyd om te kyk of mens nie dalk iets anders of beter kan doen nie.

Die eerste van die tien hoofwenke is eenvoudig: ’n Positiewe houding is ’n kragopwekker. Die Romeinse keiser Marcus Aurelius het reeds gesuggereer: Dit is nie die gebeurtenis wat tel nie, maar die antwoord daarop.

’n Verkenner van Antarktika kan kies om te ly as hy daar moet oorwinter of om die blink kant daarvan te sien en te benut. Dit geld nog meer vir die makliker omstandighede van mense in hul woonbuurte tuis.

’n Daaglikse roetine, met doelwitte wat nagevolg word, is ’n tweede wenk. Dit help om houvas te gee in onseker tye of ongereelde ure. Dit skep ook die platform om jou tyd vrugbare te gebruik, sodat jy nie later spyt is oor opgehoopte werk of verkwiste kanse nie.

Veral waar verskeie mense saamwoon, is dit belangrik om private tye en ruimtes te skep. Daarby help gewone maaltye met klein happies tussenin en groot etes slegs een of twee keer per week met gewigsbeheer. Die Griekse medikus Hippokrates het al aanbeveel: Laat gesonde kos ook jou medisyne wees.

Fisieke oefening (buite waar moontlik), maar met sosiale afstand, hou mens gesond en verlig stres. Gelukkig het mense meer vryheid en ruimte as ’n duikbootbemanning met kajuitkoors of die destydse Afrikaner-geïnterneerdes met konsentrasiekampkoors.

Iemand noem onlangs tong-in-die-kies dat introverte dalk met hul ekstrovertvriende moet kontak maak, want laasgenoemde groep het geen idee hoe hierdie situasie werk nie. Vir die meeste mense is so ’n ingehokte lewe ook ’n tydperk waarin hulle die behoefte het om uit te reik na familielede en vriende.

In Europa merk mens nou dat gesinne soms nuwe klein rituele ontwikkel rondom vaste tye en plekke, soos om stories te vertel, speletjies te speel, of iets anders. Vir baie kinders en tieners sal die afsonderingstydperk ’n nuwe ervaring wees, so ook die perke van die lewe.

Ouers met kinders heeldag tuis gaan meer oor hulself en hulle kinders leer. Sommige noem dat hulle ná ’n uur se tuisonderrig nou besef onderwysers verdien eintlik skyn salarisse.

Die identiteite en verhale van persone, gesinne en plaaslike gemeenskappe sal in elk geval deur hierdie nuwe koronavirus gestempel word. As vorige ontwrigtende tye ’n aanduiding is, sal mense later herinneringe en stories oorhou.

Soos elke militêre dienspligtige vroeg leer, is dit geestelik en liggaamlik belangrik om jou operasionele basis skoon en gemaklik te hou. Om agter te kom daar is tuis nou dalk ’n lewe ná huishulpe, nie ’n slegte leerervaring nie.

Die praktisyns en die navorsers is dit eens: Tydens ’n oorvloed negatiewe nuus, word dit belangrik om mens se gees en gemoed te voed. Musiek, kuns, die deurkyk van familiefoto-albums, die natuur, meditasie, godsdiens – vir elke mens sal dít wat werk, verskil. Die Amerikaanse ruimtevaarder John Grunsfeld beveel aan dat mens dié tyd moet gebruik om ’n vaardigheid wat jy lankal onder die knie wou kry of moes kry, aan te leer.

Die laaste van die tien wenke wat mens redelik maklik kan navolg, is om jou perspektief te behou – ook hierdie tydperk sal verbygaan.

Dit is egter so dat mens gedurende hierdie tydperk nie alle sake kan beheer nie. In hierdie geval help dit waarskynlik wel om, sodra jou basiese sake gereël en die belangrike dinge gedoen is, blootstelling tot nuwe nuus te beperk tot enkele tye per dag. Die virusnuus versprei en oorweldig immers ander nuus, sonder noodwendig toegevoegde waarde. Daarby is die sosiale media ook vol fopnuus.

Daar is baie lewensure in ’n dag wat mens dus veel vrugbaarder kan gebruik of kan uitrus. Nathan Smith en ander sielkundenavorsers noem dat die beter aangepaste praktisyns ’n proaktiewe houding het om probleme direk op te los.

Die deel van emosies en die gewilligheid om te help, blyk ook belangrik onder die praktisyns. ’n Verdraagsame en vriendelike hantering van huisgenote en die bou van ’n harmonieuse atmosfeer, voorkom dat kleinlike rusies te groot word.

Dit blyk uit navorsing dat mense wat byvoorbeeld in konflikgebiede as ontwikkelingswerkers werk, dikwels meer verdraagsaam raak teenoor hul kollegas se persoonlike eienaardighede. Mens hoop natuurlik net dat gesinsgenote hierná nie liewer konflikgebiede gaan opsoek nie.

Albert Schweitzer, die wyse filosoof, dokter en veelweter, het beklemtoon dat jy ’n geskenk aan jouself en jou ontwikkeling gee, deur diens aan andere. As mense wat swaarkry ander probeer help, verlig dit hul las, bevestig die navorsers ook in hierdie gevalle.

Die ingehokte ruimtevaarders of duikbootbemanning gebruik oorhoofs eintlik een van twee benaderings: Hulle probeer hul omgewing omvorm sodat dit beter vir hulle werk. Of hulle probeer ook om hul omgewing emosioneel draagliker maak, deur byvoorbeeld dit anders te beskou en te hanteer.

Ons sal as persone en gesinne in ons klein “aardskepe” tydens hierdie dae nie altyd in beheer wees nie. Anderkant hierdie deel van die reis sal ons ook nie heeltemal dieselfde wees nie. Ons kulturele ruimtes trouens ook nie.

Daar is egter baie beproefde en eenvoudige dinge wat mens kan doen om die reis met goeie moed aan te pak. Aan vindingrykheid, humor en goeie tye sal dit dan nie ontbreek nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Heinrich Matthee

Dr. Heinrich Matthee is ʼn politieke en veiligheidsontleder wat spesialiseer in Midde-Oosterse en Moslem-politiek wêreldwyd. Dr. Matthee het meer as 14 jaar se ervaring in adviesdienste aan regerings, multinasionale maatskappye en nie-regeringsorganisasies. Hy skryf uit Nederland.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.